Wednesday, November 11, 2009

Witsand roep





JENS FRIIS sê dis nou die tyd om 'n draai te gaan maak by die Witsand-natuurreservaat, want die besondere duine brul glo die hardste in die maande met die letter "r".

EK wil die piep kry as sommige siele so graag verkondig: "Oorsee vakansie hou?! Nog nooit, daar is hopeloos te veel plekke wat ek nog éérs in Suid-Afrika wil sien."
As jy só redeneer gaan jy beslis nóóit in die buiteland kom nie, want in Suid-Afrika is daar gans te veel plekke wat iedereen in hul kort lewentjies behoort te sien.
Maar dít daar gelaat.
Die Witsand-natuurreservaat is inderdaad een van daai besonderse plekke waarmee ons mooie land so mildelike geseën is wat jy behoort te sien tydens jou kortstondige aardse bestaan van baie werk en min vakansie.
En dis nie net ek wat dink dis besonders nie. So lank terug as 40 000 jaar het mense al hier vertoef, want vir hulle was dié plek heilig.
Dat dié vroeë bewoners só gedink het, is verstaanbaar, want soos iemand eens opgemerk het: Witsand lê soos 'n eiland van wit sandduine midde-in 'n see van koperrooi sand.
Deesdae is dié duidelik onderskeibare stuk sandwêreld in die suidoostelike hoek van die Kalahari een van die Noord-Kaap se voorste toeristebestemmings.
Veral voëlkykers, stappers en fotograwe kan hierdie eko-wonder gerus oorweeg as 'n naweekwegbreekplek.
En des te meer behoort jy nou hier 'n draai te maak, want daar word gesê dat die duine die hardste "brul" in maande met die letter "r" in die naam.
Dis veral die suidelike duine wat 'n geraas maak wanneer die sand versteur word.
Hou dus jou ore oop as jy die energie het om uit te klouter teen een van die steil "berge" van die Witsand-duinekompleks. Hulle is 20 tot 60 m hoog.
Niemand weet waarom die sand brul nie - en nog minder waarom slegs die suidelike duine só raas nie.
Volgens die Witsand Nasionale Park se brosjure is dit moontlik weens die intense wrywing tussen die geronde ysteroksiedvrye korrels. Of dalk is die granulometriese eienskappe, onder meer die eenvormige korrelgrootte, die rede.
Buiten dat Witsand se sand wit is én brul, is daar nog iets waarvoor jy moet uitkyk.
Asof ingesteek, staan gietswart donderbuise in die sand. Dis die werk van weerligstrale wat tydens donderstorms die sandduine tref en lang skerwe silika-glas vorm.
Daar is waarskynlik so baie donderbuise hier omdat die duinekompleks veel hoër is as die omliggende vlakte.

SOU JY GAAN

HOE KOM EK DAAR? Witsand lê in die stuk oop vlakte sowat 80 km suid van Olifantshoek, oos van Upington, noord van Groblershoop en oos van Postmasburg. Die maklikste manier om daar te kom, is om by Volop op die pad tussen Griekwastad en Groblershoop noord te draai na Witsand, wat 50 km verder langs 'n goeie gruispad lê. Dit kan ook direk van Olifantshoek bereik word of van die pad tussen Olifantshoek en Upington.

MOENIE VERGEET OM DIE VOLGENDE TE PAK: Swembroek, kamera, stapskoene, en 'n verkyker.

WAAR KAN EK TUISGAAN? Die oord het gerieflike huisvesting en hope kampeerplek. Dit wissel van luukse chalets tot geriewe vir groepe en puik kampeerplekke vir woonwaens en tente. Dit smelt met die asemrowende Kalahari-omgewing saam. Van die diere soos springbokke en duikertjies wei dikwels óm die blyplekke.

OOK TE DOEN: Een van die voordele van Witsand is dat jy oral in die reservaat kan rondstap. Langs die botaniese wanelpad van 3,2 km word handevol inheemse bome en struike aangedui soos die witgatwortel, rosyntjiebos, vaalkameelbome en blinkblaar-wag-'n-bietjiebossie.

VIR MEER INLIGTING: Loer by http://www.witsandkalahari.co.za/ of bel 053-313-1061/2.

Sunday, November 8, 2009

Bariloche



- Jens Friis
DIT gebeur nie aldag dat 'n ganse stad omring word deur 'n nasionale park nie.
Maar Bariloche is darem ook nie sommer net nóg 'n Suid-Amerikaanse stad nie.
Dis immers met rede dat dit naas die veel groter Buenos Aires die gewildste stad in Argentinië is. Ja, Bariloche is 'n móét as jy op dié deel van die aardbol kom - nie net vir sy sjokolade-, bier- en soetgoedwinkels nie, maar ook omdat dit die toegangspoort is na Patagonië.
Bariloche is so na aan paradys as kan kom met sy donkergroen, mosbegroeide woude, plate varings, afgronde, gletsers en mere waarin die Andes onderstebo weerkaats.
Dit sien jy nog vóór die landing by die lughawe van San Carlos de Bariloche, of eenvoudig Bariloche - 1 621 km suidwes van Buenos Aires.
En as jy op jou bagasie wag is dit interessant om te let wat toeriste alles hierheen saambring. Ski-toerusting tot kano's en allerhande ander bagasie wat ek nog nooit vantevore gesien het nie, vertel dat hier 'n magdom buitelug-aktiwiteite wag.
Dan is daar ook nog bootvaarte op spieëlgladde mere, eersteklas restaurante en ontelbare inkopie-geleenthede. Besoekers kan inderdaad dae hier deurbring ongeag die seisoen.
Nietemin is somers by verre die gewildste, want as die eerste wit val kan dit bibberkoud hier word. Maar selfs dan is die hotelle en herberge nooit leeg nie, want dan kom die ski-entoesiaste.
Een van hulle was 'n Rus uit Vladiwostok wat ons raakgeloop het laat-herfs. Sy Engels was maar power, maar langs 'n knetterende vuur in 'n restaurant kon ons met die nodige handgebare lekker lank gesels en agterkom dat hy wag dat die koue die nodige sneeu bring, want Bariloche se kontrei is sy gunsteling ski-plek.
Maar Bariloche se gewildheid het ook reeds 'n lelike merk gelaat. Weens hordes Argentyne wat vakansietyd uit Buenos Aires vlug, ‘n immergroeiende toerismeindustrie, en twee dekades van ongereguleerde ontwikkelings is Bariloche nie meer die idillies bergdorp van eens nie.
En die Rus het vertel dat hy soms nogal oorweldig voel deur die hoeveelheid lelike woonstelbokke, disko's en derduisende mense in die middedorp - veral van mid-Desember tot die einde-Februarie.
Tog is brokke van die aanloklike, eertydse argitektuur steeds sigbaar wat Duitse, Switserse en Engelse immigrante agtergelaat het. En gelukkig lê Bariloche in die middel van die Nahuel Huapi Nasionale Park en word omring deur 'n reuse meer met dieselfde naam.
Dus is mens altyd naby aan die mooi. Ry dus net uit die dorp en jy is weer omring deur digte woude, silwerskoon mere, en ysbedekte bergpieke.
As jy smag na ‘n stil vakansie is dit dus wys om eerder buite die stad te bespreek soos langs die pad na die Llao Llao-skiereiland.
Vanaf die punt van dié skiereiland vertrek bote na Puerto Blest vir ‘n voldagtoer. Hierdie vaarte gaan deur tipiese fjords en digte plantegroei bekend as die Valdiviese Woude.
Van Puerto Blest is daar ‘n busrit na Laguna Frías, gevolg deur ‘n bootrit na Puerta Frías en dan terug na Puerto Blest. Die terugtog na Puerto Pañuelo sluit ‘n stop in by die Los Cántaros-waterval. Daar is ‘n restaurant by Puerto Blest, maar jy kan ook ‘n piekniekmandjie saambring.
En nes Bariloche is Nahuel Huapi 'n lieflings-aandoenplek: dis Argentinië se oudste en gewildste nasionale park.
Die hoofaantrekkingskrag is die 3 500 m hoë onaktiewe vulkaan, Tronador oftewel Donder. Dit heet só weens die rumoer wat die ys maak wat tuimel vanaf sy piek.
Maar die park is ook bekend vir die Nahuel Huapi-meer wat deur gletsers gevorm word, sy skiereilande bedek met woude en waterweë wat vergelyk word met dié in Suid-Patagonië en die fjords van Noorweë. Winters word die park se ander oorheersende piek, Cerro Catedral, ‘n gewilde ski-oord.
Nou-ja, hoef ek meer te vertel? Wat se aanmoediging wil jy nóg hê om in Bariloche se paradyswêreld 'n draai te kom maak?

Thursday, November 5, 2009

Groenhuis Gastehuis, www.philippolis.co.za


Spierwitter kan dié strand se sand skaars


- Jens Friis
SOOS hulle in "Let the river run" sing, "dié blou is die kleur wat jy nie eens sien in die oë van jou minnaar nie."
Tog is die kleur van die Great Barrier Reef se water nie die enigste van sy soort ter wêreld nie. By die Secyhelles en Italiaanse Riviera is die waters immers ook só 'n besonderse deurskynende turkoois.
Maar van Whiteheaven Beach, telkens al aangewys as die mooiste ter wêreld, is daar beslis nie nóg een nie. Hiervan maak die kleur van dié strand se sand seker: Spierwitter kan dit nie. Só blink dit byvoorbeeld in jou oë dat jy 'n sonbril móét dra.
Ook as jy langs die 7 km lange strand stap kan jy hoor dié is letterlik 'n perd van 'n ander kleur. Elke keer wat jy jou voet neersit klink dit soos die geblaf van robbe.
Die rede?
Whiteheaven Beach bestaan uit 99% suiwer silika. Só suiwer is dit dat die Hubble-teleskoop se lens grootliks van dié silika gemaak is.
Was dit nie dat die Great Barrier Reef 'n Wêrelderfenisgebied is nie, sou 'n mynmaatskappy waarskynlik lankal reeds dié sand ontgin het.
Oor die sand se oorsprong is daar groot onsekerheid, maar sekere geoloë meen dit kom van ver, want die Whitsunday-eilande se rotse is kwartsarm.
'n Moontlikheid is dat die silikasand deur 'n seestroom meegevoer word vanaf die suide van die Queenslandkus. Volgens dié teorie word swaar minerale stowwe en ander onsuiwerhede uitgewas tydens dié lange reis wat slegs die kwartssand agterlaat. Daar is vermoedelik 'n maling by die Whitsunday-eilande wat dan die oorblywende sand hier laat uitsif.
'n Ander teorie is die volgende: As koraal afbreek in storms word dit wit as dit doodgaan en kom dan tot ruste op 'n hoop onder die branders. Oor miljoene jare stapel dié koraal dan só op dat dit later uit die see toorn en 'n eiland vorm. Só word dan van die suiwerste wit sand in die ganse Great Barrier Reef gevorm.
Hoe dit ook al sy, toe afdelingsoffissier E.P. Bedwell in 1879 die eerste was om hier voet aan wal te sit, het dit weinig anders gelyk as vandag. James Cook het reeds in 1770 hier rondgeseil en die eilandgroep The Cumberland Islands gedoop, maar dit was hom nooit beskore om The Beach, soos Whiteheaven ook bekend staan, te aanskou nie.
Whiteheaven is beslis een van dié plekke wat my vir ewig sal bybly. Soos 'n vriend wat in Brisbane woon opgemerk het: "The Beach is the epitome of paradise found. If there's one dream you can realize in life, it's experiencing this natural wonder."
SOU JY GAAN ...
* WAAR PRESIES IS WHITEHEAVEN BEACH? Dis op die Whitsunday Island, die grootste van die 74 eilande genaamd die Whitsundays, langs die noordoostelike kus van Queensland, Australië.
* HOE KOM EK DAAR? Kleinerige veerbote en luukse jagte vertrek daagliks van Airlie Beach na Whiteheaven Beach. Seevliegtuie en helikopters doen ook gereeld hier aan. Die meeste van die bote wat oornag op die waters van die Great Barrier Reef maak ook by Whiteheaven 'n draai - en so behoort ook jy!
* HOEVEEL KOS DIT? Daar is nie 'n goedkoop manier om by Whiteheaven te kom nie en jy sal 'n ekstra duisend of drie by jou vakansiebegroting moet tel as jy na dié droomstrand wil gaan. Sommige opsies soos die veerbote is bloot goedkoper as byvoorbeeld 'n seevliegtuigie met net plek vir ses mense.
* WAT KAN EK DOEN? Swem, stap, snorkel en hou piekniek. Wees op die uitkyk vir skole kleurvolle "mak" visse wat sommer tussen jou bene sal deurswem.
* 'N BESONDERSE ERVARING is om 'n hand van die skoon, suiwer sand te vat en jou lyf daarmee in te smeer. Hierdie klam, fyn "sout" waarborg een van die allerbeste masserings denkbaar.
* ONTHOU jou sonbril, swemklere, sonbrandolie, snorkeltoerusting, handdoek, drink- en eetgoed, maar sandale is nie nodig nie, want selfs op 'n snikhete dag voel die silikasand koel weens sy kompakte struktuur en omdat dit die sonstrale wegkaats.

Maak jou Paryse-kuiertjie só bekostigbaar


Jy kan langs die Seine sit en 'n baguette-en-kaas eet, maar daar is genadiglik ook ander maniere om geld in Parys te spaar, skryf JENS FRIIS ná 'n onlangse besoek. Hier's raad.
* Sekerlik die beste manier om Parys te sien is met 'n een-uur een-rigting rit op die No. 69 bus teen €1,30. Die roete begin en eindig by twee bekende toeriste bestemmings, naamlik die Eiffeltoring in die weste (langs Avenue Joseph Bouvard) en eindig in die ooste by die Père Lachaise-begraafplaas. Die ooswaartse roete gaan verby Les Invalides, die Seine-rivier, die Louvre, die Hôtel de Ville, die Marais en die Place de la Bastille. Veral Franse gebruik dié bus en weinig toeriste.
* Drink die somerson in op 'n sonstoel in die Jardin du Luxembourg, Parys se elegantste park. Dis ook 'n ideale plek vir een van die grootste demokratiserende instellings, naamlik 'n piekniek.
* Op Donderdagaand het baie galerye, veral in die Marais, openingsaande waar Franse wyn vrylik vloei.
* Die Vélib-fietsdiens is in 2007 geloods. Meer as 20 000 fietse staan in geoutomatiseerde rakke oraloor. Gebruik jou kredietkaart of andersins moet jy 'n sewedag-kaartjie teen €5 aanskaf. Hiermee saam kry 'n pasella Paris a Vélo-kaart met fietsroetes.
* Eet vir 'n appel en 'n ei by die oud-werkerskantien, Chartier, langs 7 rue du Faubourg-Montmartre (Metro Grands Boulevards).
* Oorweeg die Hôtel des Arts Bastille (2 rue Godefroy Cavaignac) vir blyplek. Teen €59 vir 'n dubbelkamer sal jy nie veel beter kan doen nie.
* Binnekort sal dit moontlik wees vir individue om 'n kaartjie aanlyn te koop om teen die Eiffeltoring op te gaan. Die prys (sowat R175) sal dieselfde wees as wanneer jy in 'n ellelange ry dit sou aanskaf aan die voet van dié toring. Hou http://www.toureiffel.fr/ dop.
* Die boheemse, bekostigbare rue Mouffetard-mark (Metro Cardinal Lemoine) is een van die oudste in die stad. Doen Dinsdag- tot Sondagoggende hier inkopies.
* Betoon eer aan Edith Piaf, Oscar Wild en ander bekende inwoners in die Père Lachaise-begraafplaas (Metro Père Lachaise).
* Soek na winskopies by die reuse antiek- en vlooimark, Les Puces de St-Quen (Metro Porte de Clignancourt).
* Toegang tot die tuin van die Musée Rodin is slegs €1. Talle van Rodin se bekendste werke staan hier.
* In die voetgangervriendelike Marais-woonbuurt gaan dit jou nie 'n sent kos nie om Victor Hugo se huis te sien of die Musée Cognacq-Jay. Een van my gunstelinge is die Musée Carnavalet (23 rue de Sévigné) wat ook geen toegang vra nie. Dié museum word gehuisves in pragtige 16de eeuse herehuise en bied 'n blik op Parys se geskiedenis deur die eeue. Ook die Centre Pompidou is verniet as jy jou dinge so kan reël dat jy hier is op die eerste Sondag van die maand.
* Die Fragonard-parfuummuseum vra geen toegang nie en so is ook die Notre Dame verniet. Gaan na dié katedraal vroegoggend of op weeksdae, want anders word jy vertrap.
* Toeriste wat genoeg gehad het van museums kan 'n draai maak by die haute couture, prêt-à-porter modevertonings op die sewende vloer van die Galeries Lafayette-vlagskipwinkel op Vrydae om 15:00. Beide mans en vroue modes word vertoon. Dit kos nie 'n sent nie. Besprekings is 'n moet (http://www.galerieslafayette.com/). Die Le Printemps-vlagskipwinkel oor die straat bied 'n soortgelyke modevertoning op Dinsdae om 10:00.
* Dis om twee verdere redes die moeite werd om die Galeries Lafayette-vlagskipwinkel (langs die Operahuis) te besoek. Die indrukwekkende, kleurvolle glaskoepel is só groot dat dit nie sommer inpas op 'n foto nie, selfs al gebruik jy 'n wyehoeklens. En vanaf dié winkel (wat nie sleg afsteek teen Harrods in Londen nie) se dak het jy 'n 360-grade blik oor die Franse hoofstad.
* Gebruik die moltrein. Jy gaan goedkoop by baie meer plekke só vinnig uitkom as om te sukkel met 'n taxi. 'n Kaartjie kos €1,60 of skaf 10 (un carnet) aan vir €11,40. As jy in Parys gaan wees van Maandag tot Sondag, of as jy beplan om die Métro gereeld te gebruik, sal dit loon om te belê in 'n Navigo-kaart. Dié kaart kos €5 en jy kan soveel rondry as wat jy wil vir 'n bykomende €16,80. Bêre die kaart veilig as jy terug is in Suid-Afrika, want met jou volgende besoek kan jy dit weer gebruik.