Wednesday, September 14, 2011

Oorslapie op Helmeringhausen nie te versmaai

DIT was Sint Johannes wat gesê het: "If a man wishes to be sure of the road he treads, he must close his eyes and walk.”

En dit was met sulke blindelingse geloof wat ons die pad gevat het na Helmeringhausen.


Van dié plekkie het ek niks geweet nie. Dit was bloot 'n naam op die kaart van Suid-Namibië. Maar na drie dae het ons genoeg gehad van Luderitz.


En só gebeur dit toe dat ons een middag laat op die koel stoep van die Helmeringhausen Hotel ons bene kan uitrek. Skuins oorkant ons staan 'n lappie lusern blou in die blom, sonryp perskes hang in die boord, 'n trop boerbokke word kraal toe aangejaag vir die aand. Dis 18:00 en bewolk, maar die kwik staan steeds op 32 grade.


"Ek ruik reën", sê die hotelvrou toe sy vir ons elkeen 'n Duitse bier neersit.


Sy verduidelik dat jy hier 'n sonderlinge versnit van Boere-Duitsers kry wat met swoeg en sweet die mas opkom in die boendoes. Heelparty praat nog daagliks Duits - selfs met hul kinders. En van die geboue herinner ook aan hul Duitse herkoms.


Die plaas Helmeringhausen (10 000 ha) het tot stand gekom tydens die Duitse koloniale era as 'n plaas vir die lede van die Schutztruppe en sou later bekend word vir die uitstekende karakoele wat hier geteel word.


Maar deesdae is Hotel Helmeringhausen die hartklop van dié nedersetting. Dis hier waar die omringende boere bymekaarkom om te kuier-eet oor gawe porsies of waar toeriste oorbly as hul kortpad kies van Keetmanshoop deur die Namib na Sossusvlei en uiteindelik Swakopmund.


Alles hier behoort aan die plaas Helmeringhausen. Daar is nie 'n stadsraad nie en al die infrastruktuur behalwe die enkele hoofstraat behoort alles aan Plaas Helmeringhausen.


Van 'n dorp kan jy dus nie praat nie en die gevoel hier op Helmering (soos die boere dit noem) is eerder plaas. Daar is immers langs die hoofstraat weinig meer as die hotel, boereverenigingsaal (soms ook kerksaal) en 'n laaibank vir vendusievee. Oorkant die straat is 'n vulstasie en algemene handelaar. Die handsentrale word nie meer gebruik nie.


As jy dus laatmiddag of vroegoggend voordat jy in die pad val 'n entjie gaan stap langs die hoofstraat tot by die Konkieprivier gaan jy waarskynlik nie 'n mens teëkom nie. Dalk net 'n boer in sy bakkie wat ver ente moet ry na sy ander plaas om te gaan kyk of alles wel is met sy dorpers, karakoele of beeskudde.


En wat jy nie sal verwag nie is dat hierdie ook die hiemat is van Dawid Minnaar, een van Suid-Afrika se bekendste akteurs.


In die dag of wat wat ons in Helmeringhausen was, sou ons besef: hier kan jy vashaak vir 'n wyle, want dis ongerep en eenvoudig - soos die sout van die aarde. As jy ooit in hierdie geweste kom, is 'n oorslapie in Helmeringhausen gewis nie te versmaai nie.


SOU JY GAAN


* Hotel Helmeringhausen (tel. +264-63-283307) het 22 dubbel en-suite kamers. Ontbyt en driegang aandetes word bedien in die restaurant en bedags word ligte etes bedien. Koue bier is ook altyd byderhand. Vir meer inligting loer by www.helmeringhausen.com.


* Helmeringhausen is sowat 200 km noordoos van Luderitz en 500 km suid van Windhoek by die kruising van die nasionale paaie C14 (Goageb-Walvisbaai) en C13 (Rosh Pinah-Helmeringhausen) en die D414 (Aus-Mariental).


* Stap- en wildbesigtigingstoere kan gereël word.


* Langs die hotel is 'n klein landboumuseum wat tot stand gebring is deur die plaaslike landbou-unie. Onder die interessanthede wat hier uitgestal word is waterboormasjiene en brandblussers van allerlei aard wat eens gebruik is. Toegang is gratis en die sleutel is te kry by die hotel.