Tuesday, March 27, 2012

Halfaampieskraal


Gaan span (jou osse) uit op Halfaampieskraal van Jan-Georg Solms en Cobus Geldenhuys. Soos hul graag hier sê: “Dis die perfekte plek om niks te doen.”
Dié plaas tussen die graanlande van die Suidwes-Kaap duskant Napier spog met ‘n karaktervolle opstal en wonderlike gasteverblyf.
Die 250-jaaroue stalle en skuur is in gastekamers en ‘n onthaalplek omskep. Gaste kan in ontspanne glansrykheid op die plaas vertoef, terwyl ‘n produktiewe boerdery met koring, skap een ganse voortgaan.
Aandete, ontbyt en slaapplek kos R900 vir volwassenes en R500 vir kinders. En as jy op jou eie wil gaan kos dit steeds R900 – niks meer omdat jy ‘n alleenloper is nie.
Troues en funksies word in die Kubaans-geïnspireerde Club Havana (voorheen die skuur en stalle) aangebied.
En as daar hier feesgevier word, word ʼn rooi ster op die plaas se naambord geplaas sodat die bure weet wat aangaan.
Dié Overbergse plaas het skrywer Maia du Plessis en fotograaf Simon Scarboro só beïndruk dat hul die boek “Halfaampieskraal vier fees” die lig laat sien het. Dit bestaan uit resepte vir Cobus se heerlike disse en foto’s van Jan-Georg se binneshuisversiering.
* www.kraal.biz