Sunday, July 29, 2007

Sieraad in kroon van onafhanklikheid


Jens Friis is tuis na ‘n jaar se regsnavorsing in Montreal, Kanada. Tussendeur het hy gereis en was vryskut-joernalis. ‘n Paar lyne uit sy dagboek die aand voor sy vertrek van Kanada na Europa:

Montreal, Donderdag, 22 Maart 2001, 23:37

Waarom is die laaste dag of wat van 'n besoek altyd die lekkerste? Dis soos lemoensap wat nie behoorlik geskud is nie. Om by die pulp uit te kom moet die bottel leeg gedrink word.

Met die wegvlieg vanaf Bloemfontein op 31 Maart 2000 het ek gedog: oor 'n maand of vier - hoogstens ses - is ek terug.

Wys sou dit wees om toe eerder my motor te verkoop en lekker selfoonnomer prys te gee. My omwandelinge in Noord-Amerika en Europa gaan nou by ver meer as 'n jaar draai. As ek klere verwissel in die gim is dit duidelik dat my vel die witste ooit is. Dan wonder ek of Rex nog sy stert sal swaai by die agterplaas-hek op Philippolis.

Die gedagte dat ek more op 'n vlug na Amsterdam klim (mits die sneeu ophou en vlieg moontlik is), krap my om.

Net na my aankoms woon ek tydelik in 'n woonbuurt wat sy gebruikswaarde oorleef het. Ek slaap laat om gewoond te raak aan die tydsverskil. Doen navorsing by die universiteit. Lees in 'n gunsteling koffiewinkel. Verken die stad.

Ek ontmoet talle mede-studente. Mense met die gawe van kommunikasie en helder intellekte. Ek dryf op 'n see van kennisse, maar ken niemand nie. Die afwesigheid van biltong en blatjang pla min. Ek mis 'n ondersteuningstruktuur. 'n Internet-naelstring strek ook net so ver.

Tog maak mens vinniger vriende as wat jy ooit sou dink.

Soos die samestelling van die Kanadese bevolking sou diegene by wie ek werklik aanklank vind heel uiteenlopend wees. Die een 'n Engelse vertaler oorspronklik van Vancouver. 'n Franse patoloog wat hierheen gekom het weens werksgeleenthede. 'n Romeense prokureur wat net voor die val van Kommunisme Kanada bo Suid-Afrika verkies het weens die geweldsituasie.

Ek sien 'n blerts blou van die St. Lawrence vanuit my woonstelvenster en besef dit is dalk die laaste keer.

Ook sal ek die kenmerkende "Merci-Bye!" mis waarmee Frans-Kanadese winkeliers groet as jy uitstap - die Engelse invloed onmisbaar.

Blinkskoon, veilige moltreinstasies waar treine elke vyf minute stop. Nie-luiddrigte passasiers wat soms so stil is in die metrogange dat die geskuifel van hul dikke wintersklere gehoor word as hul stap.

Professionele musici wat in wandelhalle oefen.

Dat daar aan die regterkant van rolrappe gestaan word sodat diegene wat haastig is aan die linkerkant kan verbystap.

Vars sneeu wat soos bakpoeier onder jou voete kraak.

Polisie wat orals sigbaar is, alhoewel geweld en misdaad seldsaam is.

Buitengewone verdraagsaamheid ongeag of dit op grond is van ras, seksuele orientasie, geslag, godsdiens ...

Boonop kan die armstes ‘n sinvolle bestaan hier voer. Kanada beklee reeds vir jare die nommer 1-posisie op die VN se Ontwikkelingsindeks.

As die nuus wat dan hier uitkom hoofsaaklik donker is oor Afrika laat dit jou maar tweekeer dink. Dis immers veel makliker om nou my goedjies te pak op die drumpel van 'n loopbaan as oor 10 jaar op 37. Vir eers gaan ek egter terug na Suid-Afrika - na my taal, my land en my familie.

Iemand het eenmaal tereg opgemerk dat hy reis om dieselfde rede as om te studeer – om nuwe dinge te beleef. Jy kan dieselfde boeke lees of anders nuwes en jouself uitdaag. Dit gaan oor grensoorskreiding wat makliker is in die vreemde. Jy beklee 'n buitestanderstatus en sien (hopelik) dieper - verby sosiale konvensies, konstruksies en etiket.

Soos Hennie Aucamp sê: jy lê jouself 'n soort ballingskap op as jy reis. "Om dit te oorleef, raak jy waaksaam; registreer jy skerper as gewoonlik, word jy een en al sintuig, wat 'n groot hulp is by waarneming."

Dit is verrykend, maar vermoeiend. Jy is aangewese op jouself. As die geld boonop min is verg dit deeglike, vindingryke beplanning. Nogtans is dit sekerlik die sieraad in die kroon van onafhanklikheid.

J.F.”

Bekendes se gunsteling hotelle

Talle hotel se voortbestaan is al verseker deurdat ‘n bekende eendag, lank, lang gelede daar oornag het.

Toeriste wil graag hul koppe neerlê in dieselfde beddens (of minstens dieselfde hotelle) as die sterre.

En daarom beplan reisoperateurs toenemend hul toere hiervolgens.

Só floreer The Norfolk Hotel in Nairobi glo omdat Karen Blixen eens daar aangedoen het. Dieselfde geld vir die Goldeneye in Jamaika (Ian Fleming), The Pensinsula in Hong Kong (Frank Sinatra), en The Copacabana Palace in Rio de Janeiro (Orson Welles).

Ek is nie met die sterre gepla nie, maar moet erken ek loer graag waar die celebs uitspan, want dit bied uitstekende vakansie-idees.

Nes Jean Cocteau het ek na my asem gesnak toe ek sien hoe lyk die Franse Riviera vanaf die Hotel Welcome in Villefranche.

Soos koningin Victoria moes ek gaan tee drink in die Ierse platteland by die sorgsaam gerestoureerde Carton House.

En op San Diego se uitgestrekte strand het ek gaan stap omdat Marilyn Montroe by die Hotel del Coronado gebly het met die maak van “Some like it hot”.

By sommige stadshotelle stap mens bloot verby, maar dis nietemin interessant om te weet Hugh Grant het ‘n draai gemaak by die Londense Ritz in “Notting Hill”.

Richard Burton en Elizabeth Taylor het passievolle nagte deurgebring in Montreal se statige ou Ritz-Carlton langs Sherbrooke Street.

In ‘n Berlynse paleis (deesdae die Adlon Hotel) is Greta Garbo “gebore”. ‘n Maaltyd hier is ‘n belewenis, want die eetkamer kyk uit op die bekende Brandenburghek en die eertydse Muur.

En in Los Angeles het ek spesiaal gaan kyk na The Regent Beverly Wilshire. Wie sal immers ooit vir “Pretty Woman” se Julia Roberts kan vergeet?

In “Hotel Stories” vertel Francisca Matteoli dat die bekendes nogal bisarre eise kan stel.

Salvador Dali het gereeld gebly in die Meurice Hotel in Parys. Dié surrealis was hoogs ontsteld toe hy merk sy gunsteling kamer se toiletsitplek is vervang. “Wat het gebeur met Alfonso se troon?”, wou hy weet. Die hotelbestuurder kon nie anders as om die oud, verslete houtsitplek te herinstalleer nie.

Personeel van die Portobello Hotel in Londen moes in 1979 muise gaan soek by troeteldierwinkels vir Alice Cooper se onversadigbare luislang. Die ronde bed wat spesiaal vir Cooper bestel is, is steeds in Kamer 16, nes die antieke bad waarin sy slangetjie gesluimer het.

Helaas kan ekself nie in dieselfde suites as die sterre oorbly nie. Daarvoor is my sak gans te plat. ‘n Uitsondering was egter by Zimbali Lodge aan die Natalse Noordkus: Robbie Williams het enkele nagte vroeër in my bed geslaap tydens sy Suid-Afrikaanse toere.

Ook was daar die keer in Borneo toe ons skoon van hotel moes verander, want die Maleisiese koning het sy opwagting gemaak. Dit sou glo ‘n té groot sekuriteitsrisiko wees as gaste in die verdieping bó hom bly.

By die Royal Livingstone in Zambië het ek g’n celeb gesien nie, maar wel soos een gevoel. Terwyl jy langs die hotelswembad bak stort die waters van die Zambezi oor die Victoria-waterval. Hier word selfs jou sonbril vir jou skoon gepoets as dit net lyk of daar ‘n vingermerkie op is. Dis voorwaar vyfster-bederf de luxe.

Vir die jare wat kom wag daar reeds ‘n magdermenigte hotelle op my wenslysie. Hemingway se retreat by die Ambos Mundos Hotel in Havana klink eksoties, nes Igor Stravinsky se National Hotel in Moskou.

Al Capone het sy laaste dae in ‘n hotel in Miami deurgebring, Ava Gardner het vertoef in ‘n Madridse hotel, Frida Kahlo het met Leon Trotsky ontsnap na ‘n hacienda in die Meksikaanse platteland …

Dis jammer ‘n menselewe is kort, en die rand weinig werd.

Saturday, July 28, 2007

Die Nuwe Sewe Wêreldwonders

DIE Colosseum in Rome tel onder die “nuwe sewe wonders van die wêreld” wat onlangs aangekondig is nadat mense wêreldwyd hieroor kon stem. Die piramides buite Kaïro het ere-status gekry op hierdie lys.

Die ander ses nuwe wonders is die Taj Mahal in Indië, die Groot Muur van China, die “Christ the Redeemer”-standbeeld in Rio de Janeiro, die antieke stad Petra in Jordanië, Machu Picchu in Peru, en die antieke Maja-stad Chichén Itzá in Mexiko.

Die kompetisie was die breinkind van Bernard Weber, ‘n Switserse filmmaker en museumkurator. Die doel hiermee is om “die mensdom se erfenis wêreldwyd te beskerm,” berig National Geographic News.

UNESCO wat die Wêrelderfenisprogram koördineer het die kompetisie gekritiseer. “Hierdie inisiatief kan nie werklik op ‘n volhoubare manier hierdie plekke help beskerm nie,” het dié organisasie in ‘n persverklaring gesê.

Maar hieraan het die mensdom hom skynbaar min gesteur, want meer as ‘n honderd miljoen stemme is uitgebring.

Sommige lande se regerings het die kompetisie gesteun soos in Brasilië, maar die Chinese regering het geweier dat die kompetisie selfs net uitgesaai word op hul TV-kanale.

Die Chinese muur is die grootste mensgemaakte struktuur op aarde. Dis gebou tussen die vyfde eeu voor Christus tot die sestiende eeu oor 6 400 km.

Die enigste Europese finalis was die Colosseum in Rome wat op sy dag 50 000 toeskouers kon huisves.

Bekende Europese bakens soos die Eiffeltoring in Parys, die Akropolis in Athene en Stonehedge in Brittanje kon nie die paal haal nie.

Die Vatikaan het die organiseerders van die kompetisie gekritiseer omdat geen Christen-monumente onder die twintig gewildste wonders was nie.

Jordanië het die kompetisie ernstig opgeneem en die plaaslike koninklike familie het die inwoners gevra om vir Petra te stem. Dié stad wat grootliks in rotse gebou is het die afgelope jare swaargekry weens probleme in die Midde-Ooste. Veral probleme in hul buurland, Irak, hou toeriste weg.

Daar is heelwat gedebatteer of die Egiptiese piramides tuishoort op hierdie “nuwe wêreldwonder”-lys. Dit is die enigste wonder wat nog bestaan en op die bekende “antieke wêreldwonder”-lys was.

Egiptiese geskiedkundiges was woedend omdat dit aanvanklik genomineer was op die “nuwe lys”. Volgens hulle is die piramides “die enigste werklike wonder”. Op die ou end is die piramides geskrap van die “nuwe lys” en is daar ere-status hieraan gegee.

Thursday, July 26, 2007

FORTH: Brug 'n industriële wêreldwonder

EDINBURGH bekoor algar, maar net noord van die Skotse hoofstad is ‘n indrukwekkende brug wat my ook bybly.
Daagliks blits 200 treine oor die Forth Spoorwegbrug wat beskou word as een van die industriële wonders van die wêreld. Liefhebbers daarvan prys dit ook as “een van die grootste siviele ingenieurswerke van die laat-Victoriaanse era” en “’n imposante mensgemaakte landmerk”.
Bouwerk het 125 jaar gelede begin nadat die eerste planne byna ‘n driekwart eeu vroeër ingedien is. Dit sit immers nie in enige ingenieur se broek om ‘n brug te bou oor 2 522 m nie.
Aanvanklik is ‘n tonnel voorgestel onder deur die Forthrivier, maar hierteen is besluit omdat dit te gevaarlik sou wees. Die enigste ander moontlikheid om die oewers te oorspan was ‘n brug.
In 1865 het die regering vir Thomas Bouch van die Noord Britse Spoorweë aangewys as ingenieur om die Forth Railway Bridge te ontwerp.
Maar kort hierna het Bouch se brug oor die Tayrivier inmekaar getuimel toe ‘n orkaan dit tref. Hoewel die ineenstorting nie Bouch se skuld was nie, is hy die trekpas gegee, want die Skotte het glo geloof in sy werk verloor.
‘n Kontrak om ‘n “cantilever”-brug te bou is in 1882 toegeken aan Sir John Fowler en Benjamin Baker.
Dit sou ‘n allemintige 3 000 000 pond kos, 54 000 ton was nodig, en 6,5 miljoen moere moes die struktuur in plek hou.
‘n Forth-brosjure vertel tydens bouwerk van van agt jaar het 57 werkers uit 5 000 hul lewens verloor. Vir my klink dit na heelwat, maar teen die einde van die neëntiende eeu was dit glo ‘n veiligheidsrekord, aldus “Landmarks of Britain”.
Ingenieur Baker was ook verantwoordelik vir die bou van die Londense moltreinstelsel en die vervoer van die Cleopatra-obelisk van Egipte na Engeland. Daarom is hy in 1890 tot ridder geslaan.
Hoewel die brug 125 jaar oud is, staan dit steeds stewig in die Skotse aarde.
Byna die helfte van die brug se jaarlikse begroting word gebruik vir verf. Staal van nagenoeg 55 hektaar moet teen roes beskerm word. Daar word gesê om dié brug te verf is ‘n ewige taak, want teen die tyd wat dit voltooi is moet verfwerk al weer aan die anderkant begin. Van daar die gesegde: “It’s like paining the Forth Bridge”.
‘n Legende lui dat één moer van soliede goud gebruik is. Maar ander waarsku dat dit lankal verwyder is – dalk uit vrees dat fortuinsoekers daarna sal gaan soek en só hul lewens verloor.
Die naasliggende padbrug was die grootste suspensiebrug buite die VSA toe dit geopen is in 1964. Deesdae kan die Humberbrug in Engeland hierop aanspraak maak.
South Queensferry se promenade bied die beste blik op die twee brûe. Dié dorpie kry sy naam van die elfde-eeuse Koningin Margaret wat die veerboot vanaf Edinburgh hierheen geneem het onderweg na die koninklike kasteel by Dunfermline.

WAAR IS DIE BRUG?
Die Forth Railway Bridge is sowat 10 km uit Edinburgh op die spoorlyn na Dundee. Onderweg lei dié lyn ook verby die bekende St. Andrews-gholfbaan.
Sorg dat jy ‘n trein neem wat wel stop by South Queensferry, want die meeste stoom verby en dan gaan jy nie behoorlik na dié brug kan kyk nie.
Vanaf die stasie is dit ‘n stewige stappie tot op riviervlak waar die brug se pilare geanker staan in die Forthrivier.

Kleur kom nooit alleen

EK’S in New York. Dis kort voor Kersfees. Dit sneeu. Van Brooklyn waar ek by ‘n vriend tuisgaan neem ek die metro tot by Central Station. Ek stap verby die NYC Public Library, die wolkekrabbers, die keurige winkels van Fifth Avenue - blok vir blok ...
Dis duskant sewe toe ek die Bar instap. Dis feitlik nog leeg. Twee mans speel pool. ‘n Derde blaai deur ‘n scene-tydskrif: Wie weet wat wag dié aand in die Big Apple?
Laasgenoemde het ‘n pragtige stel sterk, wit tande en dis met dié glimlag wat hy later my lewe binnetree.
Met ‘n “Waar is jy vandaan?” begin die gesels wat lei tot ‘n onverwagse blik op ons gedeelde menslikheid.
Toe hy van sý geboortegrond vertel, hang my mond oop, want dié is een van daai gevalle waar die toeval teatrale effekte bereik.
Van Namibië ... Katatura ... is hy weg in die 80’s. ‘n Studiebeurs het bevryding beloof. Hy wou wegkom, want hy had g’n sin in die oorlog nie. Maar nog belangriker: Engeland en later die VSA se horisonne was wyer as die Namib s’n.
Toe politiek g’n kwessie meer was nie, was sy seksualiteit steeds.
“Namibië het my ‘n dubbele streep getrek. Dis soos Antjie Krog sê: `Kleur kom nooit alleen nie’.”
Na ‘n kwarteeu is hy steeds vlot in Afrikaans en het ‘n verbysterende kennis van Krog en Kie. Tog voel ek ongemaklik om in Die Taal met hom hiér te gesels. Dis weens mý mense wat hy weg is uit Afrika. Maar mettertyd troos dit om te hoor dat dit weens sý bloed is dat hy nie terug is na vaderlandsgrond nie.
Twee maal het hy gaan kuier. Die laaste keer het hy vir sy pa gesê daar sal nie kindskinders wees nie. Maar dié wou niks weet nie.
“Hulle sê: tyd heel wonde. Maar soms, gaan die lewe nié aan nie.”
Sy pa is intussen dood. Sy ma leef nog – alleen en oud in Katatura. Hy stuur dollars, maar gaan kuier nie. Die jare wég het hulle uitmekaar gedwing.
Feitlik korrek haal hy aan uit Breyten Breytenbach:
mammie
ek het gedog
as ek eendag huis toe kom
sal dit onverwags so teen skemerdag wees
met jare se opgegaarde rykdom
op rûe van ysterkoeie ...

“... Maar ek droom nie meer van teruggaan nie,” sê hy met ‘n sug. “Dit sal nie gebeur nie, want ek sal dáár meer alleen wees as hiér.”
Die Afrikaan (Amerikaan?) gee ‘n teug aan sy Budweiser-bier.
Buite verander die rooi na groen. ‘n Stroom geel taxi’s trek weg.
Weens jare se worsteling vertel hy sy verhaal rasioneel, maar nou dat daar vir die eerste keer stilte is aarsel die weemoed vlak.
Wat kan ek tog sê om die seer minder te maak?
In die ou Johannesburgse stasie het ‘n teel eens gelees: `"Wees uzelf" sei ik tot iemand, maar hij kon niet: hij was niemand.’ Dié Namibiër het nie iets anders probeer wees nie. Hy’s net nooit gegun om homself te wees nie. En dít is sekerlik een van die aller ergste erge.
“Maar wat help dit tog om jou verlede te blameer?,” sê hy dan met ‘n gelatenheid wat soms volg weens ‘n veelbewoë lewe. “Selde is iets nét swart of wit. En aan baie is min te verander. Dan is dit dalk die beste om bloot godswater oor godsakker te laat loop.
“Nou dat ek my lot aanvaar het, is ek die gelukkigste ooit. En soms as ek erg verlang kyk ek óp. Dis darem ‘n troos dat dieselfde son skyn oor my ma in Katatura.”

TOE ek na die vakansie tuis kom, trek ek my Breytenbach-bundel nader en lees die onderstaande strofe raak.
Dankbaar oor ‘n nuutgevonde vriend tik ek dit toe óór en laat die woorde per epos vlieg van Afrika na Amerika:
Mag die bome groen bly
en die sterre wit,
en mag daar altyd mense wees
wat mekaar sonder skaamte
in die oë kan kyk –
want die lewe is ‘n asem lank
en die sterre op die Anderplek donker.

Friday, July 20, 2007

VENESIë: Oor 'n koppie koffie



As jy R100 vir ‘n espresso betaal gaan dit nie net oor die hondjie nie, maar ook oor die halsband - of in hierdie geval die koffie én die kafee. JENS FRIIS vertel meer.

TOE ek daai reisgidsfoto sien het ek geweet: As daar één plek is waarheen ek wil gaan in Venesië dan is dit Café Florian.
En na dese verstaan ek waarom selfs mans van min woorde breedsprakig raak as hulle dié naam hoor.
In Italië word tien biljoen koppies koffie jaarliks gedrink. Kompetisie tussen koffiedrinkplekke is straf en die eer is groot om uit die stryd te tree as "die oudste koffiesalon in die land".
Vanuit die staanspoor was Cafë Florian ‘n kruispad van kuns, kultuur, politiek en vermaak in hierdie romantiese droomstad. Wat baie hiertoe bydra is dat die kafee se ligging by uitstek geskik is as saamkomplek. Sedert 1720 is Cafë Florian genestel onder die suilegang wat Sint Markusplein omsoom.
En sedertdien stroom die kenners van espresso en fyngebak na Piazza San Marco 55 - selfs op die dae wat die plein oorstroom. Al verskil is: dan sit hulle in die drie binnenste kamers en nie by die sondeurdrenkte tafels nie.
Agter die skerms poog die personeel om die diens te vervolmaak. ‘n Tiramisu parfait getuig van die uitvoerende sjef se knap kreatiwiteit, terwyl die hoofkelner wyn en kaas paar om mekaar te komplementeer. Dit word bedien op ‘n silwer skinkbord deur ‘n kelner in wit. Winters werk hier 45 mense, terwyl 75 somers sorg dat alles uit die boeke verloop.
Deel van die kafeekonsertmusikante se ryk repertoire is klassieke musiek, immergroen popliedjies, en uittreksels uit operas en operettes.
Richard Wagner het soms dié orkessie gedirigeer, en by die piazza-tafels het hy sy grootste werk, "Tristan und Isolde", gekomponeer.
Maar dis nie al nie. Die fondamente vir die Venice Biennale is teen die laat 1800’s gelê by Florian se marmertafeltjies. Vandag nog reël die kafee eersteklas kultuur-aktiwiteite. Die klem is veral op kontemporêre kuns en baie van die werke wat uitgestal word vorm mettertyd deel van Florian se privaatversameling. By spesiale geleentheid word dit geleen aan museums soos die Pompidou in Parys en die Guggenheim in New York.
In Florence is daar ‘n Florian sedert November 2006, lees ek op www.caffeflorian.com. Uiteraard is die opening gevier deur wêreldklas uitvoerings en uitstallings. En die koffie is glo net so lekker as in sy Venesiese moedertak.
Hiervoor kan ek nie pa staan nie, maar wat ek gewis weet is dat sy naamgenoot in Venesië nie net boeretroos verkoop nie, maar ‘n belewenis. As dit ‘n koppie koffie van R100 kos, koop ek graag ‘n kaartjie tot dié besonderse kafee.

Hoe kom ek daar?
Café Florian is in die hart van Venesië langs Sint Markusplein. Volg dus net die rigtingwysers na "San Marco".
Maar jy kan ook per boot daar kom: Neem ‘n watertaxi, of die No. 1 of No. 82 Veerboot ("Ferry") en klim af by die "San Marco"-stop.
Stap om die draai en daar begroet die Merano-kroonkandelare van Cafë Florian jou.soos ‘n gasheer wat ‘n bos blomme ("flora") na jou uithou.

Saturday, July 7, 2007

ST. TROPEZ: Die nostalgiese mite sterf nooit


HERINNERINGS mag méér word na herhaaldelike besoeke, maar hoe jy oor ’n plek voel, word alte dikwels gekleur deur jou eerste blik daarvan.
En só was dit ook met my en St. Tropez.
Selfs ná jare bly daardie eerste aankoms my by – moontlik omdat dit so ’n ellelange rit daarheen was. Het ek destyds beter geweet, het ek gewis ’n ander perd (en nie ’n donkie nie) opgesaal.
In ’n poging om met beperkte geld én tyd soveel moontlik te sien het ek ’n aanbod aanvaar om saam met ’n vriend van Luxemburg na Provence te ry. Dit sou die vierde en laaste been wees van ’n vermoeiende tog oor 44 uur. Per trein en bus sou ek reis van Connecticut oor New York na die John F. Kennedy-lughawe. ’n Vliegtuig sou my neem na Schiphol, en ’n Amsterdamse vriend sou my dan karwei na Luxemburg waar ek my Berlynse vrind sou kry.
Saam sou ons van noord na suid deur Frankryk ry om ons vriende uit Connecticut in St. Tropez te herontmoet. Hulle het ’n private jag gehad waarmee daar Europese hoogsomers deur die Mediterreense blou geklief is. Die Berlynse vrind het hom misgis hoe groot Frankryk is, en boonop wou hy die snelweë se tolhekke vermy. Toe ons dus by Lyon (redelik in die middel van Frankryk) verbyry, het die skemer toegeslaan. Die skiereiland waarop St. Tropez lê, het kort ná twee daardie oggend voor ons verskyn. Maar ek was só pê dat ek skaars kon glimlag.
Boonop was dit nog nie die einde van ons “avontuur” nie, want waar is ons slaapplek?
Die leidraad (asof dit ’n skattejag is!) was: “Ons wag vir julle op die jag + in die hawe + naby die heliport.” Dit was verstommend akkuraat. Hoewel dit wemel in St. Tropez se hawetjie van luukse jagte (vissersskuite is so skaars soos hoendertande), was daar net één plek vir die beroemdes se helikopters.
Ook was daar net één jag met ’n Stars-and-Stripes. Die Amerikaners was gelukkig nog op – al kuierend om ’n bottel Franse rooiwyn, olywe en kaas.
Dit was ’n soel aand en ’n poot-uit ek het my lê gekry op ’n dek-bank. Enkele ure later het die son my wakker gebrand en St. Tropez het in ’n hoefyster rondom die jag opgedoem.
Weens die vissersdorpie se ligging het dit ongeskonde gebly in die vroeë jare van ontwikkeling van die Côte d’Azur. As die enigste dorp langs die kus wat noord front, is dit nie beskut teen die erge noordewinde nie. Gevolglik het vakansiegangers grootliks weggebly.
In 1892 het die skilder Paul Signac sy hart op St. Tropez verloor en vriende soos Matisse en Dongen aangemoedig om hier te kom uitspan. En in 1920 het die skrywer Colette die oë laat rek toe sy met naakte bene verskyn het op die Pampelonne-strand.
Dié dorpie is grootliks verwoes tydens die Tweede Wêreldoorlog, maar kort hierna sou dit letterlik met ’n “boem” teruggekeer. In 1956 het Brigitte Bardot na St. Tropez gekom, maar seksgodin BB het nooit weggegaan nie ná die verfilming van Roger Vadim se And God Created Woman.
Bardot-eweknieë en bronsbruin bulle vul deesdae die bo­stuklose (en soms “bottomless”) strande. Daar word gesê dat “top­less sunbathing” ontstaan het op die gewilde Plage Tahiti – een van die beste strande langs die Riviera. Maar as jy nie só openlik wil loer nie, is Café Sénéquier langs die Quai Jean Jaurès dié plek. Hier kan jy jou verwonder aan ’n oneindigende parade vakansiegangers in verskillende vorme van oord-chic waarmee hul tuis nooit sou wegkom nie.
“It’s a case of flair vs dare,” sou my Amerikaanse vriend wel verwonderd opmerk. Nietemin het St. Tropez nog altyd op ’n wonderbaarlike wyse ontsnap aan die hordes se hedonisme. Dié vakansiedorp bly “in”.
Die nostalgiese mite van ’n ewigdurende eilandvakansie tussen bekendes en mooi mense sterf nooit. Dié droom flirt altoos met die mensdom (onder wie ek) en lok hulle van oral na St. Tropez (selfs al kos dit ’n uitmergelende tog daarheen).
Ek is seker Bardot sou verleidelik hieroor glimlag.