Tuesday, March 27, 2012

Oude Kraal

De Oude Kraal, 30 km suid van Bloemfontein digby die Tierpoort, is vir jare reeds ‘n instelling vir kieskeurige reisigers langs die N1 en Bloemfonteiners wat uit die Vrystaatse hoofstad wil wegkom, maar nie ver wil ry nie.
Dié gasteplaas van die Lombard-familie is al telkemaal aangewys as een van die toprestaurante in die land (vyfgang-aandetes kos R295) en in die rustige tuin is daar 14 kamers (vanaf R545 per persoon wat deel) wat spog met met ‘n vierstergradering.
Een van die beste plekke vir ‘n spesiale ete of partytjie is die kelder onder die restaurant. HIer word ook ‘n wye verskeidenheid van Suid-Afrika se beste wyne geberg.
Die plaas het in die jare toet bekend gestaan as Wilhelmshöhe en was deel van die plaas Bruidegomspruit wat aan die Griekwas behoort het.
’n Sendeling genaamd Friedrich Wilhelm Salzman het Bruidegomspruit by Johannes Witvoet gekoop.
Marie  is  die  sesde generasie  wat op hierdie plaas van 2 400 ha boer en hul kinders sit dié tradisie voort.
Die Lomards het die ou plaashuis, wat in 1885 gebou is, gerestoureer en dit as ’n gasteplaas ingerig.
Die naam De Oude Kraal verwys na die ou klipkrale wat deur Salzman gebou is en na die murasie, wat hier deur die Khoi gebou is.
Min sou die huidige Lombards se voorsate kon dink dat toeriste van die wêreldoor eendag hier sou aansit by keurig gedekte tafels, slaap in sagte beddens en die moegheid uitsweet van ‘n dagreis in die plaaslike spa.
* www.deoudekraal.com