Friday, June 27, 2008

Sammy Marks-museum: 'n Victoriaanse juweel

DIE gesegde lui 'hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde."
En in die geval van die Sammy Marks-museum is dit inderdaad die geval.
Dié museum met sy statige Victoriaanse huis en roostuin is beslis 'n besoek werd as jy 'n draai maak in die oud-hoofstad van die eertydse Transvaal.
Dis 'n stukkie landelike nostalgie aan die oostekant van Pretoria, ten spyte van die plakkerskampe en sekuriteitskomplekse wat al nader kruip.
In die biljartkamer tree sangers soos Helena Hettema dikwels op, buite is 'n imposante spuitfontein wat onlangs gerestoureer is, en jy kan kroukie in die tuin speel.
Tradisionele roomkoek, room-en-aarbeie en korslose komkommertoebroodjies sou nie uit plek wees op dié Victoriaanse landgoed.
In 1868 het Sammy Marks pennieloos uit Litaue aan die suidpunt van Afrika aangekom. In 1920 is hy dood as ’n uitsonderlike ryk man. Tussen dié twee datums het Marks hom gevestig as ’n historiese figuur in Suid-Afrika.
Zwartkoppies Hall was die blyplek van Marks en sy jong vrou, Bertha Guttman.

Skud jou vere reg vir Bastilledag



AS jy jou al jare voorneem om 'n draai te maak by Franschhoek se Bastilledagvierings, is dit nóú die tyd om reëlings te tref sodat jy vanjaar daar kan wees met die naweek van 12 en 13 Julie. Die hoofstraat sal in rooi, wit en blou versier word om besoekers te verwelkom en die dorp se Franse Hugenote-erfenis te gedenk. Die land se beste bekroonde sjefs en wynmakers sal stalletjies in die middedorp hê, met ingevoerde kase tot handgemaakte sjokolade – en by dit alles Franschhoek se topgehalte-wyne.Vir meer inligting besoek www.franschhoek.org.za.

Monday, June 23, 2008

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073


Middelpos: Iets tussen nêrens

- Jens Friis

“DAAR is net één garage en bottelstoor, ‘n sinkdakhuis en poskantoor ...”, sing Beeskraal van “Die Ou Plaasdorp”.
Dié treffer kon netsowel geskoei wees op Middelpos – ‘n kolletjie tussen Calvinia en Sutherland.
Hierdie is rerig die vergete kant van die Hantam-Karoo. Die beskawing het (genadiglik) nog nie hier vat gekry nie en slegs dan en wan gewaar jy ‘n tweespoorpadjie wat afdraai na ‘n opstal by Wolwedans, Geelhoek, Visrivier of Bet-El.
“Wees geestelik en fisies gereed vir toerisme op ‘n ander vlak,” waarsku Timeless Karoo, een van ons reisgidse, tydens ‘n onlangse besoek.
Maar dis juis hierdie ongenaakbare woestynagtigheid wat die Middelpos-area se lokaas word. Sy afgesonderde grondpaaie word al hoe gewilder onder veral motorfietsryers en 4x4-entoesiaste.
Met ‘n gewone motor kan jy ook hierheen ry, maar laat genoeg tyd toe, want die grondpadjies laat jou selde toe om vinniger as 75 km/h te ry.
En sorg dat jou motor stofdig is, want hierdie is een van die droogste dele van die land.
Maar hoewel die druppels meestal taai is om te kom, word dié wêreld ‘n oase in goeie reënjare, vertel Kitty Nel terwyl sy in die sonnetjie sit op die stoep van die eenmanposkantoor.
“Watervoëls kom dan uit die niet en die veldblommetjies kry kans om hul koppies uit te steek.”
Min mense kom na Middelpos vir blomme, maar volgens IBSA, die Inheemse Bol-Assosiasie van Suid-Afrika, is dit een van die beste blomkykplekke in die land.
“Een van die beste blomjare ooit was 2006. Toe het ons plante gesien wat ons nie eers geweet het bestaan nie!”, vertel Kitty.
Op die hoek oorkant die poskantoor is Die Winkel, ‘n plattelandse algemene handelaar uit die jare toet.
Hier verkoop Sarrie Mattheus nog Wilsontoffies in papier-cones, en Petrus Struis weeg die uie en tamaties af op ‘n skaal wat met gewiggies werk.
Teen die muur is die volgende boodskappie opgeplak: “Al sal ek die tale van mense / en van engele kan praat / ma ek het die liefde geloop / ryl virrie haat, / dan het ek 'n raserige parraffienblik geraak.”
Ons koop pragtige paraffienlampies en Helena van der Westhuizen, die bestuurder, draai dit vir ons toe in die vorige dag se Rapport. Die lampies mag nie stukkend stamp met die wegry nie.
Helena sê hulle het ‘n voortdurende stryd met die groot handelaars wat nie meer wil aflewer nie. “Die brandstof is te duur en die afleweringskoste te hoog.”
Maar my grootste bekommernis is oor die suigstokkie wat ek pas gekoop het. Dis véél kleiner as in my kinderdae en binne-in is omtrent g’n sherbet nie.
Volgens Helena is daar so 100 kinders in Middelpos se skool en 300 in die dorp, “maar dit hang af in watter tyd van die jaar jy tel, want party doen stikwerk.”
Op dié plaasdorp wat so Afrikaans is as kan kom is daar ook ‘n motorwerktuigkundige, ‘n petrol- en dieselpomp, ‘n polisiekantoor (wat 5 050 vierkante kilometer bedien) en ‘n hotel.
Die Middelpos Hotel (027 341 2507) bedien twaalf soort bier, boerekos en tuisgemaakte brood. Maar jy kan ook buite braai en in die tuin kampeer.
Langs die wasgoedlyn van die hotel staan ‘n massagraf van Britse soldate wat omgekom het tydens die Anglo-Boereoorlog. Generaals Jan Smuts en Jaap van Deventer het op 5 en 6 Februarie 1902 ‘n groot Britse konvooi hier oorrompel en só het ‘n voorradekonvooi van 130 waens in die Boere se hande geval.
Dit was juis tydens die Anglo-Boereoorlog wat die gevierde akteur en skrywer, sir Anthony Sher, se oupa vir Middelpos gekoop het vir ‘n appel en ‘n ei. Volgens Sher was sy oupa “‘n Boerejoodse smous”.
Maar Middelpos se geskiedenis strek veel verder terug, volgens http://middelpos.com.
Stinkkuil, een van die eerste plase in die Suid-Roggeveld, het behoort aan Lucas Visagie, wat dit nagelaat het aan sy kinders.
In 1860 het Daniel Tomlinson ‘n deel van die plaas gekoop van Jan Nel – een van die Visagie-kinders. Tomlinson het ‘n verversingspos hier op die been gebring en daar is op die naam Middelpos besluit. Dít was ‘n goeie naam, want dié winkel moes die groot area bedien tussen Ceres, Sutherland, Calvinia en Williston.
Ná Tomlinson se dood is die plaas verkoop aan die Sher-familie en Middelpos het ontwikkel tot ‘n bymekaarkomplek vir handel, sport en sosiale aktiwiteite.
Vandag is Middelpos een van slegs ‘n handjievol dorpies in Suid-Afrika wat nog in privaat besit is.
Dit het die huidige eienaar al meerdere kopsere besorg, want onder die nuwe bedeling het die verskaffing van munisipale dienste verander van ‘n voorreg tot ‘n reg. Gevolglik moes hy al der duisende rande hierop bestee, terwyl die inwoners nie aldag hul huur (kan) betaal nie Tog sien baie inwoners nie kans om weg te gaan nie, want hul ken geen ander wêreld nie. Hul is hier gebore en getoë. En dis waar hulle wil bly.
Middelpos is nie prentjiemooi nie, maar dit het ‘n oase-atmosfeer omdat dit in die middel van nêrens is.
Stop hier vir ‘n wyle. Sluk iets koels af by die hotel, koop ‘n (klein) rooi suigstokkie by Die Winkel, kyk na ‘n korbeelhuisie wat eens gebruik is as kruithuis, en gooi brandstof in, want die wêreld wat hierdie plaasdorp omring is wyd en verlate.

Om oomblikke te preserveer


"Probeer ten minste vaspen
‘n bietjie van die aard
van die dinge wat jy liefhet
en onthou
‘n mens is tog so gou geneig
om maklik te vergeet
‘n foto keer dat die tyd verweer.

- "Stuur vir my ‘n foto" (Laurika Rauch / Dineke Volschenk)

OP 'n keer lees ek hoe 'n joernalis kla: "Hoekom doen ek dit aan myself, hoekom doen ek dit aan ander (goeie) mense: bestorm hul huise soos ’n nors bul, vra persoonlike vrae, dring aan op antwoorde, vul die leemtes met my eie, perverse indrukke ..."
Dis hieraan wat ek dink toe ek, die ewige toeris, onlangs 'n draai maak by ‘n uitstalling van reisfoto’s in Brisbane. Daar’s die allermooiste kiekies van kultuur- en natuurmagnete soos Tokio tot Tafelberg, maar op feitlik g’neen is ‘n mens nie. En as daar wel ‘n siel is, is dit ‘n ge-pose-de foto.
Met die uitstap raak ek en ‘n vriend aan’t gesels oor dié menslose foto’s, want toeriste tot professionele fotograwe, neem kiekies van plekke, maar selde van die inwoners.
Waarom? Is dit dalk omdat ek en jy (soos die joernalis hierbo) glo ons gaan onsself aan vreemdelinge opdring?
En só draai die gesprek toe oor 'n toeris met ‘n kamera in die hand se (voor)reg om foto’s te mag neem van mense en wanneer daar op hul privaatheid inbreek gemaak word.
Ja, ons wik en weeg oor menige tameletjie, maar die boerpotvraag draai om 'n scenario soos die volgende: Is dit aanvaarbaar om wasgoed in ‘n Italiaanse verdwaalstegie (skelmpies) af te neem terwyl 'n huisvrou dit keurig ophang?
Want 'n fotograaf behoort nes Woody Allen te glo: "No act is so small that it doesn't need an audience."
My vriend merk vol wysheid op dat dit deesdae makliker as ooit is om deur vreemde lande te reis, maar moeiliker om mense eerstehands te beleef – en foto’s van hulle te neem.
Van snaparazzi-foto's hou hy niks. Daarom probeer hy eerder met die plaaslike inwoners gesels en hulle dan sover te kry om in te stem vir 'n foto.
"Dié foto’s het gewoonlik gebeur wanneer ek alleen op reis was," vertel hy. "Solo-reise fokus op jou uitgeslotenheid. Mense is dan meer geneig om jou in hul lewens toe te laat."
Maar gee hy toe: Dis ‘n fyn lyn. In die buiteland ken jy nie kulture goed genoeg om nuanses reg te lees nie. Beteken ‘n Arabier wat koponderstebo verbystap dat hy sleg voel, of eerder skaam, nors óf kamerasku is?
‘n Verkeerde interpretasie kan beteken dat jy ‘n afranseling óf selfs 'n klap kry. En hiervoor is 'n konfliksku toeris mos nie lus nie.
Peat O'Neil, skrywer van die boek Travel Writing, meen as algemene reël mag jy enigiemand in ‘n openbare plek afneem.
Maar selfs hier kan 'n steelfoto van ‘n intieme oomblik taboe wees. Daar is grense wat nié oortree word nie, want soos die bekende stelling lui: Die private het openbare implikasies.
Hierom sê sy: "Vriendelikheid, eerlikheid en goeie maniere is altoos die beginsels wat gevolg moet word by die afneem van mense ... Vra iemand om toestemming as jy hom/haar wil afneem."
Maar doen jy dít is daai preserveerbare oomblik helaas dikwels daarmee heen.
Dis daarom soms die wysste om nie boe of ba te sê nie. Om die risiko te neem werp meestal vrugte af. Die meeste mense laat jou begaan.
In alle tye is ek nog net in Maputo verbied om 'n soldaat voor 'n pragtige staatsgebou af te neem, en 'n blommeverkoopster in Rome het gal gebraak toe ek gevra het of ek 'n kiekie van haar mag neem. Sy wou hê ek moes haar 'n paar lira hiervoor gee.
Hierteenoor is daar male sonder tal waar mense juis afgeneem wóú word, soos die bejaardes op die tehuis se stoep in Graaff-Reinet, die kleurlingkinders in Elim se afgekalkte sendinghuisies, die Maleisiër op sy boot in Borneo ...
Die middeweg is dus: waag 'n kans, maar moenie jou lens lig as jou sesde sintuig waarsku dat só 'n kiekie probleme gaan gee.
As daar dan 'n verlore fotokans is, troos dit om te weet: 'n Foto keer (wel) dat die tyd verweer, maar gelukkig is daar ook ander maniere om te onthou - soos om 'n plek te probeer belééf.
Dít is meestal van groter waarde as om lank te wik en weeg of jy daai foto van 'n inwoner sal neem wat 'n duisend woorde tuis gaan spreek.

Amalienstein / Zoar

DIE Klein Karoo se gewilde R62, beter bekend as Roete 62, is geskoei op Amerika se bekende Roete 66 tussen Chicago en Los Angeles. Met die bou van die N2-snelweg in 1958 het die grootpad van Kaapstad na Port Elizabeth die Klein Karoo se dorpies verbygegaan. Vir 40 jaar het dié dorpies gehiberneer, maar weens die gewildheid van Roete 62 is dit in die afgelope paar jaar herontdek. JENS FRIIS het gaan inloer by die sendingdorpies Amalienstein en Zoar.

HALFPAD tussen Ladismith en Calitzdorp lê twee skilderagtige sendingstasies, Amalienstein en Zoar, wie se geskiedenis onlosmaaklik ineen gevleg is.
Bestemmings is dié twee nie, maar wel ideale aandoenplekke om die gewilde R62-roete deur die Klein Karoo te onderbreek.
Liefhebbers van 18de eeuse geskiedenis sal dol wees oor dié sendingstasies, maar vir die res is daar ook ‘n magdom te doen in die onmiddellike omgewing.
Hieronder tel die pragtige Hoeko-vallei waar die gevierde volkskrywer C.J Langenhoven gebore is.
En die mond van die indrukwekkende Seweweekspoort lê letterlik aan die buitewyk van Amalienstein.
Daar is verskeie verklarings vir die oorsprong van die naam “Seweweekspoort” wat wissel van ‘n veedief wat sewe weke lank in die poort weggekruip het tot ‘n verbastering van die van van een van die eerste sendelinge hier, naamlik Louis Zerwick - dus Zerwick-se-poort (Seweweekspoort).
Elke Oktober vind die Seweweekspoort-bergfiets-uitdaagwedren plaas. Die wegspring is gewoonlik by Amalienstein, 25 km buite Ladismith op pad na Oudtshoorn. Die 80 km-fietsers word dan vroegoggend deur die beierende klok van Amalienstein se geskiedkundige kerkie afgesit.
Dié kerk is geverf in die tradisionele blou, mosterd- en roeskleure van die vroeë Lutherse kerk. Volgens Fransen en Cook is dit tussen 1853 en 1873 onder leiding van Duitse sendelinge in die Neo-Gotiese styl gebou.
Halfgebakte kleistene het die bou van hoë torings verhoed. Tog gee die torinkie in die middel op die voorgewel en kleiner torinkies op die vier hoeke aan die bopunte van die steunbere, ‘n gevoel van vertikaliteit wat kenmerkend van die Gotiese argitektuur is.
Maar sending in dié area strek veel verder terug as 1853.
Aan die begin van die 19de eeu het sowat 100 mense op die plaas Doornkraal gewerk. Die Suid-Afrikaanse Sending (SAS) het onder hulle gearbei.
Petrus Joubert was aan die stuur hievan. Hy was die oupa van genl. Piet Joubert, die militêre leier van die Transvaalse Republiek.
Mettertyd is die sendingtasie se naam verander na Zoar, ‘n streek langs die Rooisee waarna verwys word in Genesis 14:2-8. Dit word in die Nuwe Vertaling as “Soar” geskryf.
Die naam het eers “die onbelangrike” beteken, maar toe Lot van Sodom gevlug het, het die betekenis verander na “toevlugsoord”.
Zoar in die Klein Karoo was skynbaar destyds ‘n “hemel”, want mense het daarheen gestroom.
Geldnood het die sendingwerk deur die SAS gekniehalter en daar was groot blydskap toe die Berlynse Sendinggenootskap (BSG) ingestem het om hierheen uit te brei.
In 1842 het die konsessieplaas Zoar te klein geword en die BSG het die buurplaas Elandsfontein aangeskaf met geld uit die boedel van Amalie von Stein.
Sy het aan die hoof gestaan van die Vrouehulpvereniging en het ‘n groot som geld aan die BSG nagelaat. skryf Willie en Sandra Olivier in hul “Toergids vir Suid-Afrika”.
In 1853 is die bogenoemde kerk gebou wat beteken dat die gemeente sy 150ste bestaansjaar in 2003 gevier het.
Weens tweespalt in die gemeente oor onder meer die gebruik van kerse en die kruisbeeld, het die SASG destyds weer verantwoorelikheid vir Zoar aanvaar. Die BSG sou op Amalienstein bly
Rondom 1855 het die BSG met sendingwerk begin op Ladismith. Dit was toentertyd sowat ‘n halfuur te perd van Amalienstein.
Die Lutherse gemeente op Ladismith is op 26 Mei 1856 gestig as ‘n buitestasie van Amalienstein, die eerste vaste standplaas van die BSG in die Kaapprovinsie
Deesdae word die sendingstasie deur die gemeenskap bedryf as ‘n kommersiële plaas tesame met CASIDRA (Cape Agency for Sustainable Integrated Development of Rural Areas).
Soos in soveel oud-sendingstasiedorpies soos Genadendal, Mamre, Elim en Wupperthal, is dit ook hier ‘n stryd om die groot kulturele erfenis te bewaar.
Die toegangshek na die historiese begraafplaas op Amalienstein word byvoorbeeld gesluit om vandale buite te hou. Meer as die helfte van die houtkruise is sedert 2000 van grafte gesteel en as vuurmaakhout gebruik. Talle van die Duitse sendelinge is hier begrawe. Besoekers kan nou ‘n sleutel vir die hek by die pastorie kry
Die wêreld rondom Amalienstein en Zoar staan bekend as Kannaland en sluit Van Wyksdorp, Calitzdorp en Ladismith in.
Die jaarlikse reënval van 240 mm beteken dat plantegroei hoofsaaklik beperk is tot grasveld en droogtebestande bome.
Maar die aarde is vrugbaar en as daar water is ontaard dit in ‘n oase.
Kannaland is bekend vir sy vrugteboorde wat deur die jare aangeplant is. By Amalienstein maak ‘n standhoudende stroom die verbouing moontlik van verskillende gewasse soos appelkose, pere, appels, vye en pruime.
Dié sendingstasie se droë vrugte het reeds in 1851 ‘n goue medalje gewen by Crystal Palace se Wêrelduitstalling in Londen
Ook die Ladismith Wynkelder se Amalienstein-muskadel het al meerdere pryse ingepalm.
Die meeste inwoners van die twee sendingstasies werk in hierdie boorde en wingerde, want hier is geen formele industriële werksgeleenthede nie.
Werkloosheid is dus ‘n probleem, maar die dorpies is nietemin vreedsaam en jy hoef nie onnodig vir jou veiligheid te vrees nie.
Amalienstein/Zoar is 350 km oos van Kaapstad, 136 km noordwes vanaf George en 77 km wes van Oudtshoorn.

Aberdeen se Leunende Toring en die Olyfboom uit Getsemane

“As die nag sy baadjie toeknoop
oor die veld
En die diereriem sy blink tot teen
die skerpioen laat lê
As die tweeling en die kreef
kotteljons oor Beaufort-Wes
En die maan sy beker skink oor
Graaff-Reinet ...”


... dan weet jy jy is in die Groot Karoo.
En die hart hiervan vir my is Aberdeen.
Dié wêreld is regtig egtig groot(s).
En oor die feit dat dit Karoo is, is geen twyfel nie, want Aberdeen - tussen Beaufort-Wes en Graaff-Reinet - lê so na aan wat “Karoo” is, as kan kom.
Onlangs ry ons verby die Beervleidam (soos altyd sonder water) met die reguit stuk teer van Willowmore na Aberdeen.
Dis hiér waar Coenie de Villiers se “Karoonag” (strofe hierbo) verfilm is en ons is oorbewus van katbos en kambro, van rolbosse in die Kamdeboo, die ewige gebrek aan reën en ‘n lug vol geen wolke ...
Die tydlose Karoo sou weinig anders gelyk het in die dae toe Aberdeen in 1855 uitgelê is op die plaas Brakkefontein as ‘n Nederduits-Gereformeerde kerkdorp.
Dis hierna genoem – nie omdat dit enigsins lyk na die Aberdeen in ‘n groene Skotland nie – maar ter ere van ds. Andrew Murray wie wel dáár in Skotland gebore is.
Slegs drie jaar na sy totstandkoming het Aberdeen munisipale status gekry.
Talle van die eerste geboue wat hier staan gemaak is, bied steeds skanse teen die Karoo se westewinde wat woes kan waai.
Hieronder tel die landdros- en poskantore langs Greystraat. Beide hierdie sandsteengeboue met hul teëldakke is in 1898 gebou, vertel Deirdré Richardson in Historic Sites of South Africa.
En volgens Xplore, die amptelike Satoer-gids, is Aberdeen ‘n nasionale argitekturele bewaringsarea.
Langs die boomomsoomde strate met hul leiwatervore staan geboue waarvan die style wissel van Georgiaans en Goties tot Russies en Flaams.
Daar is ‘n handvol uitspattige volstruisbaronpaleise, maar ook talle nederige Karoo-huisies (wat nie minder imponerend is nie).
Dan is daar ook die Anglikaanse, Metodiste en Apostoliese kerke wat almal ‘n eeu oud is, maar die opvallendste is die N.G. Kerk wat die hemel in toring.
Dit staan bekend as die Leunende Toring van Aberdeen. Die gewig van die dakteëls trek dit glo sywaarts, maar ander glo die toring is bloot skeef gebou.
Dis byna 50 m hoog en inwoners sê g’n ander kerk in Suid-Afrika het ‘n hoër toring nie, hoewel ek al gehoor het die een by Noorder-Paarl beklee die eerste plek
Waaroor daar egter waarskynlik meer sekerheid kan wees is dat Aberdeen se kerktoring die verste sigbaar is in die land, want die wêreld wat hierdie dorp omring is pannekoekplat.
Kleintyd toe ons Desembers Jeffreys toe gery het, was dit altyd ‘n speletjie wie eerste Aberdeen se kerktoring kan sien.
Maar hoewel daar onsekerheid is oor op watter rekord hierdie kerk aanspraak kan maak, staan dit vas soos ‘n paal bo water dat jy dié kerktoring nie kan miskyk nie.
Dis ‘n simbool van die toewyding van ‘n gemeenskap wat só ‘n pragtige plek van aanbidding wou bou met beperkte fondse.
Geld was nog nooit hier volop nie, want die Groot Karoo deel selde munte mildelik uit
Langs die kerk staan ‘n olyf wat stam uit ‘n boom in die Tuin van Getsemane.
Dis in 1980 geplant deur ds. F. Vivier ter viering van die kerk se 125ste bestaansjaar.
Shimon Lavee, ‘n Israelse plantkenner, het ‘n dr. Marais, toe direkteur van navorsing by die Instituut vir Vrugte(tegnologie), genader vir hulp, want olyfbome het by die hordes gevrek in Jerusalem.
Marais het sewe lote na Suid-Afrika laat kom vir navorsing, vertel Jonathan Deal in Timeless Karoo.
Koolstofdateringstoetse het bevestig dat die oorspronklike bome in die Tuin van Getsemane meer as 2 300 jaar oud is.
Die Tuin van Getsemane is natuurlik waarheen Jesus op die nag van Sy arres gegaan het in Jerusalem. Tussen die knoetserige ou boomstamme het Jesus geworstel en in doodsangs gebid: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van my af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied!” (Lukas 22:42).
Aberdeen se ds. Vivier het van die Getsemane-lote gehoor en het een by dr. Marais gekry.
Die jong olyfboompie is langs die kerk geplan en sy takke hang jaarliks swaar met oestyd. Die olywe word dan ingemaak en verkoop.
Dis ongelukkig onbekend wat van die ander ses ingevoerde olyf-lote geword het.

STRYDENBURG se "stryd" al lankal vergete

- Jens Friis

IS dit nie ironies nie dat algar vrede begeer, maar min mense juis dít nastreef wat vrede bring?
En só was dit ook toe die Noord-Kaapse dorp Strydenburg eens naam moes kry.
In 1892 het ‘n N.G. gemeente tot stand gekom op die plaas Roodepan. Maar die toentertydse lidmate het skynbaar skoon vergeet van Job 22:21 wat leer: "Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef, en so sal jy voorspoed hê".
Tot só ‘n mate was daar ‘n bakleiery dat die dorp "Strydenburg" ("die plek van stryd") gedoop is.
En soos dit nou maar met ‘n bakleiery gaan vergeet die partye mettertyd waaroor die "fight" rerig was.
Vra jy deesdae rond kan die vriendelike Strydenburgers jou nie met sekerheid sê wáárom hul dorp só ‘n onaangename naam gekry het nie.
‘n Moontlikheid is dat daar tweespalt was oor die presiese plek waar die dorp tot stand moes kom. Dit word as rede aangevoer deur Richardson se Historic Sites of South Africa, asook deur Raper se gesaghebbende Dictionary of Southern African Place Names.
Maar Jonathan Deal se Timeless Karoo asook Xplore, die amptelike Satoer-reisgids, meen dit was weens onenigheid oor ‘n naam vir die dorp. Die dorpsvaders het blykbaar talle name oorweeg, maar kon nie eensgesindheid daaroor bereik nie. Tydens die tertafellegging van name het iemand toe glo "Strydenburg" (spottenderwys?) voorgestel en dié naam is as laaste uitweg (en as versoenende gebaar?) aanvaar.
Wat mens laat dink aan John F. Kennedy wie eens opgemerk het: "Twee partye se konsensus is nodig om vrede te bereik, maar net een hoef die eerste tree te gee."
Maar helaas werk dit nie altyd so dat iemand die mindere wil wees nie, want die dorpsnaamvete was nog vars in die geheue toe van Strydenburg se hardekoejawels wéér koppe gestamp het.
Op 26 April 1897 het lidmate van die plaaslike N.G.-gemeente besluit om weens dogma-redes weg te breek en die eerste Gereformeerde Kerk onder die Kruis in Suid-Afrika te vorm.
En binne agtien maande is die Gereformeerde Kruiskerk op 10 September 1898 in gebruik geneem.
Elke familie het sy eie bank kerk toe gebring en só het ‘n tradisie ontstaan wat jare gehandhaaf is dat elke gesin sy eie sitplek had.
Dié kerk langs Liebenbergstraat is ‘n nasionale gedenkwaardigheid, nes die Karoostyl-huisie langs Van Wykstraat 67, skryf Richardson.
Laasgenoemde huisie se erf is op 13 Mei 1893 deur die dorpsraad verkoop aan Hendrik Johannes Liebenberg wie dit waarskynlik voltooi het voor sy dood in 1898.
Meerdere soortgelyke huisies het gelukkig deur die jare behoue gebly in hierdie dorp. ‘n Grootse jammerte is egter dat ‘n moderne N.G. Kerk deesdae diens doen langs die hoofstraat.
Maar in teenstelling met Strydenburg se ryk, gevarieerde argitektuur is die landskap plat en monotoon.
In ‘n onlangse onderhoud met Danila Liebenberg van Volksblad sê Etienne van Heerden dat die Karoo hom laat dink aan "weemoed, kaalte, toeverlaat en nederigheid."
En dit sou ‘n raak beskrywing vir die Strydenburg-omgewing kon wees. "Weemoed" oor nóg ‘n Karoo-dorpie wat nooit volle wasdom bereik het nie. "Kaalte" vra geen verdere omskrywing in die Karoo nie. Van "toeverlaat" het ek nog nooit gehoor nie, maar dat verlatenheid jou hier kan oorval, kan ek glo. (Terloops, "toeverlaat" beteken "wykplek" en "beskerming", leer Pharos se Verklarende Afrikaanse Woordeboek.) En die natuur sorg dat jy "nederig" bly – die groot pan langs die dorp is meestal droog en kry net vlak souterige watertjies in reënjare.
Leiwater is dus skaars en jy kan net dink hoeveel rugbyspelers hulle al te pletter geval het op ‘n klipperige veld tydens stryde teen omringende dorpe.
Strydenburg is 55 km suidwes van Hopetown en 75 km noord-noordwes van Britstown. As jy die volgende keer die R12 vat van Kaapstad na Johannesburg via Kimberley, sal dit loon om ‘n bietjie stadiger te ry deur die skrywer F.A. Venter se geboortedorp. Venter het ook ‘n groot deel van sy lewe in die distrik gewoon.
Koop tydens ‘n besoek ‘n roomys by die kafee langs die grootpad aan die suidekant van die dorp. Hier is nie minder nie as drie vrieskaste propvol roomys - 'n aardigheid in die Karoo!
Tydens ons kuiertjie het die April-sonnetjie die kwik laat styg tot ‘n aangename 27 °C, maar nietemin het ‘n man in die straat gestap met ‘n dikke winterstrui.
Van die Strydenburgers kry skynbaar vinnig koud, want Desember tot Februarie draai dagtemperature maklik in die 40’s.
Ja, dit kan inderaad hel warm word in Strydenburg - selfs al het die inwoners lank reeds die strydbyle begrawe oor hul dorp se anderste naam.