Monday, June 29, 2009

Kom voel dat jy lééf . . .




JENS FRIIS het in die Zambezi-rivier gaan baai en letterlik oor die rand van die Victoria-waterval geloer terwyl net sy kop uit die water steek.
ONLANGS speel ek en ’n groep vriende Truth or Dare.“Wat’s die gevaarlikste dog wonderlikste ding wat jy ooit gedoen het?”Aarsel hoef ek nie, want dit sal my immer bybly. “Dis die keer wat ek letterlik uit die waters van die Zambezi oor die rand van die Victoria-waterval geloer het . . . ” Maar verder as ’n inleidende sin kom ek nie. “Nee wat!” sê ’n stem vol ongeloof. “Probeer ’n ander storie . . . Daai een koop ons nie.” En g’n regdenkende mens sou seker nie. Te dik vir ’n daalder klink dit. Maar dié is g’n wolhaarstorie nie. Só het dit gebeur . . .Een smoorwarm Saterdagmiddag stap ek van die Royal Livingstone Hotel na die waterval. Die res van die groep dut en ek wil gaan prentjies maak - die oggend se bewolkte weer was nie ideaal vir foto’s nie. Dis met dié fotonemery dat ek met ’n Zambiër aan’t gesels raak. Hy blyk ’n deurwinterde (nie-amptelike) gids te wees wat besoekers rondwys en só ’n bestaan voer. “Kom ek wys jou Livingstone Island waar dr. David sy tent in 1855 opgeslaan het,” stel hy voor. “Jy kan ná die tyd besluit hoeveel jy my wil gee.” Dis moeilik om dié uitnodiging te weerstaan. Vooraf het ek gelees die eiland is ’n Wêreld-erfenisterrein. Geen permanente strukture mag opgerig word nie en slegs agt mense op ’n keer word toegelaat. Die toegangspoort is ’n boot wat daagliks om 16:00 daarheen vaar.“Kan mens dan daarheen stáp?” wil ek weet.Hy knik. “Kyk, die Zambezi is nou op sy laagste. Groot, groot dele van die rivierbed is droog. Oor drie weke sal die reëns weer begin.”Net vóór die reënseisoen in Desember is die miswolk bo die waterval die kleinste. Dan stort 18 miljoen liter water per minuut hier af teenoor 320 miljoen  liter in April. Maar ten spyte van hierdie skouspel twyfel ek steeds oor die potensiële avontuurtog met die gids. Ek kan tog nie sommerso Suidelike Afrika se langste rivier (2 060 km) invaar (lees: stap) nie.“Wáár is die eiland?” wil ek weet.Dáár (asof nie te ver nie), wys hy met ’n vinger in die rigting van die rivier. Ek skerm met my hand. My donkerbril lê (soos gewoonlik) tuis.“Goed,” sê ek. “Kom, ons stap.”Maar spoedig blyk dit dat die skyn bedrieg. Livingstone-eiland is heelwat verder as wat dit lyk en die sakkende son kleur reeds die horison nartjie-oranje oor Zimbabwe. Ons gaan beslis nie tot by Livingstone­-eiland kom nie. Daarom besluit ons om tot by ’n sekere waterpoel te stap. “Dis een van my geliefde plekke, ’n natuurlike jacuzzi op die rand van die afgrond,” vertel hy.Hier van die Zambiese kant het ons ’n ongewone blik op Victoria se vyf aparte valle - ’n oostelike katarak, die reënboogwaterval, die hoefysterwaterval, die hoofwaterval en die duiwelskatarak aan die westelike kant.Ons spring oor strome, en soms moet ons daar déúr. Dan moet jy jou staan ken, anders vat die stroom jou. Menigeen het al hier afgespring óf geval - onder andere ’n Brit in ’n kano. Op ’n wonderbaarlike manier het hierdie Engelsman oorleef. Hoe, weet nugter. Al die ander is dood. “Ten minste is hier nie ’n gevaar dat ons op ’n krokodil gaan afkom nie,” probeer hy gerusstel. “Krokodil se kind weet om weg te bly van hierdie afgrond.”En ’n áfgrond is dit gewis: teen 110 m diep, 50 m breed en 1,7 km lank is dit veel groter as Niagara of Iguazu.Die vallende water veroorsaak ’n oor­ver­dowende lawaai. Daarom dat die inwoners die waterval Mosi-oa-tunya noem, oftewel “die rook wat donder”. Livingstone het in sy 1855-dagboek geskryf dat die miswolke lyk soos “die rook van groot grasvlaktes wat brand”. Ons kom ’n drietal toeriste (ook met ’n gids) teë wat met groot lof van die kleine rotspoel praat. Maar verder is g’n siel in sig nie. Dis ongelooflik dat ek hierdie natuurwonder vir myself het. Victoria val immers in dieselfde klas as Kilimandjaro, die Sahara, die piramides of die vulkaanparadys Ngorongoro. Dis een van die Sewe Wonders van die Wêreld.Hoewel dit stil hier lyk, gaan dit beter met Zambië se toerisme as ooit weens voort­slepende politieke onrus, bloedvergieting en kapings in Zim. Die laatmiddaglug smeul in die son. Ek vee die sweet af toe ons by die rotspoel kom.Dit moet die bes geleë “jacuzzi” ter wêreld wees: ’n rotspoel genestel presies daar waar die Zambezi-rivier in die Victoria-waterval verander. Soos die gids gaan lê ek op my maag in die rotspoel, rek my nek uit en loer oor die afgrond. Die einste waters wat oor ons lywe spoel, vloei millimeters verder nie meer ­horisontaal nie, maar raak aan’t stort en plof 110 m laer neer.Dit was só ongelooflik dat ek byna my nek verrek het om telkemaal wéér na die wonder te staar. Was ek van lotjie getik om só ver te gaan? Dalk, maar dis wel so dat vrees grootliks vrees kan besweer. Jy raak gewoond daaraan. Soos Livingstone dit gestel het: “The sense of danger vanish­es when you are in the country of the lions.” En wáár is dít meer gepas as hier, waar adrenalienver­slaafdes deur stroomver­snellings en maalkolke roei, van die Vic Falls-brug spring, toeriste op olifante ry . . . of ek oor die waterval-afgrond hang.Kom doen mee as jy ’n woema-mens is wat die lewendigste voel in extremis, die grense wil toets.Maar onthou: dis op eie risiko. Soos my Truth or Dare-maat graag sê: Die kerse met die grootste vlamme brand meestal ook die vinnigste uit.. 

Monday, June 22, 2009

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073


2020 SE KOLOSSE

- Londen
- Parys

- Melbourne

Dié stede sal grootste, duurste en rykste wees

- Jens Friis

CITY MAYORS, die internasionale dinkskrum wat Helen Zille onlangs aangewys het as die beste burgemeester ter wêreld, het 'n lys bekend gemaak van die 100 stede wat hulle glo die grootste sal wees teen 2020.
Teen dié jaar sal Tokio steeds koning kraai met 37,28 miljoen inwoners. Dit word gevolg deur (2) Moembaai met 25,97 miljoen; (3) Delhi met 25,83 miljoen; (4) Dhaka, Bangladesj, met 22,04 miljoen; (5) Meksikostad met 21,81 miljoen; (6) São Paulo met 21,57 miljoen; (7) Lagos met 21,51 miljoen; (8) Jakarta, Indonesië, met 20,77 miljoen; (9) New York met 20,43 miljoen; en (10) Karachi, Pakistan, met 18,94 miljoen.
Tokio is dus grootte-gewys in 'n gans ander liga as sy teenstanders. Dit is bykans dubbeld so groot as Karachi, die tiende grootste stad.
Die beraamde bevolkingsyfers is bereken deur te let hoeveel mense in 2006 in 'n stad gewoon het en dié stad se gemiddelde jaarlikse bevolkingsgroei dan daarop van toepassing te maak tot 2020.
Daar is ook gebruik gemaak van die voorspellings van internasionale en nasionale statistiek-organisasies.
Onder bogenoemde stede sal Lagos tot 2020 die vinnigste groei. Dié Nigeriese stad sal jaarliks 'n allemintige 4,4 % méér inwoners hê. In die tweede plek is Dhaka in Bangladesj (3,79 %) en Delhi in Indië (3,48 %).
Drie van die tien grootste stede sal met minder as 1 % per jaar groei. Hulle is Tokio (0,34 %), New York (0,66 %) en Meksikostad (0,9%).
Interessant is dat twee van die grootste honderd stede na verwagting 'n negatiewe groei sal toon, naamlik Seoul (-0,5 %) en Londen (-0,02%).
Luidens die verslag sal Beihai, China, die stad wees wat die vinnigste sal groei tot 2020 met 'n groeikoers van 10,58 %. In die tweede plek is Surat, Indië met 4,99 % en Kaboel in Afganistan met 4,74 %.
Drie Suid-Afrikaanse stede pryk op dié lys. Ekurhuleni aan die Oos-Rand beklee die 77ste plek en sal na verwagting 4,82 miljoen inwoners hê. Johannesburg is in die 82ste plek met 4,67 miljoen inwoners. Kaapstad haal in die 99ste plek net-net die lys met sy verwagte 3,92 miljoen inwoners.
City Mayors wys in die verslag daarop dat dit uiters moeilik is om 'n "stad" te definieer aangesien verskillende stede deur die jare al só gegroei het dat hulle nou aaneenliggend is. Daarom moet onder meer op sosiale, ekonomiese en kulturele oorwegings gelet word wanneer besluit word watter bewoonde areas 'n stad vorm.
Soos hierbo genoem, sal Lagos die grootste stad in Afrika wees. Dit word gevolg deur Kaïro in die tweede plek met 14,02 miljoen inwoners, Khartoem in Soedan 6,4 miljoen, Dar es Salaam in Tanzanië 5,4 miljoen, Cassablanca in Marokko 5,09 miljoen, Loeanda in Angola 5,06 miljoen, Nairobi in Kenia 5,02 miljoen en Algiers in Algerië 4,93 miljoen.
Volgens City Mayors sal Tokio die rykste stad op aarde wees in 2020. Die daaropvolgende stede is New York (2), Los Angeles (3), Londen (4), Chicago (5), Parys (6), Meksikostad (7), Philadelphia (8), Osaka/Kobe (9) en Washington (10).
Amerika spog dus met nie minder nie as vyf van dié stede.
Al tien bogenoemde welgestelde stede pryk ook op die 2005-lys. Teen 2020 sal sommige bloot van plek verander het.
Maar as 'n stad welgesteld is beteken dit nie noodwendig dat dit duur is om daar te woon nie.
Volgens City Mayors is die aller duurste stad nie in Europa nie, maar wel in Afrika. Nes verlede jaar is Loeanda in Angola die duurste stad op onse planeet.
Ook uit Afrika is Libreville in Gaboen. Dit is die agtste duurste stad.
Die ander stede onder die top tien is almal in Europa: Oslo (2), Stavanger (Noorweë) (3), Kopenhagen (4), Moskou (5), Genève (6), Zürich (8), Basel (9) en Bern (10).

Londense huismuseum beslis ’n besoek werd

- Jens Friis
’n ONVERWAGSE manuskrip lewer dikwels ’n beter boek op as een wat gestuur word met groot fanfare, sê ’n uitgewersvriend.Tydens ’n besoek aan Londen het ek ’n soortgelyke ervaring gehad. Ek het nie met groot verwagtings na die John Soane-museum gegaan nie, maar toe ek daar uitloop, was ek hoogs beïndruk oor hierdie vonds. Dit is nie net ’n argiektuurmuseum nie, maar ’n imposante dorpshuis met ’n allemingtige eklektiese kunsversameling. Sy eertydse eienaar en naamgenoot is in 1753 gebore as die seun van ’n messelaar. In 1777 het John Soane met ’n reisbeurs van die Royal Academy vir drie jaar in Italië gaan woon. Dis dan ook hier waar hierdie argitek begin versamel het aan sy omvangryke kunsversameling. In 1806 het Soane hoogleraar aan die Royal Academy geword. In hierdie tyd het hy ’n huis langs Lincoln Inn Fields gekoop, ’n park wat vandag nog rus bied vir voosgeredeneerde prokureurs in die kern van Londen se regswêreld.Hierdie woning langs Lincoln Inn Fields 12 tot 14 het ’n meervoudige doel vir Soane gedien. Dit was nie net woonplek nie, maar ook sy argitekskantoor, biblioteek, uitstalplek vir van beelde tot skilderye, en ’n gebou waar hy vrye teuels aan sy argitektoniese drome kon gee. Hier kon hy letterlik bou en verb(r)ou. Nietemin getuig die kamers wat hy opgeknap het van basiese riglyne wat hy altyd nagevolg het soos skoon lyne, vindingryke gebruik van ligbronne, oordeelkundige detail en presiese proporsies. Sy Neo-Klassieke styl het uiters gewild geword en sy praktyk het gefloreer. Dalk sy belangrikste werke was die Dulwich College-kunsgalery en die Bank of England. Laasgenoemde het ’n groot invloed gelaat op die ontwikkeling van kommersiële argitektuur, maar is helaas in die 1920’s grootliks deur sir Herbert Baker herbou. Hierdie afbreek van Soane se vlagskipprojek is al beskryf as “die grootste argitektoniese misdaad in Londen tydens die twintigste eeu”. Weens die baie opdragswerk het geld na Soane gestroom en kon hy artefakte versamel wat in die British Museum sou kon tuishoort. Hieronder tel waardevolle brons uit Pompeii, skilderye deur Canaletto en Hogarth, asook ’n sarkofaag van Seti I, ’n Egiptiese farao. Ná die dood van sy vrou in 1815 het hy in hul dorpshuis bly woon. Sy oë het aansienlik verswak, maar hy het steeds stukke bly aankoop en sy versamelings herstruktureer. Met sy twee seuns was hy nie ingenome nie en aan hulle wou hy niks bemaak nie. Daarom het Soane bepaal dat sy huis bewaar moes word sodat “amateurs en studente” hieruit vreugde en kennis kon put. En dis hoe die John Soane-museum tot stand gekom het. Die maklikste om hier uit te kom is deur die moltrein na Holborn te neem. Die museum is ’n klipgooi van hier – reg langs die groen oase genaamd die Lincoln Inn Fields.Die museum is van Dinsdag tot Saterdag tussen tien en vyf oop. Toegang is pasella.Byna 100 000 besoekers doen hier aan per jaar – nogal ’n lot vir ’n huismuseum. Daarom is dit wys om met oopmaaktyd teen tien ’n draai te maak, want anders mag jy dalk in ’n tou staan.

Sutherland: 'n Warm bestemming




- Jens Friis
SUTHERLAND het die twyfelagtige eer om bekend te staan as een van die koudste plekke in die land. Hier het die kwik immers al by -16 C gedraai.
Tog het dit in die afgelope jare een van die "warmste" (naweek)bestemmings geword.
As jy immers nie die hoendervleisweer tuis kan ontwyk nie kan jy netsowel gaan ondersoek instel hoe koud is yskoud. En net dalk, is jy gelukkig en sneeu dit selfs in Sidderland!
Oor dié bibberweer skryf N.P. van Wyk Louw, dalk Sutherland se bekendste boorling, as volg:
ek staan weer by 'n wit poel waar 'n wintermiddag sneeu en ek is klein en hoor verskrik 'n jakkals uit die rante skreeu.
Maar dit is die "blomgroot sterre" waaroor Van Wyk Louw gedig het wat sy geboorteplek werklik op die wêreldkaart geplaas het.
Dié dorp is byna 1 500 m bo seespieël en spog met van die helderste sterbelaaide nagte denkbaar. Dis dan ook 'n hoofrede waarom die Suider-Afrikaanse Groot-teleskoop (SAGT) 18 km buite Sutherland op die Fraserburgpad staangemaak is.
'n Sterpartytjie is op Oujaarsaand 2008 hier gebou waartydens 'n beperkte aantal mense, soos nog nooit tevore, deurnag toegang tot die teleskope gehad het. Dié geleentheid het Suid-Afrika se deelname in 2009 ingelui tot die internasionale Jaar van Astronomie soos verklaar deur die Verenigde Nasies.
Terloops, 2008 was die herdenking van die eerste astronomiese gebruik van die teleskoop deur Galileo Galilei. Dit was 'n gebeurtenis wat 400 jaar van astronomiese observasies ingelui het en 'n revolusie in die mensdom se kennis oor die heelal meegebring het. Ná dié Galilei heet die Galileo Kunsgalery langs Sutherland se hoofstraat waar jy pragtige swart-en-wit foto's kan aanskaf.
Nie te ver van die SAGT-teleskoop staan een van die laaste aktiewe vulkane in Suid-Afrika. Dis moontlik om Salpeterkop met sy onderskeidende donkerswart vulkaniese gesteentes uit te klouter. Selwers het ek dit nie gedoen nie, maar ek kan my net indink dat jy vanaf die piek 'n ongekende blik sal hê oor die die Roggeveld en sy koue sterre-dorp.
Sutherland dateer uit 1857 toe 'n nuwe N.G. gemeente op die plaas De List aangelê is om die Roggevelders te bedien. Die volgende jaar is die eerste woonerwe verkoop. Volgens P.E. Raper se Dictionary of Southern African Place Names is daar besluit dat dié nedersetting sou heet na ds. Henry Sutherland (1790-1879), 'n Skotse predikant van Worcester.
Soos in omtrent alle Karoo-dorpe is die indrukwekkendste gebou op die dorp dan ook juis die N.G. Kerk. Dié Neo-Gotiese kerk is ontwerp deur Charles Freeman, 'n argitek wat ook verantwoordelik was vir die moederkerk op Graaff-Reinet. Dié nasionale gedenkwaardigheid is in 1903 ingewy, maar terwyl dit in aanbou was het die Kakies die kerk beset en dit as slaapplek gebruik, skryf Deirdré Richardston in Historic Sites of South Africa.
Dis oor dié einste kerk wat Van Wyk Louw skryf in sy bekende gedig "Beeld van 'n jeug: Duif en perd". Terwyl die jong seun in die agterplaas van hul huis op die dorp in 'n boek oor die Romeinse geskiedenis lees en die swart hings in die stal hoor, sien hy hoe sy duiwe "met vlerke oop" oor die dorp vlieg:
en hoog sien 'k hulle oor die toring pyl van ons kerk en een groot sirkel trek rondom die dorp, die rante-kom, en seil teen die donkerwolke in wat ver- weg lê en middag maak.
Danksy die ryklike gebruik van donkergrys plaaslike klip het Sutherland 'n merkwaardige argitekturele eenheid. Die boustyle van die kerk, skool, koshuis, polisiekantoor en tronk is byvoorbeeld uiteenlopend, maar dit word deur die gebruik van klip saamgebind. Buiten die donkergrys klip is harpuis-, renoster- en sneeuwit spekbosse ook kenmerkend van dié geweste.
Sou jy Sutherland toe wil gaan is daar omtrent net één pad. Ry met die N1 suid tot anderkant Laingsburg. By die afdraaipad na Matjiesfontein draai jy nie links nie, maar wel regs. Van hier sal die Verlatekloofpas wat uit 1875 dateer jou kronkel-kronkel na die platorand lei. Sutherland lê 120 km vanaf die N1. Onderweg sal jy nie ver verby Gunstefontein ry. Hier het Van Wyk Louw se oupa vanmeleë geboer in die 1880's.
Maar helaas stap die jare meedoënloos aan - selfs in hierdie afgeleë wêreld waar dit weinig anders lyk as toe die eerste trekboere hier huis opgeslaan het.
Dít het W.E.G. Louw maar al te goed besef toe hy ná die dood van sy broer hul geboortedorp besoek en mymer oor 'n vervlietende jeug in "Verslag van 'n winterrein":
Waar is die ruitjies van die plankstoepdeur, rooi en blou en groen? Die tuinmuur, met sy heinings van sipres, 'n donker gang wat oplei na die druiweprieel en die dam? Die agterplaas, met sy duiwehok, sy balie, die warmte van blou gruis? Die stal, met daarbinne, kragtig en swart, die hings wat jou wit oog aankyk in die donker? Dis alles weg. Dis deel van 'n droom. Dis reeds 'n gedig uit die kinderjare van wie hier gewoon het 'n halfeeu gelede . . .

SOU JY GAAN
* Sutherland se toerismekantoor kan gebel word by 023-571-1265. In die omgewing is meer as 20 gasteplase en -huise om te oornag. Maar dis uiteraard nietemin wys om vooruit te bespreek - veral as die wêreld wit getooi is in die winter en die Kapenaars hierheen stroom.
* Dis noodsaaklik om 'n bespreking te maak as jy die SAGT-teleskoop (023-571-2436) wil besoek.
* Winters kan die R354 ysglad wees. So wees ekstra versigtig. Vul jou petroltenk Saterdae, want Sondae is dit soms 'n probleem om petrol te kry.
* Besoek www.astronomy2009.org.za en www.saao.ac.za.

Graf oortrek van soenmerke


OM eer te betoon aan Oscar Wilde, soen baie van sy bewonderaars sy grafsteen in die Pere Lachaise-begraafplaas in Parys, Frankryk. Sy grafsteen is een massiewe marmerblok omtrent 4 x 6 m groot - en daar is skaars 'n plekkie waar daar nie 'n lipstiffiemerk is nie. Die begraafplaas is 'n toeriste-attraksie met grafte van beroemdes soos Frederic Chopin en Jim Morrison. Foto: Jens Friis

Die trein na Matjiesfontein




"Temadorpies" is hoogmode en talle winkelsentrums en (Monte)casino's word hiervolgens uitgelê. Die ware Jakobs soos Pelgrimsrus, Gold Reef City en Matjiesfontein is egter dun gesaai. Laasgenoemde het JENS FRIIS se hart reeds as kind gesteel en hy doen steeds graag in Matjiesfontein aan as hy die pad Kaap toe vat.

Só HET MATJIESFONTEIN GEGROEI TOT WAT DIT VANDAG IS
Dis aan James Douglas Logan wat Matjiesfontein grootliks sy bestaan te danke het. Voor sy aankoms in 1884 was dit vir ses jaar reeds bloot 'n stopplek vir stoomtreine om water in te neem. Nadat die Australiese skip waarop Logan was byna by Kaappunt gesink het, het hy by Simonstad afgeklim, stasiemeester van die pasvoltooide Kaapstad-stasie geword en is later bevorder tot distrik-superintendent van die spoorweë tussen die Heksrivier en Prince Albert Road.
Omdat Matjiesfontein sentraal geleë was vir sy werk, die droë Karoo-lug goed was vir sy swak bors en hy die alleenreg ontvang het om verversings op Matjiesfontein te verkoop, het die Logans hul daar gevestig. Daar word vertel dat Logan, 'n knap sakeman, 'n fortuin gemaak het deur kokend warm sop te verkoop. Voordat dit drinkbaar was, het die trein vertrek, die sop is teruggegooi in die pot en dit was gereed vir die volgende reisigers. Mettertyd het 'n dorpie aangegroei rondom Logan se Hotel Lord Milner - genoem na die Kaapse goewerneur. Logan was Kaapse parlementslid en diesulkes soos die sultan van Zanzibar en sir Randolph Churchill, vader van Winston, het aangedoen by die landheer wat 100 000 ha rondom Matjiesfontein besit het. Met Logan se dood in 1920 was die Karoo-lug-mode iets van die verlede. Boonop is die hoofpad verlê. Die Matjiesfonteindroom het gekwyn totdat die sakeman David Rawdon die ganse nedersetting in 1968 van Logan se kleinseun gekoop het en die Hotel Lord Milner heropen het. Transnet het enkele jare gelede die pragtige stasiegebou opgeknap en 'n konferensiesentrum ingerig. Die Marie Rawdon-museum, wat ook hier gehuisves word, het van die meeste Anglo-Boereoorlog-memorabilia in die land. 'n Britse kamp met oor die 20 000 perde en 10 000 soldate was destyds hier in die veld. Die letters ``VR'' verwys nog na die heerskappy van Koningin Victoria op 'n briewebus langs die poskantoortjie. Langsaan staan die huisie wat Olive Schreiner gehuur het en waarin sy lang gesprekke met Cecil John Rhodes gevoer het. Deesdae is dit 'n gastehuis soos die meeste huise in die dorp. Die Coffee House, vroeër die algemene handelaar, verkoop outydse lekkers en ander eetgoed. Voor die winkel staan nog twee rooi-en-geel Shell-petrolpompe - 'n verwysing na die nasionale pad wat vroeër hier deur geloop het.

EERSTES EN ENIGSTES
Matjiesfontein spog met talle eerstes en enigstes:
* Die eerste internasionale krieketwedstryd tussen Suid-Afrika en Engeland is hier in die middel van nêrens gespeel. Die destydse heer en meester van Matjiesfontein, Jimmy Logan, het twee toere van Lord Hawke se spanne na Suid-Afrika gereël. Later het Logan betaal vir die ganse Suid-Afrikaanse span se toer na Engeland. The Laird's Arms, waar die dors geles kan word, is vol kiekies van die krieketmal Logan, terwyl die meubels daarin van die Marleybone Cricket Club by Lords kom.
* Tweedside Lodge, 'n Victoriaanse huis met 25 vertrekke, was die eerste in Suid-Afrika met elektrisiteit.
* Daar word aanspraak gemaak dat die langste private telefoonlyn in die Kolonie dit verbind het met Tweedside Farm, 20 km suid langs die N1. Dié foon is nou te sien in die bankmuseum straataf.
* Dié dorpie was ook ander vooruit deur sowel elektrisiteitsvoorsiening en 'n rioolstelsel met water te hê.

SOU JY GAAN
* Matjiesfontein is 'n paar minute se ry uit Laingsburg langs die N1 na Kaapstad. Dis dus nie 'n halfweghuis Kaap toe vir Beeld-lesers nie. Maar dis wel 'n lekker oornagplek as jy die eerste dag ver wil ry en dan oorslaap om die volgende oggend vroeg by die see aan te kom.
* Bring winters genoeg warmklere en somers die nodige sonbrandmiddel en sonbrille, want Matjiesfontein is in die Karoo. Dis tipiese woestynweer.
* Sou jy Matjiesfontein as basis vir 'n paar dae wil gebruik is hoogtepunte in dié wêreld Sutherland en Seweweekspoort.
* En as jy soos Sonja Heroldt die Trein na Matjiesfontein wil vat, gooi dan 'n oog by http://www.spoornet.co.za/ of bel 086 000 8888.

'n Stukkie Frankryk in Noord-Amerika

- Jens Friis
BESOEK jy Montréal, die tweede grootste Franssprekende stad naas Parys, is dit verstommend watter onderskeidende Quebecois-kultuur inderdaad bestaan – ’n ongewone bestuiwing van Europese joie de vivre en Noord-Amerikaanse can-do. Die ervaring is byna soos jy jou ’n idilliese rendezvous in Parys sou voorstel, maar Montréal is g’n kloon van die Franse hoofstad nie.Greene Avenue en Sherbrooke Street in Wes-Montréal het ’n tipiese Britse gevoel met hul kroeë en Victoriaanse geboue. Langs grastennisbane word op lowergroen rolbalbane kroket gespeel. In die Queen Elizabeth-hotel het John Lennon en Yoko Ono in 1969 dae lank nie suite 1742 verlaat nie en Give Peace a Chance  opgeneem.Montréal herinner Franse ook nie aan Parys nie. Die stad se strate loop, nes dié in New York, in ’n roostervorm. Franse stede, nes Washington DC, is ontwerp rondom sirkels waar boulevards soos die speke van ’n wiel na ’n as lei.Digby die magtige St. Lawrence-rivier loop keisteenstrate verby voor die oudste huise in Noord-Amerika. Sewentien jaar voor Van Riebeeck se koms na die Kaap het Jacques Cartier 1 400 km die kontinent binnegeseil en hier ’n Indiaanse nedersetting, Hochelaga, gevind. Hy het na die heuwel waar om die stad gebou sou word, verwys as mont réal (Frans vir koninklike berg) Vandaar die naam Montréal.Mettertyd het die Engelse die bewind oorgeneem en veral Joodse, Italiaanse, Chinese en Russiese immigrante het hulle hier gevestig. Dit gee ’n kosmopolitaanse gevoel aan Quebec se grootste stad. Op buitelugverhoë, in parke en sale, maar veral in die stegies en pleine naby die hawe, weerklink note uit vreemde wêrelddele. Straatmusikante hou sy-aan-sy-konsert. Feitlik oral is jy veilig. Selfs gure karakters sê “excusez moi” pleks van om jou vreemd aan te kyk sou jy per ongeluk teen hulle stamp.Langs die Rue Notre-Dame is die Hotel de Ville, ’n tipiese Franse stadsaal waar Charles de Gaulle op ’n balkon sy bekende “vive le quebec libre”-toespraak in 1967 gelewer het. St. Denis en St. Laurent Boulevard is omsoom met bistro’s, patisseries met uitstekende croissants en sypaadjie-kafees soos Parys se St. Germain des Pres. In die somer is dit stampvol as Perrier gedrink word teen die ondraaglike humiditeit.Jy eet ’n crepe, kyk hoe ’n straatkunstenaar die portret van ’n kleuter afrond en groet wuiwende verliefdes op ’n perdekoets met ’n “bonjour”. En ja, die Quebecane soen, nes die Franse, graag hul geliefdes op straat.Wanneer vars sneeu in die winter soos bakpoeier onder jou voete op straat kraak, is die talle reuse-boekwinkels net die plek om tyd deur te bring. ’n Magdom koerante en leesstof in Frans is te koop, maar ook heelwat van oral oor die wêreld. Te kry uit Afrique de Sud is Kentridges, Krogs, Coetzees, Mandels en Makebas. Vir die gemiddelde Quebecaan staan Franssprekende Wes-Afrika egter voorop.Die inwoners van Quebec is gaande oor disse wat moeilik in Frankryk of elders in Kanada te kry is – soms met goeie rede. Hieronder tel poutine, ’n bord aartappelskyfies met vleissous en gesmelte mozarella bo-oor. Tog is Kanadese cuisine ietwat van ’n oksimoron. Ontbyt is groot, en soos in Amerika, kompleet met wafels en esdorsingsap (marple syrup) of bagels. Varkpasteie met dik ertjiesop is tradisioneel, maar jy sal waarskynlik dieselfde eet as in Londen of Kaapstad – dalk net minder skaapvleis.Stap jy uit ’n restaurant word jy met die kenmerkende “merci-bye!” gegroet. Die inwoners spring vaardig tussen hierdie twee tale in ’n stad wat onderskeidelik deur Franse, Engelse en Kanadese gebou is. Altesaam 66% van die 3,1 miljoen inwoners praat Frans en net 15% Engels.CD’s deur plaaslike kunstenaars word in toonvensters saam met dié van sangers uit Frankryk uitgestal. Daarna kom jy eers op Amerikaanse pop-musiek af. Selfs Celine Dion, dalk Montréal se bekendste inwoner, verkies Frans, maar snap die noodsaak van Engels en slaan gemaklik oor soos die situasie dit vereis.Want die Quebecane het besef: Erken verskille, maar skat die ooreenkomste na waarde sodat dit as basis kan dien waarop lewens tesame gebou kan word.

Só is Geneefse fontein "oopgeboor"

- Jens Friis

En hoor jy die magtige dreuning?
Oor die meer kom dit aangesweef ...
Dis die bewys van Genève se ontwaking.
Wat almal laat glimlag en juig.

GENèVE. Die Jet d'Eau, die ikoon van Genève, pryk op omtrent elke yskasmagneet, boek of poskaart oor dié stad, is die logo van die toerisme-kantoor en as dit afgeskakel is sal jy sonder twyfel wonder wat jy mis.
Hoe dié fontein ontstaan het, is 'n fassinerende verhaal.
Die huidige Waterfontein se voorganger dateer uit 1886. Die hidroliese turbines langs die Rhône-rivier se waterdruk is destyds gebruik om masjiene in die stad aan te dryf. Saans was daar egter 'n oormaat waterdruk as die stad se ambagsmanne huiswaarts gekeer het.
'n Opgaarsisteem vir die surplus waterdruk was in die pyplyn, maar tot dan moes daar 'n ander plan gemaak word. As tussentydse maatreël het 'n ingenieur toe 'n klein gaatjie aan die einde van die waterdrukkanaal laat boor.
Die resultaat, 'n fontein wat 30 m die lug ingespuit het, was onmiddellik 'n trekpleister waarheen mense van wyd en syd gestroom het.
Toe die tydelike uitlaat onnodig geword het, het die stadsvaders 'n gulde geleentheid gesien om hul stad te onderskei deur middel van 'n soortgelyke fontein.
Gevolglik is die Waterfontein in 1891 van die Rhône-rivier na die meer wat Genève omsoom, verskuif.
In die jare wat kom sou al sterker pompe en spreiligte aangebring word.
Deesdae troon die Jet d'Eau 140 m die lug in wanneer 500 liter water uit die pyp se tuit gespuit word teen 200 km/h. Vandat 'n druppel die fontein se oog verlaat totdat dit in die meer plons neem 16 sekondes.
Die fontein spoeg daagliks water die lug in gedurende die Europese somer van Mei tot mid-September tussen 09:30 en 23:15. Tussen laat-Maart en April, en mid-September en Oktober is dit Maandag tot Vrydag van 10:00 tot sonsonder te sien, en op Saterdae en Sondae van 10:00 tot 22:30.
Op winderige dae kan die fontein se pluim die omliggende straat en geboue waternat spuit. Daarom word die Jet d'Eau afgeskakel as die wind sterk word.
Om die krag en geraas van die verwoede water die beste te ervaar, moet jy op die pier ("jetty") uitstap. Maar oppas: jy kan dalk net papsopnat word as van die Switserse sproeireën op jou neerplons.

Boergondiërs kán kos maak

Kos is 'n godsdiens in Boergondië, skryf Jens Friis.

TOE ons oplaas welgedaan opstaan, sê my metgesel wat redelik funksioneel is oor kos: ``Jô, hier eet jy nie nét om jou honger te stil nie, nè!''
Gewis nie. Vir die Boergondiërs is éét 'n estetiese belewenis. Dis 'n simbool van die goeie in die lewe.
Die okkasie om daardie dag weer eens die mae boordensvol te vul?
'n Jagtersete wat 'n hele Saterdag duur.
Elke jaar as die eerste blomme verskyn, kom die jagters byeen op dorpies soos dié van Juliette Binoche en Johnny Depp in die rolprent Chocolat.
In April is die lente voor die deur. Die inwoners verlang na die son, die warmte wat wag. Daar word gekook, maar ook gelag, geproe, geëet, geniet en gesels.
Dis hoe dit nou maar eenmaal gedoen word. Maak nie saak of dit op Vézelay, St. Bris le Vineux of in Auxerre is nie.
Die middagete begin om twaalfuur. Ons word vriendelik maar sonder fieterjasies ontvang en skuif langs lang tafels in. Die atmosfeer is gesellig warm, lekker luid. Beslis nie 'n sotto voce-arlour nie.
'n Stewige porsie gegeurde hoenderpensies word met soutigheidjies voorgesit. Warm kommetjies witaspersiesop met broccoli en croutons volg. Die borde is nie klein nie en dis vól.
Tussendeur berei 'n paar gekonfyte vroue die volgende gang terwyl kinders in die kombuis om hulle kloek.
Daar word vreeslik gekuier totdat twee groot skywe tuisgemaakte wildspatee verskyn en ná 'n ruk nog 'n porsie.
Dit word gevolg deur 'n wildevark-glansboud wat op 'n spit gebraai is, én ná 'n ruk ja, natuurlik 'n help-weer.
Daarna kom beespotbraaistuk met romerige amandelsous en groenslaai. Dis uit die boonste rakke. Met die tweede omstuur help ek my natuurlik weer. 'n Kleiner happie, want my smaakkliere wíl nog, maar my maag kan nie meer nie.
Ons eet groenslaai voor die kaas. Die verskeidenheid is 'n versoeking.
Nog is dit het einde niet, want volgende is sjokolademousse-koek in brandewyn. Hierby word sjampanje gedrink.
En uiteindelik die koffie. Die ganse maaltyd word afgerond met schnapps.
Die honderdtal gaste het by die 200 bottels wyn gedrink. Tog het elke Fransman hom gedra. Jy merk skaars dat daar soveel van die spreekwoordelike ``nektar van die gode'' in kele verdwyn. Elke gang word dan ook met sy eie wêreldgehalte-wyn voorgesit. Soos Leonardo da Vinci immers gesê het: ``Wyn is die hemelse drank van die druif.''
Die maaltyd hou eers so agtuur op. Die volgende Sondag sou die ganse kommune vir nog 'n sosiale geleentheid byeenkom die jaarlikse ``varkete''.
Gelukkig sou ek dan al elders wees. Hierdie mense eet darem al te verskriklik!

Slegs in Londen

LONDEN beoog om R28 miljoen te spandeer op 'n bemarkingsveldtog en hoop om die plaaslike ekonomie só 'n hupstoot van R830 miljoen te gee teen die einde van die jaar. Die internasionale bemarkingsveldtog se tema is "Only in London" en fokus op buitengewone ervarings wat jy in dié stad kan beleef. Hier steek voetgangers die Teems oor op 'n ultra-moderne brug. Foto: Jens Friis

Julia se Biot



JENS FRIIS vertel hoe hy, vars terug in Frankryk, aan’t gesels geraak het met ‘n sonderlinge dame.

BIOT is een van min heuweldorpies noord van Cannes waar massa-toerisme nog nie sy allesvernietigende opmars begin het nie.
"En mag dit my tog gespaar bly!," wens 'n inwoner, Julia Spencer (82). "Waarom almal alewig elke geleentheid wil aangryp, weet ek nie. Dit kan jou lewe ruïneer en jou voortydig in die graf laat beland!"
Dat soveel grysaards Biot se keisteenstrate bewandel, is 'n bewys dat die Here die inwoners lief het, reken Julia.
Dit is reeds tien voor tien op 'n Woensdagoggend in die hartjie van dié dorp, maar om die stadsplein is daar nog min voete. Die dag word stadig wakker hier.
By die enigste kafeetjie/restaurant wat al oop is, sit ek iets en drink.
Julia is reeds ure wakker "soos dit mos maar met oumense gaan". En nou sit sy haar bene en warm bak in die herfssonnetjie voor ‘n geskenkwinkel van 'n vriendin. Dié winkel staan skouer aan skouer met die kafeetjie/restaurant waar ek sit en dít was die aanknopingspunt vir ons impromptu-gesprek.
Op Julia se skoot lê dié geweste se dagblad. Dit lees sy van hoek tot kant, maar dié lesery gaan maar met 'n slakkepas. Die koerant speel tweede viool, want daar is baie dinge wat éérs haar aandag verg.
Hieronder tel ‘n gewroeg oor die vrou oorkant die straat wie se gordyne "permanent pottoe is", die lug wat vandag "darem baie blou is" langs die Middellandse See, en die priester wat wéér onder sy nikotiendrang geswig het.
Laasgenoemde is vir haar 'n steen des aanstoots. "Tipies Fransman, het my man óók gerook. Hy's dood daarvan. Longkanker. Maar ek lees hulle sê selfs die Franse rook ál minder."
Die kerkklok slaan tien keer en kort hierna word die stilte versteur deur die skoenklankeggo's van 'n vrou op hoë hakke.
Julia kyk op vanaf haar koerant - iets is aan't gebeur.
Uit 'n verdwaalstegie kom die eienaar van die restaurant waar ons die vorige aand wou gaan eet.
Vanaf die straat was dit moeilik om verby dié eetplekke te stap. Dit het nie voorgegee om iets spoggerigs te wees nie, maar die buffet het byna geswig onder die oorvloed - soos dit net in hierdie geweste kan wees waar alles volop is. (Selfs die kleine Biot het elke Dinsdag en Vrydag 'n varsprodukte mark waar boere hul beste suurlemoene, tamaties en olywe kom verkwansel.)
Helaas was daar dié aand g'n plek vir 'n muis by dié eetplek nie.
Tog reken Julia nietemin dat ons steeds 'n draai daar móét gaan maak, want jy kry "gawe, geurvolle porsies".
Volgens my bejaarde gespreksgenoot is die ander geheime van dié restaurant se sukses "dat die baas produktiwiteit met gehalte meng" en "dat sy hou van wat sy doen".
"Maar die belangrikste bestanddeel ...," deel Julia my vertroulik mee "is dat daai vroutjie 'n skeutjie Biot-wyn by omtrent al haar disse voeg. Dís waarom algar daar so lekker kuier-eet."
Ons sou nog lekker lank kon gesels, maar Julia se vriendin het vanuit haar geskenkwinkeltjie na haar geroep. Sy het 'n besending glasware (waarvoor Biot bekend is) ontvang en Julia moes help uitpak.
En só het 'n onverwagse geselsie te gou tot 'n einde gekom.
Soos ‘n vriend al opgemerk het: Dit is immers so dat dit deesdae maklik is om te reis, maar al hoe moeiliker om met plaaslike inwoners te meng.



SOU JY GAAN
* Eet iets by die handvol restaurantjies langs die Places des Arcades en drink die atmosfeer in van hierdie Middeleeuse dorpie wat byna 2 500 jaar oud is.
* Sien hoe Biot se "bubble-flecked" glasware gemaak word by onder andere Verrerie de Biot langs Chemin des Combes.
* Die versteekte Rooms-Katolieke kerkie bly my by. Let op die lys name teen een van die kerkmure. Dít gedenk inwoners wat deur die eeue met hul lewens moes boet weens rampe soos aardbewings en brande.
* Selfs in Augustus tydens die Europese skoolvakansie is Biot selde besig. Ook die weer is by hoë uitsondering goor. Dis dus heeljaar goed om Biot te besoek.
* In die winter sluit baie blyplekke langs die Franse Riviera egter hul deure. Dis wys om veral dan vooruit plek te bespreek.
* Biot is uitstekend geleë. Gunsteling vakansiebestemmings soos Nice, Cannes en Antibes is slegs 'n klipgooi ver. Die Biot-treinstasie is op die Cannes-Nice-lyn, maar dis 4 km vanaf die dorp. Jy sal dus moet stap óf ‘n duur taxi neem. ‘n Beter opsie is een van die vele busse wat Biot met die kusdorpe verbind.

Kom fliek in die Karoo

KOM FLIEK IN DIE KAROO. Victoria-Wes berei voor vir sy Apollo-filmfees wat deur die jare al 'n instelling geword. Vanjaar sal dit op 24 September begin en tot 30 September duur. Kom sit agteroor in een van die enigste oorblywende Art Deco-rolprentteaters in die land en kyk na top-flieks. Vir meer inligting bel mnr. Petrus Martens by 086-658-1825 of loer by www.apollotheatre.co.za.

Arme Mona Lisa

Kultusfiguur of kulturele argetipe, uitlokker of onskuldige ikon, Leonardo se misterieuse madonna bekoor na sowat 'n halfmillennium net meer, skryf Jens Friis.

MIN gesigte is meer bekend en bemind as dié Mona Lisa. In New York het ek haar op 'n stortgordyn uit Korea gesien. Op die sypaadjie voor die Keiser Wilhelm-gedenkkerk in Berlyn was 'n straatkunstenaar haar aan 't sketse. Op 'n vriendin se sitkamerbank in Johannesburg dien sy as 'n kussing.
As Mona Lisa nie 'n klarinet bespeel nie, verkoop sy rekenaars of sigare. Vele beroepe moet dié arme vrou beoefen! Die Chinese kan Mona Lisa Skin Oil aanskaf, en in Pole is sy 'n akrobaat op 'n sirkusplakkaat. En ja, die raarste van die lot is dalk in Amerika waar opblaasbare Mona Lisa-poppe van mensgrootte verkwansel word! Die variasies op die tema is verbysterend. Mona Lisa het deel geword van die mens se kollektiewe onbewuste. 'n Kruising tussen 'n kulturele argetipe en 'n ikon van kitsch.
Op 8 Februarie 1999 trek die tydskrif The New Yorker parallelle tussen Mona Lisa en Monica Lewinsky. In die artikel getitel ``Woman of the Year'' skryf David Remnick van Lewinsky: ``In Monica het ons alles en almal gesien wat ons wou . . . Sy pas in alle interpretasies . . . Sy is orals van regsjoernale tot pornotydskrifte . . . Maar Monica [anders as Mona Lisa] is 'n vrou wat nie meer geheime het nie. Haar oë is nie vensters nie, maar spieëls, en wat ons sien, is vreeslik. Nietemin bly ons staar.''
En met 'n oog wat 'n bars kan kyk, kyk ek in Los Angeles. Langs Sunset Boulevard stal 'n vyftigtal Mona Lisa-liefhebbers uit. Die een het 'n humorsin wat selfs Mona Lisa sou laat kraai. Só probeer sy my oortuig dat Michael Douglas al te veel lyk na 'n afstammeling van hierdie geliefde madonna. 'n Ander druk my dít in die hand: ``Mona-Lisa Cocktail: 3 oz. Vodka, 3 oz. Lemon Soda. Stir and pour into a highball glass. Drink while dancing to the song `Mona-Lisa'.''
Ek sien van telefoonkaarte en koekieblikke tot sokkies met slegs een gemene deler: Was daar al 'n bekender werk in die ganse geskiedenis van die beeldende kunste?
``Niemand wil hul tog nét deur mooi en funksionele goed omring nie,'' verklaar 'n Mona Lisa-fanatikus waarom hy drie identiese kaassnyers het waarop onse Lisa verskyn.
Onnodig om te meld, is dit ook sy wat pronk op Frank Zappa-plakkate, oorringe en porno-speelkaarte op sy uitstaltafel. Dit alles is nie te koop nie, maar wel die Mona Lisa-legkaart wat te kry is op CD-Roms vir Macworld, MacFormat en/of The Mac.
Het hy al die ware skildery in die Louvre gesien? vra ek.
``Nee,'' sê hy. ``In Amerika het ons alles net nie die egte Mona Lisa nie. Maar my ma het haar al gesien. Dit was in Januarie 1963 kort nadat Mona die Atlantiese Oseaan oorgesteek het en deur pres. en mev. Kennedy verwelkom is.''
``Dis eienaardig dat Mona so gewild is, want hierdie Florentynse edelvrou is omtrent die enigste artistieke voorwerp in die Louvre wat nie naak is nie,'' sê sy makker wat wel al in Parys was. ``Elke dag is die menigte wat nie op die Eiffel is nie, voor Mona Lisa, en sy kyk na hulle met daai enigmatiese uitdrukking van iemand wat wonder oor die tydlose vraag: Waarom bly hul foto's neem, hoewel dit uitdruklik verbied word?''
Die misterieuse manier waarop Mona Lisa se glimlag verander, afhangende hoe jy daarna kyk, kan moontlik toegeskryf word aan die fisiologie van menslike sig. ``What is it with Mona Lisa's Smile? It's You,'' kondig die New York Times dié moontlikheid onlangs aan.
Volgens Margaret Livingstone, 'n Harvardse neuro-wetenskaplike, het Mona Lisa sowel ``sentrale visie'' as ``periferiale visie''.
Die eerste fokus op detail en die laasgenoemde op skadu's.
``Hierdie skaduwees suggereer en versterk die booglyne van 'n glimlag. As die kyker se oë egter direk na Mona Lisa se mond gaan, word die skadu's weens sentrale visie nie gesien nie,'' verduidelik Livingstone. ``Gevolglik verskyn en verdwyn die glimlag voortdurend afhangend hoe jy na Mona Lisa se gesig kyk . . . Die aktrise Geena Davis vertoon ook hierdie Mona Lisa-effek.''
Met die skryf hiervan het seminare oor die skildery gedy. Wie behoort die Mona Lisa te besit? vra hulle. Hoe is Leonardo se Mona Lisa gebruik en vervorm deur die moderne wêreld en veral die handel? Wie het die volmaakte Mona Lisa?
Ja, dié vrou bly gewis bekoor - oor grense én tyd heen.

Renosters hervestig by Visriver-canyon

RENOSTERS HERVESTIG IN SUID-NAMIBIë. Ná nagenoeg twee eeue is daar weer swartrenosters in die Gondwana Cañon-park wat by die Visriviercanyon geleë is. Vier renosters is onlangs hier vrygelaat in ’n poging om die renosterbevolking wat in die 19de eeu deur jagters uitgeroei is, te hervestig. As jy dus van plan is om by die tweede grootste canyon ter wêreld te gaan stap, kan jy dalk net dié nuwelinge raakloop. Foto: Jens Friis

Groenhuis Gastehuis, www.philippolis.co.za


Veelkleurige windpomp begroet besoekers

WINDPOMP VERWELKOM TOERISTE LANGS N12: Dié veelkleurige windpomp by Strydenburg begroet toeriste wat langs die N12 ry van Kaapstad via Kimberley na Johannesburg. Foto: Jens Friis

Die son het gedraai!

'n Trietsige sonnetjie breek deur vlieswolkies bokant die nedersetting Waterkloof in die Suid-Vrystaat. Hoewel die koudste maande nog voorlê is die langste nag darem al agter die rug en sal die son eersdaags weer sy kop 'n raps vroeër begin uitsteek. Foto: Jens Friis

Beeldskone Borneo

DIGTE REëNWOUDE en seldsame diere maak Borneo 'n hemel vir navorsers, wetenskaplikes en avonturiers. Dié eiland tussen die Suid Chinese en Java Seë is een van die mees biologies uiteenlopend plekke ter wêreld. Borneo is in drie dele onderverdeel en behoort onderskeidelik aan Maleisië, Brunei en Indonesië. Dié foto is geneem in die Maleisiese staat Sarawak. Foto: Jens Friis

Strydenburg


STRYDENBURG se moderne N.G. Kerk word hier omraam deur die pilare van 'n koel voorstoep van 'n huis oorkant die straat. Die N.G. Kerk se geskiedenis in hierdie geweste dateer terug na 1892 toe 'n gemeente hier tot stand gekom het op die plaas Roodepan. Op 26 April 1897 het lidmate van die plaaslike NG gemeente besluit om weens dogma-redes weg te breek en die eerste Gereformeerde Kerk onder die Kruis in Suid-Afrika te vorm. En binne 18 maande is die Gereformeerde Kruiskerk op 10 September 1898 in gebruik geneem. Dié kerk langs Liebenbergstraat is ’n nasionale gedenkwaardigheid. Strydenburg is 55 km suidwes van Hopetown en 75 km noord-noordwes van Britstown. As jy die volgende keer die R12 vat van Kaapstad na Johannesburg via Kimberley, sal dit loon om ’n bietjie stadiger te ry deur die skrywer F.A. Venter se geboortedorp. Venter het ook ’n groot deel van sy lewe in die distrik gewoon. Foto: Jens Friis