Wednesday, September 7, 2011

Woordsmous Dana Snyman

Dana Snyman het aan JENS FRIIS vertel watter padkos hy verkies, waaroor sy nuwe boek gaan en dat hy sy alom bekende Valiant in Dar es Salaam vir 'n sendeling wil weggee.



JENS: As jy so gelukkig is dat iemand vir jou ‘n kosblik met padkos pak, wat sal jy hoop is daarin?


DANA: My oorlede oorlede ma het altyd vir ons padkos gemaak voor ons die pad iewers heen geneem het: toebroodjies, frikadelle en hardgekookte eiers. Later, toe ek uit die huis is, het sy steeds vir my padkos gemaak wanneer ek daar gekuier het en weer die pad terug na my eie plek gevat het. Ná haar dood, het my oorlede pa daarmee volgehou. Ry ek terug huis toe, is die Tuperware-bak met die padkos altyd daar. Dit sal altyd vir my padkos wees: toebroodjies, frikadelle en hardgekookte eiers.


Watter bestemmings in Suider-Afrika wil jy nog besoek? Waarom?


Een: Ek dink dit is ’n skande dat ek nog nie in die Fugard-teater in die Kaap was nie. Soontoe wil ek binnekort gaan.


En ter wêreld?


Ek droom nie juis veel oor verre lande nie. Maar ek sal nogal die Van Gogh-museum in Amsterdam wil besoek. Ek wil ook nog graag die Kongo-rivier sien.


Waarheen sal jy wil teruggaan?


Ry jy deur Zambië, verby Lusaka, kry jy ’n plekkie met die naam Kapiri Moshi. Daar draai ’n pad weg, in die rigting van Dar es Salaam. Dis ’n teerpad. Ek het dit al twee keer gery in ’n Weg-ryding, maar hierdie keer wil in my ou Valiant daar ry, wiegend Afrika in, met die vensters oop. Ek kan dit nie beskryf nie: Dit was elke keer nog vir my baie, wel, bevrydend om daar te ry. Ek wil met my Valiant tot in Dar es Salaam ry en dit daar vir ’n sendeling of iemand persent gee as my bedrae tot die Afrika Rennaisance. Dan wil terug vlieg Kaap toe.


Waar het jy nog die koudste ooit geslaap?


Een nag in my bakkie in die Richtersveld – die nag toe ek uitgevind het daardie storie oor Old Brown Sherry wat jou in die winter kwansius warm hou, is nie waar nie.


Vir watter publikasies skryf jy deesdae?


Ek skryf ’n weeklikse rubriek vir Die Burger, Beeld en Die Volksblad. Ek skryf ook elke tweede week ’n artikel vir By, wat in bogenoemde koerante verskyn. Ek wil ook baie graag weer vir Weg werk, my tyd was net bietjie beperk in die laaste ruk.


Gaan jy ooit met vakansie sonder om te dink ‘n boek/berig/rubriek … kan daaruit voortvloei?


Helaas nie. Ek kan nie regtig meer ’n onderskeid tref tussen my skryflewe en my, wel, gewone lewe nie.


Is jy nog soveel op pad as in die dae toe jy by Huisgenoot/Weg was?


Nee. En dis goed so. Dit is vir my lekker om vir lang rukkie by my huis op Jacobsbaai te wees.


Waarom het jy huis opgeslaan by Jacobsbaai?


Ek kan in alle eerlikheid sê Jacobsbaai is my gunsteling-plek op aarde. Ek voel bevoorreg om hier te kan woon. Dit mag dalk soetsappig klink, maar baie oggende stap ek met ’n beker koffie in my hand saam met my honde af see toe, en sê vir die Liewenheer dankie dat ek hier kan wees. Ek is geseënd.


As jy weg van die huis is en jy hoor jou huis is aan die brand -watter drie goed moet die bure vir jou red?


My drie honde: Jerry, Kleintjie en Vlooi. Dis nou as hulle nie by my is nie.


Wanneer kom jou nuwe boek uit en waaroor gaan dit?


Die boek se naam is Hiervandaan. In ’n sekere sin is dit die eerste propperse boek wat ek skryf. Dit is ’n soort reisvertelling. Ek begin op die plaas naby Franschhoek waar die Snyman-familie vandaan kom, en eindig by die Geloftekerk in Pietermaritzburg waar my oupa-oupa-grootjie se broek in die museum hang. Ek bekyk die land op my manier en probeer antwoorde vir goed kry wat my pla.


Wat maak ‘n goeie reisartikel?


Dis ‘n moeilike een: Die woorde moet jou saamsleep van die eerste tot die laaste paragraaf.


Wou jy al ooit ‘n roman / riller / … skryf (iets anders as oorwegends travel writing)?


Ja. Ek hoop nie dit klink voorbarig nie, maar ek wil nog ‘n roman aanpak. En ‘n drama.


Wat sal jy jou beroep noem?


Woordsmous.


Het jy ‘n webblad/blog?


Ja, maar dit is nog nie geaktiveer nie. Baie gawe mense van Upington het dit twee jaar gelede reeds vir my ‘gebou’, maar ek kom nie so ver om die laaste inligting vir hulle te stuur nie. Ek het nie soveel geesdrif vir blogs en Facebook en Twitter as wat ek seker behoort te hê nie.


Watter boek lees jy tans?


Philip Roth se Everyman. Ook die kortverhale van Isaac Babel.


Watter CD is in jou kar?


Daar is ‘n klomp. Op die oomblik luister ek baie na Piet Botha, en ook Elvis se gospel-musiek.


Wat is mooiste drie plekname vir jou?


Lusikisiki, Dwaal en Jaagvlakte


Na watter hotel / gastehuis keer jy keer op keer terug?


Die Witput Country Lodge, naby Hopetown. Ek sal ook graag weer ‘n aand in die Beach Hotel op Swakopmund wil slaap. Die eerste keer toe ek in die Witput Lodge geslaap het, het ek diep in die nag wakker geskrik van ‘n vreemde lawaai – en gedink dis die einde van die wêreld. Gelukkig was dit toe net die Trans Karoo-trein wat op die spoorlyn reg langs die lodge verby is.


Wat laat jou frons wat baie vakansiegangers doen?


Oral in die land is deesdae mos sogenaamde stop-en-go’s – daardie plekke waar jy moet stilhou en wag waar daar padwerke is. Dit maak my woedend om al die rommel te sien wat die mense daar by hulle rygoed se vensters uitgooi.