Saturday, September 1, 2007

Groot(se) Karoo: Roadtrip


Op ‘n keer kom kuier my Deense neef in Suid-Afrika. Dis sy eerste besoek, en ook die eerste keer dat enige van ons Europese familie ‘n draai kom maak in ons Suiderland.

Jesper se vakansiedae is beperk en ons probeer soveel moontlik inpas.

Maar aan die einde van die vakansie is dit toe nie die Tuinroete of Tafelberg wat hom die meeste beïndruk het nie, maar wel ons “roadtrip” deur die Groot Karoo.

Wat ‘n dagrit moes wees het onbepland ‘n “bestemming” in sy oë geword.

Jesper kon maar net nie uitgepraat raak nie oor hierdie onbevolkte wêreld se stilte en sterre, die uitgespande hemel en die nimmereindigende horisonne.

Daar’s meerdere Suid-Afrikaners wat die Karoo afmaak as ‘n landskap waaroor jy eerder vinnig moet vlieg as waardeur ‘n beskaafde mens sal ry – selfs teen 120 km/h.

Gwynen Conlyn skryf in “Delicious Travel” daar is party mense wat nooit vat sal kry aan die Karoo nie, terwyl dit vir ander “’n aangeleerde smaak is wat op jou groei.”

Maar sommiges, soos Jesper, word onmiddellik deur die Karoo bekoor.

“Dis immers ‘n plek waar mens mens kan wéés. Jy staan ‘n kans om jouself te vind in hierdie `niks’,” seg hy anderkant Noupoort.

Oftewel soos Jannie du Toit sou sing: “Eenvoud is die vreugde van die lewe.”

En toe ons onder karee buite Middelburg stop, merk Jesper op: “Europa is gans te`cluttered’.” Digby is ‘n opstal wat se agterlaas tot aan die einder strek.

‘n Uur later ry ons die Vallei van Verlatenheid binne. Sowat 230 miljoen jaar gelede het prehistoriese diere hier gewei waar die Sondagsrivier nou vir Graaff-Reinet omarm.

In dié dorp drink ons ‘n Fanta Float om die dors te les. (“Karoo” beteken immers in die Khoi-taal “plek van dors”.) En hervat dan die pad oor semi-woestyn dorpe soos Aberdeen, Willowmore en Uniondale.

Windpompe draai om water uit die dorre aarde te haal vir kuddes dorpers. Die Deen is dol oor ‘n paar springbokke, bloukraanvoël, en ystervark wat ons pad kruis.

En toe ons die Potjiesbergpas na die Klein Karoo oorsteek sê my welberese neef filosofies: “Dis met rede wat daai Karoo bekend staan as Groot(s). ‘n Reis daardeur hoort op enige lys van hoogs aangeskrewe “journeys”. Vir my is dit ewe indrukwekkend as ‘n vaart deur die Panama-kanaal, ‘n rit per motor van Los Angeles na New York, of om deur Switserland te stoom met die Glacier Express.”

Nou-ja, mag ons iets daaruit leer!

Carlo Goldoni het nie sonder rede gesê: “Die wyse reisiger verag nooit sy eie land nie.”