Die redes vir besoeke aan Rome is uiteenlopend, maar die gemene deler bly: Aan die skoonheid, kuns en beskawing bly almal hul vergaap. Dié volgende dinge gaan jou boonop nie ‘n sent kos nie, skryf JENS FRIIS.
VATIKAANSTAD: DIE kleine Vatikaanstad kan spog met vele internasionale rekords. Benewens dat dit die wêreld se kleinste onafhanklike staat en hoofstad is, is dit ook die enigste land wat heeltemal binne in 'n stad (Rome) lê. Die webblad, www.vatican.va is propvol feite. Elke laaste Sondag van die maand word geen toegang by die Vatikaan-museums in Rome gevra nie. In die Ewige Stad is dit ongelukkig wyd bekend en daarom is die bekendste museums tot oorlopens toe vol. Nietemin is die pasella-toegangsdag 'n ideale geleentheid om van die minder gewilde versamelings te sien wat dikwels nie 'n tree vir die res hoef terug te staan nie. Sou jy die gewilde Nr. 64-bus na die Vatikaan neem, is dit raadsaam om jou beursie styf vas te hou. Die openbare bus wat van die Termini-stasie loop is ook bekend as die Pickpocket Express of Wallet Eater.
TUINE: National Geographic het verlede jaar die beste tien piekniekplekke ter wêreld aangewys. Buiten Kirstenbosch was die Villa Borghese-tuin in Rome ook op dié lys. Dis ‘n ideale plek om ‘n kombers oop te gooi as jy vooraf salami, olywe, brood en wyn aangeskaf het. Ongelukkig is toegang tot die Galleria Borghese (R90), ‘n galery nie verniet nie. Nog ‘n tuin wat die moeite werd is om te besoek is die Gianicolo Park, suid van die Vatikaan, wat pragtige uitsigte op Rome bied. En as daar kinders saam met jou is, moet jy hulle hierheen bring, want daar word elke dag ‘n paar keer marionet-vertonings hier gehou.
WIT NAG: Die tradisie van La Notte Bianca het helaas gesneuwel, maar die Italiaanse Toerismeraad het by navraag gesê dat dit vanjaar dalk weer mag herleef. Dit het behels dat galerye, teaters en museums vir ‘n enkele nag in mid-September oopgebly het van 20:00 tot 08:00 die volgende oggend. Die ligte is nooit gedoof tydens Notte Bianca oftewel Wit Nag nie. Rome mag dus dalk net weer vanjaar fees vier voordat die koue wintermaande kop uitsteek. Vervoer word dan vergemaklik deurdat die metro en treine heelnag verniet loop.
KERKE: Daar is meer as 900 kerke in Rome waarvan die meeste geen toegangsfooi vra nie. Sky Tours Rome bied halfuur toere deur die Basilika van die St. Petrus-kerk om 09:00 elke oggend (behalwe Sondae). Dit kos nie ‘n sent nie.
PANTHEON: My gunsteling gebou in Rome is die Pantheon. Dié kerk (wat nie toegang vra nie) bestaan uit twee duidelik onderskeibare dele: 'n buitenste stoepgedeelte (pronaos) met pilare en 'n reusagtige sirkelvormige vertrek met 'n allesoorheersende koepel. As jy in die koepel staan mag dit voel of jou sintuie jou kul. Hoe is dit moontlik dat 'n gemesselde koepel van steen reeds vir byna 2 000 jaar dóér bly hang? Michelangelo het tydens die Renaissance reeds die Pantheon beskryf as "nie 'n menslike nie, maar 'n hemelse ontwerp". Die kongresgebou in Buenos Aires en die Capitol in Washington is ook hiervolgens ontwerp. Die radius van die halfronde koepel is dieselfde as die hoogte van die silinderagtige gebou. Teoreties sou dit beteken dat 'n sirkel wat horisontaal die hele gebou vul, ook vertikaal gedraai sou kon word en steeds volmaak pas. Hierdeur word volmaakte harmonieuse proporsie aan die gebou verleen. Hierdie koepel is die grootste in sy soort. Dit is selfs groter as dié van die katedraal in Florence of St. Paul in Londen. Om te verhinder dat die Pantheon se uitgespande gewelf intuimel, is swaarder boumateriaal in die basis gebruik as bo. As jy in die somer 19:00 hier is, kan jy ‘n halfuurlange, pasella toer van Angel Tours meemaak.
SPANISH STEPS: Dié indrukwekkende trappe, genoem na die nabygeleë Spaanse ambassade, bied dag en nag sitplek vir wie ookal hul bene wil laat rus. Aan die bokant is die Trinita dei Monti-kerk langs die Piazza di Spagna en by die onderste trap sal jy die Barcaccia-fontein vind wat die middelpunt is van die Piazza di Spagna.
MUSEUMS: Die meeste galerye en museums vra toegangsgeld. Uitsonderings is die Museum vir die Italiaanse Munt met sy meer as 20 000 gesogte medaljes en munte, die Historiese Museum oor die Bevryding van Rome, en die galery by die Nasionale Akademie van San Luca met werke deur onder meer Rafael.
TREVI-FONTEIN: Nog voordat jy dié wêreldbekende fontein gaan sien, sal jy die vallende water reeds hoor. Om dit te sien, gaan jou niks kos nie – maar jy mag dalk soos miljoene voor jou iets wil wens en ‘n munt in die water laat plons. As jy ‘n geldstuk oor jou skouer gooi tot in die fontein is dit blykbaar ‘n waarborg dat jy sal terugkeer na die Ewige Stad.
WERD OM TE WEETOm jou ‘n idee te gee hoeveel die rand in euros jou sal kan laat koop in Rome, die volgende as riglyne:
* Vervoer: ‘n Basiese kaartjie vir ‘n stadstrein, trem of metro kos 1 euro (sowat R11). Dit is geldig vir 75 minute vandat dit die eerste keer gestempel is.
* Verblyf: ‘n Nag in die Hotel Campo de’Fiori (hotelcampodefiori.com) kos sowat r1500 (goeie drie-ster; dubbelkamer).
* Te drinke: ‘n Espresso (tafel by ‘n café) sal jou R20 kos, maar in ‘n gewilde toeriste-area kan dit R60 of meer kos. ‘n Groot glas bier sal jou sowat R50 uit die sak jaag.
* Te ete: Italië is bekend vir sy pizzas, maar daar is baie minder goed op as elders in die wêreld. Hulle sê ons pizzas is “soutterte”. ‘n Basiese pizza margeritha kos R90. ‘n Tweegang middagete vir twee sonder wyn in ‘n goeie restaurant kos sowat R500.
Thursday, February 23, 2012
Thursday, February 16, 2012

'n TREFFER: Stuur 'n poskaart of nog beter 'n brief vanaf oorsee en plak 'n mooi posseël daarop. Dis veel lekkerder vir familie en vriende om te ontvang as 'n epos of SMS. Dié posseël is verlede jaar in Switserland uitgegee ter steun van die Wêreldomgewingsfonds.





AFSLAG BY PARKE: Bespreek by www.sanparks.org vir verblyf tussen 25 November en 7 Desember en kry 'n allemintige 40% afslag. Die aanbod geld onder meer by die Augrabies-ruskamp, Golden Gate Hotel, Twee Rivieren in Kgalagadi, Pretoriuskop in die Krugerwildtuin, die Bontle-kampeerarea in die Marakele Nasionale Park en die Lilydale-ruskamp in die Mokala Nasionale Park.
'N EERSTE: Die Groen-Kalahari-kanomarathon (www.gkcm.co.za) word vir die eerste keer aangebied en vind plaas tussen 22 en 24 Maart. Op dag een gaan die roeiers 34 km van Upington af tot by Oranjerus roei. Dag twee spring by Ikaia op Keimoes weg en eindig 39 km verder by Die Mas op Kakamas. Dag drie is slegs 26 km lank en begin by Die Mas en eindig by Khamkirri by Augrabies.
WAARDE VIR GELD: Suid-Afrika bied die sesde beste waarde as langafstand-bestemming vir Britse reisigers. Lande wat beter waarde bied is Sri Lanka, Thailand, Vietnam, Mexiko en Maleisië. Na Suid-Afrika volg Bali, Argentinië, die Dominikaanse Republiek en Kenia. Dié bestemmings is oor die algemeen ook van die beste waarde vir Suid-Afrikaners (hoewel ons vlugte daarheen verskil). Die Holiday Costs Barometer vergelyk die koste van 10 items waaronder 'n bottel bier, koppie koffie en 'n driegang maal vir twee met wyn. Suid-Afrika het veral goed gevaar met die driegang maal. In slegs Sri Lanka en Mexiko kan jy goedkoper eet.
Dit & Dat wat die moeite werd is
Jens Friis beveel hierdie dinge aan
WONDERSKOON: Forbes.com se lys van die mooiste stede is bekend. Kaapstad pronk ook onder die dosyn mooistes ter wêreld. Hulle is Parys, Vancouver, Sydney, Florence (foto), Venisië, Kaapstad, San Francisco, Chicago, New York, Londen, Cambridge en Tokyo.
IN EUROPA BEMARK: 'n Nuwe reistydskrif in Nederlands, maar uitsluitlik gerig op reise deur Suid-Afrika, sien later die maand die lig. "Mzanzi: Reismagazine over Zuid-Afrika" se skrywers bestaan uit Nederlanders wat hier aan die suidpunt van Afrika woon en die land goed ken. Barbara van den Broek sê die tydskrif sal in Nederland verkoop word, maar ook by afsetpunte in Suid-Afrika waar Nederlanders gereeld aandoen soos lughawens. Kyk by www.mzanzi.nl
UITSIG: Vir 'n breë blik op die Oranjerivier, gaan drink iets met sononder op die oewer van dié rivier by die Riverside Pub and Grill in Aliwal-Noord.
POTJIE SKAAK: Rhodes spog deesdae met 'n groot skaakbord in dié Oos-Kaapse bergdorpie se karavaanpark. Gaan maak 'n paar skuiwe.
NIE BESKORE: Die Suid-Afrikaanse Lugdiens sê hy gaan nie 'n Airbus A380-makrostalers (wat tot 800 passasiers kan dra) koop nie, want dit pas nie in by sy netwerkplanne in nie. Dis 'n ongelooflike ervaring om met dié reuse voël te vlieg. Op 'n Air France-vlug was ek bekommerd dat die enjins afgeskakel het kort ná opstyging, want dit vlieg feitlik geluidloos.
NUWE VLUG: Vandeesmaand brei 1time hul vlugte uit na Mombasa, Kenia se tweede grootste stad, met twee direkte vlugte vanaf OR Tambo na Mombasa Internasionale Lughawe. Hulle vlieg reeds na Zanzibar, Tanzanië en Zambië. Tussen 200 en 300 mense sal na verwagting weekliks na Mombasa vlieg.
Dit & Dat wat die moeite werd is

EET HIER: Eet by die Rooi Granaat (053-381-3040) in die hart van Loxton. Dié restaurantjie/tuisnywerheid is skuins oorkant die NG kerk in dié dorp. Skrywer Deon Meyer het 'n huis hier en kom saal gereeld af vanaf die Kaap. Jy kan by die Rooi Granaat ook van Meyer se boeke aanskaf. >>> ELRETHA, EK HEG 'N FOTO AAN.
EET OOK HIER: By Koekela in Bloemfontein kan jy aansit vir ontbyt en middagete op die stoep van 'n pragtige ou huis. Die boomryke tuin is gewild vir ooievaarstees en partytjies. Koekela is aan die oostepunt van Reidstraat, Westdene, naby waar dit 'n cul de sac maak.
KAN VAL: Die Big Ben-kloktoring in Londen hel aan sy bopunt met sowat 45 cm oor. Die bou van 'n ondergrondse parkeerterrein en nuwe moltreintonnels het tot onstabiele grond gelei. Daar moet nog besluit word hoe Brittanje se leunende toring van Pisa gered gaan word.
VIR JOU KOFFIE: Stop by die Karoo Deli (053-621-0453) in Victoria-Wes. Hulle verkoop tuisgemaakte anysbeskuit wat met die hand gebreek en dan uitgedroog word. Dit proe nes dié wat my ma altyd gemaak het. Nou het jy net 'n fles koffie nodig om 'n koppie te skink en jou beskuit daarin te doop as jy langs die ellelange paaie by 'n peperboom stop en na die stilte van die Karoo luister.
FEES DER FEESTE: Jy mag dit dalk oorweeg om te gaan kyk na die Olimpiese Spele (27 Julie tot 12 Augustus) of die Paralimpiese Spele (29 Augustus tot 9 September) in Londen. Maar alles gaan dan nóg meer ponde kos as gewoonlik. Die beste tyd om vanjaar ‘n feestelikheid mee te maak in Londen is op Sondag, 3 Junie. ’n Sowat 11 km lange flottielje van 1 000 skepe sal dan op die Teemsrivier vaar in een van die grootste en mees skouspelagtige gebeurtenisse nog hier om koningin Elizabeth se 60 jaar op die troon te vier, sê organiseerders. ’n Koninklike barg en sowat 20 000 deelnemers, historiese bote, werksbote, klein kajakke, musici en orkeste sowel as ’n unieke drywende kloktoring sal deel vorm van die skouspel van sowat R100 miljoen. Organiseerders voorspel miljoene toeskouers sal saamdrom langs die 40 km lange deel van die rivier waar die flottielje sal verbyvaar. Organiseerders sê dit sal mees dramatiese vertoning van Britse prag en praal sedert die 17de eeu wees.
WOEF WELKOM: Oorweg jy dit om met jou troeteldiere op vakansie te gaan, maar weet nie waar hulle welkom is nie? Skaf dan The South African Pet-Friendly Directory aan of kyk by www.petfriendly.co.za. In die Noord-Kaap is Woef en Kietsie onder meer welkom by die Toverberg Gastehuis in Colesberg, De Duine Lodge in Kuruman, Glosgow Pont Hotel in Norvalspont en die Rondawel Gasteplaas by Richmond. Gastehuiseienaars sê dikwels hulle verkies eerder troeteldiere as kinders, want troeteldiere veroorsaak baie minder skade!
Dit & Dat wat die moeite werd is
Jens Friis beveel dié dinge aan.
EPIESE REIS: National Geographic bied 'n reis aan waarvoor ek my voortande sou gee. Die kaartjies wissel tussen sowat R210 000 en R400 000. En jy sal dit nie glo nie - alles is reeds lankal uitverkoop. Maar daar is wel hoop - plek kan nou bespreek word op aanstaande jaar se reis wat begin op 18 Maart 2013. Vir meer inligting loer by nationalgeographicexpeditions.com. Die skip vaar van Kaapstad al langs die weskus van Afrika tot in Marokko. Dit vaar verby die kus van die Noord-Kaap tot in Luderitz en later word daar onder meer aangedoen by reënwoude in Ghana en op kano's gevaar in Kameroen. Op die meegaande foto steek 'n venster sy kop uit deur die bloedrooi dak van 'n huis in Luderitz - die Duitse nalatenskap steeds duidelik sigbaar.
BLY NAG VERNIET: Betaal vir twee nagte en kry 'n derde nag gratis by die Tenahead Mountain Lodge. Dié vyfster-blyplek is in die Oos-Kaapse Hoogland 'n klipgooi van die Naude's Nek Pas. Dit kos R800 per person per nag wat deel. Die derde nag betaal jy slegs vir aandete en ontbyt. Die aanbieding is nog geldig tot 20 April. Kyk by riverhotels.co.za of skryf aan Tenahead@riverhotels.co.za.
SLEGTE TEERPAD: Hoewel die teerpad van Ficksburg na Senekal deur pragtige natuurskoon lei, gedy dit van slaggate. Dikwels moet jy skoon aan die verkeerde kant van die pad ry om dié gate wat maklik 'n band kan laat bars, te mis.
DERDUISENDE: Die plek om iets koels te drink teen die Karoo-hitte van Carnarvon is die Blikkieskroeg. Hier word jy omring deur nie minder nie as 'n allemintige 4 000 verskillende soorte blikkies wat netjies uitgestal staan in vertoonkaste en teen die mure.
STOP/RY: As jy met die N6 van Bloemfontein in die rigting van Aliwal-Noord ry, moet jy minstens ‘n halfuur, maar dalk eerder ‘n uur, ekstra toelaat vir reistyd, want die 74 km tussen Reddersburg en Smithfield word grootliks oorgebou. Met ‘n onlangse rit is ons op vyf plekke gestop. Nietemin bly Smithfield ‘n mooie dorp om in oor te bly. As een van die oudste dorpe in die Vrystaat spog dit met talle historiese gedenkwaardighede en heelwat gastehuise.
LOOP LIG: Moet jou nie laat flous deur die “lae” pryse wat dikwels in reisbrosjures in vet letters gepubliseer word nie. Een van die tipiese vangplekke is hoe goedkoop dit is om in ‘n eksotiese oord soos Barbados vir ‘n hele week te gaan bly (R5 940 per persoon). Maar dan kom die slang in die gras: ‘n vliegkaartjie kos vanaf R18 340 – en die “vanaf” sê jy gaan waarskynlik vir die kaartjie meer as R20 000 betaal. Boonop is die pryse slegs geldig as jy ‘n kamer deel. So die vliegkaartjie en verblyf vir jou en jou wederhelf gaan dan by die R60 000 draai!
EPIESE REIS: National Geographic bied 'n reis aan waarvoor ek my voortande sou gee. Die kaartjies wissel tussen sowat R210 000 en R400 000. En jy sal dit nie glo nie - alles is reeds lankal uitverkoop. Maar daar is wel hoop - plek kan nou bespreek word op aanstaande jaar se reis wat begin op 18 Maart 2013. Vir meer inligting loer by nationalgeographicexpeditions.com. Die skip vaar van Kaapstad al langs die weskus van Afrika tot in Marokko. Dit vaar verby die kus van die Noord-Kaap tot in Luderitz en later word daar onder meer aangedoen by reënwoude in Ghana en op kano's gevaar in Kameroen. Op die meegaande foto steek 'n venster sy kop uit deur die bloedrooi dak van 'n huis in Luderitz - die Duitse nalatenskap steeds duidelik sigbaar.
BLY NAG VERNIET: Betaal vir twee nagte en kry 'n derde nag gratis by die Tenahead Mountain Lodge. Dié vyfster-blyplek is in die Oos-Kaapse Hoogland 'n klipgooi van die Naude's Nek Pas. Dit kos R800 per person per nag wat deel. Die derde nag betaal jy slegs vir aandete en ontbyt. Die aanbieding is nog geldig tot 20 April. Kyk by riverhotels.co.za of skryf aan Tenahead@riverhotels.co.za.
SLEGTE TEERPAD: Hoewel die teerpad van Ficksburg na Senekal deur pragtige natuurskoon lei, gedy dit van slaggate. Dikwels moet jy skoon aan die verkeerde kant van die pad ry om dié gate wat maklik 'n band kan laat bars, te mis.
DERDUISENDE: Die plek om iets koels te drink teen die Karoo-hitte van Carnarvon is die Blikkieskroeg. Hier word jy omring deur nie minder nie as 'n allemintige 4 000 verskillende soorte blikkies wat netjies uitgestal staan in vertoonkaste en teen die mure.
STOP/RY: As jy met die N6 van Bloemfontein in die rigting van Aliwal-Noord ry, moet jy minstens ‘n halfuur, maar dalk eerder ‘n uur, ekstra toelaat vir reistyd, want die 74 km tussen Reddersburg en Smithfield word grootliks oorgebou. Met ‘n onlangse rit is ons op vyf plekke gestop. Nietemin bly Smithfield ‘n mooie dorp om in oor te bly. As een van die oudste dorpe in die Vrystaat spog dit met talle historiese gedenkwaardighede en heelwat gastehuise.
LOOP LIG: Moet jou nie laat flous deur die “lae” pryse wat dikwels in reisbrosjures in vet letters gepubliseer word nie. Een van die tipiese vangplekke is hoe goedkoop dit is om in ‘n eksotiese oord soos Barbados vir ‘n hele week te gaan bly (R5 940 per persoon). Maar dan kom die slang in die gras: ‘n vliegkaartjie kos vanaf R18 340 – en die “vanaf” sê jy gaan waarskynlik vir die kaartjie meer as R20 000 betaal. Boonop is die pryse slegs geldig as jy ‘n kamer deel. So die vliegkaartjie en verblyf vir jou en jou wederhelf gaan dan by die R60 000 draai!
Dit & Dat wat die moeite werd is

- Jens Friis
KUIER BY OXBOW: 'n Instelling wat reeds jare blyplek bied in Lesotho is die Oxbow Lodge. Dit is in die noordooste van dié land en op pad moet jy óór die Motengpas (2 840 m) waar die landskap 'n sagte barheid het. Van hier daal die pad neer na die droë Malibamatsovallei. Oor dié laaste 8 km voor die Oxbow Lodge is daar van mens en dier weinig te sien. Oxbow verwys na 'n boog wat 'n nabygeleë rantjie maak. Vroeër moes die pad daaromheen loop, maar deesdae nie meer nie. Met ons aankoms is dit koud-koud. Bokant 'n gasverwarmer wat die koue verdryf, hang goue toekennings van die Internasionale Bedryf vir Toeriste, Hotelle en Gasvryheid. Ook wanneer dit sneeu, kom gaste van heinde en verre. Behalwe ski, is hier ook San-tekeninge, is dit ideaal vir 4x4-entoesiaste en is die bergstrome ryk aan forel. 'n Verbyvloeiende stroom bied in die somer bergwater om in te baljaar. Die weer by Oxbow kan binne minute ingrypend verander. Omdat dit hoër as die boomsoom is, word dit tot -20 grade Celcius. Neem selfs in die somer iets warms saam, want dit kan saans koel word. Suid-Afrikaners het nie 'n visum nodig nie, maar wel 'n paspoort. Loer by www.oxbow.co.za.
BLY IN ‘N HEREHUIS: Vir onvergeetlike blyplek in Britse herehuise loer by www.cntraveller.com/recommended/uk/the-best-stately-homes-in-england.
BLITSIG: Met ‘n hoësnelheid-trein is dit moontlik om na die Hermitage in St. Petersburg te gaan kyk en die aand weer in Moskou terug te wees. Vroeër was die enigste manier om per trein tussen dié twee stede te reis, die nagrit op die Rooi Pyl. Dit is steeds moontlik, maar diefstalle eerder as die hoëgehaltediens het sedert die Sowjet-era hoogty gevier. Nou is dit nie meer nodig om 'n binnelandse vlug van Aeroflot te neem nie. Die treinrit met die nuwe blitstrein duur net vier uur.
KAMPEER HIER: Die vyf beste kampeerplekke in die Noord-Kaap is volgens die reistydskrif Weg se Januarie-uitgawe:
1. De Hoop-kampplek, Richtersveld- nasionale park
2. Die Houthoop-gasteplaas, Kleinzee
3. Kokerboomkloof-kampplek, Richtersveld- nasionale park
4. Mata-Mata-ruskamp, Kgalagadi-oorgrenspark
5. Nossob-ruskamp, Kgalagadi-oorgrenspark
IN DIE MIDDEL: Boshof in die Vrystaat is die dorp wat die naaste aan die middelpunt van Suid-Afrika is.
OM DIE WêRELD: ‘n “Around the world”-vliegkaartjie gaan jou sowat R31 000 uit die sak jaag. Dit sluit dan die volgende stede in: Johannesburg, Sydney, Vancouver, new York, Frankfurt, Londen en terug na Johannesburg. Volgens flightcentre.co.za sal dieselfde kaartjie R58 000 kos sou jy besigheidsklas vlieg.
WAARDE VIR GELD: Lesotho is een van die tien lande op aarde wat die beste waarde vir geld aan toeriste bied. Só het die gesaghebbend reisgids Lonely Planet onlangs bevind toe die "Top 10 best value destinations in the world" aangewys het. Dis dus des te meer rede om vir 'n naweek uit te wyk ná die landjie op ons voorstoep.
PADSTAL: Doen aan by die Constantia Cherry-padstal op die R26 tussen Clocolan en Ficksburg. Hier kan jy smul aan die heerlikste tuisgebak en ook handwerk uit die omgewing aanskaf.
SAA VLIEG NA BEIJING: Die Suid-Afrikaanse lugdiens sal van 31 Januarie af drie vlugte per week van Johannesburg na Beijing in China aanbied en sal sy Airbus A340-600-vliegtuie op dié roete gebruik. Die vliegtyd tussen Johannesburg en Beijing is 15 uur en kaartjiepryse begin by R7 000. SAA is die grootste en volgens die internasionale agentskap Skytrax die gewildste lugdiens in Afrika met sy vlugte na 20 bestemmings op die vasteland buiten Suid-Afrika.
LIPLEKKER LEKKERS: By die Turksvy Trading Store in Rosendal kan jy outydse lekkers koop. Steek jou hand in die glasbottels wat die lekkers varshou en skud jou sak. Dit sal jou terugneem na vervloë dae.
Rivier deur Rome droog op
- Jens Friis
Menige wêreldstad het sy ewe bekende rivier. So het Parys die Seine, Montreal die St. Lawrence, en Londen die Teems.
Maar die stadsvaders van Rome vrees, want hul Tiber is nie meer wat dit was nie. Die mense word meer, maar die water nie. Daarom vloei dié rivier deesdae soms skaars en sy watertjies is só besoedeld dat g’n behoorlike vis daarin sou wou swem nie.
Dis ‘n tragedie, want die vrugbare Tiber-vallei was die geboorteplek van die Romeinse Ryk asook die Italiaanse beskawing. Rome is geleë 30 km vanaf die see by die verste punt wat antieke skepe kon bereik.
In Rome se vroeë dae was die “campagna” (grondgebied) waardeur die Tiber gesny het ‘n vleiland, die tuiste van arm herders wat gereeld deurgeloop het onder malaria. In 1928 is hierdie vleiland egter gedreineer en die muskiete het verdwyn.
Die Tiber is 350 km lank en vloei vanaf die Appenyne deur ‘n breë laagland wat eens ‘n meer was. Die modder van dié meer is vrugbare grond vir valleiplase wat besproeiingswater lustig opsuip.
Toentertyd toe die Tiber nog ‘n sterk vloeiende stroom was, was die oprigting en instandhouding van brûe noodsaaklik vir lewe en handel in Rome. Andersins kon diegene wat noord en suid daarvan gewoon het, dit net oorsteek per boot.
Volgens oorlewering is die oprigting van die brûe (“pontes” in Latyn) oorgelaat aan die “pontifices” wat later die belangrikste van die religieuse ordes geword het. So verwys ‘n “pontifex” (deesdae die pous) oorspronklik na ‘n bouer van brûe. Só lees ek in “Rome of the Caesars” wat ek vanmeleë gekry het as Latyn-student.
Die eerste historiese brug in Rome was die Pons Sublicius. Sy naam verwys na die “sublicae” oftewel houtpilare en dis opgerig stroom af vanaf die Tiberiese eiland.
Op die Tiberiese eiland was die Tempel van Aesculapius en dit het later die plek geword waar siekes behandel is. Hierdie tempel word deur historici beskou as die eerste primitiewe hospitaal van Rome.
Mens staan verstom as jy besef die Pons Aemilius, die allereerste steenbrug oor die Tiber, is reeds gebou 181 jaar voor Christus se geboorte. Die grootste deel van dié brug is verowes in 1589. Drie boë van die Ponte Rotto (“rotto” beteken “stukkend” in Italiaans) het staande gebly tot 1886. ‘n Verdere twee boë is toe afgebreek om plek te maak vir die Ponte Palantino.
Langs die banke van die rivier was geen geboue nie sodat bote maklik daar kon vasmeer. ‘n Belangrike aflaaipunt van kos en marmer was die Emporium. Terracotta vase (“testae”) is hier afgelaai deur goedereskepe en mettertyd het dit só opgehoop dat dit ‘n kunsmatige heuwel gevorm.
Die Testaccio en oorblyfsels van die antieke brûe is nog daar, maar van die magtige Tiber is weinig oor. Die stadsvaders krap kop, want hul pogings om dié wêreldbekende rivier te red het sover maar weinig vrugte afgewerp.
Mag iemand met ‘n blink plan vorendag kom, want dit sou ‘n hartseerdag wees as dié rivier finaal gaan staan.
Subscribe to:
Posts (Atom)
