Sunday, March 14, 2010

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073


Thula Thula




Toe Irak aan die brand was het Lawrence Anthony sterwende leeus in die Baghdad-wildtuin gaan red. Nou bied hy 'n tuiste vir olifante wat elders moeilikheid gemaak het in sy wildtuin in die hart van Zoeloeland. JENS FRIIS het gaan inloer om uit te vind waarom bekendes soos Julio Iglesias tot pres. Jacob Zuma hier kom uitspan.
HOOR jy die naam Thula Thula, kom 'n plek van rus en vrede by jou op soos in die bekende Zoeloe-wiegeliedjie. Dis dan ook wat Thula Thula deur die jare geword het: méér as net 'n wildreservaat vir toeriste en 'n blyplek vir wilde diere. In Afrikaans is daar nie 'n pasklaar woord vir "sanctuary" nie, maar "toevlugsoord" of "geslote jagtyd" sou kon doen. Beide dié vertalings spréék tot Lawrence Anthony, die eienaar van dié wildtuin, want dis hoe hy Thula Thula sou wou beskryf.
Sprekend hiervan is 'n trop olifante wat elders moeilikheid gemaak het en nou 'n nuwe tuiste by Thula Thula gevind het. Anthony het hulle gerehabiliteer tot so ‘n mate dat hulle nou selfs nader kom as hy hulle roep. Hy is oortuig dié diere, en veral die matriarg Nana, ken hom. Daar word vertel as Lawrence tuiskom ná ‘n lang reis kom groet die olifante hom. En dis oor hierdie spesiale verbintenis tussen mens en dier wat sy boek, The Elephant Whisperer, gaan.
Ons gesels op die stoep van Thula Thula se basiskamp terwyl Anthony, die omgewingsbewaarder, die een na die ander klaargerookte sigaret dooddruk.
Dis met trots wat Anthony vertel van die talle diere in die Baghdad-dieretuin wat hy gered tydens die oorlog in Irak. "Dié dieretuin was die grootste in die Midde-Ooste, maar omtrent die meeste diere het gevrek weens honger en dors, want daar was niemand wat vir hul omgegee het nie."
As kind het dit 'n geweldige indruk op hom gemaak hoe diere in Duitse dieretuine gevrek het tydens die Tweede Wêreldoorlog. "Dieselfde het gebeur in Kosovo en Afghanistan. Ek kon nie toelaat dat dit ook in Baghdad gebeur nie."
Só is Anthony toe na dié oorlog-geteisterde stad met 'n goeie voorraad dieremedisyne. En genadiglik kon hy van die inwoners en soldate oortuig om hom te help en die diere te red. Dié storie vertel hy in Babylon's Ark, 'n boek wat selfs die aandag van Hollywood getrek het. Deesdae is die Baghdad-dieretuin weer 'n groot aantrekkingskrag en lok jaarliks 5 miljoen besoekers per jaar.
Anthony was altoos geïnteresseerd in omgewingsbewaring. Toe Thula Thula, die oudste private wildtuin in Kwazulu-Natal, teen die mid-1990’s in die mark kom het hy sy eiendomsontwikkelingsbesigheid verkoop en sy bewaringsbelangstellig sy nuwe beroep gemaak.
Hy en sy vrou Francoise, 'n elegante Parysenaar, het mekaar ontmoet in Londen terwyl beide op 'n taxi gewag het. Vandat hulle op Thula Thula woon probeer hulle die plaaslike Zoeloes help om die omgewing se natuurlike hulpbronne te ontsluit deur ekotoerisme.
Die area se kulturele en natuurlewe erfenis kan eeue teruggespoor word. Só was dit eens die legendariese jaggrond van koning Shaka. Boonop is Umfolozi, die oudste wildtuin van sy soort in Afrika, is net 'n klipgooi ver. Umfolozi dateer uit 1895 en word gereken as dié reservaat wat die witrenoster van uitwissing gered het.
Vir 15 jaar probeer Anthony reeds die omringende Zulu-stamme oortuig om hul grond op te gee en 'n nuwe, groot wildtuin te vorm. Hy glo dit sal werk skep deur toerisme en die omgewing beskerm teen toekomstige ontwikkelings.
"Stropers slaan reeds al hoe minder toe op Thula Thula, want die gemeenskap besef watter voordele toeriste inhou. Boonop is dié wêreld meer geskik vir wilde diere as bokke of beeste."
Ná ons kuiertjie met Anthony die vorige aand, is ons die volgende oggend douvoordag op. 'n Ervare gids gaan ons die bosse invat tydens 'n wildsrit.
Maar op dié oggend is Thula Thula se bekende olifante nie lus om gesig te wys nie. Ons sien net een grys kolos waar hy vroegoggend nog dut tussen ruie bosse. Die res van die olifanttrop speel wegkruipertjie.
Maar dis glo hoog uitsonderlik dat jy hulle nié sien nie. En soos enigeen weet: wildkyk is soos dobbel. In Lawrence se woorde: “It’s just luck.”
Waarvoor ek wel pa kan staan is dat jy hier ‘n allemintige hoeveelheid uiteenlopende voëls in ‘n klein area sien. By die 370 voëlspesies is al getel en dit het byna geklink soos die Aandlied van die Voëls!
Ons wildsrit het ‘n bevredigende hoeveelheid buffels, sebras, kameelperde en koedoes opgelewer.
Ook het die gids die rit opgekikker met allerhande fabels en feite soos dat die rooibokke hul lammetjies tot twee maande langer kan dra as die reën nie wil kom nie, en dat die erdvarke hul gate snags vir die vlakvarke leen om in te slaap. Soos hy sê: “It’s almost something like time-sharing”.
Die meeste etes by Thula Thula word in die buitelug bedien. Aan die stuur van dié al fresco-etes staan Francoise wat die beste van die Franse kookkuns met die plaaslike vermeng het en dit “Franco-Zoeloe cuisine” gedoop het. Francoise was met ons kuier in Frankryk omdat ‘n familielid siek was, maar ons kon nietemin weglê aan haar kleurvolle, soms ongewone disse.
Ook die chalets se versierings sou beskryf kon word as ‘n vermenging van koloniale Franse grandeur en koninklike Zoeloe-styl. Só is daar ryklik gebruik gemaak van luiperdvelmotiewe teenoor goud, glas en hemelbeddens.
Maar as jy nader aan die natuur wil oornag is die luukse Tentkamp dié plek. Die interieur hiervan is baie meer aards en die kleurskema neutraal. By Thula Thula is nie malaria-muskiete nie, maar muskietnette oor die beddens van die agt tente sorg nietemin dat jy rustig kan slaap. Elke tent het ‘n en-suite badkamer met ‘n Victoriaanse-bad of ‘n buite-stort.
Bedags kan jy in die Tentkamp se swembad ronddryf en kyk hoe die diere kom en gaan óf ‘n uiltjie knip in ‘n hangmat langs die Nselenirivier. Saans is die beskutte boma die plek om weg te lê aan braaivleis en potjiekos terwyl die vuurvlamme die donker nag ophelder.
Ja, rustiger kan dit skaars in Afrika. Wat kan jy méér verlang van Thula Thula?
SOU JY GAAN
· Ry van Durban sowat 2 ure noord met die N2 tot by die Richardsbaai-afrit. Draai hier links. Na omtrent 15 km sal jy die eerste van Thula Thula se padaanduiders sien. Die reservaat is sowat 20 km verder. Die laaste 9 km is ‘n grondpad. Met ons besoek was dit erg gespoel en dis wys om hier stadig te ry.
· Andersins kan jy na die Richardsbaai-lughawe vlieg óf Thula Thula se 700 m-landingstrook gebruik.
· Moenie jou sonbril, sonbrandolie, pet, verkyker en kamera tuis vergeet nie.
· Meer inligting: www.thulathula.com of bel 035-792-8322.