Tuesday, February 16, 2010

Met heimwee uit Seeheim


DAAR word gesê as 'n dorp nie meer 'n kroeg het nie, is dit nie meer dorp nie. 'n Drinkplek is immers die laaste om te vou. Só beskou is Seeheim nog pure dorp, hoewel dit uit slegs 'n hotel en 'n handjievol huise bestaan. Ja, Seeheim is maar ‘n skadu van sy eertydse self, maar nogtans sien dit veel beter uit as 'n paar jaar gelede toe hier g’n mens meer gewoon het nie. En dít is alles toe te skryf aan daai einste kroeg en hotel. Was dit nie hiervoor nie, sou dié gestorwe nedersetting nooit uit die as verrys het nie. Dit storie gaan só, vertel JENS FRIIS.

DIT was die keer toe ons Lüderitz toe is, dat ek die eerste keer van Seeheim gehoor het.
By 'n internetartikel was daar 'n foto van dié nedersetting en dié kiekie was meer as genoeg rede om daar 'n draai te maak.
Op die bodem van 'n kloof het Seeheim gelê met 'n paar palmbome wat net-net bokant die omringende heuwels uitsteek.
Só moet 'n oase in die Sahara (of dan die Namib) lyk, het ek gedink.
En 'n oase was Seeheim inderdaad.
Maar aikona, 'n rerige dorp was dit nie meer soos van ouds nie.
Vanmeleë het elke trein uit die Republiek hier aangedoen en was die passasiers verplig om oor te slaap.
Dit was in die dae toe Seeheim 'n belangrike spooraansluiting was vir treine uit Suid-Afrika na Suidwes-Afrika en ook na Lüderitzbucht se hawe en diamantvelde. Verder het ook boere langs die Visrivier het hul tabak en groente na dié stasie gebring.
In dié begin-dae was Seeheim selfs groter as Keetmanshoop en kon dit met ‘n skool, kerke en drie hotelle spog.
Die Bellville Hotel se deure was oop tussen 1905 en 1913.
Die Riverside Hotel is op 'n eiland in die Visrivier gebou en het in 1922 weggespoel toe 555 mm reën glo in twee dae uitgesak het.
En dan was daar die Seeheim Hotel wat die langste besigheid gedoen het. Dit is in 1896 uit plaaslike klip gebou om die Schutztruppe (Duitse koloniale troepe) te huisves en dis in die 1920’s tot ‘n hotel omskep.
Maar toe die B2-pad tussen Keetmans en Lüderitz in 1974 geteer en verlê is, het ook dié hotel gesluit.
Boonop het Lüderitz se diamante min geword en is Walvisbaai as hawe ontwikkel.
Só het Seeheim letterlik 'n spookdorp geword. Die spoorweghuise het leeg gestaan en hoewel baie erwe aan Duitsers behoort het, het niemand meer hier gewoon nie.
Vir byna 'n kwarteeu het daar niks in Seeheim gebeur nie totdat Zirkie Kloppers die Seeheim Hotel in 1996 gekoop het en twee jaar later heropen het.
Die bestaande 6 slaapkamers is tot 28 uitgebrei, 'n swembad is gebou en so ook 'n lapa.
Op die hakke hiervan het 'n taksidermie-besigheid in 2000 gevolg en die Seeheim Meubelfabriek in 2003.
En só is daar stadig maar seker weer 'n bietjie lewe in dié eertydse dorpie geblaas.
Deesdae is Seeheim nes van ouds weer 'n oase vir reisigers in die dorre suid-Namibië.
Jy kan uiteraard hier oorslaap, maar as dit nie by jou reisplanne inpas nie, is dit 'n móét om minstens iets af te sluk onder die hotel se koel sinkstoep
En van hier kan jy dan die pad vat na Kolmanskop, Ai-Ais se warmwaterbron, die Visriviercanyon, Sossusvlei se reuse duine, Lüderitz, of Keetmanshoop se kokerboomwoud.

SOU JY GAAN
* Seeheim is 40 km wes van Keetmanshoop en 310 km oos van Lüderitz. GPS: S 26.815700 E 17.800560
* Daar is ook ‘n Seeheim in Duitsland waar Lufthansa ‘n groot opleidingsentrum het.
* Bouwerk aan die treinspoor tussen Lüderitz en Keetmanshoop is reeds ver gevorder. So hopelik sal treine eersdaags weer deur Seeheim stoom.
* Die piepkleine Seeheim is nie enig in sy soort nie. Ander nedersettings in die suide van Namibië wat weinig groter is, is byvoorbeeld Grünau en Helmeringhausen. Volgens The Top 10 of Everything is Namibië naas Mongolië die ylbevolkste land ter wêreld: 1,8 miljoen mense vir 825 418 vierkante kilometer.
* Vir meer inligting loer by www.seeheimhotel.com.