Monday, July 23, 2012

Hotel met 'n uitsig

JENS FRIIS het oorgebly in 'n hotel met een van die allerbeste uitsigte langs die Tuinroete. As jy soek na 'n besonderse plek om jou geliefde (of jouself) te bederf, verloof te raak of vir wittebrood te gaan, is die Views Boutique Hotel in Wildernis hoog op my lysie. Hier op 'n enorme duin is dié eksklusiewe vyfster boetiekhotel nie te lank gelede staangemaak. Die pasklaar naam sê alles: dié luukse kleiner hotel (Boutique Hotel) het voorwaar 'n panoramiese uitsig (View). Só hoog troon dit bokant die strand uit dat dit waarlikwaar voel of jy bo-op die waters van die Indiese Oseaan dryf. In die ooste voer die kuslyn jou oog so ver as wat die oog kan sien in die rigting van Knysna, suid verdwyn die see in Antarktika se rigting, oos sien jy drie of vier huisies uitsteek van Victoriabaai en agter jou waak die Outentiekwa-berge. Ja, dis 'n area ryk aan skoonheid en dinge om te doen, maar dié is só 'n besonderse hotel dat jy waarskynlik nooit sy deure sal wil verlaat nie. Views Boutiquel Hotel verlei jou om van die gewone wêreld te vergeet sodat jy al te geneë is om weinig te wil doen in 'n omgewing waar alles byderhand is. Só is die ruim kamers - in blou, wit en beige - voorsien van ekstras soos 'n espresso-masjien, reuse platskerm-TV, multi-mediapseler en iPod-koppelings. Hortjies skei die badkamer van die slaapkamer, maar dié kan jy ooptrek en só 'n kollosale vertrek skep. Slegs 'n ekstra-grootte ovaalbad verdeel dan dié twee ruimtes. Daar is nie ingeboet op plek om soveel hotelkamers moontlik te kon indruk nie. Ruimte is byvoorbeeld gelaat vir 'n groot dubbelstort en twéé wasbakke. Winters verdryf verhitte handdoekrelings en ondervloerse verhitting die hoendervleis as jy uit die stort of bad klim. Verlaat jy jou spogkamer wag 'n verrassing in die glashysbak. Dié ry heen en weer verby 'n spiraal nagemaakte vissies wat in sirkels "swem". Jy sou sweerlik kon dink jy's in 'n duikboot! Die allerlekkerste lekker vir my was om op dié hotel se dakdek in die son te lê, my tone te tel, of ver verby my voete te kyk na die waters van die Indiese Oseaan dóér onder. Laat-middag sou ons dieselfde doen op ons kamerbalkon wat suid én wes front. Jy kan dus kyk hoe die son sterf agter die heuwels wat Victoriabaai omring voordat jy gaan aansit vir 'n liplekker maaltyd. Maar die hotel bied handevol meer waaronder die Views Spa waar jy onder meer in 'n soutbad kan dryf of kan gaan sweet in die volledig-toerguste gim. Daar is ook 'n twaalf-sitplek mediasaal en 'n kamer met Wii-speletjies. Weens die hoë ligging van die hotel reg langs die strand en see, trek die wind goed hier. Dis daarom gewild onder valskermswewers en vlieërbranderplankryers. Wildernis is in die hart van die Tuinroete en gevolglik is bergfietsroetes tot woudstaptogte net 'n klipgooi ver. Oorweeg dié hotel beslis as jy weer in dié geweste kom - jy sal verkwik weggaan. >>>Aparte blokkie, asb. SOU JY WOU GAAN * Views Boutique Hotel & Spa in Wildernis, is 20 minute vanaf die George-lughawe. * Buite-seisoen (1 Mei tot 30 September) kos 'n dubbelkamer met 'n see-uitsig vanaf R1600. Daar is gereeld spesiale aanbiedings waar jy 'n ekstra nag verniet kry as jy 'n paar nagte bly of komplimentêre spa-behandelings op die koop toe. * As jy by dié vyfster boetiekhotel wil bespreek, bel 044-877-8000 of skryf aan info@viewshotel.co.za of reservations@viewshotel.co.za * Vir meer inligting loer by www.viewshotel.co.za of www.mantiscollection.com.

Monday, July 16, 2012

Groenhuis Guesthouse / Accommodation Philippolis

Noord-Kaapse plaas het ryk geskiedenis

- Jens Friis Naby die Magersfontein-slagveld lê 'n plaas met 'n besondere ryk geskiedenis. Hoewel dié plaas naby die grens van die Noord-Kaap en Vrystaat is, herinner die Kaaps-Hollandse opstal sterk aan die Boland - waar sy eertydse eienaars dan ook vandaan kom. Nes die woonhuis is die perdestalle sorgsaam gerestoureer en met antieke meubels versier. Dié stalle is gebruik vir die teel van Clydesdale-perde wat aan delwers verkoop is om swaar vragte diamantgrond uit die oop myn in Kimberley te verwyder. Luidens 'n inligtingstuk is "Langberg op 7 November 1890 deur die Goewerneur van Haar Majesteit Koningin Victoria, Koningin van Groot Brittanje en Ierland, ingevolge 'n huurpagstelsel teen 9 pond en 5 sjeilings per jaar aan Pieter Johannes Marais verhuur en uiteindelik teen 'n onbekende bedrag verkoop." Destyds was dit dalk baie, maar om 'n plaas van 7 929 hektaar (9 255 morg) vir R120 per jaar te huur, sou deesdae kleingeld wees. Pieter, of "Lang Piet" Marais was die oudste van die Marais-broers. Jannie die jongste was destyds die eienaar van die plaas Coetzenburg waarop die Universiteit van Stellenbosch vandag staan. (Dink net hoeveel is dié lap aarde deesdae werd!) Piet, Jannie en hul ander twee broers, Abraham en Christiaan het in 1870 van Stellenbosch vertrek om hul geluk te beproef op die Vaalrivier-delwerye. Maar nuus oor groot, blink klippies by Kimberley het hulle laat besluit om eerder hierheen te skuif. Die Marais-broers se pad in Kimberley was besaai met diamante. Danksy dié ongekende voorspoed koop die Marais-broers heelwat plase op waaronder Langberg. Hier sou Piet Marais met sy Clydesdale-perde boer en ook 'n allemintige 5 000 volstruise. In 1902, die jaar wat die Anglo-Boereoorlog tot 'n einde kom, koop Charles Niehaus van Tulbagh dié plaas. Sy skaapkudde van 6 000 loop egter só erg deur onder jakkalse dat hy van die plaas moet afstand doen. En só beland die plaas in 1943 in die hande van Tienie Mynhardt wat dit koop vir 25 000 pond (sowat R328 000). Sy dogter Hannah en haar man Polla Neethling boer vanaf 1948 op Langberg. En in 1982 sit Tienie Neethling en sy vrou Maritha die boerdery op Langberg voort en boer met Bonsmara-beeste, wild en olywe. Tien jaar later begin Tienie en sy personeel met restourasiewerk aan die ou perdestalle en plaasskool en voltooi dié projek in 1995 waarna die gasteplaas in gebruik geneem word. Die plaasskooltjie het tussen 1890 en 1915 as skool gedien. Hierna was dit 'n melkkamer en toe 'n kroeg. Dié Tiermelkkamer roep dorstiges om halfsewe saans wanneer die ou skoolklok oor die ysterklipkoppies van die Noord-Kaap beier.