Wednesday, August 31, 2011

MUSIEKFEES BY NUWE GOLDEN GATE-HOTEL



AS jy lankal lus is om te gaan kyk hoe die Golden Gate-hotel en sy chalets lyk ná ‘n opknapping van R30 miljoen, is dit nóú die tyd, skryf JENS FRIIS. Boonop is dié park nou drie keer groter as vroeër.



DIE Golden Gate- Nasionale Hooglandpark bied ‘n musiekfees op 8 en 9 September aan in samewerking met die KwaZulu-Natalse ereveldwagters en die Drakensberg-seunskoor. Hierdie fees is soortgelyk aan die Sunset Serenade wat in die Nasionale Kruger-wildtuin gehou is en sal dien as ’n geldinsamelingprojek om renosterstroping in die nasionale parke te beveg.


En as jy nie lus is om ná die konsert huis toe te ry nie, is die Golden Gate-hotel (ou Brandwag-hotel) net die plek om oor te slaap.


Met Wêreldomgewingsdag vroeër vanjaar is dit amptelik geopen deur me. Edna Molewa, die minister van waterwese en omgewingsake. Die hotel was sedert begin-2009 gesluit en daarna is R30 miljoen bestee om die gebou op te knap.


‘n Omgewingsvriendelike benadering is gevolg. Só word water nou verhit deur sonverwarmers en blaasverwarmers in kamers wat 2 000 kW elk gebruik het, is vervang met paneelverwarmers wat slegs 400 kW gebruik.


Die gebou is struktureel redelik baie verander en die 34 kamers het 55 geword. Daar is nou ook ’n luukse premier-suite en ’n wittebrood-kamer met ’n kaggel en borrelbad.


Al die badkamers is gestroop en nuut ingerig en selfs die hotel se bedrading en waterpype is grootliks vervang. Die chalets by die hotel is ook op beperkte skaal opgeknap.


Die verskillende vleuels se versiering beeld die vier seisoene uit in die Oos-Vrystaat. Met die binneviersiering is daar ryklik van glas, hout en klip gebruik gemaak. Bestaande elemente soos die mooi houttrap en klipwerk is behou, maar sommige mure is met glas vervang om die uitsig te verbeter.


Die restaurant is vergroot en kan nou tot 200 mense hanteer teenoor die 100 van voorheen. Die Mabaleng-sportkroeg is op die kelderverdieping gesetel en loop uit op die hotel se onderste grasperke. Van die Brandwag Lounge, ‘n skemerkelksitkamer, kyk jy uit oor die Brandwagkop wat wag hou oor die Rooiberge en die omringende grasvalleie.


Onder die ander nuwighede tel ‘n hysbak wat ingebou is sodat mense met gestremdhede makliker toegang tot die hotel se drie verdiepings kan hê. Die hotel spog ook nou met uitgebreide konferensiegeriewe vir groot en klein kongresse.


Uiteindelik was die hotel 18 maande lank gesluit, maar die kool was die sous werd. Die blinknuwe Golden Gate-hotel en chalets is gewis ‘n aanwins vir dié deel van die Vrystaat waar toeriste graag uitspan.



PARK NOU VEEL GROTER


In 1963 het die Suid-Afrikaanse regering drie plase in Golden Gate gekoop en aan die destydse Nasionale Parkeraad oorhandig om as die Golden Gate Hoogland Nasionale Park te bestuur.
Mettertyd is verskeie plase bygevoeg en ook tot nasionale park verklaar.


Maar ‘n reuse uitbreiding het onlangs plaasgevind toe die park se grondgebied verdriedubbel het toe die sogenaamde Qwaqwa-natuurreservaat by die Golden Gate Hoogland Nasionale Park ingesluit is.


‘n Groot voordeel hiervan is dat besoekers nou veel groter troppe wild sal kan sien. Die oorspronklike Golden Gate Hoogland Nasionale Park het uit die vallei en die pieke daaromheen bestaan, terwyl middelplatograsvlaktes nou bykom wat die park aan die noorde- en oostekant begrens. Dis op dié middelplatograsvlaktes waar die groot hoeveelhede diere veral voorkom.
Wildbesigtingsroetes word nou in die gebied beplan, asook stap-, bergfiets- en viertrekroetes.



SOU JY GAAN


· Die Golden Gate Hoogland Nasionale Park is 15 km oos van Clarens.


· Vir meer inligting oor die musiekfees stuur ’n e-pos aan Mankhole.modise@sanparks.org of Esther.Khatite@sanparks.org.


· As jy ‘n draai by die Golden Gate-hotel wil maak, besoek www.sanparks.org of bel 058-255-0000. Of as daar nie plek is in die hotel nie, bly oor in die Glen Reenen-ruskamp.


· Buiten oorslaap in die hotel en die musiekfees is daar heelwat te doen in die omgewing waaronder verskeie staproetes in die park. Golden Gate Hoogland Nasionale Park se hoogte wissel tussen 1800 en 2800m, met die hoogste punt Ribbokkop wat 2828m hoog is. Die staproetes se moeilikheidsgraad wissel. Onthou om ‘n paar uitgetrapte skoene saam te vat sodat jy nie met waterblase terugkom nie.


· Of jy kan ‘n draai maak by die Basotho-kultuurdorp agter die Phofungberge by Qwaqwa waaroor Naweek+ onlangs berig het.

Monday, August 22, 2011


Maak soos JENS FRIIS en verken ‘n nedersetting naby jou.



DAAR word gesê watter lewenspad jy neem gaan bepaal waar jy gaan eindig, maar met ‘n vakansie is dit anders: dan hoef jy nie altyd ‘n bestemming te hê nie.


Soms is dit van die lekkerste lekkertes om eenvoudig ‘n pad te vat sonder enige verwagtings.


En só moet dit wees as jy oor ‘n naweek besluit om ‘n draai te gaan ry deur jou dorp of stad se distrik.


Op ‘n Saterdagoggend nie te lank gelede slaan ons neus in die wind in die rigting van Jagersfontein met die R706 wat sommige sê is die langste reguit stuk pad in die land.


Op die kop 65 km uit Bloemfontein kruis die Petrusburg/Edenburg-grondpad dit en dis hier waar ons op die ingewing van die omgewing links draai toe die R706 te reguit word.


‘n Verdere 3 km wag Austin’s Post langs die Rietrivier. Sy bome sien jy in die verte vanaf die teerpad.


Oor dié plekkie wat was is beslis in sy ganse bestaan nog g’n reisberig geskryf nie. Maar hierin lê juis die lekker: Om op ‘n plek te kom waar plaaswerkers verbaas na jou kyk as jy ‘n foto neem van hul wêreld. Hier kom immers selde besoekers en jy gaan een van weinig wees wat ‘n prentjie aan die naam “Austin’s Post” sal kan koppel. Ja, dis maklik om deesdae te reis en onontdekte plekke word min.


Dié stippel op ‘n kaart bestaan deesdae uit weinig meer as ‘n plaasopstal en skure. Maar op sy dag het die omliggende boere en werkers hierheen gestroom om die nodige goedjies aan te skaf by die plaas-like winkel. Jy sou ook jou pos hier kon kry en waarskynlik brandstof ingooi. Austin’s Post was voorwaar ‘n pos vir die onmiddellike omgewing.


Maar só vergete is dit nou dat ‘n soektog op Google niks leer oor waar Austin’s Post se wortels lê nie.


Al wat ek wys word is dat dit wel nog ‘n aparte inskrywing as “plek” het in die Geelbladsye met name soos Van der Merwe van Diepfontein, King van Wonderkop en nog ‘n Van der Merwe van Poskraal.


En dis deur dié wêreld suidwes van Bloemfontein wat ons na Wurasoord ry om die N1 noord terug huis toe te vat. Dié voordeel van só ‘n sirkelroete is dat jy nie weer dieselfde pad terugry Bloemfontein toe nie.


En as jy ‘n ekstra uurtjie het kan jy in plaas van Wurasoord ook verder suid ry na Edenburg, die Rietrivier weer oorskruis onderweg na Reddersburg en dan na die Rosestad terugkeer.



SOU JY GAAN


· Die afgelope nat winter beloof goeie veldblommetjies met die dat dit nou warmer word.


· Vat drink- en eetgoed saam en hou piekniek langs die pad.


· Gooi petrol in op Bloemfontein of Edenburg, daar is nie ‘n garage op Austin’s Post of Wurasoord nie.


· Onthou jou sonbril en sonbrandroom.


· Lente en herfs is die beste tyd om dié geweste te besoek. Die winters is vaal en bitterkoud en die Vrystaatse vlaktes is in ‘n droë, uitmergelende somer nie altyd die mooiste plek nie.




Sunday, August 14, 2011

Mattanu: Geskenk van Bo




Mattanu: Beste in dié geweste



JENS FRIIS het gaan kyk waarom die AA vir die Mattanu-wildreservaat in die Noord-Kaap aanslaan as die beste van sy soort in Suid-Afrika.



OP die Mattanu-wildreservaat anderkant Barkly-Wes sou jy sweerlik kon dink jy is in die Bosveld. Hier is nie kremetarte nie, maar die omgewing lyk pure Satara.


Boonop is dit in mid-Suid-Afrika, dis malaria-vry en jy sien diere - baie daarvan.


Dat Mattanu by die Automobiel-Assosiasie (AA) se prysuitdeling in Durban aangewys is as die beste verblyfplek vir 'n klein wildreservaat (minder as sewe kamers) in die land, is ook nie te versmaai nie.


Só val ons kort gelede een Saterdag in die pad vanaf Bloemfontein, eet 'n laatontbyt in Kimberley, steek die Vaalrivier oor by Barkly-Wes en ry die laaste 20 km grondpad deur Kalahari-Bosveld-savanna tot by Mattanu.


Dis bibberend buite, maar in die luukse tente wat blyplek bied is daar ondergrondse verhitting, dik duvets, verhitte handdoekreëlings en lugreëlaars.


Boonop is ek aangenaam verras om te sien dat daar nie plek vir 'n muis is nie - al die tente is vol.


Die Kriek-familie wat Mattanu besit en bestuur is deurwinterde omgewingsbewaarders. Hul voorsate het op 'n familieplaas in die distrik Enkeldoring van die destydse Rhodesië geboer voordat hulle in die 1980's na Suid-Afrika moes verhuis.


Dr. Johan Kriek, die eienaar van Mattanu, is onder meer ’n vlieënier en wildboer. Hy is in 2009 as die nasionale wildboer van die jaar aangewys en was die eerste uit die Noord-Kaap om dié eerbewys te ontvang. Met die aanwys van die wenner word onder meer gekyk na die kandidate se betrokkenheid in die wildbedryf, die bestuur van die plaas en hoe daar na personeel omgesien word.


Dr. Kriek se een seun, Johann, is ook ’n vlieënier, terwyl die ander seun, Jacques, die bemarkingsbestuurder van die wildreservaat is.


Laatmiddag neem Jacques al sy gaste op 'n wildbesigtigingstoer, maar eers stop ons by 'n rehabilitasiekraal waar wild gemonitor word wat deur die lewe gekniehalter word. Hieronder tel 'n bastergemsbokkie waarop die Krieks in die veld afgekom het.


"Sy ma het nie genoeg melk gehad nie en ons het die verswakte bokkie na ons kraal gebring," vertel Jacques.


Die bokkie se naam is Nhamo wat in Shona ‘n woord is vir iemand wat deur ‘n moeilike tyd gaan.


Maar dit wil lyk of daar ‘n voorspoedige toekoms op Nhamo wag, want danksy heilsame koeimelk uit Bretta, 'n staatmaker Jersey, se spene is dié kleinding nou blakend gesond. Bretta was deur die jare reeds pleegma vir ’n buffelbulkalf, ’n sebratjie en swartswitpenskalfies.
Haar Jersey-kalf en die bastergemsbokkie is dol oor mekaar. As hulle nie aan hul ma drink dat die spoeg so spat nie, dan speel die tweetjies al óm haar.


Hopelik sal die bastergemsbokkie eendag weer in die natuur vrygelaat kan word. Naas die eland (wat ook op Mattanu voorkom) is die bastergemsbok die grootste bokspesie.


Swartwitpense, swart rooibokke en siektevrye buffels is van die skaars en bedreigde wildspesies waarmee hier geteel word. Van die oorspronklike bastergemsbokke en swartwitpense het dr. Kriek jare gelede uit Malawi ingevoer.


Dis opvallend dat die meer as 36 wildspesies nie gespanne is nie en daarom kan jy tot naby aan hulle kom. “Dit maak dit ideaal vir internasionale kameraspanne om hier te kom verfilm,” vertel Jacques terwyl ons iets drink by ‘n watergat.


Jy hoor verskeie voëls, maar die riete en gras rondom die dam is dig. Net dan en wan sien jy van die geveerdes.


Dis verstommend hoe ruig die veld handomkeer verander het in die afgelope maande. ‘n Veldbrand November verlede jaar het groot stukke weiveld, ‘n tienbed-chalet, die onthaalgebied se lapa en ‘n luukse tent verteer.


“Iets positiefs wat gekom het van die brand is dat talle uitheemse bosse in die slag gebly het en daar nou meer weiveld is as vantevore. Daar moes heelwat ekstra voeding gegee word vir die wild ná die brand, maar vanweë die goeie reën vanjaar het die veld vinniger herstel as verwag. Vaalbosse, haak-en-steek, swarthaak en kameeldoringbome het onder meer in die slag gebly.”


Dit was die ergste brand wat die familie Kriek beleef het in die 20 jaar wat hulle hier bly.


Talle plase in die omtrek is ook deur die brand verniel. Laatmiddag het brandslaners verbete geveg teen vlamme wat aan ‘n wye front op die Windsorton-pad afgestorm het. Die onbegaanbaarheid van die ruwe terrein het die taak ook nie vergemaklik nie.


“Toe die vuur daai dag omgeswaai het moes ons vroegaand in die swembad spring om van die vlamme weg te kom!”


Maar intussen het die veld flink gegroei en die Krieks het die plaas weer opgeknap, “want Mattanu beteken nie verniet ‘n geskenk van Bo nie.”


Net voordat ons terugkeer kamp toe word ons geseën met ‘n besonderse sonsondergang. Ek moet met my hand skerm om na die rooi gloed agter die kameeldorings te kyk, want my donkerbril lê tuis (soos gewoonlik).


Met ete die aand kan jy kies uit ‘n uitgebreide versameling wyn uit die ondergrondse wynkelder. En vir later wag sigare van oraloor.


Ná ‘n lekker lang nag (soos dit hoort op só ‘n vakansie) was dit tyd vir nóg ‘n wildrit waar ons letterlik omtrent aan die bastergemsbokke en swartwitpense kon vat.


En daarna is ons kuiertjie afgesluit met ‘n ontbyt uit die boonste rakke.


Skuld daai spaarvarkie vir ‘n nag by Mattanu. Die R1 400 wat dit jou gaan kos is die moeite werd – en só het die AA ook gedink. Jy word immers nie sonder rede aangewys as die beste van jou soort in die land nie. Die prys is per persoon en sluit verblyf, ‘n ontbyt, aandete en twee wildsritte in.


Gaan maak gerus ‘n draai. Bogenoemde is nie net papierbeloftes nie.



SOU JY GAAN


* Mattanu is 58 km noordwes van Kimberley.


* Wildbesigtingstoere vir dagbesoekers is moontlik, maar besprekings is noodsaaklik.


* Gaste kan ook gaan stap en voëls uit ‘n uitkykpunt by ‘n vlei dophou.


* Onthou jou sonbril en in die sonbrandroom. Somers wag hier ‘n swembad om die Noord-Kaapse hitte af te spoel.


* Vir meer inligting loer by www.mattanu.com of stuur 'n epos aan info@mattanu.com.


Wild Coast ontrimpel ten bedrae van R400 miljoen



DAAR waar Natal die Oos-Kaap word staan die Wild Coast Sun al vir ‘n dertig jaar of wat as ‘n baken van pret en plesier.

Maar dis allermins meer hoofsaaklik ‘n casino-oord. Daar is immers deesdae ‘n groot casino in Durban self en jy hoef nie meer ‘n rivier oor te steek na die ou-Transkei om te dobbel nie.


Daarom spits Sun International hom al hoe meer toe om die Wild Coast Sun ‘n vakansieoord te maak waar daar genoeg vermaak is vir die kleingoed, maar waar volwassenes ook kinderlik gelukkig sal wees.


Ek het onlangs gaan inloer, want dis daardie tyd van die jaar wanneer mens graag van die hoendervleisweer in mid-Suid-Afrika wil ontsnap.


Skynbaar het baie ander dieselfde idee gehad, want Afrikaans het jy oral gehoor en daar was ‘n magdom GP-, NW- en FS-motors.


Ek het ‘n spesmaas dat dié oord selfs nog gewilder sal word as die huidige opknappingsprojek afgehandel is. Dit behels ‘n allemintige R400 miljoen en is reeds ver gevorder.


Dié opknappingsprojek volg ná die suksesvolle hernuwing van die Wild Coast Sun se dobbellisensie waarvolgens Sun International die oord sal bedryf vir ‘n verdere tien jaar vanaf September 2009.


Die casino-area wat vergroot is en met nuwe masjiene en meubels spog, was die eerste fase van die opknappingsprojek wat oor drie jaar strek. Hierna het van die gastekamers gevolg en ook die Lagoon Bar en die Chico’s restaurant. By laasgenoemde móét jy saans gaan eet, want die tafels wil swig onder die uitgebreide buffet.


Die opknappingswerk het ons nooit gepla nie, want die werksareas word heeltemal afgeskei.


Die kamer waarin ons tuisgegaan het was een van dié wat reeds smaakvol oorgedoen is. Mores breek die son tot in die kamer vanoor die Indiese Oseaan as die digte gordyne oopgetrek is. Die badkamers is só ontwerp dat jy groot skuifdeure kan ooptrek wat dit dan met die slaapkamer verbind en die hele vertrek ‘n ruim gevoel gee.


Van die balkon van dié kamer kon jy uitkyk oor die magtige Indiese Oseaan waar skepe op die horison na Durban vaar en reuse branders na die lang strand inrol. Tussendeur die blaredak het die blou van die hotelswembad gebreek en jy kan jou net voorstel hoe lywe hier ingeryg gaan lê as dit nie mid-winter is nie.


Eersdaags sal die oord spog met ‘n nuwigheid: ‘n temawaterpark. Sun International glo dat dié trekpleister die Wild Coast Sun “’n hoogs mededingende alternatief vir vakansiegangers en gesinne sal maak.”


Maar hier is reeds ‘n magdom ander dinge ook te doen waaronder ‘n reuse speletjiesarkade vir kinders, perderitte op die strand, een van die beste gholfbane in die land, 10 -pin bowling en as jy lus voel kan jy die golwende heuwels van die oud-Transkei inry. Maar hierin gaan jy waarskynlik nie eens sin hê nie, want die hotel se ligging tussen die Mtamvuna- en Mzamba-riviere is van die mooiste langs die Wildekus.


Die N2 van Durban is ‘n dubbele, breë pad tot by Southbroom. Ook die laaste 21 km is ‘n goeie teerpad. Dis dus maklik om hier uit te kom.


Bespreek by www.suninternational.com.




Geelgids gewild onder tuiniers, toeriste

- Jens Friis

VAN posseëlgrootte kruietuine tot poskaartmooie parke rondom kastele tel onder die bykans 4 000 private en openbare tuine wat vermeld word in Gardens of England and Wales and Gardens of Scotland. Dié gidse staan algemeen bekend as die ``Yellow Books'' en is uiters gewild onder plantliefhebbers.


Hoewel dit baie wat-en-waar-inligting bied, is dit ook 'n mini-kursus in Britse maatskaplike en literêre ge- skiedenis soos in Chartwell, Kent (``red brick wall built by Sir Winston Churchill''), en Rudyard Kipling wat 'n visdam laat maak het in Sussex.


'n Mens moet bespreek om koningin Elizabeth se Frogmore-tuin by die Windsor-kasteel te besoek. Besprekings word ook aanbeveel vir Sandringham-paleis in Norfolk. Iedereen kan egter besoek aflê by die groentetuin ( een akker) van die McCosh-familie in Clydesdale. So ook by 'n tuin waar bye reeds die afgelope 200 jaar om 'n korf zoem of 'n ``secret garden'' wat sou kon herinner aan Winnie the Pooh se ``Hundred Acre Wood''.


Chelsea Physic Gardens (1673) in Londen is die oudste botaniese tuin in die Verenigde Koninkryk naas dié van Oxford wat terugdateer na die jare 1500. Digby is die Royal-hospitaal waar die jaarlikse Chelsea-blommeskou (23 tot 26 Mei 2000) plaasvind.


Brittanje se bekende ``public schools'' is skynbaar vrugbare grond vir vermeldenswaardige tuine. Gordonstoun, alma mater van prinse Philip, Charles en Andrew, word in die gids vermeld. So ook Eton, 'n klipgooi van die Windsor-kasteel, waarvan die tuine in 1880 aangelê is deur die koshuishoof.


Die warm water van die Golfstroom het 'n reeks mikroklimate geskep langs die weskus noord tot by Skotland. Subtropiese plante floreer in die sewe hektaar van die Abbey Gardens, Tresco en Scilly-eilande.


Die Yellow Books word in boek- en tuinbouwinkels in die Verenigde Koninkryk verkoop of kan bestel word van amazon.co.uk of die Garden Schemes, 31 Castle Street, Edinburgh EH12EL.