Thursday, November 5, 2009

Spierwitter kan dié strand se sand skaars


- Jens Friis
SOOS hulle in "Let the river run" sing, "dié blou is die kleur wat jy nie eens sien in die oë van jou minnaar nie."
Tog is die kleur van die Great Barrier Reef se water nie die enigste van sy soort ter wêreld nie. By die Secyhelles en Italiaanse Riviera is die waters immers ook só 'n besonderse deurskynende turkoois.
Maar van Whiteheaven Beach, telkens al aangewys as die mooiste ter wêreld, is daar beslis nie nóg een nie. Hiervan maak die kleur van dié strand se sand seker: Spierwitter kan dit nie. Só blink dit byvoorbeeld in jou oë dat jy 'n sonbril móét dra.
Ook as jy langs die 7 km lange strand stap kan jy hoor dié is letterlik 'n perd van 'n ander kleur. Elke keer wat jy jou voet neersit klink dit soos die geblaf van robbe.
Die rede?
Whiteheaven Beach bestaan uit 99% suiwer silika. Só suiwer is dit dat die Hubble-teleskoop se lens grootliks van dié silika gemaak is.
Was dit nie dat die Great Barrier Reef 'n Wêrelderfenisgebied is nie, sou 'n mynmaatskappy waarskynlik lankal reeds dié sand ontgin het.
Oor die sand se oorsprong is daar groot onsekerheid, maar sekere geoloë meen dit kom van ver, want die Whitsunday-eilande se rotse is kwartsarm.
'n Moontlikheid is dat die silikasand deur 'n seestroom meegevoer word vanaf die suide van die Queenslandkus. Volgens dié teorie word swaar minerale stowwe en ander onsuiwerhede uitgewas tydens dié lange reis wat slegs die kwartssand agterlaat. Daar is vermoedelik 'n maling by die Whitsunday-eilande wat dan die oorblywende sand hier laat uitsif.
'n Ander teorie is die volgende: As koraal afbreek in storms word dit wit as dit doodgaan en kom dan tot ruste op 'n hoop onder die branders. Oor miljoene jare stapel dié koraal dan só op dat dit later uit die see toorn en 'n eiland vorm. Só word dan van die suiwerste wit sand in die ganse Great Barrier Reef gevorm.
Hoe dit ook al sy, toe afdelingsoffissier E.P. Bedwell in 1879 die eerste was om hier voet aan wal te sit, het dit weinig anders gelyk as vandag. James Cook het reeds in 1770 hier rondgeseil en die eilandgroep The Cumberland Islands gedoop, maar dit was hom nooit beskore om The Beach, soos Whiteheaven ook bekend staan, te aanskou nie.
Whiteheaven is beslis een van dié plekke wat my vir ewig sal bybly. Soos 'n vriend wat in Brisbane woon opgemerk het: "The Beach is the epitome of paradise found. If there's one dream you can realize in life, it's experiencing this natural wonder."
SOU JY GAAN ...
* WAAR PRESIES IS WHITEHEAVEN BEACH? Dis op die Whitsunday Island, die grootste van die 74 eilande genaamd die Whitsundays, langs die noordoostelike kus van Queensland, Australië.
* HOE KOM EK DAAR? Kleinerige veerbote en luukse jagte vertrek daagliks van Airlie Beach na Whiteheaven Beach. Seevliegtuie en helikopters doen ook gereeld hier aan. Die meeste van die bote wat oornag op die waters van die Great Barrier Reef maak ook by Whiteheaven 'n draai - en so behoort ook jy!
* HOEVEEL KOS DIT? Daar is nie 'n goedkoop manier om by Whiteheaven te kom nie en jy sal 'n ekstra duisend of drie by jou vakansiebegroting moet tel as jy na dié droomstrand wil gaan. Sommige opsies soos die veerbote is bloot goedkoper as byvoorbeeld 'n seevliegtuigie met net plek vir ses mense.
* WAT KAN EK DOEN? Swem, stap, snorkel en hou piekniek. Wees op die uitkyk vir skole kleurvolle "mak" visse wat sommer tussen jou bene sal deurswem.
* 'N BESONDERSE ERVARING is om 'n hand van die skoon, suiwer sand te vat en jou lyf daarmee in te smeer. Hierdie klam, fyn "sout" waarborg een van die allerbeste masserings denkbaar.
* ONTHOU jou sonbril, swemklere, sonbrandolie, snorkeltoerusting, handdoek, drink- en eetgoed, maar sandale is nie nodig nie, want selfs op 'n snikhete dag voel die silikasand koel weens sy kompakte struktuur en omdat dit die sonstrale wegkaats.