Monday, December 7, 2009

Vervoerrevolusie in Europa

- Jens Friis
AMSTERDAM en Kopenhagen het jare reeds toegewyde fietspendelaars.
Maar nou het fietsdeelskemas tot 'n vervoerrevolusie in Europa gelei waar warmer temperature dit vir ryers moontlik maak om gemaklik jaarlank te fiets.
Soos die New York Times berig: "In 'n omgewingsbewuste Europa is daar twee soorte burgemeesters: dié wat 'n fietsdeelskema het en dié wat een wil hê."
Want oor die afgelope paar jaar het dié skemas gewilder geword as wat enigeen kon raai in Barcelona en Düsseldorf tot Pamplona en Lyon. In Rome lyk dit of die Roma'n'Bike-skema ook suksesvol gaan wees, want hoewel dié eeueoue stad ongelyke keisteenstrate het is hulle smal en is dit veel makliker om hier met 'n fiets te ry as met 'n motor.
Met 'n onlangse besoek aan Frankryk was dit opvallend hoe Parysenaars (toeriste mag ook) gebruik maak van die Vélib-skema se 20 000 fietse.
Dit werk só: Daar word swaar op tegnologie gesteun deurdat die fietse gereed staan op geoutomatiseerde rakke. Toeriste kan 'n sewedag-kaartjie teen sowat R50 aanskaf of andersins kan jy jou kredietkaart gebruik om 'n fiets te ontsluit. Hiermee saam kry jy pasella 'n Paris a Vélo-kaart met fietsroetes.
In Barcelona koop jy 'n slimkaart wat vir 'n jaar geldig is teen sowat R220. Die eerste halfuur is verniet waarna jy sowat R2,50 vir elke halfuur daarna betaal. 'n Fiets moet binne twee ure by enige fietsrak terugbesorg word anders mag die kaart gedeaktiveer word.
En in Duitsland en Oostenryk kry fietsryers SMS-boodskappe met kodes waardeur fietse ontsluit kan word.
Londen se fietsdeelskema is in sy kinderskoene, "maar fietsry in die algemeen neem baie toe hier," sê my broer, Nico Friis, wat jare al daar woon. "Fietsrybane word oraloor gebou wat die voorstede met mekaar sal verbind vóór die Olimpiese Spele in 2012."
Selfs in Nederland word fietsry ál gewilder, sê Chris van Oordt, 'n Amsterdammer, "want dis vinniger om só deur die druk verkeer te swiep in ons klein, plat landjie. Fietsry is só gewild dat dit feitlik net so moeilik is om staanplek vir jou fiets te kry as parkeerplek vir jou kar!"
En dis juis híérom wat die fietsdeelskemas nie in Nederland veld wen nie: almal het rééds 'n fiets.
Ook is die steel van fietse hier 'n reuse probleem. "Die tot drie fietsslotte is duurder as die fiets self. Daarom spandeer inwoners nie baie op nuwe fietse nie. Veral dwelmverslaafdes steel graag fietse om geld te kry. Jy kan dié fietse van hulle terugkoop vir omtrent €25 wat veel minder is as die sowat €100 in tweedehandse fietswinkels."
Maar in ander Europese stede blyk fietsdeelskemas 'n suksesvolle manier te wees vir burgemeesters wat vervoerdruk wil verlig en hul "groen" bona fides wil verhoog. Vir die prys van 'n enkele bus kan hul 'n vloot fietse koop en só jare se konstruksiewerk en goedkeuring vir moltreine vryspring.
Uiteraard kom só 'n projek ook met sy probleme.
In Barcelona byvoorbeeld gebeur dit dat pendelaars wat in die middestad gaan werk al die fietse soggens gebruik en die geoutomatiseerde fietsrakke dáár dan oorvol raak.
Dié probleem word vererger omdat die middestad van dié Spaanse stad in 'n kom lê. Dis dus lekker om soggens afdraand fiets te ry, maar eerder smiddae 'n bus huis toe te neem. Dié probleem word nou oorbrug deurdat Bicing's 100 se werknemers fietse per vragmotor terugneem na waar dit benodig word.
Kritici van fietsdeelskemas wys daarop dat só 'n aanryery van fietse allermins tot 'n groener wêreld meehelp.
Maar hoe dit ook al sy, die Europeërs ry wéér fiets - méér as in etlike dekades.