Friday, August 31, 2007

SIRMIONE bied meer as papierbeloftes


- Jens Friis

As iets 100 jaar oud is in Suid-Afrika dan is dit óúd. Maar in Italië is dit natuurlik ‘n perd van ‘n ander kleur.

Só is die noord-Italiaanse dorp, Sirmione, al meer as 2000 jaar ‘n gewilde vakansieoord vir ryk Veronese families. En vir minstens ‘n verdere 3 000 jaar woon mense al op hierdie skiereiland aan die suidelike oewer van die Garda-meer.

Die meeste oewerdorpies bied asemrowende blikke op die Alpe, Garda se bergwater is deurskynend blou, en die lug vars. Boonop het elke dorpie keisteen-kronkelstrate met restaurantjies waar die inwoners gemoedelik gesels oor watertand disse.

Maar uit al die nedersettings wat Garda omsoom is dit Sirmione wat bekend staan as die “Pêrel van Garda” – en dis nie om dowe neute nie.

Dié dorp onderskei hom deurdat dit gebou is op ‘n skiereiland wat die meer 4 km instrek. Hiérom voel jy altyd gekoester teen aanslae van die buite-wêreld.

Tweedens is Sirmione ook bekend vir sy helende, warmwater swaelbron. Hierdie natuurlike spa is ‘n plek om kragte te herwin sedert antieke tye.

Só het die Romeinse digter, Catullus, hier uitgespan en die skoonheid van die dorp in sy werke besing. Die ruïnes van sy villa en baddens is steeds te sien en ‘n elektriese trein stoom somers (April-Oktober) vanaf die Piazzale Delle Terme na die Grotte di Catullo.

In die dertiende eeu is ‘n sterk fort in dié dorp gebou ter verdediging van die suidelike oewer van die meer. Steeds is die Middeleeuse Scaliger-kasteel ondeurdringbaar.

Sirmione was deel van die Republiek van Venesië tussen 1405 en 1797, waarna dit in die hande van Oostenryk geval het. Sedert 1860 was dit onder die heerskappy van die Koninkryk van Italië.

In die twintigste eeu het James Joyce en Ezra Pound in Sirmione ontmoet, terwyl Maria Callas gereeld in haar villa vakansie kom hou het.

Deesdae is Garda ‘n groter vakansieparadys as ooit tevore. Oorwerkte Italianers uit Milaan en omgewing kom hou hier vakansie, nes Oostenrykers, Franse, en Duitsers.

Só het my neef uit München byvoorbeeld kom besoek aflê tydens my tydjie langs Garda. Dié wêreld ken hy soos die palm van sy hand, want hy en sy vrou hou graag vakansie in hierdie Edenagtige droomdorp.

Hier is die lig sag is en die klimaat gematig. Plante floreer en blom uitbundig. Op die mark spog die boere met hul oes – ‘n ware warboel van groenvye tot sultanakonfyt. En in jou mandjie hoort ‘n goeie bottel wit Lugano DOC.

Trapbote bied ‘n ideale manier om die waters rondom die skiereiland te verken. Meerdere stroompies (bekend as “ganfi”) vloei die meer binne en dit bied broeiplek vir swane en ander watervoëls.

Garda is Italië se grootste meer. In die suide by Sirmione is dit tot 16 km wyd. Van Riva del Garda in die bergatige noorde tot by Denzenzano del Garda is dit meer as 100 km lank. Die grootste dorpe langs die meer word verbind met gereelde skeepsroetes. Dis dus maklik om die meerdorpies te verken op vaartbelynde bote.

‘n Buurdorp van Sirmione is Salo. Die pad hierheen lei deur ‘n park-area genaamd die Parco dell'Alto Garda Bresciano. Dis pragtige wêreld met meerdere suurlemoen- en olyfboorde.

Salo is bekend vir sy linne-industrie, maar veral as geboorteplek van Gaspare Bertolotti. En wie was dié knaap? Hy was die eerste om ‘n viool te bou.

So gaan maak gerus ‘n draai in Sirmione. Hierdie loflied is nie net papierbeloftes nie. As jy daar was, sal jy heelhartig saamstem.