Monday, January 11, 2010

Riebeek-Oos

- Jens Friis
RIEBEEK-OOS was vir dekades "a little village virtually lost in time", soos 'n Engelse Oos-Kaapse vriend dit beskryf.
Maar danksy 'n groeiende belangstelling in eko-toerisme beleef Riebeek-Oos 'n herlewing soos laas in die dae toe Piet Retief hier geboer het. Dat Riebeeck-Oos naby aan Grahamstad (37 km) en die Addo Nasionale Park is, help. Boonop vind sommige van Port Elizabeth se stadsjapies dit 'n aangename wegbreekplekkie.
Riebeek-Oos is allermins die volgende Clarens of Montagu (en sal dit ook nooit word nie), maar erwe word reeds vir R100 000 stuk verkoop, terwyl eienaars dit vroeër vir 'n appel en 'n ei wou weggee.
Dié dorp is in 1842 op die plaas Mooi Meisjes Fontein van Piet Retief, aangelê, toe 'n behoefte ontstaan het vir 'n eie kerk. Die boere was moeg om elke Nagmaal 130 km met hul ossewaens na Uitenhage af te lê.
Waarom dit na goewerneur Jan van Riebeeck vernoem is, vermeld geen bron. (Dié Hollander was immers reeds byna twee eeue weg uit die Kaap)
In 1854 sou die agtervoegsel "Oos" by "Riebeek" gevoeg word om dit te onderskei van Riebeek-Wes naby Malmesbury.
Terloops, Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes in die Swartland is nie dieselfde plek nie. "Die twee "Riebeecks", 4 km uitmekaar, is aan godsdienstige onenigheid te wyte. Die gemeenskappe van Riebeeck-Kasteel en Riebeeck-Wes het tot die 1850's onder die Nederduits Gereformeerde Kerk op Malmesbury geval," leer Willie en Sandra Olivier se "Toergids vir Suid-Afrika". "Na 'n besluit in 1854 om 'n gemeente in die Kasteelvallei te stig, het 'n geskil oor die ligging van die kerk ontstaan en dit het twee afsonderlike gemeentes tot gevolg gehad."
Maar om terug te keer na die oplewing in Riebeeck-Oos: Vir bykans 170 jaar is Piet Retief se ongeskrewe reël nagevolg dat geen sterk drank hier verkoop mag word nie. Maar dit het verlede jaar tot 'n einde gekom toe die Knoesen-familie 'n kroeg geopen het. Dit vorm saam met 'n restaurant, poskantoor en buiteverkope die Kleingenoeg Mini Market.
Omdat dit omtrent die enigste besigheid in die dorp is, doen jy hier aan ongeag of jy op pad is na die Grahamstadse kunstefees, in die omringende heuwels kom stap, of die lengte van koedoehorings kom skat by die kerkbasaar.
Baie besoekers kom ook na dié geweste omdat dit een van die enigste plekke in Afrika is waar jy die Groot Vyf kan sien sonder die gevaar van malaria.
Onder die bekendste wildreservate tel Addo en Shamwari.
Maar nie almal is in hul skik oor al die private wildplase wat in die Oos-Kaap soos bossies opskiet nie.
Mnr. Gugile Nkwinti, 'n voormalige LUR vir landbou, het al volgens die Oos-Burger gesê: "Dorpies soos Alicedale en Paterson is oorgeneem deur die mense van Shamwari. Riebeeck-Oos is oorgeneem deur ’n Noor. ’n Kanadese vrou het in samewerking met grondbesitters ’n groot stuk grond gekoop en die bewoners afgeskop."
Die hartseer lot van sulke soort ontworteldes, het Nkwinti destyds gesê, is dat hulle in plakkersbuurte en townships moet gaan woon.
Maar hoe dit ook al sy, Riebeek-Oos, herleef. Oor die hedendaagse "alkohol-drinkery" sou Piet Retief moontlik frons, maar oor die oplewing op die grond waar hy eens geboer het, sou hy sweerlik glimlag.

Oos, Wes, Tuis, Bes
Van waar Gehasi?

Daar is sóveel Suid-Afrikaanse dorpe met rigtingaanduiders in hul name, dat dit soms kophou kos.
Buiten Riebeek-Oos en Riebeek-Wes, is daar ook in die oud-Kaapprovinsie 'n Somerset-Oos en Somerset-Wes asook 'n Barkly-Oos en Barkly-Wes wat albei heet na Engelse goewerneurs aan die Kaap.
Maar daar's egter g'n Beaufort-Oos nie - net 'n Beaufort-Wes. Dieselfde geld vir Victoria-Wes, Westville en Westonaria. Aliwal-Noord, Noordoewer en Oos-Londen is ook só enig in hul soort.
South Shepstone was die oorspronklike naam van Port Shepstone.
En dan is daar die dorpe wat dit nooit nodig geag het om 'n rigtingaanwyser by hul name te voeg nie. Van Richmond, Heidelberg en Middelburg is daar etlikes in verskeie provinsies.
As jy sukkel met name en rigting sal die volgende kalante jou waarskynlik ook laat wik-en-weeg:
* Ventersburg, Venterstad en Ventersdorp;
* Vredendal en Vredenburg;
* Ladysmith en Ladismith;
* Groblersdal en Groblershoop;
* Hopetown en Hoopstad.