Sunday, July 3, 2011

Gaan kuier in Bethulie

Was Bethulie nader aan Gauteng of Kaapstad, dan was dit lankal ‘n Dullstroom, Clarens of Darling. Dié dorp het die regte kombinasie van natuur en kultuur om ‘n bo-baas toeristedorp te wees, skryf JENS FRIIS.
MEESTE NAME? Bethulie kan moontlik daarmee spog dat dit die meeste name van enige dorp in Suid-Afrika gehad het. Die dorp is in 1829 as sendingstasie deur die Londense Sendinggenootskap begin. Dit is Moordenaarsgat/-poort genoem omdat baie San en Griekwas hier deur die Basotos vermoor is. Nadat die sendingstasie in 1835 deur die Paryse Evangeliese Sendinggenootskap oorgeneem is, is dit Caledon genoem na die rivier met die soortgelyke naam wat digby verbyvloei. Om verwarring met Caledon in die Kaap te voorkom is dit later na Verheullpolis verander, maar die inwoners kon nie vat kry aan dié koddige naam nie. Dit is toe Heidelberg genoem, maar daar was ook ‘n Heidelberg in Transvaal! En daarom is dit in 1872 herdoop tot Bethulie. In Hebreeus beteken Bethulia “gekies deur God.”
PASTORIE: Die Franse sendeling Jean Pierre Pellissier het ‘n huis hier in 1833 begin bou. Die werk het langsaam gevorder, want die boumateriaal moes van ver aangekwarwei word. Onthou, dit was nog in die dae van die Groot Trek. Uit moedeloosheid het Pellissier later van wilgerhout gebruik gemaak wat hy aan die oewers van die nabye Oranjerivier gevind het. Nietemin kon dié stewige gebou met gewelmure van 90 cm in 1835 betrek word. Dit is ‘n goeie voorbeeld van die vroegste dorpsargitektuur noord van die Oranje en moes vir jare een van die indrukwekkendste geboue in dié deel van die wêreld gewees het toe die Boere nog in hartbeeshuisies gewoon het. Van Pellissier se personalia het behoue gebly waaronder stukke porselein, glassware, ‘n preekstoeltjie en sy gesang- en gebedeboek. Dié huis langs Voortrekkerstraat huisves nou die dorpsmuseum. Eerwaarde Pellissier, sy vrou Martha en vyf van sy kinders wat kleintyd dood is aan witseerkeel, rus in vrede in die tuin.
BEKENDES: As jy voor die Pellissierhuis staan, het wyle Patrick Mynhardt, in die huis regs daarvan grootgeword. Die Boy van Bethulie het bekenheid verwerf deur sy rolle in Vyfster en Suburban Bliss, maar veral as oom Schalk Lourens deur Herman Charles Bosman. Ook die bekende kunstenaar Walter Meyer en Benjamin Smartenryk Fourie, een van Suid-Afrika se voorste pianiste, se paaie het met Bethulie gekruis. Sanger Theuns Jordaan het hier skoolgegaan en so ook rugbyspeler A.J. Venter. Coenie de Villiers het ‘n sagteplek vir Bethulie en hy het ook ‘n liedjie geskryf, “Bethulie”, wat verwys na die honderde mense wat hier gesterf het tydens die Anglo-Boereoorlog.
PLEK VAN VERSKRIKKING: Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) is sowat 4 800 in die plaaslike konsentrasiekamp aangehou. Nie minder nie as 1 737 het gesterf. Pres. C.R. Swart het in 1966 ‘n gedenkbegraafplaas ter ere van hulle ingewy. Dis net noord van die dorp op pad na Smithfield. Die grafte is destyds verskuif, want daar is gevrees dat die Gariepdam dit sou oorstroom.
ELLELANGE BRUG: Ook weens die bou van die Gariepdam moes ‘n nuwe brug in 1967 opgerig word om die Vrystaat met die Oos-Kaap te verbind. Die Hennie Steyn-brug wat na Venterstad lei is 1,2 km lank en strek oor die die inloop van die Gariepdam. Dis die langste pad- en spoor-kombinasiebrug in Suid-Afrika. Coreli Roos, Volksblad-korrespondent op Bethulie, sê die inwoners hou daarvan om soms ‘n skemerkelkie te gaan drink op dié brug en te kyk hoe die son sak oor die dorp.
BED MET ‘N UITSIG: En as jy terug wil kyk na die Hennie Steyn-brug is die Oppi Koppie B&B van Hestél Griesel (tel. 082-219-9318, www.oppiekoppie.com) dié plek om te oornag. Van hier het jy ‘n pragtige uitsig oor die dorp, dam en brug. Daar is ook heelparty ander gastehuise en –plase in die omgewing.
TE ETE EN DRINKE: Die Ou Vellies Koffiekroeg (073-188-5321) langs die OVK en petrolpompe in Joubertstraat “is informeel en bied waarde vir geld. Waar hoor ‘n mens nog van ‘n koppie goeie moerkoffie, tee of ‘n kolwyntjei vir slegs R5?,” vra Coreli.
N.G. KERKGEBOU: Dié T-vormigegebou met sy neogotiese kenmerke is een van die oudste in die Vrystaat. Die hoeksteen is in 1886 gelê en die eerste erediens het omtrent 18 maande later hier plaasgevind.
LOUW WEPENER: Kom. Wepener het in 1865 die hoofkommandant van die Vrystaat se suidelike kommando's geword. Hy is kort hierna oorlede met ‘n aanslag op die Basotos se vesting by Thaba Bosigo. Daar word vertel koning Moshoeshoe het sy hart laat uitsny sodat sy die Basotho-kapteins dit kon eet om van Wepener se dapperheid in te kry. Naby die nuwe pad na Springfontein (36 km) staan ‘n gedenksteen vir Wepener.
RESERVATE: Bethulie is geseën met wildreservate omtrent aan alle kante waaronder die Gariepnatuurreservaat aan die Vrystaatse kant en die Oviston-reservaat aan die Oos-Kaap se kant. Dan is daar ook die Tussen-die-Riviere-natuurreservaat tussen die Gariep- en Caledon-rivier. Elande en sebras tot blesbokke en duikertjies is onder meer te sien. Hou ook jou oë oop vir visarende, korhane en pragtige wilde-olyfbome. Troeteldiere word nie toegelaat nie.