Friday, August 29, 2008

Land vars en slaggereed

TWINTIG VLIEGWENKE wat werk:
1. Vermy spitsuurvliegtye, wat volgens die International Air Passengers Association tussen 08.30 en 10:00 en weer tussen 16:30 en 18:30 is. Vlieg eerder vroeër in die dag as later sodat jy tyd het om jou voete te vind in anderland.
2. Vlugte word dikwels vertraag. Bel van die huis óf kyk op die web om te weet of joune laat is.
3. Sitplekke in die ry waar die nooduitgang is, het gewoonlik meer beenspasie.
4. Dit loon om met dieselfde lugdiens te vlieg. Só het jy voorkeur by die kies van sitplekke, word jy dalk opgegradeer na besigheidsklas en kry ekstra myle as jy deel is van só 'n program.
5. Sluit tasse en sakke wat ingeweeg word deeglik om diefstal te voorkom. Só kan dwelms ook nie in jou bagasie geplant word nie.
6. Sorg dat daar 'n duidelike kontaknommer op jou bagasie verskyn. Dit is verkieslik bo 'n straatadres, want só kan skelms nie agterkom waar om te gaan inbreek terwyl jy elders is nie.
7. Maak dubbeld seker dat die regte bestemming op jou bagasieplakker aangebring word as jy inweeg.
8. Sterk tasse is 'n móét, want dit word hardhandig hanteer. Hoe meer onderskeidend jou bagasie is, hoe beter. Só kan jy dit makliker uitken. 'n Lughawe is een van die enigste plekke waar tasse onbewaak op 'n vervoerband beland.
9. Sorg dat die nodigste (tandeborsel, medikasie en so meer) in jou handbagasie is, sou jou ander bagasie wegraak.
10. Bevestig 'n hotelbespreking vóór jou vertrek, veral as jy laat gaan arriveer.
11. Maak seker dat daar genoeg skoon blaaie in jou paspoort is.
12. Neem eetgoed en iets te lese saam. Vlugte word soms lank vertraag. Al bring jy 'n appel en 'n Volksblad te voorskyn, sal jou honger en verveelde medepassasiers jou beny.
13. Reis superlig. Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan as jy nie 'n magdom kreukeltrae klere het nie.
14. Jou buurman voor jou gaan waarskynlik sy stoel 'n paar grade agteroor tilt voordat hy probeer slaap. Moenie jammer wees dat jy van die ruimte agter jóú gaan opeis deur dieselfde te doen nie.
15. 'n Hoefvormige, opblaasbare kussing kan keer dat jou kop knik as jy lekker dut.
16. Smeer genoeg room aan jou vel. Die lugverkoeling droog dit uit. Heelwat water help ook.
17. Trek gerus jou skoene uit, maar maak seker dat jy heel, skoon sokkies dra.
18. Diep-aar-trombose het die bynaam ``ekonomieseklas-sindroom'' gekry omdat die klein ruimte waarin passasiers in vliegtuie sit, die vorming van bloedklonte in die been veroorsaak. Dit kan teëgewerk word deur gereeld op te staan en rond te stap. Masseer jou voete en bene.
19. Moenie vergeet dat vliegtuigtoilette altyd druk besoek word net ná ontbyt en voor landing nie.
20. Hou 'n kaart van die stad waar jy land byderhand.
Jens Friis het onlangs 'n draai in Australië gemaak en met een van dié vliegtuie wat op water kan land die Great Barrier Reef, die grootste lewende organisme op aarde, van uit die lug bewonder.

Tuesday, August 26, 2008

Van Amandelboom tot Williston

- Jens Friis

HOE die dorp Amandelboom Williston geword het, is 'n lekker storie wat 'n paar wye esse deur die verlede gooi.
In Julie 1768 het Johan Abraham Nel en sy gesin met hul wa vanaf Stellenbosch tot by ‘n fontein langs die Sakrivier getrek. Johan se tweede seun is hier gebore en om dit te vier het hy ‘n amandelboom geplant.
Maar anders as in Numeri 17:8 waar geskryf staan "... daar was nie net botsels aan nie, daar was ook bloeisels en dit het selfs ryp amandels gedra", het die boom wat hy geplant het nooit 'n enkele vrug gedra nie!
Nietemin het dit flink gegroei en 'n groot skadukol gegooi - iets kosbaars in dié geweste van die Noord-Kaap.
Dis dan om dié rede dat eerwaarde J.H Lutz en F.W. Reinecke by Amandelboom kamp opgeslaan het in 1845.
Dié twee godsmanne van die Rynse Sendinggenootskap was daar op versoek van die sogenaamde Basters wie gevra het om leiding vir hul wel en weë.
Die Basters, afstammelinge van Europese trekboer-vaders en Khoi-moeders, het wes van die Kareeberg ‘n sukkelbestaan gevoer deur met hul vee van fontein tot fontein te trek. Ook by Amandelboom het hulle dikwels hul vee laat suip.
Hier het die Basters vir die sendelinge twee kliphuisies gebou met perske- en vyebome, skryf Leon Nell in The Great Karoo. 'n Kerk was ook nodig en dié het hulle uit riete gebou. 'n Besoekende sendeling het in 1848 dié kerkie beskryf as “a little plain house made from bushes, which were plastered with earth”.
Williston is sowat 540 km van Kaapstad en teen die 1860’s het blanke trekboere tot hier in die middel van die Hantam-Karoo getrek.
Spoedig hierna sou die Grondafbakeningswet van 1865 dit vir beide die Basters en Boere onmoontlik maak om hul nomadiese lewenswyse voort te sit. Luidens dié wet moes mense wat land beset het eienaarskap daarvan kon bewys, in ‘n posisie wees om aansoek te doen om eienaarskap, of die grond afstaan aan wie die regering dit ookal toeken. Dit het die Basters gedwing om noord te trek óór die Oranjerivier tot by die hedendaagse Rehoboth, 80 km suid van Windhoek.
Sestien jaar later, in 1881, het Amandelboom munisipale status verwerf.
Dít was die dae toe kol. Hampden Willis die koloniale sekretaris was en in 1919 is Amandelboom herdoop na ‘n verboë vorm van kol. Willis se van, naamlik Williston.
Dié naamsverandering was nie slegs te wyte aan Britse-imperialisme nie, maar ook omdat die oorspronklike amandelboom ‘n ontydige dood gesterf het.
Ds. S.H. Kühn, die N.G. herder, het geglo as die oog van die fontein groter gemaak word, sou meer water daaruit vloei. Daarom het hy dit met dinamiet probeer oopskiet. Maar al wat hy daardeur reggekry het was om die nabygeleë amandelboom weg te blaas.
Danksy ‘n reuse boomplantprojek van ‘n onderwyser in die 1930’s herinner Williston vandag nog aan ‘n oase.
Dalk die beste blik op dié dorp is vanaf twee heuwels wat uitkyk op die dorpsbegraafplaas. Op dié koppies sou kerkkore kom sing op veral Kersfees – vandaar die naam Singkoppe.
Gaan maak gerus ‘n draai in dié begraafplaas. Dis deel van die ongewone Grafsteenroete – die enigste van sy soort in die land.
Wat die grafstene besonders maak is die handgebeitelde tierlantyntjies en eienaardige spelwyses op die grafstene. Nulle is dikwels weggelaat en ‘n geboortedatum soos 183 beteken nie dat iemand kort ná Jesus op aarde was nie, maar wel dat sy in 1803 die eerste lewenslug ingeadem het.
Die meeste van dié kopstukke is in die 1800’s gemaak deur James Wright wat vanaf Stirling, Skotland, geëmigreer het.
Terloops, kaarte dui ‘n plekkie genaamd Stirling in die Williston-distrik aan, maar dié plaaswinkeldorpie bestaan lankal nie meer nie.
Die talentvolle James Wright en sy protegé, Cornelius de Waal, het honderde sandsteen-grafstene versier wat steeds staan in die dorpsbegraafplaas, soos ook op plase soos Oest, Koega en Dassieskloof.
Die Williston-distrik is deesdae bekend vir sy skaap- en karakoelbedryf. Groenvoer word ook verbou met water uit die Sakrivier. Die landerye word gevloed – nes Egiptiese boere langs die Nyl maak.
Plaasname soos Benoudsfontein, Potloer, Weggooikolk se Leegte, Hongerfontein en Verjaagsfontein vertel van ‘n oorlewingstryd in ‘n onvriendelike omgewing.
Maar moet jou nie hierdeur laat flous nie. Stop langs die pad: net dalk sien jy van dié wêreld se skaars plante soos hondeballas en oubok, of diere soos die rooi lewerik (Certhilauda burra) en oewerkonyn, Suid-Afrika se mees bedreigde soogdier.
‘n Besondere vonds was ‘n Anomocephalius africans wat in 1995 op die plaas Kruitfontein gevind is. Dié dier was ‘n reptiel en so groot soos ‘n skaap. Volgens kenners bied dit steun dat soogdiere in Suider-Afrika ontstaan het.
Moenie een van die korbeelhuisies verby gaan nie. Nee, dis nie ‘n “bordeelhuisie” nie. En ook nie ‘n “kondoomhuisie” soos een toeris dit verkeerdelik genoem het nie, hoewel dit ‘n besondere "dome" het. Dié boere-igloes se koepels is uit klip gebou omdat daar nie timmerhout vir dakbalke was nie
In die plaaslike museum is handevol boeke van die skrywer Mikro, dalk Williston se bekendste boorling. Hy is in 1903 op Van Reenensplaas gebore.
Nes die landskapskilder Pieter Naudé het ook sy skoondogter, Elmarie Naudé, ‘n holte vir haar voet in Williston gevind. By Die Vliëende Piering verkoop sy geverfde volstruiseierdoppe tot hoede. Dié winkel kan jy nie mis nie, want die eklektiese voorstoep is versier met aalwyne tot motorwieldoppe.
As jy Williston klaar verken het kan jy koers kies na een van sy grootliks onbekende buurdorpe soos Vanwyksvlei (207 km), Brandvlei (127 km) of Fraserburg (93 km).
Dis juis van Fraserburg wat Elna Marais, kuratrise van die Williston Museum, die volgende staaltjie vertel: Eendag lank, lank gelede het die Fraserburgers rugby kom speel in Williston. Fraserburg was ‘n kortkop voor, maar genadiglik vir die Willistoners kom daar toe ‘n trein verby. Die Fraserburgers wat nog nooit vantevore ‘n lokomotief gesien het nie was só verstom oor dié gedoente dat ‘n Williston-kind die rugbybal opgeraap het en tjoef-tjaf ‘n drie gaan druk het. Dit was in die dae toe ‘n drie slegs 3 punte getel het, maar dit was genoeg om Williston te laat wen!

Tuesday, August 19, 2008

Sans Souci

BERLYN. In 'n asemrowende mere-landskap het Frederick die Grote sy koninklike paleis laat bou in 1745. Dit word vandag bestempel as een van die aller beste voorbeelde van rococo-argitektuur in Europe. Hier kon hy 'n magdom kulturele tydverdrywe waarvoor hy so lief was beoefen "sans souci" - sonder kommer. En só het die Sans Souci-landgoed sy naam gekry.

Thursday, August 14, 2008

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073


Stuurmansfontein: Kliprondawels is volksboukundige juwele

- Jens Friis

CARNAVON. As die plaas Stuurmansfontein se besondere korbeelhuis nie so vrek ver van 'n grootpad was nie, sou sy beddens sweerlik elke aand vol bespreek gewees het.
Want dié nasionale gedenkwaardigheid, wat as gastehuis ingespan word, is een van die besonderste plekke waar ek nog ooit geslaap het.
Hou dus moed as jy die pad hierheen aandurf, want net voordat jy op moedverlore se vlakte tussen Carnavon en Williston gaan sit, lei 'n tweespoorpadjie oor 'n heuwel en lê Stuurmansfontein se oudopstal voor jou.
In die dae voor paaie en drade toe die Karoo se enigste grense die horison was en duisende springbokke op dié vlaktes gewei het, het trekboere dié wêreld hul woning gemaak.
Maar om huis op te slaan was nie maklik nie, want weens die Karoo se intense klimaat was hier vanmeleë geen groot bome nie en gevolglik was daar g'n timmerhout vir dakbalke nie.
Maar 'n boer maak 'n plan. En wat 'n plan was dit nie! Want na eeue staan dié settelaarwonings steeds stewig. En dít wil gedoen wees, want min dinge is bestand teen die Karoo se woeste westewinde en weer.
Oor wie die bouers van die opstalle was hang baie vraagtekens. Baie bronne wil dit hê dat die korbeelhuise op byvoorbeeld Stuurmansfontein, Schuinshoogte, Arbeidersfontein, Goraas en Droogeputs tussen 1825 en 1875 gebou is deur Khoi-arbeiders.
Hierdie koepelvormige hutte lyk soortgelyk aan dié langs die Middellandse See en in Groot Brittanje waar die Kelte dit al as skuilings gebruik het in 2000 v.C.
Daar word vermoed dat 'n Europese messelaar dié boukunskennis na Suid-Afrika gebring het.
Weens 'n gebrek aan timmerhout in die Karoo moes die hele huis uit klip gebou word. Die "sement" het bestaan uit 'n mengsel van kaf en grond. Dis met water gemeng en geknie totdat die regte tekstuur verkry is.
Die huisies was soms reghoekig, maar meestal rond.
Volgens die HAT het korbeelhuise (Engels: "corbelled houses") gewoonlik sirkelvormige mure wat tot op ongeveer 2 meter vertikaal is (dit kon tot 76 cm dik wees), maar daarna buig dit met verdrag na binne totdat dit by die bopunt bymekaarkom.
J.J. Oberholster skryf in Die Historiese Monumente van Suid-Afrika: "Die oorblywende opening word dan met 'n groot plat klip gesluit" as die weer onguur is. Dit sou afgehaal word as dit warm was, 'n vuur binne-in gemaak is of as dit eendag op 'n reëndag wel sou reën.
"Om die instandhouding (van die dak), sonder die oprigting van houtsteiers, te vergemaklik, is plat uit-stekende klippe op gerieflike hoogtes as trapplek gelaat." Só is die klippe wat uitgestaan het dan as 'n leer gebruik om tot bo-op die dak te klouter.
Dié iglo's van tot sewe meter in deursnee se vloere was later van perskepitte, maar aanvanklik het dit bestaan uit miershoopklei wat met osbloed gemeng is. Die boervroue sou dit poleer en met vet invryf totdat die spieëlgladde oppervlak rooibruin skitter.
Soos ook op Stuurmansfontein, is die deur van dié reuse byekorwe reg oorkant 'n venstertjie met 'n houtluik.
"Hierdie venstertjies is doelbewus klein en soms skuins in die muur gemaak sodat in die geval van 'n aanval deur Boesmans hulle nie maklik en direk met hul pyle in die rondawel kon inskiet nie."
Oorspronklik was daar nie hout om deure van te maak nie en die gespande velle van perde of beeste is glo voor die deuropeninge gehang.
In die mure sou nisse vir pakplek ingebou word en aan hake en drade sou biltong en ander huishoudelike goed gehang word.
Soos die landboupioniers vooruit boer sou hulle dan nóg kliprondawels aanbou.
Die meubels was toentertyd beperk tot 'n katel, tafel, 'n paar stoele, en 'n wakis vir klere.
Die Stuurmansfontein-korbeelhuis is sorgsaam gerestoureer, maar vir gaste is daar 'n paar ekstras aangebring soos 'n buite-stort en spoeltoilet.
Die res is so outentiek soos in die dae toe die eerste settelaars hier nes geskop het.
Stuurmansfontein se kliprondawel-opstal is 'n volksboukundige juweel. Jy mag dit nie verbygaan nie!
* Ry só na Stuurmansfontein: Die uitdraaipad na die plaas is 110 km vanaf Williston en 26 km van Carnarvon. Vanaf die uitdraai is Stuurmansfontein ongeveer 29 km verder langs 'n grondpad wat later 'n tweespoorpaadjie word. Bel mnr. Piet en Charmaine Botha by 082 221 7500 of skryf aan stuurmansfontein@telkomsa.net. Besprekings is noodsaaklik. Moenie Charmaine se aandetes misloop nie. Dit word spesiaal by die korbeelhuis in die middel van nêrens afgelewer.

Tuesday, August 12, 2008

Nieu-Seeland se onbeskryflik mooie Suid-Eiland



Kobi Yamada, die skrywer en filosoof, het eens opgemerk: "Some experiences simply do not translate. You have to go to know." Dít sou 'n raak beskrywing gewees het vir Nieu-Seeland se onbeskryflik mooie Suid-Eiland. Hier wissel berge, gletsers en woude mekaar flink af. Foto: Jens Friis

Switserland: Bernese Oberland

DIE Bernese Oberland word dikwels as die skouspelagtige in die Alpereeks beskou. Hier is die indrukwekkende Eiger-, Mönch- en Jungfrau-pieke geleë en rondom dié drie lê verleidelike dorpies in afgeleë valleie. 'n Trein kan jou na die Junfraujoc-stasie neem wat op 3 475 m die hoogste spoorwegstasie ter wêreld is.


Monday, August 11, 2008

Skildery vereer Skulpiesvrou

DIE Skulpmuseum in Jeffreysbaai spog met meer as 1 500 verskillende soorte skulpe. Dit word beskou as een van die grootste en beste skulpversamelings ter wêreld. Dié museum het ontstaan uit die private versameling van wyle me. Charlotte Kritzinger. Destyds het die Skulpiesvrou se versameling 324 verskillende soort skulpe getel. Kritzinger word in die museum vereer deur hierdie skildery deur ene Othelia. Foto: Jens Friis

Moenie bloot deur Britstown blits nie






AS jy glo dat die doel van ‘n reis (nes die lewe) nie alleen lê in die eindbestemming nie, maar óók die reis, behoort jy sin in ’n verposing op Britstown te hê.
Na alle waarskynlikheid sal jy die dorp binnekom vanaf Strydenburg in die noorde (77 km) of Victoria-Wes in die suide (98 km). Vanaf die N12 wat Britstown grootliks verbygaan lyk die dorp na weinig. Maar moenie jou hierdeur laat mislei nie.
Langs sy stil agterstraatjies – veral in die omgewing van die pragtige N.G. Kerk (1877) – staan steeds pragtige voorbeelde van Karoo-argitektuur. Menige huis het koel voorstoepe en van hier kyk inwoners hoe die wêreld en die tyd stadig maar gewis verby gaan.
Terwyl ons deur Britstown se strate en stegies gedwaal het is ons belangstellend dopgehou vanaf sulke stoepe. Dié kyke is seker te verstane, want die meeste toeriste blits bloot deur Britstown op pad van die Kaap na Kimberley.
Dis juis aan dié roete wat Britstown sy bestaan te danke het. Tydens die diamantstormloop het boere die geleentheid raakgesien om munt te slaan uit fortuinsoekers wat hul geluk gaan beproef het op Kimberley se diamantmyne. Die boere het ‘n deel van die plaas Gemsbokfontein in 1877 gekoop en dit genoem na Hans Brits, die eienaar.
Volgens oorlewering was dié Hans (nes die fortuinsoekers) ’n avonturier wat nie graag stil gesit het nie. Hy het op sy dag vir dr. David Livingstone vergesel tydens ’n ontdekkingsreis na die noorde, vertel Jonathan Deal in sy boek, Timeless Karoo. Aanvanklik het ’n dorpsraad hier die septer geswaai, maar teen die tyd wat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het in 1899 was daar al meerdere besighede en kerke in Britstown en die dorp het munisipale status gekry.
Soos die meeste plattelandse Karoo-dorpe is ook Britstown grootliks lamgelê deur die ontvolking van die platteland. Nietemin bly dit steeds ’n belangrike wol- en vleisdistrik.
Hou die plaasname dop as jy uit Britstown ry. Dit vertel heelwat van dié geweste. Op die plaas Schilderspan is byvoorbeeld San-rotstekeninge te sien.
Op Elandsfontein, Soutaar, Twyfelhoek, Holdakkies, Doornkuil, Barendsfontein en Holpan word met skaap geboer, gejag en/of oorgeslaap.
As jy die energie het kan jy een van die Kambro-staproetes aandurf wat wissel van ’n 2km-staproete tot ‘n uitdaging oor ’n volle drie dae.
Nagenoeg 30 km noordwes van Britstown is die Smarttdam. Dis in 1895 laat bou deur die Smartt-sindikaat, ‘n private organisasie met landboubelange.
Dié ambisieuse besproeiingsprojek het die verbouing van groenvoer vir veral groot skaapkuddes moontlik gemaak. In 1954 is die sindikaat gelikwideer en sewe jaar later is die dam verwoes tydens die Groot Vloed toe die Ongersrivier erg omgekrap was. Vir drie jaar het die boere wat op die Smarttdam staat gemaak het vir leiwater, noustrop getrek. Maar genadiglik het die staat ingegryp en die dam is in 1964 reggemaak én verbeter.
Adlene Potgieter is ’n ideale persoon om jou meer te vertel van Britstown se doenighede. Sy en haar man Rian het in 1973 (toevallig die jaar waarin ek gebore is) die Central Hotel gekoop. Ná 35 jaar bedryf hulle steeds dié baken wat deesdae bekend staan as die Trans Karoo Country Lodge.
Terloops, buiten die N12 wat noord-suid loop, kan jy ook van die N1 by Hanover draai en via De Aar na Britstown ry. Die R384 lei van hier via die kleine Vosburg na Carnavon. As jy wes hou in Nieuwoudtville se rigting is hierdie ‘n ideale pad om onbekende plekke te verken onderweg na Namakwaland waar die blomme hopelik binnekort kop sal uitsteek. Ek lees juis hulle voorspel ’n puik blomjaar.
Ja, jy sal sin hê in Britstown as jy nie net mik vir jou eindbestemming nie, maar oortuig is die rit daarheen is van ewe veel waarde. Só behoort die lewe ook mos te wees. Geniet die reis!

Luckhoff: Destyds en nou




AS jy nie spesiaal na Luckhoff koers kies nie, is die kans skraal dat jy ooit hier ’n draai gaan maak.
Dié Suidwes-Vrystaatse dorp lê lángs die R48 wat hoofsaaklik gebruik word deur die Vanderklowers, Petrusvillers en Philipstowners wat inkopies in Bloemfontein kom doen.
Meerderemaal sou ons kleintyd die pad daarheen aanpak vir sportbyeenkomste, want Luckhoff lê 82 km noordwes van Philippolis, my grootworddorp.
Luckhoff had slegs ’n laerskool en kleintyd sou ons ons knieë nerf-af val op hul skougrond se rugbyvel wat nou nie juis oortrek was met welige kikoejoe nie. Die Vanderkloofdam, Suid-Afrika se tweede grootste, is wel net 35 km ver, maar om dié water in Luckhoff te kry kos geld en dié dorp was nog nooit ’n oase nie.
Buiten rugby het my ouers, twee kranige tennisspelers, minstens twee maal per jaar wedstryde hier kom speel. Ek en my broer, Nico, het dan saamgery.
Luckhoff se tennisbane is later verskuif, maar die oorspronklike bane het in ‘n trek gelê en dié geweste se woeste westewinde kon die balle hoog die lug inwaai.
Dít wis die uitgeslape Luckhoffers al te goed. Só sou hulle die bal hóóg oor die netspeler se kop lop en as die bal grond vat, moes jy vinnig keer, want anders het die wind dit gegryp en was dit wegwêreld met daai bal.
Selfs vandag nog het Luckhoff ‘n sterk tennisklub. Dit wil gedoen wees, want baie omringende tennisklubs voer ‘n sukkelbestaan. Só staan die kakiebosse elke dan en wan kniehoog op die bane van Jagersfontein, Edenburg en Koffiefontein.
Nietemin, op sulke tennismiddae sou ek en Nico uit verveling Luckhoff invaar.
Daar was (wat ek vandag dink heerlike) piekniekkos soos hoenderboudjies, jaffels en geskilde turksvye in ons groen Chev, maar langs ’n stofstraat sou ons eerder koers kies na ’n skemer-donker kafeetjie.
Ek was nooit op my gemak in dié “grot” nie, maar dit was ál wat oop was op ’n Saterdagmiddag.
Daar sou ons marshmallow-rotte en sjokoladeroomys in bakkies met ’n houtlepeltjie koop. Soms het ons sakgeld ook ‘n lucky packet met pienk pilletjies toegelaat.
Eet-eet sou ons dan terugdrentel verby die pragtige NG-ysterklip-kerk, ’n huis waaruit Min Shaw opklink, tjokkertjies wat dink hulle is Jasper en kie, en die stadsaal waar ’n gaslamp gehang het wat eens ’n straatlig was.
Luckhoff se naam was altyd vir my moeilik om te spel. Later sou ek leer die dorp het op die plaas Koffiekuil tot stand gekom in 1892. Dis vernoem na ds. HJ Luckhoff (1842-1923), die herder van die NG-gemeente in Fauresmith.
Nie te lank gelede het ons spesiaal deur Luckhoff gery op pad na die Karoo. Ek het vooraf deur ’n paar reisgidse geblaai, maar dié inligting was skraps, verouderd en in ’n paar was daar blatante blapse. Só staan daar in Xplore, Satoer se amptelike reisgids, dat Luckhoff se reënval slegs 50 mm per jaar is. Dit moet waarskynlik eerder 350 mm wees
Ons het verslaap en is die oggend later as beplan uit Bloemfontein. Só was daar toe nie tyd nie om ’n draai te maak by Luckhoff se historiese kruithuisie wat ek al lank wil sien.
Volgens Deirdré Richardson se Historic Sites of South Africa is dié reghoekige geboutjie, ’n nasionale gedenkwaardigheid, uit blouysterklip gebou in 1899. Dit was moontlik in afwagting van die Anglo-Boereoorlog.
Ek wou ook sien hoe lyk die Karoo-huisies wat die bekroonde dramaturg, Pieter Fourie, eens sorgsaam gerestoureer het.
Fourie wat in Philippolis gematrikuleer het, het op ’n plaas buite Luckhoff grootgeword.
Hier naby het ’n boer eens op ’n donker nag in ’n pikswart bees vasgery. Hy het weinig oorgekom, maar sy kar was minder gelukkig.
Baie van Luckhoff se boere boer langs die Oranjerivier en tydens my onlangse besoek het dit gelyk of die plaaslike koöperasie steeds floreer danksy dié besproeiingsplase.
Soos feitlik alle Suid-Afrikaanse dorpies het ook Luckhoff ’n paar plooie bygekry.
Maar oor die algemeen het die dorp nie vir my veel anders gelyk as ’n kwarteeu gelede nie.
Die tennisbane is steeds daar en ook die mooie klipkerk.
Maar helaas is die kafee waar ons altyd marshmallow-rotte gekoop het se deure lank reeds toe!

Friday, August 1, 2008

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073 of jensfriis@intekom.co.za


Middelburg is in die middel van die middel

DIS geen geheim waar die naam Middelburg vandaan kom nie. Dié Oos-Kaapse dorp het sy naam daaraan te danke dat dit feitlik ewe ver (100 km) lê vanaf Colesberg, Hanover, Steynsburg, Cradock, Richmond en Graaff-Reinet. Boonop is dit in die middel tussen Bloemfontein en Port Elizabeth, naamlik 360 km in beide rigtings. Foto: Jens Friis

Mosambiek het so naam gekry

Vasco da Gama het in 1498 tot by die hedendaagse Mosambiek gevaar en Portugal het dit in 1505 gekolonialiseer. Teen 1510 het Portugal beheer uitgeoefen oor al die oud-Arabiese sultanate langs die ooskus van Afrika. Mosambiek (Moçambique) is genoem na Muça Alebique, 'n sultan. Vanaf 1500 het skepe gereeld aangedoen by hierdie Portugese handelsposte en forte langs die nuwe roete na die ooste. Op die meegaande foto is een van die kleurvolle markte in Maputo, die hoofstad van Mosambiek. Foto: Jens Friis

Enorme Gariepdam

'n Kano met twee roeiers op die Oranjerivier lyk piepklein en word skoon verdwerg deur die enorme wal van die Gariepdam. Dié dam is die grootste in Suid-Afrika en is 'n gewilde watersportmekka in mid-Suid-Afrika. Die dorp Gariepdam, is 'n buurdorp van Philippolis en val ook onder Philippolis se landdrosdistrik. Foto: Jens Friis