Monday, August 17, 2009

Brussel is méér as 'n Eurokratiese konferensiekamer



- Jens Friis
MOENIE dat Brussel se reputasie as 'n vaal, vervelig stad jou mislei nie. Hoewel dit die hoofkwartier van Europese Unie-burokrasie is en die tweede grootste diplomatieke stad ter wêreld, is dit ook 'n lewendige, kosmopolitiese wêreldstad met byna 'n miljoen inwoners waarvan slegs twee derdes Belgiese burgers is.
Hier woon meer as 5 900 mense per vierkante kilometer. Brussel bied uitstekende argitektuur, museums, restaurants en 'n goed-bewaarde laat sewentiende-eeuse stadskern.

WERD OM TE WEET
* Die inwoners is trots op dié oudinwoners: Audrey Hepburn, Jean-Claude van Damme, Claude Lévi-Strauss, Jacques Brel en Adolphe Sax wat die eerste saksofoon gemaak het.
* Uitvoerprodukte van hier is: Tintin, sjokolade soos Godiva en Neuhaus, handgemaakte kant, tapisserieë en honderde soorte bier soos Duvel, Hoegarden en Leffe.
* Brussel is presies 100 m bo seevlak, is 61 vierkante kilometer groot en daar woon 980 000 mense.
* Die veeltalige stad is geleë in die Vlaams-sprekende Vlaandere, maar die meeste inwoners praat Frans. Buiten Europeërs woon hier ook baie Morokane, Turke en Afrikane wat veral kom van die Kongo, 'n voormalige Belgiese kolonie.
* Sowat 75 % van die inwoners is Katolieke; die res hoofsaaklik Protestante, Jode en Moslems.
* Die vensterbanke van eeueoue geboue in die oudstad is dikwels gevul met veelkleurige malvas - dit maak prentjiemooie foto's.
* In dié stad móét jy moules et frites (mossels en skyfies) eet. Nêrens proe dit só nie.
DIE VOLGENDE IS MóéTS
Die topbesienswaardighede is stapafstand van mekaar.
Die Mannenken Pis (Rue de l'Etuve, naby die Grand-Place of Grote Markt) is 'n fontein-standbeeldjie van die oudste en stoutste stadsburger. Die legende lui dat 'n handelaar beloof het om 'n standbeeld te maak van sy verlore seuntjie in die houding waarin hy gevind word. Uit die naam is dit duidelik waarmee hy besig was toe hy gevind is.
Die Tremmuseum is verbind met die stad se tremnetwerk. Heelwat van dié voertuie word nog gebruik as dit nie uitgestal word nie.
Die Hôtel de Ville (stadsaal) is die oudste monument in Brussel en een van die mooiste voorbeelde van Gotiese argitektuur in België. Sekere dele dateer uit 1402.
Volgens oorlewering word geluk gevind as jy oor die hand streel van Everard't Serclaes, verdediger van gemeentelike regte, wat in 1356 vermoor is. Daar is langs die Grote Markt 'n gedenkplaat en beeld ter ere van hom.
Die Musées Royaux des Beaux Arts (Rue de la Regence 3), in die middel van die ou dorp, is die bekendste museum in België. In hierdie twee aaneenliggende museums word moderne sowel as ouer werke vertoon.
By die Koninklike Paleis wapper die landsvlag as Koning Albert II tuis is.
Die Belgisch Centrum van het Beeldverhaal (Sandstraat 20) is 'n strokiesprent-museum waar die storie agter Kuifie en die Smurf-familie gevolg kan word.
Veelkleurige reuse-muurskilderye van hierdie helde kikker talle afgeleefde geboue op.

Friday, August 7, 2009

Raai-raai-riepa

As jy voor dié padteken te staan kom, sal jy waarskynlik nie weet waar jy is nie. Maar die volgende leidraad mag help: Dié dorp net suid van die Gariepdam is g'n stad nie. Die antwoord is: Venterstad. Foto: Jens Friis

Krugerwildtuin gewis nie net winterbestemming



- Jens Friis
ENIGEEN wat al winters probeer plek kry het in die Kruger-wildtuin sal getuig: maklik is dit nie. Vir die res van die jaar is die kanse beter, want baie wil dan glad nie hierheen gaan nie. Té warm, sê hulle. In die lente, herfs en selfs somer hoef 'n ongemaklike hitte egter nie te veel te pla nie. Lugverkoeling in rondawels is algemeen. As jou motor nie 'n lugverkoeler het nie is dit altyd moontlik om met dagbreek en laatmiddag draaie te ry, eerder as wanneer die skaduwees regop staan.Oktober tot Maart is die kamphekke reeds teen 05:30 oop. As die son begin steek teen 11:00 kan jy al menige rooibok, buffel en dalk selfs renoster gesien het. Dieselfde geld laatmiddag, want die hekke sluit eers om 18:30 - teenoor die 17:30 winters.Om die hitte af te was is daar onder meer swembaddens in Shingwedzi, Berg-en-Dal, Mopani en Pretoriuskop. 'n Voordeel in die nie-winter is dat die paaie nie so stowwerig is nie, want reën is dan algemener. Ongelukkig is malaria 'n groter probleem en wild moeiliker te sien, want hul hoef nie te drink by die groot watergate nie.Nietemin loon dit om die Wildtuin in 'n ander seisoen te besoek en te aanskou hoe dit dan 'n gans ander baadjie dra as die valerige een in die winter.Bosveld-seisoene - 'n Riglyn vir die Seisoene in die Nasionale Krugerwildtuin (Jacana-uitgewers) gee 'n blik op hoe seisoene die Nasionale Kruger Wildtuin raak.Dit verdeel die jaar in ses "mini-seisoene". Watter rol veral reënval en temperatuur speel in hierdie veranderinge word beskryf en uitgebeeld.Die opvallendste seisoenale verandering by soorgdiere in die Wildtuin, is die geboorte van hul kleintjies. Sommige diere soos rooibokke, lam oor 'n baie kort periode - heel klein rooibokkies is gewoonlik net tussen Desember en Januarie in die wildtuin te sien. Die jong diere word in Bosveld-seisoene uitgebeeld in die maande wat hul waarskynlik te sien is.Bosveld-seisoene kan help om voëls uit te ken aan hul seisoenale aktiwiteite. Die Diederikkie is byvoorbeeld tussen Oktober en Maart in die Wildtuin. "Soos die meeste koekoeke word hulle meer dikwels gehoor as gesien. Hulle lê eiers in die swartkeelgeelvink en bontrugwewer se nes."Die opvallendste seisonale veranderinge is volgens die skrywers in die plantegroei te sien.So blom die Sekelbos net tussen Oktober en Januarie. Dis dan wanneer hierdie struik uitgeken kan word aan die pers en geel blomme wat soos Chinese lanterns lyk. Die sambokpeulbome is baie opvallend rondom September wanneer hul blomme nog voor die blare verskyn. Die Peulmahonie blom ietwat vroeër - tussen Julie en November. "Die wortels van hierdie boom wat algemeen in die noorde voorkom, is gebruik om bilharzia te behandel en is as 'n gelukbringerdoepa voor 'n jagtog gebruik."Sulke agtergrond feite word oor meerdere plante gegee. Van die maroela leer jy byvoorbeeld dat 'n swanger vrou volgens oorlewering die geslag van haar baba kon bepaal deur die verpoeierde bas van 'n maroela te eet. Die baba se geslag sou dieselfde wees as dié van die boom. (Meerdere arme moeder sou mettertyd ontnugter wees!)Oktober en November is dit blomtyd vir die tjienkerientjee en ook die kremetart. Laasgenoemde se wit blomme word deur vlermuise snags bestuif. Interessant is dat die stam holtes vorm wat in die reënseisoen tot 400 liter water kan opvang.Die kanse is sterk om springende boomsade elke lente in die Wildtuin te sien. Dis die werk van die springboontjiemot wat haar eiers in groen tambotiesade lê. "Wanneer die ryp saad val, probeer die larwe binne-in om die saad uit die son te beweeg en veroorsaak soms dat saad tot 3 cm hoog spring."En so is daar 'n horde brokkies inligting oor wat om in watter seisoene te verwag ongeag of jy belangstel in die vingerhoedblom, gloeiwurm, rooiborsbyvreter of die groot grys boompadda.
Oorweeg dit dus om 'n draai in Suid-Afrika se bekendste nasionale park te gaan maak na die winter - en beleef 'n gans ander wêreld.