Wednesday, November 11, 2009

Witsand roep





JENS FRIIS sê dis nou die tyd om 'n draai te gaan maak by die Witsand-natuurreservaat, want die besondere duine brul glo die hardste in die maande met die letter "r".

EK wil die piep kry as sommige siele so graag verkondig: "Oorsee vakansie hou?! Nog nooit, daar is hopeloos te veel plekke wat ek nog éérs in Suid-Afrika wil sien."
As jy só redeneer gaan jy beslis nóóit in die buiteland kom nie, want in Suid-Afrika is daar gans te veel plekke wat iedereen in hul kort lewentjies behoort te sien.
Maar dít daar gelaat.
Die Witsand-natuurreservaat is inderdaad een van daai besonderse plekke waarmee ons mooie land so mildelike geseën is wat jy behoort te sien tydens jou kortstondige aardse bestaan van baie werk en min vakansie.
En dis nie net ek wat dink dis besonders nie. So lank terug as 40 000 jaar het mense al hier vertoef, want vir hulle was dié plek heilig.
Dat dié vroeë bewoners só gedink het, is verstaanbaar, want soos iemand eens opgemerk het: Witsand lê soos 'n eiland van wit sandduine midde-in 'n see van koperrooi sand.
Deesdae is dié duidelik onderskeibare stuk sandwêreld in die suidoostelike hoek van die Kalahari een van die Noord-Kaap se voorste toeristebestemmings.
Veral voëlkykers, stappers en fotograwe kan hierdie eko-wonder gerus oorweeg as 'n naweekwegbreekplek.
En des te meer behoort jy nou hier 'n draai te maak, want daar word gesê dat die duine die hardste "brul" in maande met die letter "r" in die naam.
Dis veral die suidelike duine wat 'n geraas maak wanneer die sand versteur word.
Hou dus jou ore oop as jy die energie het om uit te klouter teen een van die steil "berge" van die Witsand-duinekompleks. Hulle is 20 tot 60 m hoog.
Niemand weet waarom die sand brul nie - en nog minder waarom slegs die suidelike duine só raas nie.
Volgens die Witsand Nasionale Park se brosjure is dit moontlik weens die intense wrywing tussen die geronde ysteroksiedvrye korrels. Of dalk is die granulometriese eienskappe, onder meer die eenvormige korrelgrootte, die rede.
Buiten dat Witsand se sand wit is én brul, is daar nog iets waarvoor jy moet uitkyk.
Asof ingesteek, staan gietswart donderbuise in die sand. Dis die werk van weerligstrale wat tydens donderstorms die sandduine tref en lang skerwe silika-glas vorm.
Daar is waarskynlik so baie donderbuise hier omdat die duinekompleks veel hoër is as die omliggende vlakte.

SOU JY GAAN

HOE KOM EK DAAR? Witsand lê in die stuk oop vlakte sowat 80 km suid van Olifantshoek, oos van Upington, noord van Groblershoop en oos van Postmasburg. Die maklikste manier om daar te kom, is om by Volop op die pad tussen Griekwastad en Groblershoop noord te draai na Witsand, wat 50 km verder langs 'n goeie gruispad lê. Dit kan ook direk van Olifantshoek bereik word of van die pad tussen Olifantshoek en Upington.

MOENIE VERGEET OM DIE VOLGENDE TE PAK: Swembroek, kamera, stapskoene, en 'n verkyker.

WAAR KAN EK TUISGAAN? Die oord het gerieflike huisvesting en hope kampeerplek. Dit wissel van luukse chalets tot geriewe vir groepe en puik kampeerplekke vir woonwaens en tente. Dit smelt met die asemrowende Kalahari-omgewing saam. Van die diere soos springbokke en duikertjies wei dikwels óm die blyplekke.

OOK TE DOEN: Een van die voordele van Witsand is dat jy oral in die reservaat kan rondstap. Langs die botaniese wanelpad van 3,2 km word handevol inheemse bome en struike aangedui soos die witgatwortel, rosyntjiebos, vaalkameelbome en blinkblaar-wag-'n-bietjiebossie.

VIR MEER INLIGTING: Loer by http://www.witsandkalahari.co.za/ of bel 053-313-1061/2.