Friday, June 29, 2007

Thursday, June 28, 2007

Vir dié gesoute toeris is reis 'n 'belegging'

Die volgende berig het op 18 Junie 2005 in Volksblad verskyn.
BONUS se artikels lees tog alte lekker, maar wie is die Jens Friis wat so gereeld skryf? Hoe kry die man dit reg om so baie te reis? Dis die vrae wat gereeld Bonus se kant toe kom. BETTA VAN HUYSSTEEN het met hom gepraat en bevredig nou dié nuuskierigheid.
MET besoeke aan 31 lande agter die blad, een land minder as sy lewensjare, is Jens Friis nou al 'n gesoute toeris.
Sy tasse is beperk, "want niks verander 'n reis so maklik in 'n tog as sware bagasie nie". Nietemin gaan hy nêrens nie sonder sy paspoort, Visa-kredietkaart en digitale kamera met gelaaide battery en genoeg geheuekaarte. 'n Notaboek en pen, warm klere en iets om te lees rond die noodsaaklikhede af.
As die reisgogga jou so beet het, wonder 'n mens outomaties wanneer dié gogga sy eerste byt ingekry het.
Friis is 'n boorling van Philippolis waar Engels 'n vreemde, eerder as 'n tweede taal is, maar klein Jens wou meer van die wêreld weet en het penmaats in Berlyn, Chicago en Mauritius gehad om sy Engels op te skerp en meer van die wêreld uit te vind.
Gesinsreise saam met pa Jens, ma Naómi en boet Nico was pure plesier, of dit nou na Ouma in Middelburg was of Jeffreysbaai of Hartenbos toe.
Hy was ene oë en ore op die langpad en ná 'n reis Laeveld toe het hy sy Sub B-juffrou, me. Alta Snyman, lekker uitgeboul toe hy ewe kontant "Tzaneen" kon spel.
'n Onderwyser, wyle mnr. Ben du Preez, het sy belangstelling in fotografie aangewakker en die grondslag gelê vir 'n vaardigheid wat hand aan hand met reis gaan.
Friis het in 1991 matriek aan die Hoërskool M. T. Steyn in Philippolis geskryf en was waarskynlik die enigste hoofseun wat 'n Cravenweek-haker was én Unisa se Graad 7-klaviereksamen geslaag het.
Of die regte die regte rigting vir dié wêreldreisiger was, is nog nie duidelik nie, maar Friis het die grade B. Juris, LL.B en LL.M. aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf en sy studie in konstitusionele reg toe aan die Universiteit van Stellenbosch gaan voortsit.
Die verbintenis met Volksblad het in sy finale B. Juris-jaar begin. Hy wou korrespondent vir Philippolis word, maar daar is gesê hy is te jonk. Sy pa (en naamgenoot), toe skoolhoof, het die pos gekry, maar van dag een af (in 1994) het jong Jens die werk gedoen.
Sy eerste berig vir Bonus het op 4 Desember 1999 verskyn en het ge handel oor 'n gasteplaas by Piketberg.
Sy mediaverbintenis het intussen uitgebrei om Weg , Beeld , De Kat, Die Burger en die Londense tydskrif Quint essential in te sluit.
Op 26-jarige leeftyd was Friis se buitelandse reise beperk tot Namibië, maar sedertdien het die meetsnoere reisgewys vir hom in lieflike plekke geval.
Hy het nie net 'n geoefende oog vir winskoop-aanbiedings buite seisoen ontwikkel nie, maar reis ook graag saam met 'n vriend, want dubbelkamers is goedkoper.
Hy kon groot dele van Noord-Amerika deurkruis omdat hy in Kanada gestudeer het en in Europa was daar die voordeel van verniet bly by familie en sy broer, Nico, eers in Frankfurt en München en later in Londen.
Nog net een keer het hy 'n gratis vliegkaartjie ge kry toe hy 'n fotoartikel vir De Kat in Borneo moes gaan doen. Hier oor sê hy: "Gelukkig kan foto's nie lieg nie, want dit moet moeilik wees om objektief te bly as jy geborg word."
Hy meen in Amerika en Engeland mag daar enkele glamorous travel writers wees wat oral verniet kan vlieg, maar in Suid-Afrika gebeur dit nou nie juis nie.
Friis was al op al die kontinente, uitgesluit Australië. Onder die moets waarheen hy wil terugkeer, is die Guggenheim-kunsmuseum in New York, Montreal, die Nasionale Park Sehlabathebe in Lesotho, Amsterdam, die Teatro Colón in Buenos Aires en die Place des Vosges in Parys.
Hy hou van groter plekke wat die nodige mengelmoes van kultuur, argitektuur, daguitstappies, mooi mense en 'n naglewe bied. Hy sou dus graag 'n draai wou maak in Rio en Tokio. Ná 'n onlangse besoek aan Argentinië en Chili (en vroeër aan Borneo) wonder hy waarom ons so graag na duur Eerstewêreldlande reis.
"Dis net soveel minder uitputtend as die wisselkoers so goed is dat jy sonder om te blik of te bloos in 'n taxi kan spring (nie 'n moltrein of bus nie), aan die plaaslikecuisine kan smul in ordentlike restaurante (nie McDonalds nie), geskenke kan koop en na 'n opera kan gaan kyk."
Hy erken hy bestee waarskynlik te veel geld op reis, maar is ongetroud en beskou sy ondervinding as 'n "belegging". Hy sê iemand het eenmaal tereg opgemerk dat hy reis om dieselfde rede as om te studeer -- om nuwe dinge te beleef. Vir hom is dit 'n seën om vreemde kulture te ervaar, daaroor te skryf en dit sodoende te herbeleef.
Friis het benewens sy skryfwerk verskeie ysters in die vuur. Namens die Motheo-kollege gee hy klasse in basiese rekenaarvaardigheid in sy tuisdorp, hy is die redakteur van die Philippolis Pos(t) , 'n kontreikoerant, en medebestuurder van die Groenhuis-gastehuis. Laasgenoemde is vroeër vanjaar deur House&Leisure aangewys as een van dié tydskrif se 20 topplekke om oor te bly.
Hy weet nie waarheen hy volgende die pad gaan vat nie. "Dalk na Nico in Londen, of na SleeswykHolstein waar ons voorvaders vandaan kom. Dan is daar ook die moontlikheid van 'n viertrekreis na Angola en Botswana. Ek sal maar sien waarheen my voorliefde my lei."

CHILE: Hawe na Verre-Suide

As ek reg onthou, is dit Etienne van Heerden wat eens opgemerk het "dat daar iets heel besonders met 'n stad gebeur wanneer dit water ontmoet. Kyk maar hoe Amsterdam, Venesië, San Francisco, selfs kleine Lugano of ons eie Kaapstad met water omgaan".
En so is dit ook met die Chileense stad Puerto Montt en sy onmiddellike omgewing. Was dit nie vir sy waters nie, was daar veel minder om oor huis toe te skryf.
Helaas het my kuier in dié stad op 'n vals noot afgeskop. Reën het op die swart teerpad neergeplets toe ons Puerto Montt binnery. Dit was herfs, maar reeds winter. Die wêreld was plasnat, grou en ys-yskoud.
In die hotel wou die Queen Annestofie skaars smeul, en die stapel komberse op die bed was só swaar dat my voet (en nie ek nie!) geslaap het.
Reeds in Suid-Afrika het ek 'n pamflet oor Puerto Montt gesien. Daarin is beloof dat dit nie om dowe neute is dat toeriste 'n dag of vier vir Puerto Montt opsysit nie. Daar is glo meer te doen as wat 'n vakansie dae het - gaan kyk na 'n gletser of fjord; vang vis; vaar op 'n skip na die koue suide; ry te perd dwarsoor 'n eiland; stap na 'n vulkaan, spring in 'n waterpoel . . .
Maar onder die berg komberse op my koue katel wou-wou die pamfletliefde oor Puerto Montt verwelk. Teen 07:00 word ek wakker en merk dat die oggend flou breek. Van 'n goeie nagrus en die gepaardgaande daglus is daar nie sprake nie. Daarom sluimer ek verder totdat die geraas van 'n gordyn my wakker maak.
"Aitsa!" sê my vriend bly, en wys na die kamervenster waardeur 'n helder plas son val.
En só begin 'n druk dag waar die Puerto Montt-pamflet se papierbeloftes die een na die ander realiseer.
Puerto Montt, die hoofstad van die Región X-provinsie, oftewel Los Lagos, is 1 106 km suid van Santiago. As hawe vir bote na die Verre-Suide en kern van die salmboerdery is dit 'n moderne stad wat die vinnigste groei in Chile.
Oor sy stadstatus was ek verbaas, want Puerto Montt herinner eerder aan 'n groot dorp. Jy misgis jou egter weens die groot erwe en weinig hoë geboue (weens aardbewings). Puerto Montt met sy 100 000 inwoners ís groot in Chileense terme en talle lande het selfs konsulate hier.
Dis in 1853 gestig as deel van die Duitse kolonialisering van die gebied. Onder die inheemse Mapuche-gemeenskap was dit bekend as Melipulli wat "vier heuwels" beteken.
Hierdie heuwels bied 'n goeie blik op die dorp. Op een staan die dorp se campanario (kloktoring). Dóér onder is die Iglesia de los Jesuitas. Dié kerk met sy pragblou koepel dateer van 1872 en is een van die oudste geboue.
'n Klipgooi verder is die Plaza de Armas, die sentrale plein, met sy inligtingskiosk. Kry dorpskaarte hier.
Sowat 2 km wes langs Avenido Diego Portales is die vissersdorpie Angelmó. Hierdie eenvoudige waterfront bied dosyne bekostigbare restaurantjies en kunshand werkstalletjies.
Ek koop 'n geweefde alpakka-serp en twee houtornamente.
Met gidsboek, kamera en sambreel stap ons verby restaurante waar verveelde eienaars ons na hul knus eetplekkies probeer lok. Gewoonlik is Angelmó dié plek vir uitstekende en bekostigbare seekosmiddagetes.
Ons sit aan by 'n restaurant met plek vir net twee tafels. Die grys mika-blaaie herinner aan marmer, en die vleis van die suigmossels wat ons bestel proe - en lyk - soos kreef. Dié gereg noem hulle picoroco al vapor. Hiermee word té blanco (witwyn) bedien, hoewel die restaurante nie gelisensieerd is nie.
'n Sigbare bewys van die ontbosting van die gebied, is dat 'n enorme berg hout weekliks na Japan verskeep word uit die Angelmó-hawe. Die wet van vraag en aanbod weeg swaarder as bewaringsoorwegings.
Uit dié hawe met die mosblou water klief daar ook gereeld skuite na Isla Tenglo, 'n gewilde piekniekplek met 'n 360° panorama van sy piek. Dié beboste eiland is 'n halfuur ver.
Wes van Puerto Montt is Chinqulhue, Calbuco, Carelmapu . . . skilderagtige vissersdorpies wat ingeryg lê soos die oesters op hul seebodem.
Ons wou na Puerto Natales vaar, deur seekanale waar waters klots teen beboste kranse, verby ravyne en watervalle 'n armlengte ver. "Dis een van die móét vaarte ter wêreld," skryf ons reisgids.
Teen sowat R1 741 kry jy etes en 'n bed (bring jou eie slaapsak) in 'n 24-slaapsaalkajuit. 'n Private kajuit met seeuitsig kos R9 875 . Navimag se Magallanes vertrek Donderdae om 16:00, maar dï t kan vertraag (of selfs vervroeg) word weens gure weer.
Weens die gewildheid van die vaarte kon ons nie kaartjies kry nie. Selfs die moontlikheid van kansellasies was skraal. "Daar's 'n ellelange waglys," het die verkoopsvrou verduidelik. So moes ons toe maar die 1 460 km na Puerto Natales vlieg.
Dit was 'n jammerte, maar die voordeel was dat dit veel goedkoper (R886 retoer) én gouer was as die drie en 'n half dae per boot. Nietemin sal ek 'n volgende keer seker maak van 'n bootkaartjie.
Ons was toevallig by die hawe toe die Magallanes uit Puerto Natales anker gooi in Puerto Montt. Daar was die klotsende water teen dié vragskip, die gekraak van die kruier se bagasiewa, mense wat lag, fragmente van gesprekke. "Nooit weer nie! Die beeste in die skeepskratte het onophouelik gemoe," het 'n passasier gesê. "En buiten video's kyk en suip is daar niks te doen op daai skuit nie." 'n Ander was in vervoering. "You only live once, but if you work it right, once is enough. This cruise is a must."
* Vervoerverbindings na Puerto Montt is goed. Daar is gereelde boot-, bus- en vlugverbindings na ander Chileense stede, en selfs na plekke so ver as Buenos Aires. LanChile en Sky vlieg teen R633 retoer tussen Santiago en die El Tepual-lughawe (13 km noordwes van Puerto Montt). Per bus sal die rit van 13 uur sowat R82 kos.

Thursday, June 21, 2007

24 VRYSTAATSE moets


1. Vredefort-koepel, Vredefort: Hierdie koepel is miljoene jare gelede gevorm nadat ’n enorme meteoriet die aarde getref het. Die meteoriet steek uit en lyk na ’n heuweltjie langs die pad tussen Parys en Vredefort. Die Vredefort-koepel is die Vrystaat se enigste Wêrelderfenisgebied.
2. Clarens: Die “Juweel van die Vrystaat” is nie net besonders vanweë sy berglandskapligging nie, maar ook omdat dit deesdae ’n kultuurmekka is.
3. Naval Hill, Bloemfontein: Kyk hoe die son opkom vanaf hierdie berg in die middel van die Rosestad. Saans lyk die Vrystaat se hoofstad reusagtig van hier. Nes op Vlaeberg in Kaapstad moet jy op jou hoede wees ná sononder. Naval Hill is ook ’n wildreservaat X die grootste in Suid-Afrika wat heeltemal deur ’n stad omring word.
4. Die Basotho-kultuurdorp (20 km oos van die Golden Gate Hoogland Nasionale Park) stel die Sotho’s se leefwyse aan ’n mens bekend. Die hutte dui aan hoe hul argitektuur sedert die 1500’s ontwikkel het.
5. Boeremark, Bloemfontein: Koop mieliebrode tot blindevinke in Langenhovenpark op Saterdagoggende. Die eienaars van stalletjies kom van so ver as Bethlehem en Welkom.
6. Treinspoor, Fauresmith: Dié dorp is slegs een van drie ter wêreld waar die treinspoor deur die hoofstraat loop.
7. Brandfort: Hulle het min hier agtergelaat, maar heelwat bekende Suid-Afrikaners het ’n ruk lank op Brandfort vertoef, onder wie dr. H.F. Verwoerd, Winnie Madikizela-Mandela, Vincent van Gogh se broer, Theo, en C.R. Swart.
8. Oliewenhuis, Bloemfontein: Hierdie eertydse administrateurswoning is nou ’n kunsgalery (0 051 447 9609). Kry iets te ete terwyl die kinders op die beelde by die Afrika-mallemeule ry.
9. Swerms bloukraanvoëls: Suid-Afrika se nasionale voël is nog algemeen in die Suid-Vrystaat. Die kans is goed dat jy van hulle te sien gaan kry tussen Trompsburg en Philippolis, of die grondpad tussen Jagersfontein en Springfontein.
10. Pres. Brand-straat, Bloemfontein: Hierdie is sekerlik die geskiedkundigste straat in die Vrystaat. Stap verby die stadsaal, appèlhof (wat tans vergroot word), die eerste en vierde raadsale (deesdae die Vrystaatse wetgewer) en die eertydse presidensie, alles van sandsteen.
11. Sandsteenkerk, Kestell: Dít is dalk die imposantste van al die Oos-Vrystaat se sandsteengeboue.
12. Vrouemonument en Anglo-Boereoorlogmuseum, Bloemfontein: Die Vrystaat se geskiedenis is deurspek van die ABO (1899-1902). Nêrens kan jy ’n beter begrip hiervan as by die ABO-museum kry nie. Langsaan staan die Vrouemonument ter ere van die vroue en kinders wat in konsentrasiekampe gesterf het.
13. Konsentrasiekampkerkhof, Bethulie: Dié ABO-kerkhof is dalk die bes versorgde in die Vrystaat. Die een by Brandfort word net oopgesluit op spesiale feesdae en die paadjie na Springfontein s’n is só begroei deur rolbosse dat jy nie daar kan uitkom nie.
14. Kersiefees, Ficksburg: Oefen vooraf vir die pitspoegkompetisie in Suid-Afrika se grootste kersieproduserende streek. Hierdie fees lok jaarliks duisende mense na die Oos-Vrystaat (www.cherryfestival.co.za).
15. Grootste dam, Gariepdam: Stap in die wal van Suid-Afrika se grootste dam. Reël met die departement van waterwese vir ’n toer (www.gariepdam.com of 0 051 754 0001).
16. Grootste mensgemaakte gat, Jagersfontein: Dis nou amptelik: Jagersfontein se gat is groter as Kimberley s’n. Kyk uit vir die arende wat teen die kranse van die gat nesmaak.
17. Philippolis: Dié skilderagtige Suid-Vrystaatse dorpie is die oudste nedersetting in die Vrystaat. Stap langs die boomomsoomde Bo-Voortrekkerstraat met sy wit- gekalkte historiese huise. Karel Schoeman het tereg opgemerk dis die “Vrystaat se Stellenbosch” (www.philippolis.co.za).
18. Sonneblomme staan met hul koppe gekeer na die son in Maart. Dié plate geel is oral te sien X ook langs die N1.
19. Winburg was eens die hoofstad van die Republiek van die Oranje-Vrystaat. Pres. M.T. Steyn se nederige geboortehuisie staan in skrille kontras langs die Voortrekkermonument.
20. Pellissier-huis, Bethulie: Dié woning is een van die oudste oorblywende huise vir wit mense noord van die Oranjerivier. Dit staan as ’n monument aan die vroegste sendingarbeid onder die swart volke.
21. Waterkloof is ’n fotogeniese spookdorpie met slegs ’n tiental inwoners (24 km noord van die Oranjerivier op die R717). Die leiwater-erwe word privaat besit. Neem dus jou foto’s uit die stofstraatjies.
22. Rosendal-teater: Chris van Niekerk, Francois van Oppiekoffie in 7de Laan, woon deesdae op Rosendal, waar hy ’n teater en restaurant bestuur. Bekendes soos Anna Davel en Lizz Meiring tree hier op.
23. Jukskeimuseum, Kroonstad: Jukskei is volgens die SA Jukskei-akademie die eerste inheemse sport wat tot internasionale deelname uitgebrei het. Die SA senior jukskei-kampioenskapstoernooi vind jaarliks op Jukskeipark, Kroonstad, plaas. Gaan kyk na die 3 500 voorwerpe in die Jukskeimuseum wat wys hoe dié spel ontwikkel het (www.jukskei.co.za).
24. Klein-Caledon-riviervallei: Hierdie vallei in die voetheuwels van die Drakensberge bied verskeie staproetes deur die Golden Gate Hoogland Nasionale Park.

FALKLANDOORLOG: 25 jaar gelede


LONDEN. Brittanje het die Falkland-eilandgroep 'n kwarteeu gelede bevry en dié oorwinning is die afgelope week wyd gevier
Meer as 4 500 Falkland-veterane het verby Margaret Thatcher, prins Charles en Tony Blair marsjeer. Onder die oud-soldate was ook prins Andrew.
Hierdie eertydse troepe het Thatcher hartlik toegejuig. Dié oud-eerste minister is reeds 81 en het broos voorgekom toe Blair haar by die trappe afhelp van die Koningin Victoria-monument voor Buckhinghampaleis.
Die Falklandoorlog het in 1982 tussen Brittanje en Argentinië uitgebreek weens 'n dispuut oor eiendomsreg van hierdie eilandgroep in die Suid-Atlantiese Oseaan oos van Argentinië.
Die vet was in die vuur toe Argentinië dit beset het op 19 Maart 1982. Maar skaars drie maande lande het Argentinië oorgegee op 14 Junie. Oorlog is nooit amptelik verklaar nie.
Op die oppervlak lyk dit na kleinlikheid van Brittanje om só heftig op te tree oor 'n eilandjie duisende kilometers weg. Maar soos dit maar al te dikwels in oorloë gaan, het dit hier eerder oor die halsbandjie as die hondjie gegaan.
'n Kwarteeu gelede was Argentinië in 'n erge ekonomiese krisis en daar was grootskaalse burgerlike onrus teen die onderdrukkende militêre junta se heerskappy sedert 1976. Die militêre regering onder generaal Leopoldo Galtieri wou in beheer bly deur die publieke aandag te verskuif. Dit het hulle gedoen deur te fokus op jarelang ongemak oor bogenoemde eiendomsreg.
Brittanje het 'n groot vloot na die Falkland-eilandgroep gestuur. Tydens gevegte is 258 Britte en 649 Argentyne gedood. Die Britte het die oorhand gekry en die gebied het onder Britse beheer gebly.
Die politieke effek van die oorlog was sterk in beide lande. Weens die nederlaag het die militêre regering selfs meer teenstand gekry van die onderdrukte Argentyne. In Brittanje het dit verseker dat Thatcher die 1983 algemene verkiesing gewen het.
Hierdie konflik speel 'n belangrike rol in die kultuur van beide lande waar dit die onderwerp is van vele boeke, films en liedjies. Dit word egter nie beskou as 'n reuse gebeurtenis van die twintigste-eeu nie, want min mense is dood en die ekonomiese omvang was beperk.
Daar is vandag steeds aansprake op die eilandgroep deur Argentinië. Sou 'n soortgelyke inval weer plaasvind sal die Britte sekerlik die oorhand kry, maar dit mag moeiliker wees weens hul betrokkenheid tans in Irak en Afghanistan.

Tuesday, June 12, 2007

LONDEN: John Soane Museum




LONDEN. 'n Onverwagse manuskrip lewer dikwels 'n beter boek op as een wat gestuur word met groot fanfare, sê 'n uitgewersvriend.
Gister had ek 'n soortgelyke ervaring. Ek het nie met groot verwagtings na die John Soane Museum gegaan nie, maar toe ek daar uitloop was ek hoogs beïndruk oor hierdie vonds. Hierdie is nie net 'n argiektuurmuseum nie, maar 'n imposante dorpshuis met 'n allemingtige eklektiese kunsversameling.
Sy eertydse eienaar en naamgenoot is in 1753 gebore as die seun van 'n messelaar. In 1777 het John Soane met 'n reisbeurs van die Royal Academy vir drie jaar in Italië gaan woon. Dis dan ook hier waar hierdie argitek begin versamel het aan sy omvangryke kunsversameling.
In 1806 het Soane professor geword by die Royal Academy. In hierdie tyd het hy 'n huis gekoop langs Lincoln Inn Fields, 'n park wat vandag nog rus bied vir voosgeredeneerde prokureurs in die kern van Londen se regswêreld.
Hierdie woning langs Lincoln Inn Fields 12 tot 14 het 'n meervuldige doel vir Soane gedien. Dit was nie net woonplek nie, maar ook sy argitekskantoor, biblioteek, uitstalplek vir beelde tot skilderye, en 'n gebou waar hy vrye teuels kon gee aan sy argitektoniese drome. Hier kon hy letterlik bou en verb(r)ou. Nietemin getuig die kamers wat hy opgeknap het van basiese riglyne wat hy altyd nagevolg het soos skoon lyne, vindingryke gebruik van ligbronne, oordeelkundige detail, en presiese proporsies.
Sy Neo-Klassieke styl het uiters gewild geword en sy praktyk het floreer. Dalk sy belangrikste werke was die Dulwich College Kunsgalery en die Bank of England. Laasgenoemde het 'n groot invloed gelaat op die ontwikkeling van kommersiële argitektuur, maar is helaas grootliks herbou in die 1920's deur Sir Herbert Baker. Hierdie afbreek van Soane se vlagskipprojek is al beskryf as "die grootste argitektoniese misdaad in Londen tydens die twintigste eeu."
Weens die baie opdragswerk het geld na Soane gestroom en kon hy artefakte versamel wat in die British Museum sou kon tuishoort. Hieronder tel waardevolle brons uit Pompeii, skilderye deur Canaletto en Hogarth, asook 'n sarkofaag van Seti I, 'n Egiptiese farao.
Na die dood van sy vrou in 1815 het hy in hul dorpshuis bly woon. Sy oë het aansienlik verswak, maar hy het steeds stukke bly aankoop en sy versamelings geherstruktureer.
Met sy twee seuns was hy nie ingenome nie en aan hulle wou hy niks bemaak nie. Daarom het Soane bepaal dat sy huis bewaar moes word sodat "amateurs en studente" hieruit vreugde en kennis kon put. En dis hoe die John Soane Museum tot stand gekom het.
Die maklikste om hier uit te kom is deur die moltrein na Holborn te neem. Die museum is 'n klipgooi van hier - reg langs die groen oase genaamd die Lincoln Inn Fields.
Die museum is oop van Dinsdag tot Saterdag tussen tien en vyf. Toegang is pasella.
Verlede jaar het 90 000 besoekers hier aangedoen - nogal 'n lot vir 'n huismuseum. Daarom is dit wys om met oopmaaktyd teen tien 'n draai te maak, want anders mag jy dalk in 'n tou staan.


Intro

Ver moet jy soek om ‘n behoorlike reisartikel of twee in Afrikaans op die net te vind. Dit is dan juis die doel van hierdie webblad om in hierdie nis te voorsien.

Gooi ook 'n oog by www.philippolis.co.za en http://home.intekom.com/reisinafrikaans

Lekker rondrits (in Afrikaans).

Jens

© Kopiereg / Copyright: Jens Friis. Geen herpublisering van foto's of teks sonder die nodige toestemming.