Monday, June 29, 2009

Kom voel dat jy lééf . . .




JENS FRIIS het in die Zambezi-rivier gaan baai en letterlik oor die rand van die Victoria-waterval geloer terwyl net sy kop uit die water steek.
ONLANGS speel ek en ’n groep vriende Truth or Dare.“Wat’s die gevaarlikste dog wonderlikste ding wat jy ooit gedoen het?”Aarsel hoef ek nie, want dit sal my immer bybly. “Dis die keer wat ek letterlik uit die waters van die Zambezi oor die rand van die Victoria-waterval geloer het . . . ” Maar verder as ’n inleidende sin kom ek nie. “Nee wat!” sê ’n stem vol ongeloof. “Probeer ’n ander storie . . . Daai een koop ons nie.” En g’n regdenkende mens sou seker nie. Te dik vir ’n daalder klink dit. Maar dié is g’n wolhaarstorie nie. Só het dit gebeur . . .Een smoorwarm Saterdagmiddag stap ek van die Royal Livingstone Hotel na die waterval. Die res van die groep dut en ek wil gaan prentjies maak - die oggend se bewolkte weer was nie ideaal vir foto’s nie. Dis met dié fotonemery dat ek met ’n Zambiër aan’t gesels raak. Hy blyk ’n deurwinterde (nie-amptelike) gids te wees wat besoekers rondwys en só ’n bestaan voer. “Kom ek wys jou Livingstone Island waar dr. David sy tent in 1855 opgeslaan het,” stel hy voor. “Jy kan ná die tyd besluit hoeveel jy my wil gee.” Dis moeilik om dié uitnodiging te weerstaan. Vooraf het ek gelees die eiland is ’n Wêreld-erfenisterrein. Geen permanente strukture mag opgerig word nie en slegs agt mense op ’n keer word toegelaat. Die toegangspoort is ’n boot wat daagliks om 16:00 daarheen vaar.“Kan mens dan daarheen stáp?” wil ek weet.Hy knik. “Kyk, die Zambezi is nou op sy laagste. Groot, groot dele van die rivierbed is droog. Oor drie weke sal die reëns weer begin.”Net vóór die reënseisoen in Desember is die miswolk bo die waterval die kleinste. Dan stort 18 miljoen liter water per minuut hier af teenoor 320 miljoen  liter in April. Maar ten spyte van hierdie skouspel twyfel ek steeds oor die potensiële avontuurtog met die gids. Ek kan tog nie sommerso Suidelike Afrika se langste rivier (2 060 km) invaar (lees: stap) nie.“Wáár is die eiland?” wil ek weet.Dáár (asof nie te ver nie), wys hy met ’n vinger in die rigting van die rivier. Ek skerm met my hand. My donkerbril lê (soos gewoonlik) tuis.“Goed,” sê ek. “Kom, ons stap.”Maar spoedig blyk dit dat die skyn bedrieg. Livingstone-eiland is heelwat verder as wat dit lyk en die sakkende son kleur reeds die horison nartjie-oranje oor Zimbabwe. Ons gaan beslis nie tot by Livingstone­-eiland kom nie. Daarom besluit ons om tot by ’n sekere waterpoel te stap. “Dis een van my geliefde plekke, ’n natuurlike jacuzzi op die rand van die afgrond,” vertel hy.Hier van die Zambiese kant het ons ’n ongewone blik op Victoria se vyf aparte valle - ’n oostelike katarak, die reënboogwaterval, die hoefysterwaterval, die hoofwaterval en die duiwelskatarak aan die westelike kant.Ons spring oor strome, en soms moet ons daar déúr. Dan moet jy jou staan ken, anders vat die stroom jou. Menigeen het al hier afgespring óf geval - onder andere ’n Brit in ’n kano. Op ’n wonderbaarlike manier het hierdie Engelsman oorleef. Hoe, weet nugter. Al die ander is dood. “Ten minste is hier nie ’n gevaar dat ons op ’n krokodil gaan afkom nie,” probeer hy gerusstel. “Krokodil se kind weet om weg te bly van hierdie afgrond.”En ’n áfgrond is dit gewis: teen 110 m diep, 50 m breed en 1,7 km lank is dit veel groter as Niagara of Iguazu.Die vallende water veroorsaak ’n oor­ver­dowende lawaai. Daarom dat die inwoners die waterval Mosi-oa-tunya noem, oftewel “die rook wat donder”. Livingstone het in sy 1855-dagboek geskryf dat die miswolke lyk soos “die rook van groot grasvlaktes wat brand”. Ons kom ’n drietal toeriste (ook met ’n gids) teë wat met groot lof van die kleine rotspoel praat. Maar verder is g’n siel in sig nie. Dis ongelooflik dat ek hierdie natuurwonder vir myself het. Victoria val immers in dieselfde klas as Kilimandjaro, die Sahara, die piramides of die vulkaanparadys Ngorongoro. Dis een van die Sewe Wonders van die Wêreld.Hoewel dit stil hier lyk, gaan dit beter met Zambië se toerisme as ooit weens voort­slepende politieke onrus, bloedvergieting en kapings in Zim. Die laatmiddaglug smeul in die son. Ek vee die sweet af toe ons by die rotspoel kom.Dit moet die bes geleë “jacuzzi” ter wêreld wees: ’n rotspoel genestel presies daar waar die Zambezi-rivier in die Victoria-waterval verander. Soos die gids gaan lê ek op my maag in die rotspoel, rek my nek uit en loer oor die afgrond. Die einste waters wat oor ons lywe spoel, vloei millimeters verder nie meer ­horisontaal nie, maar raak aan’t stort en plof 110 m laer neer.Dit was só ongelooflik dat ek byna my nek verrek het om telkemaal wéér na die wonder te staar. Was ek van lotjie getik om só ver te gaan? Dalk, maar dis wel so dat vrees grootliks vrees kan besweer. Jy raak gewoond daaraan. Soos Livingstone dit gestel het: “The sense of danger vanish­es when you are in the country of the lions.” En wáár is dít meer gepas as hier, waar adrenalienver­slaafdes deur stroomver­snellings en maalkolke roei, van die Vic Falls-brug spring, toeriste op olifante ry . . . of ek oor die waterval-afgrond hang.Kom doen mee as jy ’n woema-mens is wat die lewendigste voel in extremis, die grense wil toets.Maar onthou: dis op eie risiko. Soos my Truth or Dare-maat graag sê: Die kerse met die grootste vlamme brand meestal ook die vinnigste uit.. 

Monday, June 22, 2009

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073


2020 SE KOLOSSE

- Londen
- Parys

- Melbourne

Dié stede sal grootste, duurste en rykste wees

- Jens Friis

CITY MAYORS, die internasionale dinkskrum wat Helen Zille onlangs aangewys het as die beste burgemeester ter wêreld, het 'n lys bekend gemaak van die 100 stede wat hulle glo die grootste sal wees teen 2020.
Teen dié jaar sal Tokio steeds koning kraai met 37,28 miljoen inwoners. Dit word gevolg deur (2) Moembaai met 25,97 miljoen; (3) Delhi met 25,83 miljoen; (4) Dhaka, Bangladesj, met 22,04 miljoen; (5) Meksikostad met 21,81 miljoen; (6) São Paulo met 21,57 miljoen; (7) Lagos met 21,51 miljoen; (8) Jakarta, Indonesië, met 20,77 miljoen; (9) New York met 20,43 miljoen; en (10) Karachi, Pakistan, met 18,94 miljoen.
Tokio is dus grootte-gewys in 'n gans ander liga as sy teenstanders. Dit is bykans dubbeld so groot as Karachi, die tiende grootste stad.
Die beraamde bevolkingsyfers is bereken deur te let hoeveel mense in 2006 in 'n stad gewoon het en dié stad se gemiddelde jaarlikse bevolkingsgroei dan daarop van toepassing te maak tot 2020.
Daar is ook gebruik gemaak van die voorspellings van internasionale en nasionale statistiek-organisasies.
Onder bogenoemde stede sal Lagos tot 2020 die vinnigste groei. Dié Nigeriese stad sal jaarliks 'n allemintige 4,4 % méér inwoners hê. In die tweede plek is Dhaka in Bangladesj (3,79 %) en Delhi in Indië (3,48 %).
Drie van die tien grootste stede sal met minder as 1 % per jaar groei. Hulle is Tokio (0,34 %), New York (0,66 %) en Meksikostad (0,9%).
Interessant is dat twee van die grootste honderd stede na verwagting 'n negatiewe groei sal toon, naamlik Seoul (-0,5 %) en Londen (-0,02%).
Luidens die verslag sal Beihai, China, die stad wees wat die vinnigste sal groei tot 2020 met 'n groeikoers van 10,58 %. In die tweede plek is Surat, Indië met 4,99 % en Kaboel in Afganistan met 4,74 %.
Drie Suid-Afrikaanse stede pryk op dié lys. Ekurhuleni aan die Oos-Rand beklee die 77ste plek en sal na verwagting 4,82 miljoen inwoners hê. Johannesburg is in die 82ste plek met 4,67 miljoen inwoners. Kaapstad haal in die 99ste plek net-net die lys met sy verwagte 3,92 miljoen inwoners.
City Mayors wys in die verslag daarop dat dit uiters moeilik is om 'n "stad" te definieer aangesien verskillende stede deur die jare al só gegroei het dat hulle nou aaneenliggend is. Daarom moet onder meer op sosiale, ekonomiese en kulturele oorwegings gelet word wanneer besluit word watter bewoonde areas 'n stad vorm.
Soos hierbo genoem, sal Lagos die grootste stad in Afrika wees. Dit word gevolg deur Kaïro in die tweede plek met 14,02 miljoen inwoners, Khartoem in Soedan 6,4 miljoen, Dar es Salaam in Tanzanië 5,4 miljoen, Cassablanca in Marokko 5,09 miljoen, Loeanda in Angola 5,06 miljoen, Nairobi in Kenia 5,02 miljoen en Algiers in Algerië 4,93 miljoen.
Volgens City Mayors sal Tokio die rykste stad op aarde wees in 2020. Die daaropvolgende stede is New York (2), Los Angeles (3), Londen (4), Chicago (5), Parys (6), Meksikostad (7), Philadelphia (8), Osaka/Kobe (9) en Washington (10).
Amerika spog dus met nie minder nie as vyf van dié stede.
Al tien bogenoemde welgestelde stede pryk ook op die 2005-lys. Teen 2020 sal sommige bloot van plek verander het.
Maar as 'n stad welgesteld is beteken dit nie noodwendig dat dit duur is om daar te woon nie.
Volgens City Mayors is die aller duurste stad nie in Europa nie, maar wel in Afrika. Nes verlede jaar is Loeanda in Angola die duurste stad op onse planeet.
Ook uit Afrika is Libreville in Gaboen. Dit is die agtste duurste stad.
Die ander stede onder die top tien is almal in Europa: Oslo (2), Stavanger (Noorweë) (3), Kopenhagen (4), Moskou (5), Genève (6), Zürich (8), Basel (9) en Bern (10).

Londense huismuseum beslis ’n besoek werd

- Jens Friis
’n ONVERWAGSE manuskrip lewer dikwels ’n beter boek op as een wat gestuur word met groot fanfare, sê ’n uitgewersvriend.Tydens ’n besoek aan Londen het ek ’n soortgelyke ervaring gehad. Ek het nie met groot verwagtings na die John Soane-museum gegaan nie, maar toe ek daar uitloop, was ek hoogs beïndruk oor hierdie vonds. Dit is nie net ’n argiektuurmuseum nie, maar ’n imposante dorpshuis met ’n allemingtige eklektiese kunsversameling. Sy eertydse eienaar en naamgenoot is in 1753 gebore as die seun van ’n messelaar. In 1777 het John Soane met ’n reisbeurs van die Royal Academy vir drie jaar in Italië gaan woon. Dis dan ook hier waar hierdie argitek begin versamel het aan sy omvangryke kunsversameling. In 1806 het Soane hoogleraar aan die Royal Academy geword. In hierdie tyd het hy ’n huis langs Lincoln Inn Fields gekoop, ’n park wat vandag nog rus bied vir voosgeredeneerde prokureurs in die kern van Londen se regswêreld.Hierdie woning langs Lincoln Inn Fields 12 tot 14 het ’n meervoudige doel vir Soane gedien. Dit was nie net woonplek nie, maar ook sy argitekskantoor, biblioteek, uitstalplek vir van beelde tot skilderye, en ’n gebou waar hy vrye teuels aan sy argitektoniese drome kon gee. Hier kon hy letterlik bou en verb(r)ou. Nietemin getuig die kamers wat hy opgeknap het van basiese riglyne wat hy altyd nagevolg het soos skoon lyne, vindingryke gebruik van ligbronne, oordeelkundige detail en presiese proporsies. Sy Neo-Klassieke styl het uiters gewild geword en sy praktyk het gefloreer. Dalk sy belangrikste werke was die Dulwich College-kunsgalery en die Bank of England. Laasgenoemde het ’n groot invloed gelaat op die ontwikkeling van kommersiële argitektuur, maar is helaas in die 1920’s grootliks deur sir Herbert Baker herbou. Hierdie afbreek van Soane se vlagskipprojek is al beskryf as “die grootste argitektoniese misdaad in Londen tydens die twintigste eeu”. Weens die baie opdragswerk het geld na Soane gestroom en kon hy artefakte versamel wat in die British Museum sou kon tuishoort. Hieronder tel waardevolle brons uit Pompeii, skilderye deur Canaletto en Hogarth, asook ’n sarkofaag van Seti I, ’n Egiptiese farao. Ná die dood van sy vrou in 1815 het hy in hul dorpshuis bly woon. Sy oë het aansienlik verswak, maar hy het steeds stukke bly aankoop en sy versamelings herstruktureer. Met sy twee seuns was hy nie ingenome nie en aan hulle wou hy niks bemaak nie. Daarom het Soane bepaal dat sy huis bewaar moes word sodat “amateurs en studente” hieruit vreugde en kennis kon put. En dis hoe die John Soane-museum tot stand gekom het. Die maklikste om hier uit te kom is deur die moltrein na Holborn te neem. Die museum is ’n klipgooi van hier – reg langs die groen oase genaamd die Lincoln Inn Fields.Die museum is van Dinsdag tot Saterdag tussen tien en vyf oop. Toegang is pasella.Byna 100 000 besoekers doen hier aan per jaar – nogal ’n lot vir ’n huismuseum. Daarom is dit wys om met oopmaaktyd teen tien ’n draai te maak, want anders mag jy dalk in ’n tou staan.

Sutherland: 'n Warm bestemming




- Jens Friis
SUTHERLAND het die twyfelagtige eer om bekend te staan as een van die koudste plekke in die land. Hier het die kwik immers al by -16 C gedraai.
Tog het dit in die afgelope jare een van die "warmste" (naweek)bestemmings geword.
As jy immers nie die hoendervleisweer tuis kan ontwyk nie kan jy netsowel gaan ondersoek instel hoe koud is yskoud. En net dalk, is jy gelukkig en sneeu dit selfs in Sidderland!
Oor dié bibberweer skryf N.P. van Wyk Louw, dalk Sutherland se bekendste boorling, as volg:
ek staan weer by 'n wit poel waar 'n wintermiddag sneeu en ek is klein en hoor verskrik 'n jakkals uit die rante skreeu.
Maar dit is die "blomgroot sterre" waaroor Van Wyk Louw gedig het wat sy geboorteplek werklik op die wêreldkaart geplaas het.
Dié dorp is byna 1 500 m bo seespieël en spog met van die helderste sterbelaaide nagte denkbaar. Dis dan ook 'n hoofrede waarom die Suider-Afrikaanse Groot-teleskoop (SAGT) 18 km buite Sutherland op die Fraserburgpad staangemaak is.
'n Sterpartytjie is op Oujaarsaand 2008 hier gebou waartydens 'n beperkte aantal mense, soos nog nooit tevore, deurnag toegang tot die teleskope gehad het. Dié geleentheid het Suid-Afrika se deelname in 2009 ingelui tot die internasionale Jaar van Astronomie soos verklaar deur die Verenigde Nasies.
Terloops, 2008 was die herdenking van die eerste astronomiese gebruik van die teleskoop deur Galileo Galilei. Dit was 'n gebeurtenis wat 400 jaar van astronomiese observasies ingelui het en 'n revolusie in die mensdom se kennis oor die heelal meegebring het. Ná dié Galilei heet die Galileo Kunsgalery langs Sutherland se hoofstraat waar jy pragtige swart-en-wit foto's kan aanskaf.
Nie te ver van die SAGT-teleskoop staan een van die laaste aktiewe vulkane in Suid-Afrika. Dis moontlik om Salpeterkop met sy onderskeidende donkerswart vulkaniese gesteentes uit te klouter. Selwers het ek dit nie gedoen nie, maar ek kan my net indink dat jy vanaf die piek 'n ongekende blik sal hê oor die die Roggeveld en sy koue sterre-dorp.
Sutherland dateer uit 1857 toe 'n nuwe N.G. gemeente op die plaas De List aangelê is om die Roggevelders te bedien. Die volgende jaar is die eerste woonerwe verkoop. Volgens P.E. Raper se Dictionary of Southern African Place Names is daar besluit dat dié nedersetting sou heet na ds. Henry Sutherland (1790-1879), 'n Skotse predikant van Worcester.
Soos in omtrent alle Karoo-dorpe is die indrukwekkendste gebou op die dorp dan ook juis die N.G. Kerk. Dié Neo-Gotiese kerk is ontwerp deur Charles Freeman, 'n argitek wat ook verantwoordelik was vir die moederkerk op Graaff-Reinet. Dié nasionale gedenkwaardigheid is in 1903 ingewy, maar terwyl dit in aanbou was het die Kakies die kerk beset en dit as slaapplek gebruik, skryf Deirdré Richardston in Historic Sites of South Africa.
Dis oor dié einste kerk wat Van Wyk Louw skryf in sy bekende gedig "Beeld van 'n jeug: Duif en perd". Terwyl die jong seun in die agterplaas van hul huis op die dorp in 'n boek oor die Romeinse geskiedenis lees en die swart hings in die stal hoor, sien hy hoe sy duiwe "met vlerke oop" oor die dorp vlieg:
en hoog sien 'k hulle oor die toring pyl van ons kerk en een groot sirkel trek rondom die dorp, die rante-kom, en seil teen die donkerwolke in wat ver- weg lê en middag maak.
Danksy die ryklike gebruik van donkergrys plaaslike klip het Sutherland 'n merkwaardige argitekturele eenheid. Die boustyle van die kerk, skool, koshuis, polisiekantoor en tronk is byvoorbeeld uiteenlopend, maar dit word deur die gebruik van klip saamgebind. Buiten die donkergrys klip is harpuis-, renoster- en sneeuwit spekbosse ook kenmerkend van dié geweste.
Sou jy Sutherland toe wil gaan is daar omtrent net één pad. Ry met die N1 suid tot anderkant Laingsburg. By die afdraaipad na Matjiesfontein draai jy nie links nie, maar wel regs. Van hier sal die Verlatekloofpas wat uit 1875 dateer jou kronkel-kronkel na die platorand lei. Sutherland lê 120 km vanaf die N1. Onderweg sal jy nie ver verby Gunstefontein ry. Hier het Van Wyk Louw se oupa vanmeleë geboer in die 1880's.
Maar helaas stap die jare meedoënloos aan - selfs in hierdie afgeleë wêreld waar dit weinig anders lyk as toe die eerste trekboere hier huis opgeslaan het.
Dít het W.E.G. Louw maar al te goed besef toe hy ná die dood van sy broer hul geboortedorp besoek en mymer oor 'n vervlietende jeug in "Verslag van 'n winterrein":
Waar is die ruitjies van die plankstoepdeur, rooi en blou en groen? Die tuinmuur, met sy heinings van sipres, 'n donker gang wat oplei na die druiweprieel en die dam? Die agterplaas, met sy duiwehok, sy balie, die warmte van blou gruis? Die stal, met daarbinne, kragtig en swart, die hings wat jou wit oog aankyk in die donker? Dis alles weg. Dis deel van 'n droom. Dis reeds 'n gedig uit die kinderjare van wie hier gewoon het 'n halfeeu gelede . . .

SOU JY GAAN
* Sutherland se toerismekantoor kan gebel word by 023-571-1265. In die omgewing is meer as 20 gasteplase en -huise om te oornag. Maar dis uiteraard nietemin wys om vooruit te bespreek - veral as die wêreld wit getooi is in die winter en die Kapenaars hierheen stroom.
* Dis noodsaaklik om 'n bespreking te maak as jy die SAGT-teleskoop (023-571-2436) wil besoek.
* Winters kan die R354 ysglad wees. So wees ekstra versigtig. Vul jou petroltenk Saterdae, want Sondae is dit soms 'n probleem om petrol te kry.
* Besoek www.astronomy2009.org.za en www.saao.ac.za.

Graf oortrek van soenmerke


OM eer te betoon aan Oscar Wilde, soen baie van sy bewonderaars sy grafsteen in die Pere Lachaise-begraafplaas in Parys, Frankryk. Sy grafsteen is een massiewe marmerblok omtrent 4 x 6 m groot - en daar is skaars 'n plekkie waar daar nie 'n lipstiffiemerk is nie. Die begraafplaas is 'n toeriste-attraksie met grafte van beroemdes soos Frederic Chopin en Jim Morrison. Foto: Jens Friis

Die trein na Matjiesfontein




"Temadorpies" is hoogmode en talle winkelsentrums en (Monte)casino's word hiervolgens uitgelê. Die ware Jakobs soos Pelgrimsrus, Gold Reef City en Matjiesfontein is egter dun gesaai. Laasgenoemde het JENS FRIIS se hart reeds as kind gesteel en hy doen steeds graag in Matjiesfontein aan as hy die pad Kaap toe vat.

Só HET MATJIESFONTEIN GEGROEI TOT WAT DIT VANDAG IS
Dis aan James Douglas Logan wat Matjiesfontein grootliks sy bestaan te danke het. Voor sy aankoms in 1884 was dit vir ses jaar reeds bloot 'n stopplek vir stoomtreine om water in te neem. Nadat die Australiese skip waarop Logan was byna by Kaappunt gesink het, het hy by Simonstad afgeklim, stasiemeester van die pasvoltooide Kaapstad-stasie geword en is later bevorder tot distrik-superintendent van die spoorweë tussen die Heksrivier en Prince Albert Road.
Omdat Matjiesfontein sentraal geleë was vir sy werk, die droë Karoo-lug goed was vir sy swak bors en hy die alleenreg ontvang het om verversings op Matjiesfontein te verkoop, het die Logans hul daar gevestig. Daar word vertel dat Logan, 'n knap sakeman, 'n fortuin gemaak het deur kokend warm sop te verkoop. Voordat dit drinkbaar was, het die trein vertrek, die sop is teruggegooi in die pot en dit was gereed vir die volgende reisigers. Mettertyd het 'n dorpie aangegroei rondom Logan se Hotel Lord Milner - genoem na die Kaapse goewerneur. Logan was Kaapse parlementslid en diesulkes soos die sultan van Zanzibar en sir Randolph Churchill, vader van Winston, het aangedoen by die landheer wat 100 000 ha rondom Matjiesfontein besit het. Met Logan se dood in 1920 was die Karoo-lug-mode iets van die verlede. Boonop is die hoofpad verlê. Die Matjiesfonteindroom het gekwyn totdat die sakeman David Rawdon die ganse nedersetting in 1968 van Logan se kleinseun gekoop het en die Hotel Lord Milner heropen het. Transnet het enkele jare gelede die pragtige stasiegebou opgeknap en 'n konferensiesentrum ingerig. Die Marie Rawdon-museum, wat ook hier gehuisves word, het van die meeste Anglo-Boereoorlog-memorabilia in die land. 'n Britse kamp met oor die 20 000 perde en 10 000 soldate was destyds hier in die veld. Die letters ``VR'' verwys nog na die heerskappy van Koningin Victoria op 'n briewebus langs die poskantoortjie. Langsaan staan die huisie wat Olive Schreiner gehuur het en waarin sy lang gesprekke met Cecil John Rhodes gevoer het. Deesdae is dit 'n gastehuis soos die meeste huise in die dorp. Die Coffee House, vroeër die algemene handelaar, verkoop outydse lekkers en ander eetgoed. Voor die winkel staan nog twee rooi-en-geel Shell-petrolpompe - 'n verwysing na die nasionale pad wat vroeër hier deur geloop het.

EERSTES EN ENIGSTES
Matjiesfontein spog met talle eerstes en enigstes:
* Die eerste internasionale krieketwedstryd tussen Suid-Afrika en Engeland is hier in die middel van nêrens gespeel. Die destydse heer en meester van Matjiesfontein, Jimmy Logan, het twee toere van Lord Hawke se spanne na Suid-Afrika gereël. Later het Logan betaal vir die ganse Suid-Afrikaanse span se toer na Engeland. The Laird's Arms, waar die dors geles kan word, is vol kiekies van die krieketmal Logan, terwyl die meubels daarin van die Marleybone Cricket Club by Lords kom.
* Tweedside Lodge, 'n Victoriaanse huis met 25 vertrekke, was die eerste in Suid-Afrika met elektrisiteit.
* Daar word aanspraak gemaak dat die langste private telefoonlyn in die Kolonie dit verbind het met Tweedside Farm, 20 km suid langs die N1. Dié foon is nou te sien in die bankmuseum straataf.
* Dié dorpie was ook ander vooruit deur sowel elektrisiteitsvoorsiening en 'n rioolstelsel met water te hê.

SOU JY GAAN
* Matjiesfontein is 'n paar minute se ry uit Laingsburg langs die N1 na Kaapstad. Dis dus nie 'n halfweghuis Kaap toe vir Beeld-lesers nie. Maar dis wel 'n lekker oornagplek as jy die eerste dag ver wil ry en dan oorslaap om die volgende oggend vroeg by die see aan te kom.
* Bring winters genoeg warmklere en somers die nodige sonbrandmiddel en sonbrille, want Matjiesfontein is in die Karoo. Dis tipiese woestynweer.
* Sou jy Matjiesfontein as basis vir 'n paar dae wil gebruik is hoogtepunte in dié wêreld Sutherland en Seweweekspoort.
* En as jy soos Sonja Heroldt die Trein na Matjiesfontein wil vat, gooi dan 'n oog by http://www.spoornet.co.za/ of bel 086 000 8888.