Wednesday, September 16, 2009

Groenhuis Gastehuis, www.philippolis.co.za


Prentjiemooi rondom Amsterdam


Amsterdam is 'n móét, maar besoek die platteland om Nederland waarlik te ervaar. JENS FRIIS het 'n dagrit onderneem.
Nederland is soveel meer as net Amsterdam. Daarom moet 'n mens 'n dag reserveer om die platteland in te vaar - per boot, bus, fiets of te voet.
Dis 'n wêreld van wit eende, groen gras en bont friesbeeste. Kerktorings troon uit bokant dié plat(te)land wat deurspek is van seë, kanale en gragte.
Meer Nederlands kan dit skaars.
Verrassend is dat van Nederland se mooiste landskappe feitlik deel is van Amsterdam se voorstede. Boonop is die dorpies 'n maklike middagstap of fietsrit uitmekaar.
G'n wonder die Nederlanders het lekker fris bene nie.
Busse 110 en 111 vertrek uurliks van Centraal Station in Amsterdam. 'n Kaartjie kos nagenoeg R70. Jy hoef dus nie 'n ontdekker of 'n miljoenêr te wees om mee te doen aan só 'n toer nie.
Hou 'n kamera byderhand, want die dorpies is poskaartmooi. Bring ook 'n trui en reënbaadjie. Koel eendeweer is algemeen.
UITDAM: Omdat dit net noord van Amsterdam lê, kan 'n mens maklik daarheen fietsry. Maar sorg dat jy 'n gedetailleerde kaart het, want dis maklik om die piepkleine plekkie te mis.
"Heel erg mooi en ook heel bijzonder is Uitdam" - dit herinner aan 'n ou Hollandse skildery.
Dis net 'n halfuur van Amsterdam, maar 'n tydmasjien kon jou net sowel eeue teruggevoer het.
'n Weelderige rustigheid hang oor die nedersetting. Die straatjies is grafstil. Die dorpie voel veilig; byna heilig. Die druk tempo van die Nederlandse hoofstad blaas nie in jou nek nie. Het die inwoners lankal besef haastig is nie gou nie?
Dis dalk waarom die Randstad-inwoners graag hier na balans kom soek.
VOLENDAM: Hoewel toeristerig, is Volendam prentjiemooi met kleurryke winkels, geskiedkundige huisies, 'n groot vloot seilbote en klein oordhotelle. Hotel Spaander aan de Haven is die trotse eienaar van die laag liggendste swembad ter wêreld.
'n Eeu gelede sou die inwoners nooit kon dink dat hul fraaie houthuisies só 'n besienswaardigheid sou word nie. Die inwoners verdra die busvragte toeriste, want dié hordes is hul brood en botter.
Gerookte haring en aal laat jou mond water. En as die geld in jou beursie min word, is dit onnodig om te kwel, want daar is oral kitsbanke en geldwisselburo's. Vir toeriste is dié dorpie gerat.
In die Volendamse Museum is die grootste versameling "sigarenbadjies". Altesaam 11 miljoen hiervan vorm 'n enorme mosaïek.
MARKEN: Gaan eers na Volendam en dán na Marken. Anders gaan jy teleurgesteld wees, want Marken is meer outentiek en boonop nie oorstroom deur toeriste nie.
Aan die begin van die 19de eeu is 'n hawe hier aangelê in die grysbloue waters van die Zuider Zee. Die inwoners het hoofsaaklik van visvang geleef tot 1932. In dié jaar het Marken se Goue Eeu van visvangs geëindig, want die 25 km-lange afsluitdyk is gebou.
Sedertdien kan daar nie meer direk na die Noordsee gevaar word nie en die Zuider Zee is nou propvol vars water.
Weens die wisselende gety en dreigende oorstromings het die inwoners oorspronklik hul blyplekke op kunsmatige heuwels of stelte gebou. Ruimte was beperk en daarom staan die bottelgroen-en-gitswart huisies dig op mekaar.
Ander pragdorpies naby Amsterdam
De Rijp (Noord-Holland)'t Woud (noordwes van Rotterdam)Bronkhorst (Gelderland)Thorn (Limburg)Giethoorn (Overijssel)Orvelte (Drenthe)Oudeschans (noordoos-Groningen).