Monday, December 29, 2008

Arrowtown: Nieu-Seeland se Pelgrimsrus

- Jens Friis

AS jy sin het in Suid-Afrika se poskaartmooie Pelgrimsrus, sal jy dol wees oor Nieu-Seeland se prentjiemooie Arrowtown.
Dié delwersdorpie in Otago het nou wel net 1 700 inwoners, maar is met reg een van die Suid-Eiland se gewildste toeriste-trekpleisters.
Stap jy langs die dorp se hoofstraat is dit of die geskiedenis jou insluk en dan uitspoeg tydens die hoogtepunt van die goudstormloop in die 1800's.
Tóé het hier meer as 7 000 inwoners gebly wat bestaan het uit hordes armgatte en slegs 'n handjievol stinkrykes. Want of dit nou Pelgrimsrus of Arrowtown is, dis mos maar slegs vir enkelinge bestem om die rykdom van goud te smaak.
William Fox, 'n prospekteerder, was die eerste om goud hier te vind en daar word vertel dat diegene wat hom gevolg het binne enkele weke 200 pond goud in die Arrow Gorge-omgewing gevind het.
Aanvanklik het die dorp Fox geheet, maar is mettertyd herdoop tot Arrowtown, want die rivier wat hier verbyvloei se aansluiting met die Bush Creek herinner aan die vorm van 'n spies se kop.
Die woord oor ryk goudvondste in die 1860's het uiteraard soos 'n veldbrand versprei, fortuinsoekers het hulle hierheen gehaas, en nedersettings het letterlik soos paddastoele opgeskiet.
Maar die neerslae by plekkies soos Macetown, Skippers en Bullendale was veel slegter as by Arrowtown en binne enkele jare het dit gekwyn tot spookdorpies.
Die enigste lewe wat oorgebly het by baie van dié prospekteerplekke is goudmuseums wat wys hoe Nieu-Seeland se Byeboerwa-delwers toeka 'n bestaan probeer maak het.
En as hulle eendag op 'n reëndag wel die boerpot geslaan het, het die meeste van dié delwers (soos dit nou maar gaan) uitgespan by 'n drinkplek en daar hul swaarverdiende geldjies laat wegsyfer.
In Arrowtown was daar blykbaar op 'n stadium by die 30 kroeë.
Hoewel Arrowtown deesdae nie naastenby meer soveel drinkplekke het nie, is dit allermins 'n kwynende dorpie. Volgens 'n 1956-sensus het daar tóé 'n skrale 186 mense hier gewoon, maar sedertdien het die dorp net bly groei en groei. Tot so 'n mate dat daar tydens 'n 2001-sensus 1692-inwoners getel is.
Wat is die rede?
Iemand het eens opgemerk Pelgrimsrus lyk na 'n plek waar jy nog sal oorstap na jou buurvrou om melk te gaan leen - en dieselfde geld Arrowtown.
Tradisionele picket fences omring talle van die historiese houthuisies wat deesdae opgeraap word as naweekhuisies. 'n Voordeel is dat dié huisies meestal pragtig gerestoureer word, maar inwoners kla dat baie van dié kopers selde hier vertoef en dat Arrowtown se ekonomie weinig daarby baat.
Gelukkig is daar wetgewing wat bepaal dat opknappings en aanbouings aan streng vereistes moet voldoen, want anders was dié dorp waarskynlik lankal sy Victoriaanse sjarme kwyt. (As daar meer sulke wetgewing in Suid-Afrika was, sou ons argitektoniese erfenis veel ryker gewees het, of hoe?)
Die meeste besoekers aan Arrowtown kom nie veel verder as die Victoriaanse hoofstraat met sy snuisterywinkeltjies, restaurante, galerye, en popmooie huisies nie, maar as jy die tyd het sal dit loon om ook die agterstraatjies te bewandel, want dié mooi hou net aan en aan.
Dis dus g'n wonder dat die Nieu-Seelandse Lonely Planet-reisgids skryf: "Arrowtown herinner sterk aan 'n filmstel".
As jy ooit die kans het om hier 'n draai te maak is dit wys om dit te doen in die herfs. Tussen April-Mei is dié geweste se bome 'n fees vir die oog en sou jy jou kon misgis dat jy in New Engeland is.
Arrowtown se volgende Herfsfees vind plaas tussen 17 en 26 April 2009. Vir meer inligting kyk by http://www.arrowtownautumnfestival.org.nz/.


HOE KOM EK DAAR?
Arrowtown lê op die oewer van die Arrowrivier sowat 5 km vanaf State Highway 6 in Otago. Daar is ook 'n direkte paaie na Queenstown, een van die Suid-Eiland se grootste dorpe, via die Shotover Gorge (20 km) en 'n derde pad via Lake Hayes. Queenstown het 'n lughawe veel groter as Bloemfontein s'n en daar is gereelde vlugte na onder meer Wellington en Auckland.