Tuesday, December 27, 2011

Nie te mis in mid-Suid-Afrika

Hier is van die lekkerste lekkers wat JENS FRIIS bybly wat vanjaar in die weeklikse kolom Te Doen (Volksblad) verskyn het. As jy reken jy weet van iets wat in 2012 hier moet verskyn, skryf aan hom by jens.friis@volksblad.com.



EET HIER


* Salm, tuna en selfs kaviaar word elke tweede dag ingevlieg na die Kalahari Gateway-hotel op Kakamas om sushi te maak. “Dis voorwaar ‘n rariteit in die Kalahari!”, sê Aesja O’Callagahan van dié hotel langs Voortrekkerstraat. Dick Venter van die Kalahari Gateway-hotel het die eetplek begin omdat hy dol is oor sushi en Gerrie de Beer van Kaapstad bestuur dit. Self saki (ryswyn) word voorgesit. Onder die kleurvolle rolletjies tel salmrose, Kaliforniese rolletjies en “fashion sandwiches”. Vir diegene wat nie rou vis wil eet nie, is daar springbok carpaccio op die spyskaart. Loer by www.kalaharigateway.co.za of bel 054-431-0838.


* By The Horse & Mill in Colesberg kan jy aansit vir Karoo-tjoppies onder ‘n perdemeul wat gebou is in 1840. Dié meul is in 1891 op die plaas Sewefontein opgerig en in 1977 na die dorp verskuif. Beide die meul en die gebou waarin dit gehuisves word, is nasionale gedenkwaardighede. As jy van Bloemfontein Colesberg inry, is dié besondere restaurant aan jou regterkant in ‘n stil eenrigtingstraat parallel aan die hoofstraat. Daar is sitplek vir omtrent 90 mense as die solder en tuin bygetel word. Verlede Saterdagaand het vier van ons daar geëet. ‘n Rump-steak met kraakvars groenboontjies, geelwortels, skyfies en twee drankies het ‘n billike R110 elk uitgewerk. www.horseandmill.co.za


* Gaan eet by Picnic, ‘n restaurant by die Waterfront in Bloemfontein. Die prys is billik, die produkte vars, die kos geurig en jy kan oor die water uitkyk.


* ‘n Griekse filosoof het eens gesê dat dit ‘n belediging is vir beide die musikant en kok as musiek gespeel word terwyl jy eet, want jy kan nie aan een van die twee volle aandag gee nie. By die Maselspoort-restaurant buite Bloemfontein verskaf Marnie van Wyk egter sulke mooi agtergrond klaviermusiek dat dit beslis die spyse aanwakker. Bespreek vooraf vir ‘n Sondagmiddagmaal by 051-441-6050. Let ook op die foto’s van Maselspoort uit vervloeë dae wat in die restaurant hang.


* Deesdae ry ek nie Trompsburg verby sonder om ‘n brood by die Waterwielbakhuis langs Voortrekkerstraat te koop nie. Dis tuisgebak en kraakvars – nes hul beskuit.


* Vir liplekker tuisgemaakte (boere)kos, gaan na Ouma se Kombuis, 'n wegneemeetplek langs Barba's Cafe in Tweede Laan, Bloemfontein. My gunsteling is Lita Kotze se osstert (oxtail).


* Op die hoë stoep van Philippolis S’n langs Voortrekkerstraat, Philippolis, kan jy aansit by tafeltjies en afkyk hoe die wêreld verbygaan terwyl jy smul aan ‘n stuk sjokoladekoek, ‘n pienk melkskommel of ‘n geroosterde toebroodjie. Hul melkterte is goedkoop, maar hemels en ideaal om huis toe te vat. In dié tuisnywerheid-winkel kan jy ook snuffel deur allerhande tuisgemaakte goete uit dié geweste. Bel Marietjie Cilliers by 082-783-5824 of Angela Agenbag by 079-855-4818.


* Sit aan vir ontbyt of middagete in die huislike restaurant van Miguel Borge langs President Reitzstraat 67, Westdene, Bloemfontein. Op die spyskaart van Vida & Arte is onder meer tortillas, tappas en omelette. Miguel is van Suid-Amerika en in die kos tot die interieur word jy hieraan herinner. Die mure is ‘n passievolle rooi en van die skilderye wat te koop is herinner aan Buenos Aires. Die pragtige ou woning met sy houtvloere is ideaal vir klein partytjies en wynproe-geleenthede. Bel 071-896-2511.



BLY IN DIÉ HOTELLE


* Bly oor in Kimberley se Protea-hotel op die rand van die Groot Gat. Dié vierster hotel het 94 kamers. Weens sy sentrale ligging is dit ideaal om museums, oorlogsroetes en die opgeknapte myndorpie te besoek. Geniet laatmiddag ‘n skemerkelkie op die dek wat uitkyk oor die Groot Gat en die Noord-Kaapse hoofstad. Sien www.proteahotels.com/kimberley. Om te bespreek bel 0861-11-9000.


* Die patio van die Protea-hotel Willow Lake met 94 kamers bied gaste ‘n uitsig oor die Bloemfonteinse dieretuin – nie iets wat jy oral teëkom nie.


* Die hotel in die Golden Gate Nasionale Park is onlangs opgeknap teen miljoene rande.


* Van die De Stijl-hotel se restaurant is daar werklik ‘n onvergeetlike uitsig oor die Gariepdam, die grootste in Suid-Afrika.


* Die vyfster Maliba Lodge in Lesotho is aangewys as een van die beste hotelle ter wêreld deur die lesers van die gesaghebbende Britse reistydskrif Tatler. Die Lodge is geleë in die Tsehlanyane Nasionale Park wat bekend is vir sy pragtige uitsigte. Dit is sowat ‘n uur sy ry van Clarens. Kyk by www.maliba-lodge.com.



DOEN DÍT


* Die tierprojek wat die omgewingsbewaarder en rolprentmaker Johan Varty in 2000 buite Philippolis begin het, bied ‘n sonderlinge geleentheid om vanuit ‘n spesiaal omgeboude voertuig tot naby aan die loslopende tiere te kom. Sover bekend het Tiger Canyons die enigste wilde tierpopulasie in die wêreld. Daar is sowat 45 000 tiere wêreldwyd in aanhouding, maar slegs sowat 1 000 wilde tiere. Dit gaan voor die wind met die projek. Só is daar byvoorbeeld in 2009 twee werpsels tiertjies, altesaam sewe welpies, gebore. Drie van die tierwelpies, waaronder ‘n wit tier, is toe met die hand grootgemaak. http://www.jvbigcats.co.za/


* Onderbreek die sieldodende N1 en rek jou bene by die Kuilfontein-padstal langs die Springfontein-Suid-afrit. Jy sal nie die langwerpige gebou met die erfenisgroen-dak miskyk nie. Die Staplese maak die die lekkerste lam-en-ment-pasteie en moenie hul gebottelde produkte verbygaan nie. www.accommodationspringfontein.co.za.


* Ná uitgebreide herstel- en restourasiewerk het die Kimberleyse trem se wiele darem weer begin draai in 2011. Dit kos R10 per person om vanaf die Groot Gat tot by Tile Africa te ry. Die roete is sedert die sluiting van Bultfonteinweg verkort om die veiligheid van passasiers te verseker.


* By die Kambro-padstal tussen Britstown en Strydenburg kan jy ketties tot gemmerbier koop. Stop beslis hier by Gerhard en Wilma Strauss as jy weer in dié geweste is. Loer by www.kambroaccom.co.za.


* Pak 'n mandjie, gooi 'n kombers oop en eet jou trommeldik op die lowergroen gras van die tuin voor die Oliewenhuis Kunsmuseum in Bloemfontein. Mens kan net dink wat se voorreg dit moes wees vir politici om vroeër jare in dié Kaaps-Hollandse huis te kon woon. Toegang tot die tuin is mahala, maar as jy meer wil uitvind bel 051-447-9609.


* Pak die Naudé’s Nek Pas by Rhodes aan. Op ‘n helder dag kan jy van die kruin (2 260 m) tot by die Transkeise kus sien. Naude’s Nek is op die R396 na Maclear. Maar wees gewaarsku: dis ‘n smal, bedrieglike paadjie wat jy nie moet aanpak as dit gereën of gesneeu het nie. ‘n Viertrekvoertuig is aan te beveel. Laat genoeg tyd toe, want die donker kan jou andersins maklik hier vang.