Tuesday, December 4, 2012

Dié kerke is ware Gibraltars

- Sandsteenkerkgeboue waak oor Vrystaatse dorpe

JENS FRIIS het ‘n draai gery deur die Oos- en Suid-Vrystaat en bied hier ‘n blik op van die besonderse voorbeelde van sandsteenkerkgeboue in dié geweste.

WINBURG: M.T. Steyn, president van die Oranje-Vrystaat, het die hoeksteen van dié kerk in Januarie 1899 gelê, maar spoedig sou die Anglo-Boereoorlog uitbreek en die onvoltooide kerk is deur die Britte as hospitaal gebruik. Bouwerk is hervat ná die vredesluiting in 1902 en dit kon uiteindelik ingewy word op 18 Maart 1904. Die indrukwekkende neogotiese sandsteen kerk is ontwerp deur die argitekte JH & AE Till en opgerig deur die bouers Rundle, Rowe & Marshall.

KESTELL: Die NG kerk op Kestell is vir my die imposantste sandsteenkerk in die Vrystaat. Dit is dan ook die tweede grootste kerk van dié soort in die Vrystaat, slegs dié op Warden is groter, aldus Vrystaatse Argitektuur deur PJ Nienaber, JD Smit en SM Botes.
“’n Halfmaanvormige trap voer na ‘n portiek met Ioniese sandsteensuile. Dit vorm ‘n visuele basis vir die agtkantige toring daaragter. Die suile en portiek toon sterk ooreenkomste met die klassieke boustyl terwyl die ingange en toringopeninge Romaans is.”
Die hoeksteen van die kerk wat ontwerp is deur Gerard Moerdijk is deur dominee E.J. Smit, die eerste leraar, gelê in 1926. Twee jaar later is dit ingewy en die boukoste was 18 000 pond (sowat R200 000 – minder as wat die meeste motors deesdae kos!).
Daar is destyds in Die Volksblad só oor dié kerk geskryf: “(Die kerk is) ‘n ware Gibraltar wat oor die dorp en gemeenskap in die rustige berlandskap van die Oos-Vrystaat waak.”

EXCELSIOR: Die dorp is in 1910 uitgele op die plase Excelsior en Sunlight omdat boere moeg was vir die lang afstand tussen Winburg en Ladybrand. Die NG kerk is in 1925 gebou en dus nog nie eens ’n eeu oud nie. Excelsior, 55 km van Winburg, het in 1911 dorpstatus gekry en sy naam beteken in Latyn “meer verhewe/hoër”, volgens PE Raper se Dictionary of Southern African Place Names.

ROSENDAL: Soos baie ander plekke langs die trekroete het Rosendal sy naam te danke aan die Voortrekkers. Die dorp is in 1911 aangelê, maar reeds op 18 Oktober 1837 het die Voortrekkerprediker Erasmus Smit dit aangedui as Roderozendal of Bloemendal.
Hy skryf in sy dagboek dat van die trekkers wild gaan skiet het en pragtige blomme uit 'n ``bloemrijk oord'' saamgebring het ``vele door onze ogen nog nooit geziene bloemen, . . . zodat ik proponeerde de plaats, waar we nu met's Gouverneurskamp gekampeerd liggen, Bloemendal of Roderozendal te noemen; overwegende de uitnemend grote rozenrode bloemen de hier in grote menigte gevonden worden: Men behoeft nie eens naar't veld uit te gaan, om de bloemen te zoeken; maar de aangename geur der bloemen wandelt of komt ons hier in `t leger als vanzelf te gemoet.''
En dis in dié blomrykeoord waar daar ook ‘n pragtige sandsteenkerk opgerig is. Maar anders as in Europa is die kerk hier nie omring met huise nie. Nee, in Rosendal - soos menige Hoëveldse dorpie - is die wonings ver van mekaar. Erwe lê oop. Die verwagte ontwikkeling het nooit gekom nie.
Voor dié sandsteen gebou staan 'n gedenkteken met die inskripsie "Uit Afrikaner-rou is gebore Afrikanter-trou."

ROUXVILLE: Die sandsteengebou met neogotiese eienskappe is ontwerp deur Richard Wocke. Die hoeksteen van die kerk, ‘n nasionale gedenkwaardigheid, is in 1879 gelê en ná twee jaar was die bouwerk voltooi. Die veranderde toring is in 1924 opgerig, volgens Historic Sites of South Africa deur Deirdré Richardston. Rouxville is in 1864 gestig op die plaas Zuurbult en genoem na dominee Pieter Roux, leraar van die NG kerk op Smithfield van 1853 tot 1874.

WEPENER: Die gunstiger toestande in die Vrystaat ná 1870 het geleidelik ook in die kerkbou weerspieël. Die imposantste gebou op Wepener, soos in vele ander plattelandse dorpies, is uiteraard die NG kerk. Dis uit sandsteen in 1882 gebou. Wepener, naby die Lesotho-grens, het tot stand gekom om as ‘n bufferdorp te dien teen die Basothos. Dit het in 1904 munisipale status gekry en is genoem na Lourens Jacobus (Louw) Wepener wat in 1865 omgekom het tydens ‘n geveg met die Basothos.