Tuesday, July 29, 2008

Londen se "lelike" "Lego"-logo


Vanaf Vrydag, 8 Augustus sal die wêreld vir 'n paar weke fokus op Beijing, maar ná die afsluitingsfunksie van die 2008 Olimpiese Spele sal die oë draai na Londen.
Vir die Spele van 2012 het die Britte 'n logo ontwerp wat veral byval moet vind by jongmense.
Maar die ontwerpers het die pot lelik mis gesit, want volgens meningspeilings kry selfs die jongklomp nie vat aan hierdie logo nie.
Dis al beskryf as "'n flitsende, flenterse swastika" wat die syfers "2012" uitbeeld, maar dit kos mooikyk om dit raak te sien, want die logo bestaan uit vier hoekige "legstukke" wat misvormde syfers vorm en van kleur en posisie verander.
Daar was groot onsteltenis in Brittanje toe dié "lego"-logo bekend gestel is en talle koerante het hul lesers gevra of hulle nie met iets beters vorendag sou kon kom nie.
Die inskrywings het ingestroom, want baie Britte het gevoel selfs 'n kind sou met iets beters vorendag kon kom.
En toe hulle hoor die amptelike logo het 400 000 pond oftewel R5 900 000 gekos, was hulle behoorlik die josie in.
Onder die klagtes het getel dat die logo "afgryslik lelik" is, dat dit niks van Londen sê nie, dat die kleure van die Union Jack (blou-rooi) nie gebruik word nie, en dat die ontwerp hopeloos te modern is.
Maar dié "artistieke flop" en "kommersiële skandaal" was daar om te bly, want die organiseerders het voet by stuk gehou: iets moderns is nodig vir 2012.
Dit was wel ironies dat 'n bewegende voorstelling van die logo aan die amptelike Spele-webtuiste onttrek moes word ná kritiek van die publiek. Dié besluit is geneem nadat dit bekend geword het dat die verspringende ontwerp epileptiese aanvalle veroorsaak het.

Sunday, July 27, 2008

Van Gogh oor verskillende kleure blou


In die jare wat skilder Vincent van Gogh in Frankryk gewoon het, het hy só opgemerk oor die kleure blou op die palet: "Die Middellandse See is die kleur van makriel - veranderlike bedoel ek. Jy weet nie aldag of dit groen of violet is nie. Jy kan nie eens sê dit is blou nie, want die volgende oomblik is dit grys of rooskleurig - afhangend hoe die son dit vang." Dié foto is geneem by Eze aan die Franse Riviera. Foto: Jens Friis

Groenhuis B&B, Philippolis, Free State, South Africa, www.philippolis.co.za


Sprokieskasteel


CHENONCEAU definieer wat 'n sprokieskasteel behoort te wees: onwerklik dik mure, torings, nimmereindigende dakvensters . . . En buite feetjieagtige tuine wat versmelt in 'n kosmiese wêreld asof aardse grense en gebondenheid nie bestaan nie. Die park wat dié kasteel in Frankryk omring, is groot genoeg om sy eie poskode te hê. Met die uitstap stoot die skemer reeds teen die bome op. Nes by talle ander het ons veel langer gebly as wat die plan was. Cháteau de Chenonceau is taamlik onbekend onder Suid-Afrikaners, maar tel nietemin onder die vyf gewildste besienswaardighede in Frankryk. Dit wil gedoen wees, want jare lank het dié grootse, geskiedenisryke land die meeste toeriste ter wêreld gelok. Dit is nie 'n groot kasteel nie, maar die indrukwekkende argitektuur bly jou by. Dis vir seker een van die mooiste kastele in Europa. Chenonceau, 'n romantiese en speelse paleis, is hoofsaaklik deur vroue gebou. 'n Laan platane lei na die voorhof, wat op dieselfde fondament staan as die Middeleeuse fort (1230) wat in 1411 verwoes is. Jean de Marques het met die bouwerk aan 'n toring daar begin, maar ná 'n vroeë dood het die taak om dit te voltooi op sy aristokratiese vrou en seun se skouers gerus.
Nadat Thomas Bohier, minister van finansies belas met Normandië, die beheer oor die dorp Chenonceau oorgeneem het, het hy in 1515 opdrag gegee vir die bou van die sentrale cháteau. Sy vrou, Catherine Briónnet, het grootliks toesig oor die werkery gehou. Die styl van dié sentrale deel van die kasteel is Goties, maar die grondplan het Italiaanse ondertone. Die lang gang wat na die lig en water lei, eggo moontlik Catherine se liefde vir Venesië, meen die kenners. Kort nadat die Bohiers Chenonceau aan Francois I verkoop het om hul skuld te vereffen het dit weer van eienaar verwissel deurdat Henri II, seun van Francois, dit aan sy buite-egtelike geliefde, Diane de Poitiers, gegee het.
Diane se aandeel in die oprigtingsproses was 'n galery van 60 m wat die rivier met verskeie boë oorspan. Ná Henri se dood in 1559 het koningin Catherine de Medici egter wraak geneem op haar man se minnares en die arme Diane gedwing om die kasteel aan haar terug te gee. Catherine het 'n galery bo-op die bestaande galerybrug gebou. Dit het as balsaal gedien en die cháteau het bekend geword vir sy groot partytjies. Dié groot somershuis het Catherine se gunsteling-woonplek geword. Haar seun Francois II en Maria Stuart het 'n paar maande lank daar gewoon ná hul troue in die Notre Dame in Parys. Die tuine rondom die cháteau het Catherine in 1568 met 'n groot kermis ingewy.
Louise de Lorraine, die bedroefde vrou van Henri III, het die cháteau in 1590 geërf en die hoofkamer se plafon swart en wit geverf. Vandag nog voel dié vertrek somber vergeleke met die liggevulde oopte van die res van die vertrekke. Nes destyds word die vertrekke steeds deur kaggels verhit. Die hele jaar deur vul pragtige reuse-blommerangskikkings die vertrekke. Daar is 'n ryke verskeidenheid Vlaamse tapisserieë, skilderye en meubels in die 16de-eeuse kamers met hul pragtige houtplafonne. Die kombuis in die kelder is feitlik op die rivieroewer. 'n Invloedryke Madame Dupin - 'n 18de-eeuse grondbarones - sou Chenonceau tydens die Franse Revolusie van verwoesting red. Die laaste vrou wat 'n leeue-aandeel aan die instandhouding van die kasteel gehad het, was ene Madame Pelouze, wat 'n groot restourasie in 1863 begin het.
Tydens die Eerste Wêreldoorlog het die kasteel as 'n hospitaal gedien waar meer as 2 000 gewondes versorg is. Die Menier-familie, sjokolade-baronne, het dit 'n jaar vroeër (1913) aangeskaf. Vandag is dit staatseiendom. Ná al die jare staan Chenonceau steeds ondanks vloede. In 2000 het die Cher bevaarbaar geword nadat die regering agt sluise ná 'n halfeeu in hergebruik geneem het. Die kasteel is in die winter tussen 09:30 en 18:30 en in die somer tot 19:00 oop.

Foto's en teks: Jens Friis (kopiereg - soos alles op hierdie blog)

Siena: beste eeue oue tradisies

SIËNA, Italië. Of 'n verfmaker nie kon spel nie en of hy/sy nie die dorp se naam mog gebruik het nie, weet ek nie. Gewis is dit egter dat die dorp "Siëna" met 'n enkele n gespel word, maar die verbleikte okerkleur ("siënna") met twee.
Dit is dan ook dié kleur wat oorheers in dié Toskaanse dorp en veral die Piazza del Campo, die stadshart waar dit 'n uitsondering is as 'n gebou afwyk van dié geel-bruin. Só 'n rol speel dié plein in sosiale omgang dat inwoners nie sal sê: "Ek het jou lanklaas gesien nie," maar wel: "Ek het jou nie in die piazza gewaar nie." Dít sal wees in die suiwerste Italiaans, want anders as Napolitane en Venesiërs gebruik inwoners van Siëna nie hul eie dialek naas Standaarditaliaans nie, maar slegs laasgenoemde.
Sonder variasie herhaal dié éénvormigheidstema in Siëna: nét Standaarditaliaans, slégs geelbruin geboue, 'n sentrale stadsplein met 'n buitengewoon kragtige samebindende atmosfeer . . . Oor die voordele van verskeidenheid-binne-eenheid is al veel gedebatteer. Hieroor dus niks meer nie. Wat wel vasstaan, is dat dié eenheidsgees 'n karakter aan Siëna gee, wat ek sou beskryf as fel en gedissiplineerd, byna rigied.
"Geleë op drie heuwels wat in die middel afloop na die groot plein, bekend as die Campo, het dit 'n atmosfeer behou wat 'n mens nog duidelik aan sy verskriklike verlede herinner," het W.E.G. Louw geskryf in So ver as 'n engel te perd kan ry (1969). "'n Mens dink aan die rampe wat Siëna oorval het: die slagting van die Florentyne, die pes van 1348 (wat die bevolking van 100 000 tot 20 000 verminder het), die gruwels van die beleg van 1554. Dié dinge het tog die 'siel' van Siëna aangetas. Sy fanatieke gees voel ek altyd as die volmaakte teenstelling met die wyse menslikheid van Florence. Selfs die kuns van Siëna het, in vergelyking met dié van sê maar Florence of Venesië, tot 'n soort rituele formalisme verstrak."
Siëna was tot die pes van die 14de eeu net so invloedryk soos Florence. Met die Renaissance het Florence die voortou geneem onder die Medici-dinastie. Anders as die byna hedonistiese kreatiwiteit waarmee Florence soms geassosieer word, het die Pous sy septer oor Siëna bly swaai.
Uit die 14de eeu staan Siëna se katedraal daar almagtig groot. By die middelskip is daar nooit gekom nie, maar die onvoltooide enkele syflank is enorm genoeg dat dit katedraal heet. Wat die middelskip moes wees, word slegs deur 'n onvoltooide muur en 'n klompie pilare aangedui.
Hoeveel groot dinge het nie as groot drome begin nie? Maar Siëna se grootheidswaan - nes die Toring van Babel - het tot 'n val gekom. So asof Siëna anders as Florence of Rome te klein was om die groot gebaar te verduur. "Te groot gedroom, te groot geleef!" sou jy byna wou sê soos D.J. Opperman.
Nietemin is dit nie heeltemal 'n geval van hoog vlieg en laag draai nie. Met 'n bevolking van 60 000 is Siëna vandag wel veel stiller as byvoorbeeld grootboet Florence (60 km noordwes). In die skadu van Florence staan Siëna egter g'n. Die bene waarop dié bestemming rus, is sterk. Andersins sou dit geensins hier só gedy het van toeriste - 'n uitsoekerige spesie - nie.
In nabetragting is dit egter nie na die grootste katedraal, die effekleurige piazza of die menigte straatkafees wat my gedagtes teruggaan nie, maar na 'n klein swembad.
Die dag was snikheetwarm. Die tyd min om by die stasie te kom. So neem ons kortpad vanaf die gelateria by Costarella dei Barbeiri en in dié haas klad die gestapelde roomys waaraan ek nog skaars kon lek, teen my hemp.
Hieroor kla ek egter vandag allermins, want 'n leivoor het ons gelei na 'n swemsaal waar Romeine al geduik en geskater het. Uit die onkruid wat uit die swembad se plaveisel groei, was dit klinkklaar dat hier deesdae weinig siele kom. Dalk net dan en wan as iemand die paar visse voer, want toe my hand die watervlak breek om die hemp uit te spoel, swem dié gryses nader.
Ons kon net 'n paar minute in daardie koel saal verwyl, maar toe reeds het ek geweet dit sou een van die hoogtepunte der hoogtepunte van my weke lange kuier in Europa wees. Dalk was dit omdat dit iets heel onverwags was, of omdat dit "ons" s'n was terwyl die skares 'n klipgooi verder verbygestroom het. Ek weet nie.
Met die uitloopslag drup-drup die hemp nog in my hand en ek snik toe ons buite kom, want die lig het oor ons gebreek met 'n intensiteit waaraan my oë nie meer gewoond was nie.
Deur stegies wandel ons na die piazza - een van die mees imposante stadspleine wat ek nog gesien het. Dit is groot, halfrond en omsoom met drie- en vierverdiepinggeboue. Die Italiaanse kleursin tref. Feitlik al die mure is geverf in die verbleikte okerkleur, oftewel siënna soos die mengers van verf dit noem. Dié stadshart is 'n kortbegrip van dié ou stad se geskiedenis.
Somers is dit tyd vir die Il Palio-fees hier en vanjaar vind dit weer plaas op Saterdag, 16 Augustus. Vir die inwoners is die perderesies om die Piazza del Campo 'n kwessie van lewe en dood. Uittarting, bluf, venyn, kranksinnigheid, omkopery, vergiftiging en doodsdreigemente het reeds 'n rol gespeel in dié jaarlikse gebeurtenis sedert 1310.
Aktiwiteite in die piazza begin laatoggend en die resies is in die middag. Dit is pasella, maar jy moet jou staan ken as die menigtes hier saamdring. Die resies bestaan daaruit dat jokkies bloots drie maal om die plein jaag. Dit is binne 90 sekondes verby, maar word voorafgegaan deur akrobate wat vlae vyf uur lank deur die lug rondgooi. Die palio is die banier met 'n afdruk van die Maagd Maria daarop wat aan die wenner oorhandig word. Deelnemers kom van elk van die 17 contrade (woonbuurte) van die stad.
Ja, Siëna is naby aan die kern van die beste wat eeue oue tradisies kan bied.
Langs die reguit sy van die Piazza del Campo staan die Palazzo Pubblico. Dié stadsaal se slanke Torre di Mangia (101 m) is die naashoogste toring wat in Middeleeuse Italië gebou is. Anders as dié in Pisa en menige ander kloktorings staan dié stadsaal se toring nog penorent.
By die nabygeleë Palazzo Ravizza het politici en skrywers vanmeleë graag oornag en in die Tweede Wêreldoorlog het Amerikaanse en Britse offisiere dit hul blyplek gemaak. Gedurende die oorlog was dit dan ook die plek waar die Duitse ambassadeur in Rome vertoef het totdat hy geimpliseer is in die komplot om Adolf Hitler op 20 Julie 1944 te vermoor. Buite dra tafels op sypaadjies swaar aan hemelse kos en Chianti. Hierdie is 'n ideale plek om laatmiddag jou bene te laat rus en te mymer oor dié stad met sy menigte kulturele skatte.

Wednesday, July 23, 2008

Olimpiese Stadion in Sydney nou kleiner

Vandag pak die Aussies die All Blacks in die ANZ-stadion in Sydney. Dié stadion het voorheen bekend gestaan as die Telstra-stadion en is vir die Olimpiese Spele in 2000 gebou. Vanjaar se Olimpiese Spele begin op Vrydag, 8 Augustus, in Beijing, China. Die ANZ-stadion in Sydney het aanvanklik plek gehad vir 110 000 toeskouers, maar na veranderings is daar nou sitplek vir 83 500. In 2000 is 'n rugbywêreldrekord hier opgestel toe 'n skare van 109 874 daarheen gestroom het vir 'n wedstryd tussen Nieu-Seeland en Australië. 'n Drie van Jona Lomu het toe verseker dat Nieu-Seeland vir Australië geklop het met 39-35.

Monday, July 21, 2008

Filmmooi

Pragtige natuurskoon, 'n kompeterende wisselkoers en 'n hoogs geskoolde werksmag maak Nieu-Seeland 'n al gewilder filmbestemmings. Onder dié land se bekendste regisseurs tel Jane Campion ("The piano"), Roger Donaldson ("Cocktail" en "Species") en Lee Tamahori ("Once Were Warriors" en "The Edge").

Wednesday, July 16, 2008

Perth: Bloemfontein by die see

Suid-Afrikaners noem Perth dikwels “Bloemfontein by die see”, want dis ‘n kleinerige stad (nes Bloemfontein) waarvan die weskus gevorm word deur die Indiese Oseaan. Maar weens sy duisende Suid-Afrikaanse immigrante is dit bowenal Australië se mees (Suid)-Afrikaanse stad. JENS FRIIS vertel meer van dié pragstad waar die Springbokke vandag speel.

VOORDAT ons onlangs Australië toe is, wou ontstellend baie mense weet: Is dit vakansie óf ‘n verkenningstog (ja, soos hulle voor die Groot Trek gedoen het) vir later se bly?
Omdat jy die tyd invlieg is dit ‘n kort nag oos na Perth, die mees geïsoleerde stad ter wêreld. Dié metropool in Wes-Australië lê geografies nader aan Indonesië as aan Sydney, Melbourne of Brisbane.
Hier aangeland moet jy klokslag die volgende vraag antwoord: “Van waar kom jy?” Maar “Suid-Afrika” alleen is nie goed genoeg nie. Die Aussies wil wéét van wáár in Suid-Afrika? Die Springbokke is immers die wêreldkampioen en bowendien ken iedereen in dié rugbymalland omtrent ‘n Suid-Afrikaanse immigrant.
In die apartheidsjare het die Natte vir die liberale Engelse en Jode gekoggel omdat hulle die pad vat. PFP staan vir “Packed for Perth” het hulle die party van Frederik van Zyl Slabbert gespot. Maar soos my oupa sou sê: moet nooit nooit sê nie, want die wiel draai. Nou is baie van dié einste spotters vóór in die emigrasiery, want dis lankal nie meer net PFP’s wat in Perth gaan uitspan nie.
Omdat Perth immigrante met ope arms ontvang staan dit al bekend as die “Australiese stad van bannelinge”. Die Suid-Afrikaanse regering se laaste syfers het gewys dat relatief min mense na Australië emigreer, maar na al die kere wat ek van my landsgenote daar raakgeloop het, het ek my bedenkinge oor hierdie statistieke. ‘n Dekade gelede het daar na raming 40 000 Suid-Afrikaners in Perth gewoon. Deesdae draai dit glo by die 140 000.
‘n Somaliër wat in Kenia grootgeword het en toe met ‘n Australiese vrou getroud is, neem ons per taxi vanaf die lughawe na ons hotel. “Die brain drain na Australië tref Afrika swaar,” merk hy op. Hy wil weet van die Springbokke, of Madiba nog kan loop en of daar nog toeriste kom, “want die Suid-Afrikaners hier loop te koop met die moord en doodslag. Is dit rerig só erg?"
By die hotel gekom hoor die ontvangsdame dat ons Afrikaans met mekaar praat. “Welkom in Perth,” sê sy, ‘n boorling van Richardsbaai. Sy het na Wellington, Nieu-Seeland, geëmigreer, maar mettertyd na Perth getrek, want Wellington was te nat na haar sin.
“Tog,” vertel sy, “moet jy jou nie misgis met Wes-Australië wat altyd so droog lyk nie. Perth se parke is meestal grasgroen, want hier val meer as 800 mm per jaar."
Dit beteken Perth kry meer reën as Bloemfontein, Johannesburg, Kaapstad of selfs Londen, lees ek later. Veral tussen Mei en Oktober is dit baie nat en in Oktober verander die intense groen landskap in ‘n see van kleur as veldblomme kop uitsteek. "Tog pla dié natweer nie vir my nie, want selfs in die reënmaande is son volop," vertel die ontvangsdame.
Sy gee vir ons 'n kaart van die moderne, kompakte metropool met sy talle wolkekrabbers. Tussen dié hoë geboue kom ons die volgende oggend af op ‘n kerk waar ‘n banier hang met die woorde: “Erediens op Paasvrydag om 09:30. Kom gerus." (Ja, alles in Afrikaans!)
Selfs hier in die middestad is veiligheid nie 'n probleem nie en dis opvallend dat daar feitlik nêrens wagte is nie. “Dis anders hier as in Suid-Afrika,” merk Marcel, 'n Namibiër wat in Perth bly, op, “want in Suid-Afrika leef wetsgehoorsames mos agter tralies terwyl misdadigers op straat is.”
Nog ‘n vriend, Chris, bestempel die Beloofde Land as “sensantional and unreal. Dis rerig die land van melk en heuning. Hier is nie regstellende aksie, korrupsie in die regering, misdaad of politieke onsekerheid nie.”
En so sou ons ook nog met menige ander oud-Suid-Afrikaners te doen kry. Daar was die Durbaniet in ‘n kroeg, die Kapenaar wat hoender verkoop in ‘n KFC, en die meisie wat by ‘n veerbootkaartjieskantoor werk. Sy is in Perth gebore, maar haar pa is van Suid-Afrika en sy was skoon nostalgies omdat hy haar nooit Afrikaans leer praat het nie.
Dan was daar ook gereeld Suid-Afrikaners toeriste wat rondgeloop het in Springboktruie. Die Springbokke pak vandag die Wallabies in Perth se Subiaco. Dié stadion is eintlik vir die Australian Rules gebou; ‘n spel wat op ‘n eiervormige veld gespeel word en dus nie heeltemal geskik is vir rugby nie. Maar dié stadion met sitplek vir 43 000 is nietemin die tuiste van die Super14-span, die Western Force en dis hier waar die toets sal plaasvind.
Mens kan net wonder vir wie die magdermenigte oud-Suid-Afrikaners in Perth vandag gaan skree.

Monday, July 14, 2008

Dié "Indian Yellow" bestaan nie meer

VERMEER se "Melkmeisje" is een van die bekendste skilderye in die Amsterdamse Rijksmuseum. Maar wat minder bekend is, is dat die geel bloese van die meisie wat melk skink só mooi helder is omdat dit gemaak is van Indian Yellow-verf. Dié poeier is destyds vervaardig uit die uriene van beeste wat slegs mango-blare gevreet het. Nederlandse en Vlaamse skilders het dit in die 17de en 18de eeue gebruik om sonlig uit te beeld weens die ligdraende kwaliteit daarvan. Vermeer het ook van Indian Yellow gebruik gemaak in sy bekende "Girl with a Pearl Earring". Omdat mango-blare op hul eie nie voedsaam genoeg vir beeste is nie, is dié gebruik mettertyd laat vaar. Die Indian Yellow Hue wat deesdae beskikbaar is, word gemaak van sintetiese pigmente.

Sunday, July 13, 2008

Groenhuis B&B, Philippolis, Free State, South Africa, www.philippolis.co.za

Egiptiese extravaganza sonder gelyke


DIS nou die tyd om kaartjies aan te skaf as jy nog altyd wou gaan kyk hoe Verdi se Aïda opgevoer word voor die Giza-piramides buite Kaïro. Maar skaf betyds kaartjies aan, want jy sal jouself skop as jy dalk 'n draai in die Midde-Ooste maak en dié Egiptiese extravaganza misloop. Dit word jaarliks in Oktober opgevoer. Vir meer inligting skryf aan tickets@aidapyramids.com.

Thursday, July 10, 2008

Dié boom dateer uit Caesar se dae


AMSTERDAM het die Anne Frank-boom, 'n kastaiing wat onder meer te sien was in "The Diary of a Young Girl", Engeland het die bekende Sherwood Forest-eike en Noorweë het 'n sparhoutden van meer as 9 550 jaar.

En dan is daar die Caesarboom in België. Dié vind jy in Lo, 'n dorpie met slegs 1 250 inwoners tussen Ieper en Veurne in Wes-Vlaandere.

Ja, die dorp is klein en so asof dit daarby moet pas is Lo se bekende boom ook nie enorm nie - omtrent die grootte van 'n groot appelkoosboom.

Dis dus goed om te weet wáár om te soek vir dié eeueoue taksusboom.

Lo was in die Middeleeue slegs 400 m in deursneeu en is omring deur 'n dikke muur met vier toegangshekke. Die Westpoort wat uit die 14de eeu dateer is die enigste hek wat nog bestaan. Dis gerestoureer in 1852 en 1991.

Die bekende taksusboom staan reg langs die Westpoort. Die Romeinse veldheer, Julius Caesar, het volgens legende sy perd daaraan vasgemaak om in die koelte te rus. Caesar het glo dié perd gebruik toe sy weermag die Britte aangeval het. Vandaar dan die naam, Caesarsboom.

Vanmeleë was Lo ook bekend vir sy St. Petersklooster. Dit was in gebruik tussen 1093 en 1797. In 1578 het dit afgebrand, maar is kort hierna weer herbou. 'n Duiwehok is in 1710 vir die klooster aangebou onder vader Patricius Fraeys.

Nes oor die Caesarboom word ook 'n interessante storie vertel oor dié duiwehok. Volgens oorlewering het die nuwe kloostervader na Rome gegaan en die monnike het besluit om hom met sy terugkoms te verras.

En groot was sy verbasing sekerlik toe hy die duiwehok met 1 132 broeinessies gesien het! In daardie dae was só 'n imposante duiwehok 'n teken van voorspoed, want slegs edelmanne mog só iets bou.

Hoewel Lo in die Middeleeue bekend was as tekstieldorp het dié bedryf hier uitgesterf rondom 1540 en vervang met kaasmaak.

Kaas word steeds hier gemaak. Maak daarom gerus 'n draai in een van Lo se winkels of restaurante om te proe aan dié kaas voordat jy dit afsluk met 'n plaaslike Belgiese biertjie.

Tuesday, July 8, 2008

Sien meesterstukke in een vertrek


AMSTERDAM. Terwyl die Rijksmuseum se hoofgebou gerestoureer word, word die crème de la crème van sy permanente versameling uitgestal in die opgeknapte Philips-vleuel. "Rijksmuseum, The Masterpieces" bied 'n unieke geleentheid om die meesterstukke van die Goue Eeue tesame te sien.

Monday, July 7, 2008

Dunedin: Méér as net die Huis van Pyn

DUNEDIN, Nieu-Seeland. - As waarde geheg word aan byname is Dunedin beslis ‘n eersteklas bestemming, want dit staan ook bekend as die "Edinburgh van die suide", die "Victoriaanse stad", en die "Athene van die suidelike halfrond".
In dié stad vermeng die inwoners hul oorwegend Skotse erfenis met ‘n Nuwe Wêreldse kultuur wat daaraan ‘n stabiele, maar lewendige gevoel gee. ‘n Pioniersgeskiedenis, walvisse en ‘n goudstormloop gee verdere kleur aan Dunedin.
En dan is daar die Huis van Pyn oftewel Carisbrook, die suidelikste rugbytoetsveld ter wêreld. Die Bokke het al sewe keer hier uitgedraf en vir hulle is dit waarlik ‘n pynhuis, want hulle het elke keer hier ‘n loesing gekry.
Die stadion met sitplek vir 29 000 sal herbou word voordat die Wêreldbekertoernooi in 2011 in Nieu-Seeland aangebied word. Waar al die toeskouers sal tuisgaan weet nugter, want Dunedin is - nes Stellenbosch - maar ‘n groterige universiteitsdorp.
Die Universiteit van Otago dateer uit 1869 en is vier jaar ouer as die Universiteit van Canterbury in Christchurch, Nieu-Seeland se tweede oudste universiteit.
Danksy die magdermenigte studente het Dunedin ‘n lewendige kafee- en nagklubkultuur. Dis ook die tuiste van Aduki en Charmaine Reveley, twee van dié land se bekendste modeontwerpers en jaarliks word hier ‘n groot modeweek gehou.
Dunedin is meer as 3 000 km verder suid as Johannesburg. Dít verklaar dan ook grootliks sy koel klimaat en waarom daar geen lugverkoeling is by die groot Cadbury-sjokoladefabriek nie. Hiér word dit nooit só warm dat dié soetgeld sal smelt nie.
Weersgewys is dit die aangenaamste om Dunedin te besoek in die warmer somermaande tussen Desember en Februarie. Maar dít is ook wanneer die meeste toeriste hierheen kom en pryse is dan hoog. Die teenoorgestelde is waar vir die winter (Junie tot Augustus) wanneer die Koningin van die Koue die Suid-Eiland se berge wit poeier. Lente en herfs is ‘n goeie middeweg.
Soos in Suid-Afrika is dit nou midwinter en dis hierom waarom die Bokke so vrek koud kry in Nieu-Seeland.
Anders as in Wellington was die kaartjies vir die kragmeting tussen die All Blacks en die Springbokke lankal reeds uitverkoop in Dunedin.
Daar’s twee redes hiervoor. Die weervoorspelling vir Wellington was rerig goor, maar die Huis van Pyn is ook kleiner.
Die All Blacks se woordvoerder het daarop gewys dat "Nieu-Seeland nie Suid-Afrika is nie", want daar woon baie minder mense. Wat hy dus wou sê is: dis moeiliker om reuse stadions in Nieu-Seeland vol te maak.
Dié uitlating is debatteerbaar, want rugbyentoesiaste in Suid-Afrika is waarskynlik nie veel meer as in Nieu-Seeland nie.
Nietemin is dit so dat Suid-Afrika wel meer inwoners het – omtrent elf keer meer! Daar is nagenoeg 4 miljoen Nieu-Seelanders en sowat 44 miljoen Suid-Afrikaners.
Suid-Afrika (1 233 404 vierkante kilometer) is ook aansienlik groter as dié eilandland (268 812 vierkante kilometer). Volgens die Penguin Factfinder is Suid-Afrika die 25ste grootste land ter wêreld en Nieu-Seeland die 73ste.
Dít verklaar waarom jy deur groot dele van veral die Suid-Eiland (waar Dunedin is) kan ry sonder dat jy ‘n mens gewaar. Veral in die westelike dele voel jy werklik baie meer afgesonderd as in die Karoo!
Dis ook die geval op die pragtige Otago-Skiereiland naby Dunedin waar jy op ‘n oneindige lang spierwit strand kan sit en kyk hoe die branders aangerol kom vanaf Antarktika. Toe die eerste settelaars hier geland het sou dit weinig anders gelyk het.
Volgende Saterdag speel die Bokke teen die Wallabies in Perth, Australië. Dis ‘n dagreis ver met al die vlugte en oorklimslae, maar hoewel Perth se wêreld maar vaal is teenoor Dunedin s’n, sal dit daar na alle waarskynlikheid droër en warmer wees. En dít sal vir die Springbokke ‘n welkome verandering wees – ná Wellington én Dunedin.

Groenhuis Gastehuis / Guesthouse, Philippolis


Tuesday, July 1, 2008

Wellington: ‘n swaargewigwedstryd vir ‘n tien-uit-tien-stad


MET Spanje wat die Euro2008-sokkertoernooi agter sý naam kan skryf, verskuif die kollig vanaf Julie na die Vodacom Drienasiereeks. Tot mid-September sal die Springbokke, All Blacks en Wallabies tienduisende kilometers vlieg om mekaar te pak in Durban tot Dunedin.
Dié reeks skop Saterdag af in Wellington, die Nieu-Seelandse hoofstad, met ‘n swaargewigwedstryd tussen die All Blacks en die Springbokke.
Wellington se Westpac is ‘n modern stadion met sitplek vir 34 500 rugby-entoesiaste. Die Koekbloek (soos dit ook bekend staan) is by Waterloo Quay naby die hawe en het ‘n paar jaar gelede die ou Athletic Park vervang.
Omdat Wellington nog veel verder as Down Under is, is vlugvoosheid onvermydelik vir reisigers (en selfs die gehardste Bok). Die vier vlugte vanaf Bloemfontein/Kimberley na Wellington kan maklik 24-uur duur. Só moes ons oorklim in Johannesburg, Perth én Brisbane.
Groot was die verligting dus toe ons daai aand neerval op die beddens van die Comfort Hotel langs die gewilde Cubastraat wat bekend is vir sy straatkafeekultuur. ‘n Verrassing was dat blyplek in Nieu-Seeland naastenby dieselfde as in Suid-Afrika kos, hoewel die wisselkoers swak is vir Suid-Afrikaners. Maar John Smit se span sal gelukkig nie aan vlugvoosheid ly nie, want die Bokke het ‘n week vóór hul kragmeting met die gevreesde All Blacks al in Nieu-Seeland geland.
‘n Gul ontvangs was dit egter nie: ‘n kenmerkende kouefront het oor dié seelandse hawestad gespoel en die Bokke moes hul voorbereiding in ‘n binnenshuise sportklompleks begin.
Nietemin het Peter de Villiers, Suid-Afrika se afrigter opgemerk: “Ons wou so gou moontlik kom, want dis soos ‘n tweede tuiste. Dis ‘n wonderlike plek om te wees. Die landskap én vroue is mooi. Ons respekteer die mense hier ... hul rugby én kultuur.”
Veral in Wellington vorm dié kombinasie van rugby én kultuur (of is dit rugby-kultuur?) ‘n interessante kombinasie. Die inwoners is rugbymal en kan skaars genoeg kry van nasionale helde soos die aantreklike Daniel Carter, maar dis in dié einste stad wat simfonieorkeste en balletgeselskap gelykertyd floreer.
As Nieu-Seeland se regeringsentrum is Wellington kosmopolitaans, gekultiveerd en gesofistikeerd. Dis ook welvarend, skoon en veilig.
Besigheidslui dra snyerspakk(i)e(s) wat hul koop by boetiekwinkels wat lyk soos dié langs Oxfordstraat in Londen.
By ‘n restaurant het ons gesien hoe ‘n vrou die toiletvloere was dat die skuimbolle so staan. Soos in Switserland sou jy van dié vloer kon eet.
Toe ons na die parlementsgebou gaan kyk, word troufoto’s op die trappe geneem. Van ‘n veiligheidsheining om dié regeringsetel is nie sprake nie. Slegs twee polisiemanne hou ‘n ogie van ver af.
Van sekuriteit was daar ook nie sprake toe ons tussen Wellington en Queenstown sou vlieg nie. Ons handbagasie het ons eenvoudig aan boord gedra. Dis nooit deur ‘n X-straal-masjien nie.
Dit klink na hemel op aarde, was dit nie vir die koue, klam weer waarteen jy jou altyd moet pantser nie.
Onthou dus jou reënjas en sambreel as jy ‘n draai maak in Wellington.
Hoewel dié stad die Kiwi-regeringsentrum is, is dit nie die grootste nie, maar wel Auckland. In dié opsig herinner dit aan byvoorbeeld Washington en New York óf Den Haag en Amsterdam.
Naas San Francisco en Kaapstad is Wellington die mooiste geleë stad waar ek nog was. By al drie vorm ‘n baai en ‘n berg ‘n poskaartmooie prentjie vir ‘n besige hawestad.
Neem jy die kabelkarretjie na die botaniese tuin kan jy sien hoe veerbote vaar vanaf Wellington aan die suidpunt van die Noord-eiland oor die Cook-seestraat na die Suid-eiland.
Dis daar waar die Springbokke volgende Saterdag sal uitdraf teen die All Blacks op Carisbrook in Dunedin. Die draers van die Groen-en-Goud het al sewe keer daar gespeel, maar kon nog nooit wen nie. Dunedin is een van die suidelikste dorpe op aarde en daar sal ongetwyfeld hoendervleisweer wees.
Maar eers wag Peter de Villiers se ware vuurdoop vandag in Wellington. Dis hier waar die derde grootste oorwinning ooit in die Drienasiereeks in 1996 aangeteken is toe die All Blacks die Wallabies met 43-6 verslaan het (35 punte verskil).
Ja, in die Suidelike Halfrond se Drienasiereeks is die Land van die Silwervaring meestal koning. Die eerste reeks is in 1996 gespeel en sedertdien het die All Blacks dit agt keer gewen. Australië en Suid-Afrika was slegs twee keer elk die Drienasie-kampioen.
Graham Henry, die Nieu-Seelandse afrigter, het opgemerk vanmiddag se wedstryd gaan ‘n “massiewe tien-uit-tien-toets wees”.
Ons hou duim vas dat die Wêreldbeker-kampioen sy eerste oorwinning oor die All Blacks sedert 1998 gaan behaal. Dalk, net dalk, word die Drienasie-koning vandag getroef in Wellington, ‘n tien-uit-tien-stad!