Wednesday, July 16, 2014

Per kar deur die Pireneë

JENS FRIIS is tuis ná ‘n “road trip” deur die Pireneë-bergreeks op die grens tussen Spanje en Frankryk.

Hulle sê enige reis van ‘n duisend myl begin met ‘n eerste tree. En só was dit ook met ons onlangse reis ná Europa.
As ek mooi terugdink, het daai eerste “wiel” begin draai op ‘n luilekker Desember-middag kort voor Nuwejaar.
Die ding het só begin: ‘n Nederlandse vriend, Jean-Louis (oftewel J.L.), het by ons gekuier en terwyl ons op die trappies van ons swembad gebaai het, het hy vertel van ‘n fietsrit van enkele maande gelede.
Dié het hom geneem deur die Pireneë-bergreeks vanaf die landjie Andorra al langs die grens tussen Spanje en Frankryk. “Dis van die mooiste op aarde!,” het dié kranige fietsryer beloof.
Ek en my wederhelf is dol oor grootse, ongerepte natuurskoon soos dié waardeur die ryers in die Tour de France fiets. Daar’s g’n kans dat ons dit sou aftrap nie, maar potensiaal vir ‘n “road trip” per motor was daar gewis.
Ons het J.L. gepols vir meer inligting en só het hy met ‘n nat voorvinger ‘n kaart begin trek op die stene langs die swembad. Maar die “ink” was alte vinnig droog onder die Vrystaatse son.
“Sou julle besluit om te gaan, is die wysste raad wat ek julle kan gee om nie meer as 60 km per dag te ry nie.”
En ná ons terugkeer enkele dae gelede, weet ek waarom: Hier is soveel mooi dat dit ‘n sonde is om meer te probeer doen – nie dat mens in elk geval kan nie, want die afgrond is altyd naby en die paaie vol esse.
Ook belangrik is om die regte tyd van die jaar daar te wees. Die winter en die aaneenliggende maande is taboe, tensy jy wil gaan ski. Ek sou weer in die vroeë somer (dus laat-Junie) gaan, want dan is die wêreld lowergroen en oortrek met veldblomme. Tog is daar steeds sneeu (‘n snaaksigheid vir ‘n Suid-Afrikaanse oog) op die hoë spitse – en daarsonder sou die besoek baie minder aanskoulik gewees het.
Gepraat van hoogtes, die laagtepunt van die besoek was beslis dat Wes-Europa peperduur geword het vir Suid-Afrikaners. Sedert my laaste besoek agtien maande gelede was alles die helfte duurder – wat sin maak, want die Rand het met byna 50% verswak. Trek jy 250 euro het dit jou destyds R2500 gekos. Nou dok jy skielik R3750 op. Ja, dis nogal ‘n aardige sommetjie!
Wat wel gehelp het is dat die akkommodasie in die Pireneë aansienlik goedkoper is as in Parys en Nice – maar selfs hier betaal jy omtrent die helfte meer as in Suid-Afrika vir iets soortgelyks.
Om geld te spaar gaan ons dus op ‘n volgende keer eerder iets soos Malawi, Viëtnam of Montenegro verken. Maar juis hierom het ons besef: die besonderse Pireneë-kuier móét ons indrink.

VERTREKPUNT

‘n Goeie vertrekpunt vir ‘n reis deur die Pireneë is Carcasonne wat ‘n Wêrelderfenistitel dra. Die Franse het in die Middeleeue dié stad deeglik gefortifiseer teen aanslae van die Spanjaarde. Kyk jy op ‘n mooiweersdag van hier suid, sien jy die berg wat Frankryk en Spanje skei.
Waarom weet ek nie, maar ek het my ‘n dorre bergreeks (byna soos die Atlas-gebergtes) voorgestel, maar reeds in die voetheuwels was dit klinkklaar: water is volop en varings gedy langs strome wat gevoed word deur veral swaar sneeuneerslae.
Net só ‘n verrassing was die landjie Andorra wat in die hart van die Pireneë wag. Soos Lesotho het dit sy onafhanklikheid daaraan te danke dat dié berge feitlik ondeurdringbaar is. As belastinghemel floreer die eiendomsbedryf en veral ski-hotelle van meer as vyf verdiepings het die afgelope jare opgeskiet.
Oornag gerus hier, want die regering moedig toerisme aan en probeer hotelpryse laag hou sodat besoekers langer vertoef.
Waar jy die grens oorsteek na Spanje word motors steeds gereeld voorgekeur, want veral die smokkel van sigarette is ‘n probleem. Van hier lei ‘n pad noordwes deur Spanje waar jy na sowat 3 ure weer Frankryk binne ry.
Dit was opvallend hoeveel stiller die Spaanse paaie was as dié in Frankryk – ‘n groot lekkerte, want dit kos ekstra konsentrasie omdat die stuurwiel aan die ander kant sit én waar die een pas eindig begin die ander.
Ons het die nuwe C-klas Mercedes-Benz wat pas in Suid-Afrika vrygestel is, gehuur. Die ietsie ekstra wat dié luukse voertuig gekos het was die moeite werd omdat sy padhouvermoë goed te pas gekom het en so ook die satellietnavigasiestelsel.
Die beste boek wat ons kon opspoor om ons rit te verryk was “Back Roads France – scenic routes, charming hotels, authentic regional cuisine” van Eyewitness Travel.

FIETSRYERS

Veral aan die Franse kant het ons hordes fietsryers, soos J.L. vertel het, teëgekom. Ek kan my voorstel dat dit iets moet wees vir ‘n fietsryer om te kan vertel dat hy dele van die tradisionele Tour de France-roete afgetrap het, maar ek het meerdere keer gewonder waarom iemand homself só tot die uiterste beproef.
Van oraloor kom hulle – bloedjonk tot spierwitgrys om met geoefende (en minder geoefende!) kuite dié paaie aan te durf.
Elke paar honderd meter dui padbordjies aan dat hul trappery die moeite werd was, want hulle is soveel meter hoër bo seespieël. Dit dui dan ook die gradiënt aan van die pad wat kom.
Op die kruin wag spanmaats op die agterosse met ‘n bemoedigende handeklap om die laaste paar meters af te lê.
Dis dan tyd om spiere wat kramp vet te smeer, energiedrankies te drink en die uitsig te geniet.
Af is maklik. Al wat dan moeilikheid kan gee is dat te vinnig ry tot ‘n val kan lei of dat ‘n melkkoei die pad onverwags wil oorsteek.
Ons het nêrens vooraf slaapplek bespreek nie, want akkommodasie is volop en dit bied die voordeel dat jy kan ry sover as wat jy op ‘n dag kom. Meerdere keer was gastehuise en hotelle egter vol en het ons eers by die derde of vierde plek geholpe geraak.
By oornagplekke was daar deur die bank fietsryers wat graag meer wou weet van veral die Cape Argus.
Ook was daar ekstra belangstelling in ons Suiderland omdat die 29-jarige Brit Chris Froome die verdedigende kampioen is in vanjaar se 101ste Tour de France. Verlede jaar was Froome (Team Sky) in ‘n klas van sy eie en het nie veel moeite ondervind nie om die Colombiaanse debutant Nairo Quintana (wat nie vanjaar ry nie) om die titel te klop. Froome, wat in Kenia gebore is, het in Johannesburg skoolgegaan.
Die deelnemers aan 2014 se fietstoer het vir die eerste keer van Leeds in Brittanje weggespring. En soos gebruiklik sal dié ystermanne ook in Pau, Hautacam, Saint-Lary Pla d’Adet, Bagnères-de-Luchon en Carcassone se gebergtes ‘n draai gaan maak voordat hulle ná 21 dae en 3 663 km die eindstreep sal kruis in Parys.
Ek haal my hoed vir hulle af, want dit sit nie in elkeen se broek om dié roete te voltooi nie. G’n wonder twaalf deelnemers, insluitend die voorloper Maurice Garin, is in 1904 gediskwalifiseer vir ‘n verskeidenheid redes wat die onwettige gebruik van motors en treine ingesluit het. As ek in dié pragtige berge moes fietsry sou ek selwers dit waarskynlik sterk oorweeg het om te kroek en ‘n stukkie in ‘n motor af te lê!
Maar genadiglik was dit darem nie nodig nie – en sal dié onlangse “road trip” my nog jare bybly. Die volgende is sekerlik ‘n bewys daarvan: Waar ek vantevore g’n sin in fietsry as sport gehad het nie, kan ek sedert ons terugkeer nie wag om saans op DStv te kyk na die opsomming van die dag se wedren deur Frankryk nie. Loer gerus, dis op SS2 oftewel kanaal 202.