Thursday, December 3, 2009

Hitler se heiligdom herleef


JENS FRIIS vertel hoe Hitler se omstrede Olimpiese-stadion buite Berlyn 'n nuwe lewe gekry het.
VERLEDE week het die Britse koerant, The Guardian, in 'n uitgebreide artikel daarop gewys dat talle van die stadions wat in Suid-Afrika gebou word ná die sokkerwêreldbeker dalk 'n wit olifant kan word.
"In Kaapstad en Durban is besluit om nuwe stadions te bou eerder as om die bestaande Nuweland en Kings Park te gebruik. Tensy die onderskeie rugbyspanne oortuig kan word om die nuwe stadions te gebruik, is dit onwaarskynlik dat dit lewensvatbaar sal wees," lui die berig.
Dié probleem is uiteraard nie eie aan Suid-Afrika nie. In talle wêreldstede staan Sokkerwêreldbeker- en Olimpiese Spele-stadions wat ná dié groot geleenthede bitterselde gebruik word.
Vir jare was dit ook die geval met "Hitler se stadion" in Berlyn. Maar sedert die Olympiastadion opgeknap is en die sitplekke 'n dak gekry het in 2004, word hier gereeld konsert gehou tot sokker gespeel - dis die tuisveld van Hertha BSC.
Die stadion, met sitplek vir 76 000 mense, is oorspronklik vir die Olimpiese Spele van 1936 ontwerp. Maar 'n insiggewende toer deur dié omstrede stadion se wandelgange en uitkykpunte vertel jou óók dat dit deur die jare al vir meerdere opskuddings en onderonsies gesorg het.
Nadat Duitsland op omstrede wyse as gasheer aangewys is vir die wêreldbekersokkertoernooi van 2006, het sommige Duitsers vir nóg 'n opskudding gesorg deur voor te stel dat die eindstryd asook die openingswedstryd "in die hart van die Nazi-Spele'' gespeel word.
Die stadion is gebou om steun te gee aan Hitler se droom van 'n nasie wat ``skoon ledemate'' sal hê en ``vlekloos wit'' en ``perfekte atlete'' moet wees. In 'n terugslag vir die Führer se plan dat dié Spele Ariese meerderwaardigheid moes bewys, hardloop die swart Amerikaanse atleet Jesse Owens bykans die asbaan aan die brand en laat byt die bestes van die Nazi's in die stof.
Hitler was glo brusend. Of is dit nie die volle waarheid nie?
Mark Leach en Gary Wilkins skryf in hul boek, The Olympic Dream, dat Hitler eintlik die volmaakte gasheer was. Hy het al die atlete verwelkom en het selfs die wenners van die eerste klompie nommers gelukgewens. Vir hom het dit nie saak gemaak of 'n swart atleet 'n goue medalje ontvang het nie.
Nadat hy aanvanklik die atlete gelukgewens het, is hy deur die Internasionale Olimpiese Komitee ingelig dat dit hul taak is en dat hy dit nie moet doen nie. Hy was daarna bloot 'n toeskouer.
Wat die meeste mense nooit geskryf het nie, is dat dit eintlik die Amerikaners was wat Owens se vertonings misken het, skryf Joe Venter etlike jare gelede in Volksblad.
"In New York en Cleveland is groot onthale vir Owens gereël na sy Duitse triomf, maar die president, Franklin D. Roosevelt, het hom geïgnoreer. Ondanks sy ses wêreldrekords in 1935, is Owens nie as sportman van die jaar aangewys nie. Die eer het 'n taamlik onbekende amateur-gholfspeler, Lawson Little, te beurt geval. In 1936, ná sy medalje-oes in Duitsland, is 'n paalspringer as die beste sportman vereer."
Maar om terug te kom na die wêreldsokkerbeker van 2006. Bomme en ander plofstof uit die Tweede Wêreldoorlog word gereeld in Duitsland gevind - meer as ses dekades ná die einde van die oorlog. Maar min sou verwag dat een van die bomme na al die jare steeds in Hitler se heiligdom gelê het. In 2000 is 'n bom uit die Tweede Wêreldoorlog wat nie ontplof het nie onder sitplekke van die stadion gevind en deur polisie-deskundiges onskadelik gemaak. Die bom van 250 kg is gevind toe konstruksiewerkers herstelwerk aan die onderste sitplekke van die stadion gedoen het met die oog op die wêreldsokkerbekertoernooi. Genadiglik het die onskadelikmaking sonder enige probleme verloop.
Terloops, Suid-Afrika se vertoning by die Olimpiese Spele van 2008 in Beijing was die swakste sedert 1936. Die laaste keer dat Suid-Afrika slegs een medalje op ’n Olimpiese Spele kon verower, was in 1936 in Berlyn toe die bokser Charles Catterall ’n silwermedalje in die veergewig-afdeling verower het. Op die Beijing-Spele was dit net die verspring-atleet Khotso Mokoena wat met sy sprong van 8,24 meter vir die spreekwoordelike silwer randjie om ’n baie donker sportwolk verantwoordelik was.
SOU JY GAAN ...
* Hoe kom ek daar? Neem die trein na Olympischer Platz. Dis so 20 minute se ry uit die middestad. Die stasie is reg langs die stadion.
* Wanneer is dit oop? Somers van 09:00 tot 19:00 en winters tussen 09:00 en 16:00.
* Hoeveel kos dit? 4 Euro (sowat R45) vir volwassenes en 3 Euro vir kinders.