
DIT klink haas ondenkbaar, maar daar wás ‘n tyd toe huise langs  Clifton só beskostigbaar was dat talle woordmense hulle hier kon vestig.  
  
 Min van dié blyplekke is so onlosmaaklik verbind met die Afrikaanse  woordwêreld as Sea-Girt van Uys Krige.   Sea-Girt het ‘n rol gespeel in Ingrid Jonker se doodsnag, minnaar André  P. Brink het hier jaloesie verwek, en dis die plek waar Krige strepe woorde  gesels het met ander Sestigers soos Etienne Leroux, Chris Barnard en Bartho  Smit.  
  
 Dié litteraci het lank voor die glitterati besef Clifton is een van die  allermooiste wêrelddele. Dié kroonjuweel van Afrika kon met gemak meeding met  die sandstrande van die Seychelles of Hawaii.   
  
 Maar Krige sou wou glo dat daar iets unieks is aan die wondermooie  Clifton.  Hieroor het hy meerdere keer  gespekuleer en merk eens op:  “Dis die  enigste strand ter wêreld wat blou word teen die aand.”  
  
 Krige kon ‘n paar tree uit Sea-Girt gee en hy was in die Atlantiese  Oseaan se bibberwater.  Hierin het hy hom  glo daagliks verfris.  Met die strand en  see was sy lewe inderdaad deurdrenk.   
  
 En dis te verstane, want Clifton was destyds al ‘n gewilde plek om  jou standhanddoek uit te gooi op sondeurdrenkte dae.  As die Suidooster elders woed, is Clifton na  alle waarskynlikheid windstil.  Hoogsomer  tot laat-April was dit diè plek waar mans met gedefinieerde mae en sandwit kuiwe  kom uitspan het tussen engele in skrapse bikini’s.  
  
 In Versamelde Gedigte skryf Krige só oor hierdie nooiens:  
    Hul bra’tjies is bra skraal,  kan niemand stig
    (hul kan so maklik, lyk dit,  hier verlore raak)
    hul broekies lig, ja, ligter as  dié somerlig;
    hul kon nie kaler wees was hul  ook poedelnaak
    -  en die Apostels wat oor dié waters  waak
    trek haastig ‘n grys py oor hul  gesig. 
  
 “Alhoewel hy beindruk was met die nooiens was hy veel preutser as wat  hulle ooit kon vermoed en was die jare in Clifton vir hom geensins ‘n  ongebreidelde oorgawe aan die sensuele nie.   Meestal kon dié skoonhede in hul bra’tjies en broekies nie verder kom as  om sy kop, wat vinnig besig was om pan te word, te streel nie,” skryf J.C.  Kannemeyer in Die lewe en werk van Uys Krige – die Goue Seun.”  
  
 Die ure op Clifton se strande het baie opgelewer wat ongewoon was, maar  na ‘n doellose baaiery wou Krige iets sinvols doen.  Dit het meestal beteken dat hy sy woorde wou  sif en neerpen.
  
 Op ‘n lenteoggend dig hy só oor Clifton (Versamelde Gedigte):  
    Die blye  dag
    bruis oor van  lig,
    éen vreugde  tot
    die verste  vergesig.
    Dis of ‘n laggende  kind
    my op die lippe  soen
    en die groot groen  see
    ruik soos ‘n waatlemoen!  
  
 Krige se verbintenis met Clifton het oor 32 jaar van 1938 tot 1970  gestrek.  Oorspronklik het hy en sy vrou  Lydia in ‘n houthuis, Izapa, gebly langs Clifton se tweede strand.  Wat Lydia geïrriteer het van diè huis was dat  sy met baba en al 130 trappies moes uitsukkel as sy iewers heen wou  gaan.
  
 Dit was terwyl hulle hier gebly het dat Krige sy vier maande oue  dogter Eulalia “gedoop” het in die waters van Clifton II.  Van tradisionele kerke (nes die politieke  bestel) het hy toe reeds weinig gedink en nie gehuiwer om sy sê te sê  nie.
  
 Krige het in Transvaal gaan woon, maar hom in 1958 weer in Clifton  gevestig.  Diè keer het hy Sea-Girt  betrek saam met die skrywer Jack Cope.   Sementtrappies langs die eertydse Clifton Hotel het hierheen gelei.  
  
 Sea-Girt had groot vensters waardeur die seebries kon inwaai en  waardeur jy kon kyk na die mooimense voor die huisies met hul piepkleine  tuine.  
  
 En dan het die huis uiteraard ook ‘n blik gebied op die see.  “By herhaling help (Krige) swemmers wat in  die verraderlike Clifton-see in die moeilikheid beland, soos op 27 September  1965 toe hy ‘n matroos van die Windsor Castle red wat op Tweede Strand  besig was om te verdrink.”
  
 Vanaf 1942 het Van Wyk en Truida Louw ook langs Clifton II gewoon.  Van Wyk het onder meer die bekende versdrama  Germanicus hier geskryf.
  
 Deur die jare het Breytenbach tot Aucamp aangedoen by Sea Girt en menige  intellektueel interessante gesprekke is gevoer.   Peter Blum het selfs snedig na Krige verwys as die “Babbelapie van  Clifton”.  
  
 Teen 1960 was Krige een van die vermaarste Suid-Afrikaners.  Sò bekend was hy dat ‘n brief uit die VSA hom  bereik het wat sò geaddreseer was:  “Uys  Krige, the famous poet and writer, South Africa”.
  
 Jack en Ingrid Jonker had ‘n verhouding, maar sy raak mettertyd verlief  op André P. Brink.  Vir Brink bring  Ingrid selfs een keer na Sea-Girt wat ‘n jaloerse Jack beskryf as ‘n  “unnecessary provocation”.   
  
 Kannemeyer vertel sò wat gebeur het in Sea-Girt tydens Ingrid se doodsnag  van 19 Julie 1965:  “Bonnie Davidtsz wat  saam met Ingrid en haar dogter, Simone, in ‘n woonstel in Seepunt woon neem  Simone na Uys en Jack se houthuisie omdat Simone ontsteld was.  Dis hier waar hulle die oggend om vyf minute  voor vier aankom.  Van Uys af bel Bonnie  die polisie, wat sê hulle ry met Ingrid rond om haar te kalmeer.  Toe sy terug is in Seepunt en na die  polisiekantoor gaan om Ingrid op te laai, moes sy hoor dat hulle Ingrid by haar  woonstel afgelaai het.  Sy was egter nie  daar nie.  Om ses-uur daardie oggend is  Bonnie weer na die polisiekantoor.  Daar  is sy meegedeel hulle het Ingrid se lyk by Drieankerbaai  gevind.”
  
 Vir Uys en veral Jack het dit jare (indien ooit) geneem om Ingrid se dood  te verwerk.
  
 Mettertyd het Uys na Onrust getrek.   Jack het Sea-Girt van Uys gekoop.   Hy’t gesukkel om Uys te betaal en moes dit uiteindelik van die hand sit  om sy skuld te delg.
  
 Het hierdie skrywers maar geweet hoe Cliftonse eiendomspryse sou klim,  sou hulle waarskynlik langer bly klou het aan hul  houthuisies.