Friday, May 14, 2010

Klaarstroom

ONTHOU jy daai Klipdrift-advertensie waar die stasiemeester ook die posmeester én die burgemeester is?
Die “met eisj, ja”-mense het waarskynlik na ‘n eenmansdorpie gesoek en daarom op Klaarstroom besluit, maar dié plaasdorp aan die mond van Meiringspoort was om nóg ‘n rede ‘n goeie keuse vir verfilming.
Die Swartberg se helderskoon (“clear”) strome wat na Klaarstroom (van daar die dorp se naam) vloei, is ideaal vir die maak van witblits en só is ook die druiwe uit dié kontrei. Die druiweboere sal jou sê dié hardehout vergelyk met die beste Franse konjak. Die rede hiervoor lê in die klimaat. Benewens die stroospoet hanepootdruiwe waarvan die suikergehalte in dié droë wêreld hoog is, lewer dit ‘n ideale brandewyndruif.
Rose Willis, Karoo-historikus, het eens opgemerk Klaarstroom is soos die mitiese Brigadoon. “Party mense sien dit en ander nie” (en des te meer met ‘n glas Klipdrift agter die blad! Die meeste mense wat van Beaufort-Wes na Oudtshoorn deur Meiringspoort reis ry dié klein dorpie skoon mis sonder dat hulle dit besef.
Kleintyd het ook ons vakansie hier verby gesnel na Hartenbos. Maar nie te lank gelede het ‘n foto van Klaarstroom my aandag getrek en ná ‘n kuier in die Klein Karoo en die onlangse fees in Oudsthoorn het ons hier aangedoen - vir die eerste keer. Die ellelange stuk pad na Beaufort-wes moes eers wag.
Op dié dag is dit stil – selfs stiller as wat dit gewoonweg moet wees – want dis reënerig, koel en douvoordag op dié Sondagmôre. Soos in baie dorpies is daar meer kerkies as mense op straat. Maar een se konsistoriedeur staan oop en dit lyk of die kerkraad vergadering hou voor kerk. Die ouderlinge en diakens is gepak en gedas, in swart en wit, soos jy deesdae selde sien.
Weens die grootpad waarop die mensdom verbyswiep het die wêreld vir jare van Klaarstroom vergeet. En só het die dorp byvoorbeeld eers in 1996 elektrisiteit gekry.
Maar dis ook danksy dié pad dat Klaarstroom in deeske dae nie “klaar” is nie. Hier is geboue en ongerepte dorpstonele wat weinig verander het in die afgelope eeu. Stedelinge het 'n hunkering hierna, want dít vind jy selde.
Dis in die 1990’s wat natuurliefhebbers dié dorpie “herontdek” het. Maar die woord het vinnig versprei oor Klaarstroom se goed bewaarde geboue, rustigheid en uitsig op die Swartberg. Daar word vertel selfs die skone Minki van der Westhuizen wou nie te lank gelede een van Klaarstroom se twee dosyne Karoo-Victoriaanse huise koop.
Nes Pietersburg in Limpopo wat deesdae Polokwane heet, is Klaarstroom ook aanvanklik Pietersburg gedoop. Maar dié naamsverandering het in toeka se dae al plaasgevind. Dit het só gebeur …
In 1858 is Meiringspoort geopen en Klaarstroom het spoedig hierna gevolg as ‘n afsaalplek vir transportwaens, handelaars, reisigers en die poskoets. ‘n Hotel en winkels het hul deure geopen en in 1860 is 27 erwe uitgelê op die plaas De Klaare Stroom. Die nuwe dorp sou Pietersburg heet, maar dié nuwe naam het nie aanklank in die volksmond gevind nie en De Klaare Stroom het Klaarstroom geword.
In die fleur van sy lewe kon Klaarstroom ook spog met 'n slagter, smit en meulenaar. ‘n Anglikaanse Kerk, The Church of the Good Shepherd, sou in 1880 volg en ‘n Nederduits-Gereformeerde Kerk is in 1926 gebou.
Een van die interessantste karakters wat hier gewoon het was Adolph Gustave Bernhardt, ‘n jong Duitser wat die wolwassery oorgeneem het. Hy het ook ‘n winkel en goeie bande met Europese groothandelaars gehad. Só was die jongste modes en nuwighede van oorsee altyd in dié kleine nedersetting beskikbaar.
Dit was ook in doerie jare wat Deneys Reits en sy kommando onderweg na Jan Smuts deur Klaarstroom gegalop het. Dié Brits-beheerde dorp was in rep en roer. “Die honde het geblaf, vensters het oopgegaan en soldate het die straat in gehardloop,” skryf Reitz in Commando.
Maar sulke “opwinding” gebeur daar selde in Klaarstroom. Genadiglik. Selfs deesdae is dit kalm by die polisiekantoor (dalk die mooiste in die land?), want hier in Klaarstroom i die misdaadsyfer laag.
Die rantjie skuins oorkant die polisiekantoor bied ‘n onvergeetlike blik op die Swartberg en die krakende Karoo-vlaktes. Gaan sit laatmiddag hier en kyk hoe die son dié berg se plooie kleur. Dis 'n oomblik om te preserveer. En dis selfs nóg mooier as jy dié uitsig wil vier met ‘n skemerkelkie - beter as ‘n skeutjie plaaslike witblits, kan jy nie.
Die stokers sal jou vertel dat witblits van druiwe kom en mampoer van ander vrugte. Maar die eindproduk bly dieselfde: boerebrandewyn.
Moenie volgende keer wéér die tuiste van die Klipdrift-ad misry nie!

WERD OM TE WEET (kassie)
* Klaarstroom is in die Groot-Karoo by die noordelike ingang na Meiringspoort. De Rust is 23 km suid aan die Klein-Karoo se kant, Prins Albert 60 km oos en Uniondale 95 km noordwes – almal dorpies wat jy met vrug van hier kan gaan verken.
* Klaarstroom-gastehuis (023-5411-474 of 082-4888-370) langs die hoofstraat vra R300 p.p. vir bed en ontbyt en R95 ekstra vir aandete. Besprekings is veral noodsaaklik tydens die Desember-skoolvakansie, die KKNK en die Meiringspoort-halfmarathon in die lente.
* Voordat jy die pad vat na Beaufort-Wes is Poort-Pourri die laaste gebou aan jou linkerkant. Skaf hier 'n allerlei goete aan soos knalpienk volstruisveerstoffers en boeke van ouds. Moenie vergeet om hier ‘n yskoue koeldrank te koop nie. Helaas g’n hardehout vir jou nie, want Beaufort-Wes wag 130 km ver.
* Lees dié boeke voordat jy gaan kuier: The Great Karoo deur Leon Nell (Struik, 2008), The Karoo Cookbook saamgestel deur Rose Willis (Struik, 2008), Swartberg en sy mense deur Sue van Waart (Lapa, 2001) en Karoo Keepsakes van Chris Marais & Julienne du Toit (MLM, 2009).
* Vir meer inligting: www.klaarstroom.co.za.