Thursday, November 6, 2008

Beaulieu-sur-Mer: 'n Fees van kleur

- Jens Friis
"PARTY dae assosieer mens met reuke, met bepaalde geluide. Maar dié dag was dit die geilheid van kleur wat vir goed in my ingeskroei is," skryf André P. Brink in Die kreef raak gewoond daaraan.
Eweneens het kleur my indrukke van Beaulieu-sur-Mer gekleur: songeel suurlemoene, malvas in volle blom, bessierooi granate, bougainvilleas ...
Dié dorp lê daar waar die Franse Riviera Italië word. Maar anders as in sy buurdorpe pronk die plante in Beaulieu selfs uitbundiger, want saam met Menton het dit die gematigste klimaat langs die ganse Franse Riviera.
Híér langs die Mediterreense See bly ryp altyd weg, erge temperatuurverskille is ongehoord en die reën kom wanneer dit moet.
Dis omdat steil kranse Beaulieu beskut teen die koue noorde winde wat woes kan waai vanaf die Alpe.
Hierom staan dié dorp bekend as "La Petite Afrique" (Klein Afrika): in sonnige (Noord-)Afrika word dit mos selde koud. Vir Europa se "wintering wealthy" het Beaulieu-sur-Mer rondom 1900 'n knusse toevlugsoorde geword waarheen hulle graag uitgewyk het in die bibberende maande tussen November en Februarie.
Maar party (veral die Engelse) het so lekker "gehiberneer" dat hulle sommer heeljaar in hul "up-market seaside resort town" kom woon het en kasteelagtige huise gebou het.
Die elegante Belle Epoque-wonings van die wêreld se aristrokrate en miljardêrs het gelukkig goed behoue gebly deur die jare.
Baie is só groot dat dit selfs in woonstelle omskep kon word.
Selfs vandag nog vorm Beaulieu saam met Villefranche en St. Jean Cap Ferrat een van die eksklusiefste residensiële enklawes ter wêreld.
En dis met rede, want dit moet 'n belewenis wees om 'n plekkie hier te hê: om smiddae op jou stoep te sit, aan ietsie koels te suig, en oor jou villa se gemanikuurde grasperk te kyk hoe die Mediterreense See van kleur verander.
Hieroor het Vincent van Gogh eens opgemerk: "Die Middellandse See is die kleur van makriel – veranderlik. Jy weet nie aldag of dit groen of violet is nie. Jy kan nie eens sê dit is blou nie, want dit kan binne oomblikke grys word, hang af hoe die son daarop skyn."
Stap jy langs Beaulieu se palmomsoomde promenade staan die imposante huise ingeryg. Villa Namouna het eens behoort aan James Gordon Bennett Jr., die eienaar van die New York Herald, wie Stanley na Afrika gestuur het om Livingstone te vind. En Villa Léonine was die tuiste van die markies van Salisbury.
Een van die indrukwekkendste huise is die skarlakenwit Villa Kérylos met sy gitswart balke. Die argeoloog Theodore Reinach het dié tempelagtige huis, 'n replika van 'n antieke Griekse woning, in 1908 gebou op 'n skiereilandjie. Vir twintig jaar het Reinach daarin gewoon en geleef soos die Grieke van toet. Met sy dood in 1928 is dit nagelaat aan die Institut de France en is deesdae 'n museum wat amptelik erken word as 'n monument historique. 'n Besoek hieraan is 'n goeie manier om 'n warm middaguur in die somer te verwyl.
Die Casion de Beaulieu langs Avenue Fernand-Dunan is ryklik versier met allerhande tierlantyntjies. Dié gebou in die Art Nouveau-styl (1903) is steeds 'n spoggerige plek waar mans minstens 'n baadjie moet dra en 'n foto-identiteitsdokument is 'n móét as jy toegang wil verkry tot die casino se salles des grand jeux.
Ook in die casion is 'n eersteklas restaurant, La Coupole, wat uitkyk oor die Middellandse see. Die brasserie de luxe bedien seisoenale gourmet cuisine soos slakke in knoffelbotter en geroosterde eendborsies met sitrussous of groenvye.
Dit is mos hoe die lewe moet wees, of hoe? Kleurvol, soet en salig.
G'n wonder Napoleon het toe hy hier aanland uitgeroep: "Wat 'n pragtige plek!"
Dis goed die naam het vasgesteek, want Beaulieu is voorwaar 'n beauty.
Hoe kom ek daar?
Beaulieu-sur-Mer is 10 km oos van Nice se lughawe en 10 km wes van Monaco. Dis op die hooftreinlyn wat Nice-Monaco-Menton bedien en treine stop minstens elke uur hier. Dieselfde geld vir busse.