Monday, December 29, 2008

St. Paul sal ook jóú hart verower

- Jens Friis
"Once upon a time there was a handsome old stone village shaped like a boat. Its name in Provençal was Sant Paou." - André Verdet
WELKOM in Saint-Paul de Vence, 'n dorpie met slegs 300 inwoners, maar wat jaarliks deur 2,5 miljoen toeriste besoek word.
Dis dus g'n wonder dat St. Paul, wat al "the most beautiful village in the world" genoem is, naas Versailles en Mont St. Michel die gewildste historiese erfenisterrein in Frankryk is nie.
Dis moeilik om iets negatiefs oor dié dorpie te sê, behalwe dat plaaslike sakelui dit kan bekostig om hul pryse te laai en dat jy bitterselde alleen gaan wees.
Maar in groot getalle is daar soms ook 'n gerusstelling, want daar móét goeie redes wees as soveel mense 'n plek besoek.
In St. Paul se geval is dit (soos eiendomsagente altyd sê): "Ligging. Ligging. En nogmaals ligging." Dié ommuurde bergvestingdorp troon 180 m hoog uit oor die res van Suidoos-Frankryk wat dit voorwaar 'n balkon maak van waar jy Provence kan indrink.
Duisende jare gelede was die heuwel waarop St. Paul geanker is 'n eiland in die Middellandse See, maar nou word dit omsoom deur 'n vrugbare landbou-area.
Op 'n mooiweersdag lei die lowergroen Malvan-vallei jou oog tot daar waar die land see word by Cap d'Antibes, terwyl die Alpe en Esterel-gebergte agter jou lê. Ja, St. Paul se ligging ís asemrowend.
Nóg 'n pluspunt is dat St. Paul gemiddeld 300 (toevallig soveel inwoners as wat hier woon) dae sonskyn per jaar kry. Boonop het dié sonlig 'n besondere ligkwaliteit wat kunstenaars soos Matisse, Chagal, Modigliani en Renoir geval het.
Reeds in 1701 het Vauban, 'n raadgewer van Louis XIV, dié koning as volg geadviseer: "The son in St. Paul is by verre die beste in die hele Provence. Verder groei daar in dié kontrei ook die allerbeste lemoene ..."
Met die aanbreek van die lente ontplof magnolias, laventel, suurlemoen- en nartjiebome in 'n potpourri van kleur en geur wat St. Paul se Middeleeuse grys klipwerk ophelder.
Maar St. Paul se geskiedenis dateer selfs nóg verder terug as die Middeleeue na die dae toe Grieke en later Romeine hier gewoon het. Hier en daar is selfs nog 'n fondament, 'n pad (soos die Rue Grande) en 'n "pontis" (brug) wat uit daai dae dateer.
Op die dorpsembleem pryk 'n swierige spuitfonteintjie uit 1850. Die oog van dié fontein is omtrent in die middel van die dorp. Tot in die 1920's het dié fontein nog 'n belangrike rol gespeel by verkiesings, want die wasvroue tot die boere en hul kuddes was van dié water afhanklik.
Ook nie te mis nie, is die Russies-gebore skilder Mark Chagall se graf in die dorpsbegraafplaas. By die kerkhofingang moet jy die eerste paadjie regs en dan die volgende links neem om by Chagall se eenvoudige wit grafsteen te kom. In navolging van 'n Russiese en Joodse tradisie plaas besoekers voortdurend klein klippies by sy graf.
Die kans is goed dat Saint-Paul de Vence ook jóú hart sal verower - selfs al moet jy skouer aan skouer deur sy smal stegies stap saam met hordes ander St. Paul-aanhangers.
HOE KOM EK DAAR?
St. Paul is 12 km vanaf die Internasionale Lughawe Nice-Côte-d'Azur. 'n Taxi-rit vanaf die lughawe neem 20 minute en kos sowat R400. Andersins kan jy die trein neem vanaf enige Riviera-dorp na Cagnes sur Mer. Van hier is daar gereelde busse wat by St. Paul se dorpspoort stop. Dié busrit duur 15 minute en kos nagenoeg R20.