Wednesday, April 7, 2010

Dra Swaar

DRA SWAAR: Daar is sekerlik min lamppale in die land wat met soveel advertensieborde spog as dié een in Richmond se middedorp. Foto: JENS FRIIS

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073


Die jaar word ryp ...

RICHMOND. 'n Paar goudgeel bome kondig die herfs aan in dié Noord-Kaapse dorp. Foto: Jens Friis

Karkloof: Waar tyd vergaan





JENS FRIIS het gaan "tyd koop" by Karkloof, duskant Pietermaritzburg.

KARKLOOF SPA WELLNESS AND WILDLIFE RETREAT is die enigste wat vanjaar ‘n gesogte Relais & Chateaux-eiendom in Suid-Afrika sal word. Boonop het SA Toerisme dit aangewys as 2009 se beste "Akkommodasie Verskaffer in Suid-Afrika".
En dít is gewis nie om dowe neute nie.
Met ons kuier daar stap ons deur ‘n ongeskonde reënwoud (‘n klipgooi van Pietermaritzburg, maar in ‘n vallei sodat jy saans g’n liggies sien nie)
Swem in ‘n poel waarin 'n waterval stort (dis hoër as die Victoria-waterval).
Vergaap ons aan ‘n dagoue renostertjie (so klein soos ‘n molshoop).
En word gepamperlang in die plaaslike spa (die grootste in Afrika).
Ja, Karkloof ís in ‘n klas van sy eie.
Wat elders hoogtepunte sou wees soos ‘n piekniek in die veld met sononder óf om te swem in ‘n verligte warmwaterswembad onder maanlig, is hier bloot nóg ‘n heerlikheid.
"Maar bowenal probeer Karkloof vir sy gaste tyd koop. Dít waarvan almal te min het ," sê Carin Walton, die spa-bestuurder.
En as daar slegs één ding is van dié besonderse plek, wat my moet by bly, dan sou dit juis dít wees: dat jy hier tred verloor van tyd.
Só sit sekere spa-behandelings vir die horlosie ore aan deurdat jou liggaam blykbaar tot drie keer soveel rus kry as wanneer jy slaap. Tyd word relatief as jy in ‘n bad dryf en dobberend opkyk na gekleurde "sterretjies".
Dié kleurterapie en ander lekkertes wérk, want jy stap met hernude energie daar uit.
Twéé keer kyk jy as duikers en koedoes wei bo-op die eko-vriendelike spa se platdak waar groen gras groei.
Daar is ellelange lyste van dinge te doen by Karkloof, maar die wonderlike wete is dat die besluit by jóú lê. Jy kan enige tyd, enigiets doen. "Haas" is ‘n woord wat nie bestaan. Voel jy laat-aand na roer-eier-en-spek, kan jy dit in jou kamer kry. Wil jy ‘n vis uit ‘n bergstroom trek, sal ‘n sjef sorg dat jy later daaraan kan weglê. Of as jy op 'n wildsrit wil gaan, is ‘n gids heeldag op sy pos.
En eienaardig genoeg, gebeur daar iets heel besonders as jy nie afsprake het nie: dis asof jou dae rek.
Karkloof sal jou soos ‘n handskoen pas as jy jou moet afvra wanneer laas het jý só ‘n sorgvrye dag beleef.
Soos ‘n gas opmerk: "In die week word ek gebombardeer met mense en hul probleme. Daarom is ek snoep met my naweke en kies fyn waar ek dit deurbring. Karkloof is ‘n immergewilde keuse, want die personeel dring nie jou persoonlike ruimte binne nie, maar sorg tog dat alles altyd byderhand is."
En voorwaar gaan níks dié personeel verby nie.
Op die eerste dag vra ons die gasvrou wat se vloeibare seep hulle gebruik, want dit ruik ene blom. Met ons vertrek wag ‘n flessie daarvan vir ons as ‘n totwedersiens-geskenkie.
Óf merk jy oor middagete teenoor die kelner op dat dit lyk of die wolke opsteek, gaan loer hy ongevraagd op die internet én rapporteer terug of die son gaan skyn, al dan nie.
Ja, die personeel is gekonfyt in die lewering van onberispelike diens.
Vir diegene vir wie tyd belangriker is as geld (én dit kan bekostig), kan ek nie aan ‘n beter plek dink as Karkloof nie.
Laat jou liggaam en siel hier heel - op jou eie tyd.
Ek beveel Karkloof onvoorwaardelik aan.

SOU JY GAAN …
WAAR? Karkloof is 24 km van Pietermaritzburg in die rigting van die Albert Falls-dam.
PRYS: Jy kan oorbly vir vanaf R2500 per nag tot R3990 (alles ingesluit). Hoe langer jy bly, hoe goedkoper word dit (reservations@karkloofspa.com). Die spa is oop vir die publiek, maar besprekings is 'n móét (tel. 033-569-1321).
DIT BLY MY OOK BY: Lees jy deur die gasteboek, is daar gereeld gaste wat skryf dat hulle hou van die interieur van die restaurant, ontvangs, die kamers ... En dis verblydend, want jy kan sien daar is baie werk, tyd en liefde daarin gesteek. Stilering is immers ‘n manier om die wereld ‘n bietjie mooier te maak.
VIR MEER INLIGTING: www.karkloofspa.com