Tuesday, April 10, 2012

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, Karoo, Suid-Vrystaat, Suid-Afrika: www.philippolis.co.za

Het jy dit van Kanada geweet?

Almal weet Kanada is ‘n enorme land waar yshokkie gewild is, dit wemel van esodrings (maple trees) en dat die indrukwekkende Niagara-waterval op sy grens met Amerika is. JENS FRIIS wat daar gewoon het, deel egter ook ‘n paar onbekender feite.

Stap dwarsoor land 'n Voetslaanroete van 10 keer die afstand tussen Kaapstad en Johannesburg strek oor Kanada.
Die Trans Canada Trail, waarby dié land se landbou in 'n groot mate baat vind, is op 16 000 km die langste in sy soort ter wêreld.
Die roete loop langs bestaande staproetes, deur federale of provinsiale parke, langs ongebruikte treinspore en oor private grond.
Waar dit oor plase loop, is reg van weg met die private grondeienaars onderhandel.
Dit is 'n gemeenskapsprojek wat deur al die belanghebbendes in stand gehou sal word. Dit sluit in boere, plaaslike organisasies en provinsiale en nasionale owerhede.
Dit bevorder onder meer ekotoerisme en bewaring.
Belanghebbendes glo dit sal plaaslike ekonomieë stimuleer deurdat gastehuise daarby sal baat vind en eiendomswaardes sal styg.
Reeds in 1992, toe Kanada sy 125ste bestaansjaar as 'n verenigde volk gevier het, is besluit om die roete tot stand te bring. Dit is dus vanjaar 20 jaar oud.
Dit strek verby al die vernaamste Kanadese stede en verbind die Stille, Atlantiese en Arktiese Oseane.
Vir 75% van alle Kanadese kos dit net 'n rit van 20 minute per motor om die naaste punt op die roete te bereik.
Vir die avonturier bied die roete kanovaarte op die grootse Mackenzie-rivier in die noorde, perdry, ski en fietsry.
Meer besonderhede is te vind by www.tctrail.ca en www.walkcanada.com.

Anglo-Boereoorlog-monumentIn Toronto pryk ‘n reuse oorlogsmonument wat Kanada se deelname aan die Anglo-Boereoorlog gedenk. Sowat 270 Kanadese soldate het tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 in Suid-Afrika omgekom.
Die monument was by sy voltooiing destyds die grootste openbare monument in Toronto. Dit is steeds een van die grootste monumente in dié stad wat onder sy inwoners duisende gewese Suid-Afrikaners tel.
‘n Rede vir die grootsheid daarvan is waarskynlik dat dit Kanada se eerste deelname aan 'n oorlog in die buiteland gedenk. Dit bestaan uit onder meer drie bronsbeelde. 'n Vrouefiguur beeld Moeder Kanada uit en twee soldate die infanterie-regimente wat in Suid-Afrika geveg het. Bo-op 'n graniet-obelisk van 27,4 m is 'n vredesengel met gespreide vlerke en arms wat na die hemel reik.
Die monument is die eerste keer in 1910 luisterryk onthul, maar dis twee keer afgebreek en heropgerig - eers weens die bou van 'n moltreinstasie en later weens die verbreding van University Avenue.
Dit staan nou waar University Avenue en Queen Street West kruis.
Detail aan die beelde, soos die oë en naeltjies, was vir jare onder 'n groen roeslaag bedek. Besoedeling, reën en voëlmis het hul merk op die monument gelaat in die afgelope eeu. ‘n Dekade gelede is dit sorgsaam gerestoureer en lyk dit nou weer na die oorspronklike Jakob.
Walter Allward was die skepper van die monument. Hy het later internasionale erkenning gekry as die argitek van die massiewe monument ter herdenking aan die Eerste Wêreldoorlog wat by Vimy Ridge in Frankryk opgerig is.

Wyn gemaakDie Okanagan-vallei in Brits-Colombië en die Niagara-skiereiland in Ontario is nie alombekend vir sy wyne nie. Tog bied dit 'n wye verskeidenheid wyn wat gekenmerk word deur 'n unieke karakter danksy die gebied se topografie en koel klimaat.
Veral yswyn kenmerk die Kanadese wynbedryf. Om dié seldsame wyne te maak word bevrore water onder druk uit die druiwe onttrek. Dit maak vrugtegeure en suur gekonsentreerd en die volume minder. Gevolglik is yswyne duur.
Die geografie van die Niagara-skiereiland word gekenmerk deur 'n 50 m hoë rif. Dit beskerm die wingerde teen die hange teen winde van die Ontariomeer, maar verskaf ook voortdurend warmer lug in die winter en koeler lug in die somer.
Goeie rieslings en chardonnays word ook gebottel.
Die rypheid van veral die rooi druiwe word sterk beïnvloed deur reënval wat vanjaar hoog was.
Nagenoeg 10% van die Kanadese wyn word uitgevoer - hoofsaaklik na Japan en Amerika.

Nog interessanthede* Halifax aan die Kanadese ooskus is verder van Vancouver aan die weskus as Londen.
* Kanada is in tien provinsies en ses tydsones verdeel.
* Net Rusland is groter as dié land.
* By verre die meeste Kanadese woon binne 320 km van die Amerikaanse grens. Die res van die enorme land is yl bevolk.
* Soos die Britte uitwyk na hul ``country manors'' of ``seaside digs'', die Switsers na hul bergvillas of chalets en die Amerikaners na ``ranches'', hou die Kanadese daarvan om na hul ``country cottages'' te gaan wanneer lente in die lug is.
* Kanada se enorme waterreserwes het gelei tot die bou van hidro-elektriese aanlegte wat vandag die nasie een van die wêreld se voorste produsente van hidro-elektriese krag maak. Varswatermere beslaan 'n 13de van Kanada se oppervlakte. Hieronder tel dele van die vier Groot Mere op die grens met die Verenigde State van Amerika in die suide.
* Suid-Afrika is nege keer kleiner as Kanada, maar het nogtans meer inwoners.
* Die meeste van die duisende Suid-Afrikaners wat hierheen geëmmigreer het, woon in Vancouver of Toronto, die grootste Engelssprekende stede.
* Ondanks die feit dat Suid-Afrika weer deel van die Statebond is, is paspoort en visum steeds nodig om Kanada te besoek.