Monday, August 16, 2010

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073

Verken Mykonos per kwadmotorfiets

- Jens Friis
OM Mykonos te "verken" met 'n kwadmotorfiets mag dalk die indruk wek dat dié gewilde Griekse eiland gróót is. Maar dis geensins die geval nie. Met 'n motor sou jy dit van een kant na die ander maklik in 'n twintig minute kon kafdraf.
Nietemin is daar op dié eiland van beperkte omvang heelwat te sien as jy uit die hoofdorp, oftewel die Chora, ry. Die res van die eiland is steeds grootliks ongeskonde en buiten vir die strande, verken min toeriste die res van Mykonos.
Ná 'n onlangse besoek kan ek bevestig: daar is g'n beter manier om dié dele van Mykonos te sien as per kwadmotorfiets nie.
Met dié vierwiel-motorfietse (kwad verwys na "vier" soos in kwadrupleeg) het jy jou eie vervoer en kan jy kom en gaan soos jy wil.
Dis nie duur nie - vir vier dae het een ons R1000 gekos. Met R250 per dag sou jy dalk wel 'n klein karretjie kon huur in Suid-Afrika, maar in dié geweste is dit byna soveel as wat jy sou betaal vir 'n taxi of om 'n keer op 'n boot te ry van die hawe na 'n strand.
Boonop hoef jy dan ook nie by openbare vervoerskedules te hou nie.
Ons het heelwat gekarjakker op onse kwad en die brandstof vir die vier dae was 'n raps minder as R100.
Op Mykonos wemel dit van plekke wat kwads, motors en motorfietse verhuur. Die kompetisie is gevolglik straf en die pryse verskil weinig.
Om 'n kwad te huur het jy 'n geldige Suid-Afrikaanse bestuurderslisensie en 'n kredietkaart nodig.
Selfs al het jy nog nie vantevore 'n kwad gery nie, is dit verspot maklik en sal jy dit beslis gou onder die knie kry. Dit het nie ratte nie en met vier wiele is omslaan feitlik onmoontlik. Daar is net 'n beperking dat kinders onder ses jaar dit nie mag bestuur nie!
Twee mense kan gemaklik op dié kwads sit en as jy nou nie te lywig is nie sal daar selfs nog plek wees vir 'n groterige sak vir inkopies of strandhanddoeke.
Die paadjies is feitlik almal geteer en 'n stofpadryery is dus selde nodig.
Almal ry sonder valhelms. Só hoef jy dan nie 'n sware valhelm saam te piekel na Mykonos se gewilde strande of klubs nie.
Omdat die eiland klein is, is dit nie 'n probleem dat 'n kwad nie vinnig kan ry nie. Jy gaan wel daar kom, hoewel dit 'n raps langer gaan duur. (Op 'n gelykte het ons wel een keer 52 km/h gehaal.) Selfs die motors ry stadig, want die paadjies is nou en daar is baie draaie. Ons was dol daaroor om deur dié droë eiland te "jaag" en die wind in ons hare te voel!
En moenie te veel vrees dat jy dalk iewers verkeerd gaan ry of 'n verkeersoortreding gaan begaan nie. Daar is soveel kwads en toeriste dat die motoriste en verkeerskonstabels foute maar gelate aanvaar.
Wat wel 'n lastigheid is, is dat geen voertuie toegelaat word nie in die grootste deel van die Chora (hoofdorp). Gevolglik moet jy in parkeerterreine 'n end uit die middedorp stilhou. Maar minstens is dit makliker om parkeerplek hier te vind as met 'n kar wat veel groter is.
'n Heerlikheid was om te stop wanneer jy wou of dit nou vir 'n esel, 'n ruïne of 'n afgeleë strandjie was.
'n Kwad het ook 'n maklike manier gebied om by die gewilde strande te kom soos Eliah, Superparadise en Paranga.
'n Voordeel van Eliah is dat dit stiller is as Superaparadise - een van die gewildste partytjieplekke op aarde en glo selfs beter as Ibiza.
Eliah se strandrestaurant bied watertand maaltye. My gunsteling dis was hul opgestopte sampioene met knoffel, olyfolie en talle speserye wat bedien word met halloumi-kaas en oorryp tamaties.
'n Snaaksigheid van Mykonos is dat hier weinig dorpies is - daar is byvoorbeeld net vier petrolstasies. Buiten vir die Chora lyk die res van die eiland eerder soos plotte met elke hier en daar 'n huis en kerkie.
Een van die enigste dorpies is Ano Mera, in die middel van die eiland (5 km van die Chora). Ano Mera het een van die mooiste kerkies wat ek in my dag des lewens nog ooit gesien het. 'n Móét as jy ooit in dié kontrei kom.
En as jy huis toe gaan is die wette lekker dat jy die vryheid gehad het om self vorm te gee aan jou vakansie danksy 'n eie vervoermiddel.
Boonop het jy waarskynlik iets nuuts leer doen: om 'n kwad te ry. En watter beter plek as op die idilliese Mykonos?