Friday, August 31, 2007

SIRMIONE bied meer as papierbeloftes


- Jens Friis

As iets 100 jaar oud is in Suid-Afrika dan is dit óúd. Maar in Italië is dit natuurlik ‘n perd van ‘n ander kleur.

Só is die noord-Italiaanse dorp, Sirmione, al meer as 2000 jaar ‘n gewilde vakansieoord vir ryk Veronese families. En vir minstens ‘n verdere 3 000 jaar woon mense al op hierdie skiereiland aan die suidelike oewer van die Garda-meer.

Die meeste oewerdorpies bied asemrowende blikke op die Alpe, Garda se bergwater is deurskynend blou, en die lug vars. Boonop het elke dorpie keisteen-kronkelstrate met restaurantjies waar die inwoners gemoedelik gesels oor watertand disse.

Maar uit al die nedersettings wat Garda omsoom is dit Sirmione wat bekend staan as die “Pêrel van Garda” – en dis nie om dowe neute nie.

Dié dorp onderskei hom deurdat dit gebou is op ‘n skiereiland wat die meer 4 km instrek. Hiérom voel jy altyd gekoester teen aanslae van die buite-wêreld.

Tweedens is Sirmione ook bekend vir sy helende, warmwater swaelbron. Hierdie natuurlike spa is ‘n plek om kragte te herwin sedert antieke tye.

Só het die Romeinse digter, Catullus, hier uitgespan en die skoonheid van die dorp in sy werke besing. Die ruïnes van sy villa en baddens is steeds te sien en ‘n elektriese trein stoom somers (April-Oktober) vanaf die Piazzale Delle Terme na die Grotte di Catullo.

In die dertiende eeu is ‘n sterk fort in dié dorp gebou ter verdediging van die suidelike oewer van die meer. Steeds is die Middeleeuse Scaliger-kasteel ondeurdringbaar.

Sirmione was deel van die Republiek van Venesië tussen 1405 en 1797, waarna dit in die hande van Oostenryk geval het. Sedert 1860 was dit onder die heerskappy van die Koninkryk van Italië.

In die twintigste eeu het James Joyce en Ezra Pound in Sirmione ontmoet, terwyl Maria Callas gereeld in haar villa vakansie kom hou het.

Deesdae is Garda ‘n groter vakansieparadys as ooit tevore. Oorwerkte Italianers uit Milaan en omgewing kom hou hier vakansie, nes Oostenrykers, Franse, en Duitsers.

Só het my neef uit München byvoorbeeld kom besoek aflê tydens my tydjie langs Garda. Dié wêreld ken hy soos die palm van sy hand, want hy en sy vrou hou graag vakansie in hierdie Edenagtige droomdorp.

Hier is die lig sag is en die klimaat gematig. Plante floreer en blom uitbundig. Op die mark spog die boere met hul oes – ‘n ware warboel van groenvye tot sultanakonfyt. En in jou mandjie hoort ‘n goeie bottel wit Lugano DOC.

Trapbote bied ‘n ideale manier om die waters rondom die skiereiland te verken. Meerdere stroompies (bekend as “ganfi”) vloei die meer binne en dit bied broeiplek vir swane en ander watervoëls.

Garda is Italië se grootste meer. In die suide by Sirmione is dit tot 16 km wyd. Van Riva del Garda in die bergatige noorde tot by Denzenzano del Garda is dit meer as 100 km lank. Die grootste dorpe langs die meer word verbind met gereelde skeepsroetes. Dis dus maklik om die meerdorpies te verken op vaartbelynde bote.

‘n Buurdorp van Sirmione is Salo. Die pad hierheen lei deur ‘n park-area genaamd die Parco dell'Alto Garda Bresciano. Dis pragtige wêreld met meerdere suurlemoen- en olyfboorde.

Salo is bekend vir sy linne-industrie, maar veral as geboorteplek van Gaspare Bertolotti. En wie was dié knaap? Hy was die eerste om ‘n viool te bou.

So gaan maak gerus ‘n draai in Sirmione. Hierdie loflied is nie net papierbeloftes nie. As jy daar was, sal jy heelhartig saamstem.

Bekendes se gunsteling hotelle


- Jens Friis

Talle hotel se voortbestaan is al verseker deurdat ‘n bekende eendag, lank, lang gelede daar oornag het.

Toeriste wil graag hul koppe neerlê in dieselfde beddens (of minstens dieselfde hotelle) as die sterre.

En daarom beplan reisoperateurs toenemend hul toere hiervolgens.

Só floreer The Norfolk Hotel in Nairobi glo omdat Karen Blixen eens daar aangedoen het. Dieselfde geld vir die Goldeneye in Jamaika (Ian Fleming), The Pensinsula in Hong Kong (Frank Sinatra), en The Copacabana Palace in Rio de Janeiro (Orson Welles).

Ek is nie met die sterre gepla nie, maar moet erken ek loer graag waar die celebs uitspan, want dit bied uitstekende vakansie-idees.

Nes Jean Cocteau het ek na my asem gesnak toe ek sien hoe lyk die Franse Riviera vanaf die Hotel Welcome in Villefranche.

Soos koningin Victoria moes ek gaan tee drink in die Ierse platteland by die sorgsaam gerestoureerde Carton House.

En op San Diego se uitgestrekte strand het ek gaan stap omdat Marilyn Montroe by die Hotel del Coronado gebly het met die maak van “Some like it hot”.

By sommige stadshotelle stap mens bloot verby, maar dis nietemin interessant om te weet Hugh Grant het ‘n draai gemaak by die Londense Ritz in “Notting Hill”.

Richard Burton en Elizabeth Taylor het passievolle nagte deurgebring in Montreal se statige ou Ritz-Carlton langs Sherbrooke Street.

In ‘n Berlynse paleis (deesdae die Adlon Hotel) is Greta Garbo “gebore”. ‘n Maaltyd hier is ‘n belewenis, want die eetkamer kyk uit op die bekende Brandenburghek en die eertydse Muur.

En in Los Angeles het ek spesiaal gaan kyk na The Regent Beverly Wilshire. Wie sal immers ooit vir “Pretty Woman” se Julia Roberts kan vergeet?

In “Hotel Stories” vertel Francisca Matteoli dat die bekendes nogal bisarre eise kan stel.

Salvador Dali het gereeld gebly in die Meurice Hotel in Parys. Dié surrealis was hoogs ontsteld toe hy merk sy gunsteling kamer se toiletsitplek is vervang. “Wat het gebeur met Alfonso se troon?”, wou hy weet. Die hotelbestuurder kon nie anders as om die oud, verslete houtsitplek te herinstalleer nie.

Personeel van die Portobello Hotel in Londen moes in 1979 muise gaan soek by troeteldierwinkels vir Alice Cooper se onversadigbare luislang. Die ronde bed wat spesiaal vir Cooper bestel is, is steeds in Kamer 16, nes die antieke bad waarin sy slangetjie gesluimer het.

Helaas kan ekself nie in dieselfde suites as die sterre oorbly nie. Daarvoor is my sak gans te plat. ‘n Uitsondering was egter by Zimbali Lodge aan die Natalse Noordkus: Robbie Williams het enkele nagte vroeër in my bed geslaap tydens sy Suid-Afrikaanse toere.

Ook was daar die keer in Borneo toe ons skoon van hotel moes verander, want die Maleisiese koning het sy opwagting gemaak. Dit sou glo ‘n té groot sekuriteitsrisiko wees as gaste in die verdieping bó hom bly.

By die Royal Livingstone in Zambië het ek g’n celeb gesien nie, maar wel soos een gevoel. Terwyl jy langs die hotelswembad bak stort die waters van die Zambezi oor die Victoria-waterval. Hier word selfs jou sonbril vir jou skoon gepoets as dit net lyk of daar ‘n vingermerkie op is. Dis voorwaar vyfster-bederf de luxe.

Vir die jare wat kom wag daar reeds ‘n magdermenigte hotelle op my wenslysie. Hemingway se retreat by die Ambos Mundos Hotel in Havana klink eksoties, nes Igor Stravinsky se National Hotel in Moskou.

Al Capone het sy laaste dae in ‘n hotel in Miami deurgebring, Ava Gardner het vertoef in ‘n Madridse hotel, Frida Kahlo het met Leon Trotsky ontsnap na ‘n hacienda in die Meksikaanse platteland …

Dis jammer ‘n menselewe is kort, en die rand weinig werd.

Kuching: ‘n inkopie-mekka

DIT was nog donkeroggend toe my selfoonalarm afgaan in Kuching. ‘n Vlug via Johor Bahru, Kuala Lumpoer en Johannesburg na Bloemfontein het gewag, maar eers sou ek al my goed ingepak moes kry.

G’neen van ons het besef watter inkopieparadys dié Borneose stad is nie. Talle Suid-Afrikaanse winkels kom skynbaar hul ware hier aankoop en verkoop dit dan peperduur tuis.

Só koop ek VOC-keramiek, ‘n kompassie met Chinese jaartaltekens, groentee, ‘n bessierooi tafeldoek vir my ma en ‘n borriegele vir my (‘n smaakblaps?), ‘n houtstensil, chilli-sous, en vele meer.

Die vraag is net: hoe kry jy dié goed by die huis? Anders as die binnehuiseversieringswinkels het ek nie ‘n reuse bootkrat tot my beskikking nie.

Dit word ‘n inpaksessie waar ek elke slenter inspan om my goed op die vliegtuig te kry.

Ek gooi ‘n voosgedrukte buis tandepasta weg, en trek my sware Caterpillar-bootse aan. Net dalkies maak dit die bagasie ‘n gram ligter!

By die inweegtoonbank vermy ek vroue (‘n vriend reken hulle is veel strenger as mans) as dit by weeg kom.

“Selamat Datang” (welkom), sê die man agter die toonbank.

Gemaak maklik sit ek my twee loodsware tasse op die rubberbandskaal.

Die res van my bagasie (duty-free inkopiesakke tot boordensvol) kry ‘n tydelike staanplekkie reg voor sy toonbank. Dáár waar hy dit nie kan sien nie (en hopelik van gaan vergeet).

Al dié slimstreke werk, want sonder om ekstra te betaal vlieg ek terug met 19 kg se Borneose memorabilia.

Dié snuistery word dikwels gemaak in die diepe tropiese reënwoorde van Sarawak om later verkoop te word in winkels en markte van Kuching. Dié stad is die hoofstad van Sarawak, Maleisië se grootste provinsie op die eiland Borneo.

As handelspos het Kuching vir Maleiers, Chinese, Indiërs, Europeërs en inboorlinge hier byeen gebring deur die eeue.

Voor die 1800’s was Sarawak onder beheer van die sultan van Brunei. Dit was ‘n vreedsame plek, maar humeure het opgevlam oor korrupte sultan-beamptes wat hoë belasting afgedwing het. Díé belasting het in hul eie sakke beland.

James Brooke, ‘n ryk Engelse avonutrier is deur die sultan gevra om die gemoedere te kalmeer. Met sy jag, die Royalist, het hy vrede afgedwing. Die sultan het vir Brooke goewerneur gemaak van Sarawak.

Brooke wou sy posisie verstewig en het dit reggekry met Britse vloot-ondersteuning. Die sultan is gedwing om ‘n ooreenkoms te onderteken en Sarawak is oorgedra aan Brooke, die eerste Engelse Rajah van Sarawak. Kuching sou voortaan nie slegs ‘n belangrike hawestad wees nie, maar ook ‘n administratiewe sentrum.

Sedert 1963 is Sarawak deel van die Maleisiese Federasie.

Oor Kuching se naam is nie enigheid nie. Sommige reken dit stam van “Gu Chin”, Chinees vir hawe. Tweedens, verwys dit dalk na ‘n lichi-vrug genaamd Mata Kuching. Maar die algemene geloof is dat “Kuching” verwys na ‘n kat (dit klink nogal na die Afrikaanse “kietsie”, né?).

In dié Katstad is dan ook die eerste museum ter ere van kietsies. As jy ‘n katteliefhebber is mag jy dalk swig voor die opgestopte Persiese katte, en Tom & Jerry-uitstallings.

Alles wat in water lewe is op die plaaslike vismark se spyskaart. Terwyl jy by die skoonste van die vuil tafels vis-en-skyfies eet, sien jy hoe ‘n kok ‘n lewende vis se skubbe afpluk voordat dit keel-af gesny word.

Skynbaar is ‘n eeu nie genoeg om van Borneose “headhunter”-gene ontslae te raak nie. Dié kannabalistiese gedagtes laat my stik aan my vis.

‘n Sirene roep mans om te gaan bid. Die Sentrale Moskee. is maklik te vind, want sy vergulde koepels troon uit bokant die twee-verdieping winkelhuise. Waterfront-straat staan ook bekend as die “Antieke Arkade” weens sy historiese fasades, asook antieke stukke en handewerk wat hier te koop is. Dit was verseker my gunsteling koopplek.

Die doweskool by die Perkata Galery (Ridgeway Road) en die Sarawak Craft Council, bied ook waarde vir geld. Die pryse is laag, die kwaliteit goed, en die goedere word nie massa-vervaardig nie.

Vlugte na Kuching is meestal via Johor Bahru. Dié lughawe is ‘n hanetreetjie noord van nog ‘n inkopie-mekka, Singapoer. Johor Bahru se lughawe-afkorting, JHB, stem toevallig ooreen met die naam van die Goudstad.

Ook werd om te weet

* Fooitjies is ongewoon – veral by die koskraampies oftewel “kopitiams”.

* Plakkies en kortbroeke is uit as jy ‘n draai by die moskee wil maak. Nie-Moslems word nie toegelaat tydens bidure nie.

* Verwag sondeurdrenkte dae en ‘n tropiese klimaat (25 tot 30 ºC bedags). Tussen Oktober en Februarie word die lug verfris deur ‘n klipharde reënbui daagliks rondom 16:00. Na enkele minute breek die son weer deur.

* As jy lus voel vir plaaslike vrugte, probeer die Durian. Dié “koning van vrugte” is bekend vir sy sterk reuk en is verbode in hotelle soos die Merdeka Place Hotel waar ek gebly het.

* Die grootste etniese groep in Borneo is die Iban. Hulle woon in “longhouses”, reuse huise met plek vir tot honderd families in aparte vertrekke.

* Oesfeeste word Junie en Julie gevier deur die drink van ryswyn by danspartytjies.

Groenhuis Gastehuis, Philippolis. www.philippolis.co.za, tel. 051-7730073

Reis-Kopkrapper

Die volgende kopkrappers hou almal verband met reise van een of ander aard. Hoeveel kan jy korrek beantwoord? Die antwoorde verskyn aan die einde.

1. Die “Hajj” is ‘n pelgrimstog na watter stad?

A. Mekka B. Jerusalem C. Rome

2. Hierdie is ‘n legendariese kontinent wat in die see verdwyn het.

A. Antarktika B. Atlantis C. Arktika

3. Duisende skattejagters het in die 16de en 17de eeu na hierdie legendariese goudstad kom soek in Suid-Amerika.

A. Egoli B. Eldorado C. Brasilia

4. Hannibal het die Alpe oorgesteek met hierdie pakdiere – slegs een uit sy trop van 37 het oorleef.

A. Huskies B. Kamele C. Olifante

5. Wie het die hoofrol vertolk in “Lawrence of Arabia” (1962)?

A. Peter O’Toole B. Frank Sinatra C. James Dean

6. Luke Skywalker probeer prinses Leia red in watter film (1977)?

A. Lawrence of Arabia B. Thelma and Louise C. Star Wars

7. The Motorcycle Diaries is gegrond op dié persoon se motorfietsrit deur Suid-Amerika in die 1950’s.

A. Che Guevara B. Evita Peron C. Darth Vader

8. Wie het die eerste motorband ontwerp in 1888?

A. Thomas Edison B. John Dunlop C. David Livingstone

9. Hierdie Venesiese handelaar het in die 13de eeu na China gereis.

A. Jan van Riebeeck B. Vasco da Gama C. Marco Polo

10. Wie was die eerste seevaarder om van Europa na Indië te vaar rondom die Kaap van Goeie Hoop?

A. Bartholomeus Dias B. Vasco da Gama C. Simon van der Stel

11. Hierdie Britse kartograaf was die eerste Europeër om voet te sit op Hawaii.

A. James Cook B. Christopher Columbus C. George Irving

12. Hy was ‘n Skotse sendeling wat Afrika deurkruis het met onder meer die doel om die oog van die Nyl te vind.

A. David Livingstone B. Sir Ernest Henry Shackleton C. Charles Dickens

13. Watter land het 732 voertuie per 1 000 inwoners – die meeste ter wêreld?

A. VSA B. Brunei C. Lebanon

14. Watter land se inwoners reis die verste trein per persoon per jaar?

A. China B. Noorweë C. Japan

15. Watter land het ‘n spoorlynstelsel van 233 800 km – die langste ter wêreld?

A. Rusland B. VSA C. Brasilië

16. Hierdie Karavaanroete tussen China en die hawens van die Middellandse en Swart sees het as handelsroete gedien van 150 v.C. tot die mid-17de eeu.

A. Sy-roete B. Koffie-roete C. Tee-roete

17. Hierdie bekende Romeinse pad het van Rome tot in Brindisium gestrek.

A. Via Roma B. Via Caesar C. Via Appia

18. Wie was die skrywer van “The Adventure’s of Huckleberry Finn”?

A. J.R.R. Tolkien B. Geoffrey Chaucer C. Mark Twain

19. Wie was die eerste om in 1909 oor die Engelse Kanaal te vlieg?

A. Orville Wright B. Wilburg Wright C. Louis Blériot

20. Watter maatskappy beoog ruimtereise vir toeriste?

A. Concorde B. Virgin Glactic C. Air France

21. In watter jaar het sir Edmund Hillary en Tenzing Norgay die eerste geword om tot bo-op Mount Everest (8 848 m) te klim?

A. 1933 B. 1953 C. 1973

22. Wie het “Come fly with me” gesing?

A. Frank Sinatra B. Chuck Berry C. Deep Purple

23. Wie het “Leaving on a jet plane” bekend gemaak?

A. Peter, Paul and Mary B. Kraftwerk C. U2

24. Twaalfduisend jaar gelede het het mense migreer van Asië na Noord-Amerika. Die Bering-landbrug van 1 600 km verbind Siberië met …

A. Groenland B. Alaska C. Kalifornië

25. Wat was die naam van die hond wat in 1957 die eerste geword het om die ruimte ingestuur te word?

A. Laika B. Lassie C. Boney

26. In watter jaar het Yuri Gagarin die eerste geword om die ruimte in te vaar?

A. 1941 B. 1951 C. 1961

27. Wie is Valentina Tereshkova?

A. Eerste vrouemotorbestuurder B. Tennisspeler C. Eerste vrou in die ruimte

28. In watter jaar het die eerste maanlanding plaasgevind?

A. 1949 B. 1959 C. 1969

29. Waarvoor het Dennis Tito in 2001 bekend geword?

A. Eerste ruimtetoeris B. Eerste blinde om rondom aarde te seil. C. President van Nigerië

30. Wie het “Do you know the way to San José” ‘n treffer gemaak?

A. Willie Nelson B. The Monkees C. Dionne Warwick

ANTWOORDE:

1. A 2. B 3. B 4. C 5. A 6. C 7. A 8. B 9. C 10. B

11. A 12. A 13. C 14. C 15. B 16. A 17. C 18. C 19. C 20. B

21. B 22. A 23. A 24. B 25. A 26. C 27. C 28. C 29. A 30. C

Spaar só paar duisend op ‘n Europese vakansie

- Jens Friis

DAAR is nie so iets soos sakpas Europese bestemmings nie. Die euro is sterk. Die rand is swak. Tog kan die volgende wenke help om ‘n besoek aan dié kontinent heelwat meer bekostigbaar te maak.

Neem die goedkoopste, aanvaarbare vlug na Europa. Vlieg dan na jou eindbestemming met ‘n lae-koste lugdiens soos easyJet, Flyglobespan, Eurofly, of Ryanair. ‘n Vlug van Berlyn na Barcelona kan minder kos as R400 as jy vroegtydig bespreek. kan jy spaar op die vlug na Europa wat tussen R6500 en R10 000 kan kos, én boonop ‘n ekstra stad sien. Dis voorwaar twee vlieë met een klap.

‘n Schengen-visum kan jou tot R1 000 uit die sak jaag. Na Switserland, Skotland, Engeland, en Wallis kan Suid-Afrikaners egter gaan sonder ‘n visum (‘n paspoort is wel nodig). Dink daaraan om jou reisroete hiervolgens te beplan.

Vermy lughawetaxi’s. Neem eerder ‘n bus of trein. Van Heathrow na Londen kos ‘n taxi R900, teenoor ‘n trein (R50) en die vinnige Heathrow Express (R200).

Bepaal vooruit waar jy die eerste nag of drie gaan slaap. In ‘n vreemde stad is mens gedisoriënteerd en allermins lus om te soek na ‘n lêplekkie. Onthou: Jou eerste paar dae is altyd die duurste, want jy weet nog nie waar wat is nie. Doen daarom vooraf ‘n behoorlike internetsoektog vir akkommodasie.

Gaan koop kos so gou moontlik by ‘n supermark. Jy gaan vlugvoos voel, maar moenie dit uitstel nie: restaurante skud ‘n sak. Maak vroeg-vroeg ‘n draai by daai Marks & Spencers in Groot-Brittanje, of die markte in feitlik enige Europese stad.

As jy wel uiteet is dit goed om dit oor middagete te doen, want aandetes kos meer. Eetplekke se prix-fixe maaltye is ook altyd goedkoper as à la carte.

As bogenoemde na te veel moeite klink is ‘n bootvaart dalk ‘n meer ontspanne meer om vakansie te hou. Omdat ‘n skip beide jou blyplek en vervoer is, kos ‘n bootvaart soms minder as ‘n reis per land. Die maaltye is gewoonlik ook reeds ingesluit by die pakketprys.

Besin vooraf of dit rerig nodig is om te oornag in gekommersialiseerde, toeristestede soos Milaan en Venesië? Tussen dié twee is die pragtige Como-meer wat omsoom is met blyplekke wat véél minder kos – des te meer buite-seisoen.

Hou jou oë en ore oop – en beplán jou uitstappies hiervolgens. Museums wat toegangsfooie vra, gee gewoonlik afslag op sekere dae. Dan word dit druk besoek, maar gaan vroeg en jy sal die vrugte pluk. Óf vergeet van die groot museums soos die Louvre in Parys en besoek die kleineres wat steeds baie bied soos die Petit Palais, Musée Carnavalet, en Victor Hugo se huis. In die Madeleine-kerk (8ste Arrondissement) is daar gereeld Sondae om 16:00 uitsekende orrel- en kooruitvoerings. Dit kos nie ‘n dooie duit nie.

In Berlyn betaal jy niks by die meeste staatsmuseums op laat-Donderdag-middae.

Die pond is sterk, maar minstens is toegang verniet tot alle Britse nasionale museums en gallerye. Jy kán dus die beste van Brittanje sien soos die British Museum en die Tate Modern. Dit loon om ‘n weekkaartjie te koop as jy langer as vier dae in Londen is, want jy kan dan soveel ry as wat jy wil op die Tube (moltrein).

Skaf ‘n goedkoop SIM-kaart aan in anderland. kan jy steeds jou selfoon gebruik om goedkoop plaaslike oproepe te maak. Soms raak die verlange groot of wil mens bloot iets met iemand in Suid-Afrika deel, maar helaas kos ‘n oproep steeds veel meer as ‘n epos, SMS, of poskaart.

Gebruik jou kredietkaart vir betalings eerder as kontant. Vir sulke kredietkaarttransaksies hef die meeste banke geen fooi nie.

Dis wys om ‘n bietjie buitelandse valuta in Suid-Afrika aan te koop sodat jy darem ‘n neseiertjie het as daar fout kom met jou bankkaarte. Maar moenie te veel trek nie, want jy gaan minder vir euro’s in Nederland of Oostenryk betaal as in Suid-Afrika.

Bankfooie word gehef elke keer as jy kontant trek. Dit kan sommer R50 wees – ongeag of dit 10 of 100 euro is. Spaar deur minder onttrekkings te maak, maar meer op ‘n keer te trek.

Moenie goedgelowig wees as jy iets koop nie. Dit gebeur selde, maar ‘n winkelier gaan jou, die naïewe toeris, iewers probeer indoen. Gaan kleingeld behoorlik na. Dit mag na min lyk, maar ‘n enkele 10 Euro-noot is byna R100 werd.

Vra winkels of hul deelneem aan ‘n “Tax Refund Program” as jy iets duurs koop. Europese belasting op toegevoegde waarde kan tot 25 % op die koopprys wees. Volg die reëls en heelwat van dié geld kan teruggeëis word voor jou terugvlug.

As daar dan nog ‘n geldjie oor is, kan jy dit oorweeg om met ‘n lae-koste langafstand lugdiens van Europa na byvoorbeeld Israel of Marokko te vlieg. Zoom Airlines vlieg nou van Europa na JFK in New York vir so goedkoop as R2500. ‘n Nadeel is dat hierdie lugdienste soms ekstra vra vir jou bagasie. Ook vlieg hulle merendeels vanaf kleiner lughawens wat verder vanaf die stad is. Dit kos dus meer om daar uit te kom.

Moet dus nooit onnodig suinig wees nie, want goedkoop koop is dikwels duur koop. Gebruik jou gesonde verstand. Spaar waar jy kan, maar moenie die heeltyd oor jou sente kwel nie, want dit ís immers ‘n vakansie waarvoor jy ‘n jaar (of dalk ‘n leeftyd) gespaar het. Geniet dit, want anders gooi jy nou eers geld in die water!

Wednesday, August 8, 2007

VINA blom na val van diktatuur

Lees die berig deur Jens Friis oor Vina, Chili, soos dit verskyn het in Die Burger se "Reis"-bylaag.