Sunday, July 29, 2007

Sieraad in kroon van onafhanklikheid


Jens Friis is tuis na ‘n jaar se regsnavorsing in Montreal, Kanada. Tussendeur het hy gereis en was vryskut-joernalis. ‘n Paar lyne uit sy dagboek die aand voor sy vertrek van Kanada na Europa:

Montreal, Donderdag, 22 Maart 2001, 23:37

Waarom is die laaste dag of wat van 'n besoek altyd die lekkerste? Dis soos lemoensap wat nie behoorlik geskud is nie. Om by die pulp uit te kom moet die bottel leeg gedrink word.

Met die wegvlieg vanaf Bloemfontein op 31 Maart 2000 het ek gedog: oor 'n maand of vier - hoogstens ses - is ek terug.

Wys sou dit wees om toe eerder my motor te verkoop en lekker selfoonnomer prys te gee. My omwandelinge in Noord-Amerika en Europa gaan nou by ver meer as 'n jaar draai. As ek klere verwissel in die gim is dit duidelik dat my vel die witste ooit is. Dan wonder ek of Rex nog sy stert sal swaai by die agterplaas-hek op Philippolis.

Die gedagte dat ek more op 'n vlug na Amsterdam klim (mits die sneeu ophou en vlieg moontlik is), krap my om.

Net na my aankoms woon ek tydelik in 'n woonbuurt wat sy gebruikswaarde oorleef het. Ek slaap laat om gewoond te raak aan die tydsverskil. Doen navorsing by die universiteit. Lees in 'n gunsteling koffiewinkel. Verken die stad.

Ek ontmoet talle mede-studente. Mense met die gawe van kommunikasie en helder intellekte. Ek dryf op 'n see van kennisse, maar ken niemand nie. Die afwesigheid van biltong en blatjang pla min. Ek mis 'n ondersteuningstruktuur. 'n Internet-naelstring strek ook net so ver.

Tog maak mens vinniger vriende as wat jy ooit sou dink.

Soos die samestelling van die Kanadese bevolking sou diegene by wie ek werklik aanklank vind heel uiteenlopend wees. Die een 'n Engelse vertaler oorspronklik van Vancouver. 'n Franse patoloog wat hierheen gekom het weens werksgeleenthede. 'n Romeense prokureur wat net voor die val van Kommunisme Kanada bo Suid-Afrika verkies het weens die geweldsituasie.

Ek sien 'n blerts blou van die St. Lawrence vanuit my woonstelvenster en besef dit is dalk die laaste keer.

Ook sal ek die kenmerkende "Merci-Bye!" mis waarmee Frans-Kanadese winkeliers groet as jy uitstap - die Engelse invloed onmisbaar.

Blinkskoon, veilige moltreinstasies waar treine elke vyf minute stop. Nie-luiddrigte passasiers wat soms so stil is in die metrogange dat die geskuifel van hul dikke wintersklere gehoor word as hul stap.

Professionele musici wat in wandelhalle oefen.

Dat daar aan die regterkant van rolrappe gestaan word sodat diegene wat haastig is aan die linkerkant kan verbystap.

Vars sneeu wat soos bakpoeier onder jou voete kraak.

Polisie wat orals sigbaar is, alhoewel geweld en misdaad seldsaam is.

Buitengewone verdraagsaamheid ongeag of dit op grond is van ras, seksuele orientasie, geslag, godsdiens ...

Boonop kan die armstes ‘n sinvolle bestaan hier voer. Kanada beklee reeds vir jare die nommer 1-posisie op die VN se Ontwikkelingsindeks.

As die nuus wat dan hier uitkom hoofsaaklik donker is oor Afrika laat dit jou maar tweekeer dink. Dis immers veel makliker om nou my goedjies te pak op die drumpel van 'n loopbaan as oor 10 jaar op 37. Vir eers gaan ek egter terug na Suid-Afrika - na my taal, my land en my familie.

Iemand het eenmaal tereg opgemerk dat hy reis om dieselfde rede as om te studeer – om nuwe dinge te beleef. Jy kan dieselfde boeke lees of anders nuwes en jouself uitdaag. Dit gaan oor grensoorskreiding wat makliker is in die vreemde. Jy beklee 'n buitestanderstatus en sien (hopelik) dieper - verby sosiale konvensies, konstruksies en etiket.

Soos Hennie Aucamp sê: jy lê jouself 'n soort ballingskap op as jy reis. "Om dit te oorleef, raak jy waaksaam; registreer jy skerper as gewoonlik, word jy een en al sintuig, wat 'n groot hulp is by waarneming."

Dit is verrykend, maar vermoeiend. Jy is aangewese op jouself. As die geld boonop min is verg dit deeglike, vindingryke beplanning. Nogtans is dit sekerlik die sieraad in die kroon van onafhanklikheid.

J.F.”

Bekendes se gunsteling hotelle

Talle hotel se voortbestaan is al verseker deurdat ‘n bekende eendag, lank, lang gelede daar oornag het.

Toeriste wil graag hul koppe neerlê in dieselfde beddens (of minstens dieselfde hotelle) as die sterre.

En daarom beplan reisoperateurs toenemend hul toere hiervolgens.

Só floreer The Norfolk Hotel in Nairobi glo omdat Karen Blixen eens daar aangedoen het. Dieselfde geld vir die Goldeneye in Jamaika (Ian Fleming), The Pensinsula in Hong Kong (Frank Sinatra), en The Copacabana Palace in Rio de Janeiro (Orson Welles).

Ek is nie met die sterre gepla nie, maar moet erken ek loer graag waar die celebs uitspan, want dit bied uitstekende vakansie-idees.

Nes Jean Cocteau het ek na my asem gesnak toe ek sien hoe lyk die Franse Riviera vanaf die Hotel Welcome in Villefranche.

Soos koningin Victoria moes ek gaan tee drink in die Ierse platteland by die sorgsaam gerestoureerde Carton House.

En op San Diego se uitgestrekte strand het ek gaan stap omdat Marilyn Montroe by die Hotel del Coronado gebly het met die maak van “Some like it hot”.

By sommige stadshotelle stap mens bloot verby, maar dis nietemin interessant om te weet Hugh Grant het ‘n draai gemaak by die Londense Ritz in “Notting Hill”.

Richard Burton en Elizabeth Taylor het passievolle nagte deurgebring in Montreal se statige ou Ritz-Carlton langs Sherbrooke Street.

In ‘n Berlynse paleis (deesdae die Adlon Hotel) is Greta Garbo “gebore”. ‘n Maaltyd hier is ‘n belewenis, want die eetkamer kyk uit op die bekende Brandenburghek en die eertydse Muur.

En in Los Angeles het ek spesiaal gaan kyk na The Regent Beverly Wilshire. Wie sal immers ooit vir “Pretty Woman” se Julia Roberts kan vergeet?

In “Hotel Stories” vertel Francisca Matteoli dat die bekendes nogal bisarre eise kan stel.

Salvador Dali het gereeld gebly in die Meurice Hotel in Parys. Dié surrealis was hoogs ontsteld toe hy merk sy gunsteling kamer se toiletsitplek is vervang. “Wat het gebeur met Alfonso se troon?”, wou hy weet. Die hotelbestuurder kon nie anders as om die oud, verslete houtsitplek te herinstalleer nie.

Personeel van die Portobello Hotel in Londen moes in 1979 muise gaan soek by troeteldierwinkels vir Alice Cooper se onversadigbare luislang. Die ronde bed wat spesiaal vir Cooper bestel is, is steeds in Kamer 16, nes die antieke bad waarin sy slangetjie gesluimer het.

Helaas kan ekself nie in dieselfde suites as die sterre oorbly nie. Daarvoor is my sak gans te plat. ‘n Uitsondering was egter by Zimbali Lodge aan die Natalse Noordkus: Robbie Williams het enkele nagte vroeër in my bed geslaap tydens sy Suid-Afrikaanse toere.

Ook was daar die keer in Borneo toe ons skoon van hotel moes verander, want die Maleisiese koning het sy opwagting gemaak. Dit sou glo ‘n té groot sekuriteitsrisiko wees as gaste in die verdieping bó hom bly.

By die Royal Livingstone in Zambië het ek g’n celeb gesien nie, maar wel soos een gevoel. Terwyl jy langs die hotelswembad bak stort die waters van die Zambezi oor die Victoria-waterval. Hier word selfs jou sonbril vir jou skoon gepoets as dit net lyk of daar ‘n vingermerkie op is. Dis voorwaar vyfster-bederf de luxe.

Vir die jare wat kom wag daar reeds ‘n magdermenigte hotelle op my wenslysie. Hemingway se retreat by die Ambos Mundos Hotel in Havana klink eksoties, nes Igor Stravinsky se National Hotel in Moskou.

Al Capone het sy laaste dae in ‘n hotel in Miami deurgebring, Ava Gardner het vertoef in ‘n Madridse hotel, Frida Kahlo het met Leon Trotsky ontsnap na ‘n hacienda in die Meksikaanse platteland …

Dis jammer ‘n menselewe is kort, en die rand weinig werd.

Saturday, July 28, 2007

Die Nuwe Sewe Wêreldwonders

DIE Colosseum in Rome tel onder die “nuwe sewe wonders van die wêreld” wat onlangs aangekondig is nadat mense wêreldwyd hieroor kon stem. Die piramides buite Kaïro het ere-status gekry op hierdie lys.

Die ander ses nuwe wonders is die Taj Mahal in Indië, die Groot Muur van China, die “Christ the Redeemer”-standbeeld in Rio de Janeiro, die antieke stad Petra in Jordanië, Machu Picchu in Peru, en die antieke Maja-stad Chichén Itzá in Mexiko.

Die kompetisie was die breinkind van Bernard Weber, ‘n Switserse filmmaker en museumkurator. Die doel hiermee is om “die mensdom se erfenis wêreldwyd te beskerm,” berig National Geographic News.

UNESCO wat die Wêrelderfenisprogram koördineer het die kompetisie gekritiseer. “Hierdie inisiatief kan nie werklik op ‘n volhoubare manier hierdie plekke help beskerm nie,” het dié organisasie in ‘n persverklaring gesê.

Maar hieraan het die mensdom hom skynbaar min gesteur, want meer as ‘n honderd miljoen stemme is uitgebring.

Sommige lande se regerings het die kompetisie gesteun soos in Brasilië, maar die Chinese regering het geweier dat die kompetisie selfs net uitgesaai word op hul TV-kanale.

Die Chinese muur is die grootste mensgemaakte struktuur op aarde. Dis gebou tussen die vyfde eeu voor Christus tot die sestiende eeu oor 6 400 km.

Die enigste Europese finalis was die Colosseum in Rome wat op sy dag 50 000 toeskouers kon huisves.

Bekende Europese bakens soos die Eiffeltoring in Parys, die Akropolis in Athene en Stonehedge in Brittanje kon nie die paal haal nie.

Die Vatikaan het die organiseerders van die kompetisie gekritiseer omdat geen Christen-monumente onder die twintig gewildste wonders was nie.

Jordanië het die kompetisie ernstig opgeneem en die plaaslike koninklike familie het die inwoners gevra om vir Petra te stem. Dié stad wat grootliks in rotse gebou is het die afgelope jare swaargekry weens probleme in die Midde-Ooste. Veral probleme in hul buurland, Irak, hou toeriste weg.

Daar is heelwat gedebatteer of die Egiptiese piramides tuishoort op hierdie “nuwe wêreldwonder”-lys. Dit is die enigste wonder wat nog bestaan en op die bekende “antieke wêreldwonder”-lys was.

Egiptiese geskiedkundiges was woedend omdat dit aanvanklik genomineer was op die “nuwe lys”. Volgens hulle is die piramides “die enigste werklike wonder”. Op die ou end is die piramides geskrap van die “nuwe lys” en is daar ere-status hieraan gegee.

Thursday, July 26, 2007

FORTH: Brug 'n industriële wêreldwonder

EDINBURGH bekoor algar, maar net noord van die Skotse hoofstad is ‘n indrukwekkende brug wat my ook bybly.
Daagliks blits 200 treine oor die Forth Spoorwegbrug wat beskou word as een van die industriële wonders van die wêreld. Liefhebbers daarvan prys dit ook as “een van die grootste siviele ingenieurswerke van die laat-Victoriaanse era” en “’n imposante mensgemaakte landmerk”.
Bouwerk het 125 jaar gelede begin nadat die eerste planne byna ‘n driekwart eeu vroeër ingedien is. Dit sit immers nie in enige ingenieur se broek om ‘n brug te bou oor 2 522 m nie.
Aanvanklik is ‘n tonnel voorgestel onder deur die Forthrivier, maar hierteen is besluit omdat dit te gevaarlik sou wees. Die enigste ander moontlikheid om die oewers te oorspan was ‘n brug.
In 1865 het die regering vir Thomas Bouch van die Noord Britse Spoorweë aangewys as ingenieur om die Forth Railway Bridge te ontwerp.
Maar kort hierna het Bouch se brug oor die Tayrivier inmekaar getuimel toe ‘n orkaan dit tref. Hoewel die ineenstorting nie Bouch se skuld was nie, is hy die trekpas gegee, want die Skotte het glo geloof in sy werk verloor.
‘n Kontrak om ‘n “cantilever”-brug te bou is in 1882 toegeken aan Sir John Fowler en Benjamin Baker.
Dit sou ‘n allemintige 3 000 000 pond kos, 54 000 ton was nodig, en 6,5 miljoen moere moes die struktuur in plek hou.
‘n Forth-brosjure vertel tydens bouwerk van van agt jaar het 57 werkers uit 5 000 hul lewens verloor. Vir my klink dit na heelwat, maar teen die einde van die neëntiende eeu was dit glo ‘n veiligheidsrekord, aldus “Landmarks of Britain”.
Ingenieur Baker was ook verantwoordelik vir die bou van die Londense moltreinstelsel en die vervoer van die Cleopatra-obelisk van Egipte na Engeland. Daarom is hy in 1890 tot ridder geslaan.
Hoewel die brug 125 jaar oud is, staan dit steeds stewig in die Skotse aarde.
Byna die helfte van die brug se jaarlikse begroting word gebruik vir verf. Staal van nagenoeg 55 hektaar moet teen roes beskerm word. Daar word gesê om dié brug te verf is ‘n ewige taak, want teen die tyd wat dit voltooi is moet verfwerk al weer aan die anderkant begin. Van daar die gesegde: “It’s like paining the Forth Bridge”.
‘n Legende lui dat één moer van soliede goud gebruik is. Maar ander waarsku dat dit lankal verwyder is – dalk uit vrees dat fortuinsoekers daarna sal gaan soek en só hul lewens verloor.
Die naasliggende padbrug was die grootste suspensiebrug buite die VSA toe dit geopen is in 1964. Deesdae kan die Humberbrug in Engeland hierop aanspraak maak.
South Queensferry se promenade bied die beste blik op die twee brûe. Dié dorpie kry sy naam van die elfde-eeuse Koningin Margaret wat die veerboot vanaf Edinburgh hierheen geneem het onderweg na die koninklike kasteel by Dunfermline.

WAAR IS DIE BRUG?
Die Forth Railway Bridge is sowat 10 km uit Edinburgh op die spoorlyn na Dundee. Onderweg lei dié lyn ook verby die bekende St. Andrews-gholfbaan.
Sorg dat jy ‘n trein neem wat wel stop by South Queensferry, want die meeste stoom verby en dan gaan jy nie behoorlik na dié brug kan kyk nie.
Vanaf die stasie is dit ‘n stewige stappie tot op riviervlak waar die brug se pilare geanker staan in die Forthrivier.

Kleur kom nooit alleen

EK’S in New York. Dis kort voor Kersfees. Dit sneeu. Van Brooklyn waar ek by ‘n vriend tuisgaan neem ek die metro tot by Central Station. Ek stap verby die NYC Public Library, die wolkekrabbers, die keurige winkels van Fifth Avenue - blok vir blok ...
Dis duskant sewe toe ek die Bar instap. Dis feitlik nog leeg. Twee mans speel pool. ‘n Derde blaai deur ‘n scene-tydskrif: Wie weet wat wag dié aand in die Big Apple?
Laasgenoemde het ‘n pragtige stel sterk, wit tande en dis met dié glimlag wat hy later my lewe binnetree.
Met ‘n “Waar is jy vandaan?” begin die gesels wat lei tot ‘n onverwagse blik op ons gedeelde menslikheid.
Toe hy van sý geboortegrond vertel, hang my mond oop, want dié is een van daai gevalle waar die toeval teatrale effekte bereik.
Van Namibië ... Katatura ... is hy weg in die 80’s. ‘n Studiebeurs het bevryding beloof. Hy wou wegkom, want hy had g’n sin in die oorlog nie. Maar nog belangriker: Engeland en later die VSA se horisonne was wyer as die Namib s’n.
Toe politiek g’n kwessie meer was nie, was sy seksualiteit steeds.
“Namibië het my ‘n dubbele streep getrek. Dis soos Antjie Krog sê: `Kleur kom nooit alleen nie’.”
Na ‘n kwarteeu is hy steeds vlot in Afrikaans en het ‘n verbysterende kennis van Krog en Kie. Tog voel ek ongemaklik om in Die Taal met hom hiér te gesels. Dis weens mý mense wat hy weg is uit Afrika. Maar mettertyd troos dit om te hoor dat dit weens sý bloed is dat hy nie terug is na vaderlandsgrond nie.
Twee maal het hy gaan kuier. Die laaste keer het hy vir sy pa gesê daar sal nie kindskinders wees nie. Maar dié wou niks weet nie.
“Hulle sê: tyd heel wonde. Maar soms, gaan die lewe nié aan nie.”
Sy pa is intussen dood. Sy ma leef nog – alleen en oud in Katatura. Hy stuur dollars, maar gaan kuier nie. Die jare wég het hulle uitmekaar gedwing.
Feitlik korrek haal hy aan uit Breyten Breytenbach:
mammie
ek het gedog
as ek eendag huis toe kom
sal dit onverwags so teen skemerdag wees
met jare se opgegaarde rykdom
op rûe van ysterkoeie ...

“... Maar ek droom nie meer van teruggaan nie,” sê hy met ‘n sug. “Dit sal nie gebeur nie, want ek sal dáár meer alleen wees as hiér.”
Die Afrikaan (Amerikaan?) gee ‘n teug aan sy Budweiser-bier.
Buite verander die rooi na groen. ‘n Stroom geel taxi’s trek weg.
Weens jare se worsteling vertel hy sy verhaal rasioneel, maar nou dat daar vir die eerste keer stilte is aarsel die weemoed vlak.
Wat kan ek tog sê om die seer minder te maak?
In die ou Johannesburgse stasie het ‘n teel eens gelees: `"Wees uzelf" sei ik tot iemand, maar hij kon niet: hij was niemand.’ Dié Namibiër het nie iets anders probeer wees nie. Hy’s net nooit gegun om homself te wees nie. En dít is sekerlik een van die aller ergste erge.
“Maar wat help dit tog om jou verlede te blameer?,” sê hy dan met ‘n gelatenheid wat soms volg weens ‘n veelbewoë lewe. “Selde is iets nét swart of wit. En aan baie is min te verander. Dan is dit dalk die beste om bloot godswater oor godsakker te laat loop.
“Nou dat ek my lot aanvaar het, is ek die gelukkigste ooit. En soms as ek erg verlang kyk ek óp. Dis darem ‘n troos dat dieselfde son skyn oor my ma in Katatura.”

TOE ek na die vakansie tuis kom, trek ek my Breytenbach-bundel nader en lees die onderstaande strofe raak.
Dankbaar oor ‘n nuutgevonde vriend tik ek dit toe óór en laat die woorde per epos vlieg van Afrika na Amerika:
Mag die bome groen bly
en die sterre wit,
en mag daar altyd mense wees
wat mekaar sonder skaamte
in die oë kan kyk –
want die lewe is ‘n asem lank
en die sterre op die Anderplek donker.

Friday, July 20, 2007

VENESIë: Oor 'n koppie koffie



As jy R100 vir ‘n espresso betaal gaan dit nie net oor die hondjie nie, maar ook oor die halsband - of in hierdie geval die koffie én die kafee. JENS FRIIS vertel meer.

TOE ek daai reisgidsfoto sien het ek geweet: As daar één plek is waarheen ek wil gaan in Venesië dan is dit Café Florian.
En na dese verstaan ek waarom selfs mans van min woorde breedsprakig raak as hulle dié naam hoor.
In Italië word tien biljoen koppies koffie jaarliks gedrink. Kompetisie tussen koffiedrinkplekke is straf en die eer is groot om uit die stryd te tree as "die oudste koffiesalon in die land".
Vanuit die staanspoor was Cafë Florian ‘n kruispad van kuns, kultuur, politiek en vermaak in hierdie romantiese droomstad. Wat baie hiertoe bydra is dat die kafee se ligging by uitstek geskik is as saamkomplek. Sedert 1720 is Cafë Florian genestel onder die suilegang wat Sint Markusplein omsoom.
En sedertdien stroom die kenners van espresso en fyngebak na Piazza San Marco 55 - selfs op die dae wat die plein oorstroom. Al verskil is: dan sit hulle in die drie binnenste kamers en nie by die sondeurdrenkte tafels nie.
Agter die skerms poog die personeel om die diens te vervolmaak. ‘n Tiramisu parfait getuig van die uitvoerende sjef se knap kreatiwiteit, terwyl die hoofkelner wyn en kaas paar om mekaar te komplementeer. Dit word bedien op ‘n silwer skinkbord deur ‘n kelner in wit. Winters werk hier 45 mense, terwyl 75 somers sorg dat alles uit die boeke verloop.
Deel van die kafeekonsertmusikante se ryk repertoire is klassieke musiek, immergroen popliedjies, en uittreksels uit operas en operettes.
Richard Wagner het soms dié orkessie gedirigeer, en by die piazza-tafels het hy sy grootste werk, "Tristan und Isolde", gekomponeer.
Maar dis nie al nie. Die fondamente vir die Venice Biennale is teen die laat 1800’s gelê by Florian se marmertafeltjies. Vandag nog reël die kafee eersteklas kultuur-aktiwiteite. Die klem is veral op kontemporêre kuns en baie van die werke wat uitgestal word vorm mettertyd deel van Florian se privaatversameling. By spesiale geleentheid word dit geleen aan museums soos die Pompidou in Parys en die Guggenheim in New York.
In Florence is daar ‘n Florian sedert November 2006, lees ek op www.caffeflorian.com. Uiteraard is die opening gevier deur wêreldklas uitvoerings en uitstallings. En die koffie is glo net so lekker as in sy Venesiese moedertak.
Hiervoor kan ek nie pa staan nie, maar wat ek gewis weet is dat sy naamgenoot in Venesië nie net boeretroos verkoop nie, maar ‘n belewenis. As dit ‘n koppie koffie van R100 kos, koop ek graag ‘n kaartjie tot dié besonderse kafee.

Hoe kom ek daar?
Café Florian is in die hart van Venesië langs Sint Markusplein. Volg dus net die rigtingwysers na "San Marco".
Maar jy kan ook per boot daar kom: Neem ‘n watertaxi, of die No. 1 of No. 82 Veerboot ("Ferry") en klim af by die "San Marco"-stop.
Stap om die draai en daar begroet die Merano-kroonkandelare van Cafë Florian jou.soos ‘n gasheer wat ‘n bos blomme ("flora") na jou uithou.

Saturday, July 7, 2007

ST. TROPEZ: Die nostalgiese mite sterf nooit


HERINNERINGS mag méér word na herhaaldelike besoeke, maar hoe jy oor ’n plek voel, word alte dikwels gekleur deur jou eerste blik daarvan.
En só was dit ook met my en St. Tropez.
Selfs ná jare bly daardie eerste aankoms my by – moontlik omdat dit so ’n ellelange rit daarheen was. Het ek destyds beter geweet, het ek gewis ’n ander perd (en nie ’n donkie nie) opgesaal.
In ’n poging om met beperkte geld én tyd soveel moontlik te sien het ek ’n aanbod aanvaar om saam met ’n vriend van Luxemburg na Provence te ry. Dit sou die vierde en laaste been wees van ’n vermoeiende tog oor 44 uur. Per trein en bus sou ek reis van Connecticut oor New York na die John F. Kennedy-lughawe. ’n Vliegtuig sou my neem na Schiphol, en ’n Amsterdamse vriend sou my dan karwei na Luxemburg waar ek my Berlynse vrind sou kry.
Saam sou ons van noord na suid deur Frankryk ry om ons vriende uit Connecticut in St. Tropez te herontmoet. Hulle het ’n private jag gehad waarmee daar Europese hoogsomers deur die Mediterreense blou geklief is. Die Berlynse vrind het hom misgis hoe groot Frankryk is, en boonop wou hy die snelweë se tolhekke vermy. Toe ons dus by Lyon (redelik in die middel van Frankryk) verbyry, het die skemer toegeslaan. Die skiereiland waarop St. Tropez lê, het kort ná twee daardie oggend voor ons verskyn. Maar ek was só pê dat ek skaars kon glimlag.
Boonop was dit nog nie die einde van ons “avontuur” nie, want waar is ons slaapplek?
Die leidraad (asof dit ’n skattejag is!) was: “Ons wag vir julle op die jag + in die hawe + naby die heliport.” Dit was verstommend akkuraat. Hoewel dit wemel in St. Tropez se hawetjie van luukse jagte (vissersskuite is so skaars soos hoendertande), was daar net één plek vir die beroemdes se helikopters.
Ook was daar net één jag met ’n Stars-and-Stripes. Die Amerikaners was gelukkig nog op – al kuierend om ’n bottel Franse rooiwyn, olywe en kaas.
Dit was ’n soel aand en ’n poot-uit ek het my lê gekry op ’n dek-bank. Enkele ure later het die son my wakker gebrand en St. Tropez het in ’n hoefyster rondom die jag opgedoem.
Weens die vissersdorpie se ligging het dit ongeskonde gebly in die vroeë jare van ontwikkeling van die Côte d’Azur. As die enigste dorp langs die kus wat noord front, is dit nie beskut teen die erge noordewinde nie. Gevolglik het vakansiegangers grootliks weggebly.
In 1892 het die skilder Paul Signac sy hart op St. Tropez verloor en vriende soos Matisse en Dongen aangemoedig om hier te kom uitspan. En in 1920 het die skrywer Colette die oë laat rek toe sy met naakte bene verskyn het op die Pampelonne-strand.
Dié dorpie is grootliks verwoes tydens die Tweede Wêreldoorlog, maar kort hierna sou dit letterlik met ’n “boem” teruggekeer. In 1956 het Brigitte Bardot na St. Tropez gekom, maar seksgodin BB het nooit weggegaan nie ná die verfilming van Roger Vadim se And God Created Woman.
Bardot-eweknieë en bronsbruin bulle vul deesdae die bo­stuklose (en soms “bottomless”) strande. Daar word gesê dat “top­less sunbathing” ontstaan het op die gewilde Plage Tahiti – een van die beste strande langs die Riviera. Maar as jy nie só openlik wil loer nie, is Café Sénéquier langs die Quai Jean Jaurès dié plek. Hier kan jy jou verwonder aan ’n oneindigende parade vakansiegangers in verskillende vorme van oord-chic waarmee hul tuis nooit sou wegkom nie.
“It’s a case of flair vs dare,” sou my Amerikaanse vriend wel verwonderd opmerk. Nietemin het St. Tropez nog altyd op ’n wonderbaarlike wyse ontsnap aan die hordes se hedonisme. Dié vakansiedorp bly “in”.
Die nostalgiese mite van ’n ewigdurende eilandvakansie tussen bekendes en mooi mense sterf nooit. Dié droom flirt altoos met die mensdom (onder wie ek) en lok hulle van oral na St. Tropez (selfs al kos dit ’n uitmergelende tog daarheen).
Ek is seker Bardot sou verleidelik hieroor glimlag.

Friday, July 6, 2007

GRASSE: Parfuummekka




DIS ongelooflik hoe vinnig ‘n reuk ‘n herinnering kan laat opvlam.

Onlangs kuier ek by ‘n vriend buite Dublin. Ek wil my klere uithang en met die oopmaak van die slaapkamerkas is my oorlede oupa skielik vars in my gedagtes. Die reuk van dié kas was identities aan syne op hul plot by Vaalbank-Zuid, Bloemfontein.

My neus is nie goed genoeg om haarfyn te sê waarna dit geruik het nie, maar dit was gewis iets tussen kas, skoon wasgoed, en pepermente. Maar hoe ookal, die kruks is dat Oupa voor my opgedoem het toe daai deure oopswaai – selfs al het ek vir jare hom nie geruik nie.

G’n wonder iemand het eens opgemerk: Geluk is soos goeie parfuum. Jy weet (of vermoed minstens) dis daar, maar kan dit nie vasvat nie.

En dis uit dié misterieuse ontglippendheid wat parfuumhuise miljare jaarliks maak. Parfuum kikker ons lewens slegs vir ‘n paar uur op, maar dis genoeg. Ons is bereid om te betaal, selfs al verslaan dit na ‘n wyle.

In Grasse, die Franse parfuummekka, is die maak van dié botteltjies lekkerruigoed tot ‘n fyn wetenskap ontwikkel deur die eeue.

Dit was in die sestiende eeu dat parfuum hier baie gewild geword het nadat Marie de Medici, die Italiaanse adelike, geparfumeerde handskoene begin dra het.

Grasse was voorheen bekend vir sy (stinkende) leerlooierye. Die voordeel van reukwater was dat dit die stank van leer verminder het én boonop kon hierdie diervelle só gekleur word.

Leerhandskoene het as modegier verdwyn, maar parfuum het gebly.

Talle parfumerieë in Grasse is oop vir besoekers. By Fragonard leer ek dat die woord “parfuum” stam van die Latynse woord “perfumum” wat “deur rook” beteken. Die Romeine het dalk gemeen parfuum word in jou klere vasgevang nes die rook van ‘n braaivleisvuur.

Maar reeds veel vroeër was die mensdom al dol oor lekkerruikgoedjies. Die Egiptenare het dit as lugverfrisser ingespan, en die Grieke het duiwe daarin gedoop om die aangename geur te versprei. Ook die koningin van Skeba en Cleopatra word met parfuum verbind. In latere jare sou Jesus se voete gesalf word deur Maria Magdalena – die hedendaagse beskermheilige van die parfuumbedryf.

Sedert die tiende eeu word “neuse” in Frankryk ingespan om ekstrakte uit blomme te onttrek vir parfuum. Dié kenners kan slegs vir ‘n paar uur op ‘n werksdag ruik, want anders raak selfs hul ontwikkelde neuse verward.

Van die bekende Franse wyn moet hulle maar wegbly, want alkohol (nes rook en sterk kos) is sleg vir hul reukvermoë. En dit mag nie, want hulle moet daagliks ruik aan ‘n allemintige hoeveelheid uiteenlopende dinge soos wortels uit Haïti en Reunion, tot sandelhout uit Indië, en kaneel uit Sri Lanka.

Ook die diereryk word nie gespaar nie: afskeidings uit die dermkanaal van potvisse word ingespan, en die muskus kom van die pensvel van ‘n manlike hertsoort.

By Fragonard is ‘n wêreldkaart waarop aangedui word waar wat vandaan kom. Maar skynbaar het die Franse nog nie ‘n draai in ons Suiderland gemaak nie. Uit Angola word darem kuskusgras gebruik.

Maar van al die bestanddele bly blomme immergewild. Konings hieronder is lemoenbloeisels, narsing, buisrose, en katjiepiering. Sommige soos jasmyn moet ook net op die regte tyd van die dag gepluk word, want later is die reuk veel meer vervlietend.

Om ‘n kilogram ekstrak op te vang is gemiddeld ‘n ton blombare nodig. Dis dus geen wonder daai klein botteltjies kos ‘n fortuin nie.

Interessant is dat blomgeure soos Chamade van Guerlain en Clandre van Paco Rabanne nie in die natuur voorkom nie. Dis te danke aan sintetiese geure, want sekere blomme verseg om hul te laat na-maak. Daarom moes die wetenskap maar hulp bring.

Die werklike doel van sulke begeleide toere deur parfuumfabrieke is dat jy geld moet uitgee in hul verkooplokale. Hier is bottels der bottels reukwater waaruit jy kan kies. Alles wat denkbaar gegeur kan word – van kerse en seep tot kussing en serpe – is dan te koop. My ervaring was dat baie van dié goeters minderwaardig is. Hoewel die bekende modehuise se parfuum van hierdie plase kom, is dit die beste om ‘n botteltjie bekende reukwater aan te skaf by ‘n erkende parfuumwinkel.

Rondom die dorpie Grasse is heelwat te doen. Die Franse Riviera met Nice, Cannes en Monaco is net ‘n klipgooi ver. 'n Daguitstappie na die Alpe is nog 'n opsie.

Kyk of jy 'n Citroen of Fiat kan huur en bring 'n besoek aan van Grasse se romantiese, Provensaalse buurdorpies. Omtrent algar word omring deur velde van jasmyn, laventel en rose.

Moet egter nie al hierdie dinge probeer inprop nie. Soos ‘n gryse, wyse Franse vrou gesê het: ``Rus soms in die dag anders rus jou oë en ore nie genoeg om die mooi werklik in te neem nie.''

En van Grasse sou ek kon sê: Gun jouself genoeg tyd dat jy slegs aan ‘n geur of drie per dag hoef te ruik. ‘n Goeie neus kan glo tot 5 000 geure uitken, maar ons gewone mense kan net onderskei tussen sowat sewe parfuums.

Daar word gesê ons reuksintuig het die swakste “geheue” van al ons sintuie. Maar hieroor hang ‘n vraagteken in my gemoed: dink net hoe vinnig kon ek vir oupa terugroep toe ek daai kasreuk ingeadem het!

NICE is meer as net "nice"


“NICE” pronk op goedkoop T-hemde die wêreldoor. Maar hoewel sy naam hom (jammerlik) vooruitloop is die hoofstad van die Franse Riviera nie “common” nie. Dis rerig “nice” en bied ‘n besonderse vermenging van son, see én sofistikasie.

As Frankryk se vyfde grootste stad (350 000 inwoners) het Nice daarin geslaag om ‘n kleindorpse, ontspanne gevoel te behou. Die Cours Saleya-mark nooi Dinsdae tot Sondae die kleure, geure en wonders van die Provensaalse platteland na die stad.

By dié mark kan jy alles kry vir die Niçoise (Nice se kenmerkende slaai) wat bestaan uit halfhardgekookte eiers, ansjovisfilette, roketslaai, gekookte baba-aartappels, bessierooi tamaties, en calamata-olywe.

Die Cours Saleya word omsoom deur geboue in skakerings van bottelgroen, helder okers en pienk – ‘n teken dat dié stad deel was van Italië (tot 1860).

In dié tyd was Nice ‘n gewilde winterse uitspanplek vir Russiese adel en Britte. Die warmwinterweer van die Middellandse see het hulle onweerstaanbaar gevind.

Dit was die Britte wat die ellelange Promenade des Anglais laat bou het as ‘n werkskeppingsprojek, maar ook as ‘n plek waar hul dogters kon gaan wandel sonder blootstelling aan die attensies van Franse hane.

Van hier het jy ‘n poskaartpanorama-blik op die die Côte d’Azur: die ligblou waters van die Franse Riviera glim, ‘n ry palms wieg teen ‘n kobaltblou hemel …

Om weg te kom van die skares sonsoekers is die Rauba Capeau-strand dié plek. Dis aan die einde van die Promenade des Anglais naby die oud-stad oftewel Vieux Nice.

Stap af met die trappies tot op die spoelklippies. Sand het dié strand nie (maar mens kom darem ook nie na Nice om sandkastele te bou nie!). Dis wys om agter ‘n rots skuiling te soek teen die wind. “Rauba capeu” beteken met rede “hoedsteler” in die Niçois-dialek.

Bokant Rauba Capeau bied Castle Hill die beste uitsig oor Nice. Jy kan dit uitklouter, maar dis veel makliker om in die Tour Bellanda-hyser te klim. Op hierdie heuwel het Nice sy eerste wortels geskiet. Van vanmeleë se stadskastele is weinig oor, maar die stadspark en uitsig is eersteklas nes in die dae toe Nietzsche graag hier rondgedwaal het.

Ook die Cimiez-heuwel bied ‘n goeie blik oor die baai – veral langs Boulevard de Cimiez is uitspattige villas ingeryg. Dalk die grandste van die lot is die Excelsior Regina Palace wat huisvesting kon bied aan koningin Victoria én haar gevolg van tweehonderd.

Nóg hoër op staan die Musée Matisse langs ‘n olyfboord en Romeinse ruïnes. Matisse het van 1917 tot sy dood in 1954 in Nice gewoon.

Kyk áf van hierdie arendsnes en jy sal verstaan wáár Matisse én Chagall hul inspirasie gekry het vir verskeie kleure blou.

Aan die onderkant van dié heuwel is die Musée Chagall wat spesiaal gebou is om dié Russiese meester se Bybelse tableaux te huisves. Hier te vind is ‘n 450 van Chagall se werke wat op Bybelse temas geskoei is.

‘n Historiese landmerk wat nie verbygegaan mag word nie is die grandiose Negresco Hotel. “Die Troukoek” is in 1912 gebou in die styl van ‘n spoggerige Franse château. Geen detail of tierlantytjies is gespaar nie. Dis onlangs gerestoureer en die Negresco sprankel weer helder nes die Baccarat kristalkandelaar in sy Salon Royal. Dié kolossale lamp is in die neëntiende eeu geskenk deur ‘n Russiese tsar. Kamers kos vanaf R3750 per nag (sonder ontbyt).

Terloops, dis glo hier waar Richard Burton eens Elizabeth Taylor se juwele vergeet het op ‘n kroegstoeltjie.

Straat-af is nóg ‘n spoghotel, die Le Palais de la Mediterranée, wat in die 1930’s gebou is as ‘n casino. Dié hotel se binnenhuise verhitte swembad, die enigste langs die Côte d’Azur, besorg dit ‘n lekker lang toerismeseisoen.

Laatmiddae keer die mooimense huiswaarts om op te dollie. Dan hop dié hip-groep van een kroeg na ‘n ander in Vieux Nice, terwyl die ouer kosmopolitane hul wend tot ontwerperhotelle se fusion restaurante.

Maar ek het nie gesmag na ‘n vermenging van smake nie. Vir my was dit ‘n groot genoeg ervaring om te smul aan “spécialités Niçoises” soos wat bedien word by Pipa Socca langs Rue Bevastro. So gewild is dit dat jy waarskynlik in ‘n ry sal moet staan om te kan smul aan tradisionele socca van ertjiemeel, water en olyfolie.

Nog ‘n liplekker eetplek is Restaurant du Gesú. By dié familiebesigheid word plaaslike kos bedien op Place du Jésus, ‘n plein in Vieux Nice. My gunsteling was Pissaladière – ‘n ongewone pizza met gekarameliseerde uie, ‘n paar ansjovissies, en olywe. Dié pizza is nie net “nice” nie, maar hemels - nes Nice.

Hoe kom ek daar?

Nice is 31 km oos van Cannes en 912 km suid van Parys. Hordes lugdienste waaronder goedkoperes soos Easyjet, FlyBe en BMI vlieg hierheen vanaf Londen en Parys. Sou jy meer wil weet oor Nice, is www.nicetourism.com ‘n goeie beginpunt.

Sunday, July 1, 2007

Poskaarte nou gewilder as e-pos


'n Poskaartmooie tuintjie in die Engelse dorpie Windermere. Volgens 'n opname van ITV.com is die gewildheid van poskaarte aan't taan. Toeriste verkies toenemend om eerder e-pos te stuur. Maklike internettoegang, die beperkte grootte van poskaarte, en digitale fotografie is redes waarom e-pos al gewilder word. Tans word 75 % minder poskaarte gestuur as 'n dekade gelede in 1997. Nogtans verkies 72 % van die ontvangers steeds 'n poskaart bo e-pos.

CLIFTON: Eens skrywersparadys


DIT klink haas ondenkbaar, maar daar wás ‘n tyd toe huise langs Clifton só beskostigbaar was dat talle woordmense hulle hier kon vestig.

Min van dié blyplekke is so onlosmaaklik verbind met die Afrikaanse woordwêreld as Sea-Girt van Uys Krige. Sea-Girt het ‘n rol gespeel in Ingrid Jonker se doodsnag, minnaar André P. Brink het hier jaloesie verwek, en dis die plek waar Krige strepe woorde gesels het met ander Sestigers soos Etienne Leroux, Chris Barnard en Bartho Smit.

Dié litteraci het lank voor die glitterati besef Clifton is een van die allermooiste wêrelddele. Dié kroonjuweel van Afrika kon met gemak meeding met die sandstrande van die Seychelles of Hawaii.

Maar Krige sou wou glo dat daar iets unieks is aan die wondermooie Clifton. Hieroor het hy meerdere keer gespekuleer en merk eens op: “Dis die enigste strand ter wêreld wat blou word teen die aand.”

Krige kon ‘n paar tree uit Sea-Girt gee en hy was in die Atlantiese Oseaan se bibberwater. Hierin het hy hom glo daagliks verfris. Met die strand en see was sy lewe inderdaad deurdrenk.

En dis te verstane, want Clifton was destyds al ‘n gewilde plek om jou standhanddoek uit te gooi op sondeurdrenkte dae. As die Suidooster elders woed, is Clifton na alle waarskynlikheid windstil. Hoogsomer tot laat-April was dit diè plek waar mans met gedefinieerde mae en sandwit kuiwe kom uitspan het tussen engele in skrapse bikini’s.

In Versamelde Gedigte skryf Krige só oor hierdie nooiens:

Hul bra’tjies is bra skraal, kan niemand stig

(hul kan so maklik, lyk dit, hier verlore raak)

hul broekies lig, ja, ligter as dié somerlig;

hul kon nie kaler wees was hul ook poedelnaak

- en die Apostels wat oor dié waters waak

trek haastig ‘n grys py oor hul gesig.

“Alhoewel hy beindruk was met die nooiens was hy veel preutser as wat hulle ooit kon vermoed en was die jare in Clifton vir hom geensins ‘n ongebreidelde oorgawe aan die sensuele nie. Meestal kon dié skoonhede in hul bra’tjies en broekies nie verder kom as om sy kop, wat vinnig besig was om pan te word, te streel nie,” skryf J.C. Kannemeyer in Die lewe en werk van Uys Krige – die Goue Seun.”

Die ure op Clifton se strande het baie opgelewer wat ongewoon was, maar na ‘n doellose baaiery wou Krige iets sinvols doen. Dit het meestal beteken dat hy sy woorde wou sif en neerpen.

Op ‘n lenteoggend dig hy só oor Clifton (Versamelde Gedigte):

Die blye dag

bruis oor van lig,

éen vreugde tot

die verste vergesig.

Dis of ‘n laggende kind

my op die lippe soen

en die groot groen see

ruik soos ‘n waatlemoen!

Krige se verbintenis met Clifton het oor 32 jaar van 1938 tot 1970 gestrek. Oorspronklik het hy en sy vrou Lydia in ‘n houthuis, Izapa, gebly langs Clifton se tweede strand. Wat Lydia geïrriteer het van diè huis was dat sy met baba en al 130 trappies moes uitsukkel as sy iewers heen wou gaan.

Dit was terwyl hulle hier gebly het dat Krige sy vier maande oue dogter Eulalia “gedoop” het in die waters van Clifton II. Van tradisionele kerke (nes die politieke bestel) het hy toe reeds weinig gedink en nie gehuiwer om sy sê te sê nie.

Krige het in Transvaal gaan woon, maar hom in 1958 weer in Clifton gevestig. Diè keer het hy Sea-Girt betrek saam met die skrywer Jack Cope. Sementtrappies langs die eertydse Clifton Hotel het hierheen gelei.

Sea-Girt had groot vensters waardeur die seebries kon inwaai en waardeur jy kon kyk na die mooimense voor die huisies met hul piepkleine tuine.

En dan het die huis uiteraard ook ‘n blik gebied op die see. “By herhaling help (Krige) swemmers wat in die verraderlike Clifton-see in die moeilikheid beland, soos op 27 September 1965 toe hy ‘n matroos van die Windsor Castle red wat op Tweede Strand besig was om te verdrink.”

Vanaf 1942 het Van Wyk en Truida Louw ook langs Clifton II gewoon. Van Wyk het onder meer die bekende versdrama Germanicus hier geskryf.

Deur die jare het Breytenbach tot Aucamp aangedoen by Sea Girt en menige intellektueel interessante gesprekke is gevoer. Peter Blum het selfs snedig na Krige verwys as die “Babbelapie van Clifton”.

Teen 1960 was Krige een van die vermaarste Suid-Afrikaners. Sò bekend was hy dat ‘n brief uit die VSA hom bereik het wat sò geaddreseer was: “Uys Krige, the famous poet and writer, South Africa”.

Jack en Ingrid Jonker had ‘n verhouding, maar sy raak mettertyd verlief op André P. Brink. Vir Brink bring Ingrid selfs een keer na Sea-Girt wat ‘n jaloerse Jack beskryf as ‘n “unnecessary provocation”.

Kannemeyer vertel sò wat gebeur het in Sea-Girt tydens Ingrid se doodsnag van 19 Julie 1965: “Bonnie Davidtsz wat saam met Ingrid en haar dogter, Simone, in ‘n woonstel in Seepunt woon neem Simone na Uys en Jack se houthuisie omdat Simone ontsteld was. Dis hier waar hulle die oggend om vyf minute voor vier aankom. Van Uys af bel Bonnie die polisie, wat sê hulle ry met Ingrid rond om haar te kalmeer. Toe sy terug is in Seepunt en na die polisiekantoor gaan om Ingrid op te laai, moes sy hoor dat hulle Ingrid by haar woonstel afgelaai het. Sy was egter nie daar nie. Om ses-uur daardie oggend is Bonnie weer na die polisiekantoor. Daar is sy meegedeel hulle het Ingrid se lyk by Drieankerbaai gevind.”

Vir Uys en veral Jack het dit jare (indien ooit) geneem om Ingrid se dood te verwerk.

Mettertyd het Uys na Onrust getrek. Jack het Sea-Girt van Uys gekoop. Hy’t gesukkel om Uys te betaal en moes dit uiteindelik van die hand sit om sy skuld te delg.

Het hierdie skrywers maar geweet hoe Cliftonse eiendomspryse sou klim, sou hulle waarskynlik langer bly klou het aan hul houthuisies.