Thursday, March 31, 2011

Omsirkel SA se 2de grootste dam

- Jens Friis VLIEG jy van die Kaap Johannesburg toe lê die Vanderkloof, Suid-Afrika se tweede grootste dam, wes van jou. En as jy van die Kaap Bloemfontein toe vlieg, vlieg jy gewoonlik só oor dié dam dat jy nie eens sy wal kan sien nie. Dié eertydse P.K. le Roux-dam is 'n baken, want as jy oor Touwsrivier vlieg sien jy gewoonlik vir die volgende 600 km geen plek weer vaan die beskawing vatplek gekry het nie. Die eerste wat jy dan weer te eien kry is die Vanderkloofdam. Hoewel hy in die Gariep is, is sy water gewoonlik allermins oranje. Uit die lig is dit eerder 'n bleekgroen, maar met die onlangse vloede het dit verkleur tot 'n sjokoladebruin. Dit was juis tóé wat ek besluit het die tyd is ryper as ooit vir iets wat ek al lankal wou doen: om óm Suid-Afrika se tweede grootste dam te ry. Dis 'n harde wêreld dié waar die son gewoonlik barste in die grond brand, maar vanjaar is dit genadiglik anders. Al 310 km staan die gras kniehoogte en verberg die Karoo-bossies. Opdrifsels hang aan heinings se boonste drade. Die skape is moddervet. In só 'n jaar klink dit onwerklik dat die pypleiding van die Oranjerivier na Colesberg (waar ons reis begin) vergroot moet word. NÁ jare se waterprobleme gaan Colesberg hopelik later vanjaar genoeg water hê. Dié Noord-Kaapse dorp kry reeds etlike jare lank water van die Oranjerivier sowat 30 km noord van Colesberg. Maar die pyp daarheen het deur die jare te klein geword, omdat Colesberg onder meer gegroei en spoeltoilette gekry het. Daarom word ’n nuwe pypleiding nou aangelê. Daar is onlangs met die lê van die pype begin en dit moet binne 40 weke voltooi wees – voor die einde van die jaar wanneer baie toeriste weer hier sal oorslaap op pad see toe. Die R717 van Colesberg na Philippolis (55 km) is 'n stil teerpad wat die eertydse N1 tussen Kaapstad en Johannesburg was tot 1972. Dis 'n lekker alternatiewe roete tot die besige N1. Dit lei deur pragtige rantjieswêreld en bied een van die beste uitkykpunte op die die Oranjerivier vanaf die Serfonteinbrug wat die Noord-Kaap met die Vrystaat verbind. Daar is parkeerplek aan beide kante van die brug en omdat hier min verkeer is, kan jy tot in die middel van die brug loop vir 'n breë blik op Suid-Afrika se langste rivier. Buiten vir 'n boorgat of twee kry Philippolis, nes Colesberg, sy drinkwater vanuit die Oranjerivier. En die pypleiding loop van die rivier tot by die dorp feitlik reg langs die teerpad. Dis net by Waterkloof, 'n klein nedersetting kort voor Philippolis, wat die pypleiding kortpad kies. Maar die teerpad loop deur Waterkloof, want die Waterkloofse stemgeregtigdes het glo eens gedreig dat as die pad nie deur hul dorpie loop nie, hulle nie vir 'n sekere kandidaat gaan stem nie. Die Vanderkloofdam stoot op tot sowat 10 km vanaf die Serfonteinbrug wat beteken dat die Vanderkloof feitlik die hele suidelike grens van die Philippolis-distrik vorm wes van dié brug. Dis 'n lang ent, want die Vanderkloof stoot sowat 90 km op. Dié wêreld is grootliks ongerep omdat dit haas onbegaanbaar is langs die rivier. Hier is berge en dale, ravyne en opeengestapelde dolomietrotse soos wat jy nie verwag in die Vrystaat nie. Beleggers het dit raakgesien en stil-stil die een na die ander plaas opgekoop. So het dit gebeur dat die grootste deel van die suidelike distriksgrens nou jagplase is wat buitelanders van oraloor lok. Hieronder tel ook die enorme Laohu-reservaat van 33 000 ha waar geteel word met die hoogs bedreigde Suid-Chinese tier. Slegs 'n klein deeltjie van die reservaat word vir die tierprojek gebruik. Honderde  diere  is  al  hier hervestig en hulle beoog nou ook om vrylopende jagluiperds, ’n simbool van die Vrystaat, hierheen te bring. Helaas is Laohu nie oop vir die publiek nie, maar wel John Varty se wildplaas waar onder meer tiere te sien is. Die uitdraaiplek na Varty se plaas is 1 km uit Philippolis op die Luckhoff-teerpad. Die rigtingwysers dui hier aan dat Luckhoff 84 km ver is. Dis 'n geslane ent, want dis heelpad grondpad. Dis dus wys om koeldrank en petrol in Philippolis aan te skaf. Dié 85 km is die langste afstand tussen twee dorpe op die roete van 310 km.