Monday, July 23, 2012

Hotel met 'n uitsig

JENS FRIIS het oorgebly in 'n hotel met een van die allerbeste uitsigte langs die Tuinroete. As jy soek na 'n besonderse plek om jou geliefde (of jouself) te bederf, verloof te raak of vir wittebrood te gaan, is die Views Boutique Hotel in Wildernis hoog op my lysie. Hier op 'n enorme duin is dié eksklusiewe vyfster boetiekhotel nie te lank gelede staangemaak. Die pasklaar naam sê alles: dié luukse kleiner hotel (Boutique Hotel) het voorwaar 'n panoramiese uitsig (View). Só hoog troon dit bokant die strand uit dat dit waarlikwaar voel of jy bo-op die waters van die Indiese Oseaan dryf. In die ooste voer die kuslyn jou oog so ver as wat die oog kan sien in die rigting van Knysna, suid verdwyn die see in Antarktika se rigting, oos sien jy drie of vier huisies uitsteek van Victoriabaai en agter jou waak die Outentiekwa-berge. Ja, dis 'n area ryk aan skoonheid en dinge om te doen, maar dié is só 'n besonderse hotel dat jy waarskynlik nooit sy deure sal wil verlaat nie. Views Boutiquel Hotel verlei jou om van die gewone wêreld te vergeet sodat jy al te geneë is om weinig te wil doen in 'n omgewing waar alles byderhand is. Só is die ruim kamers - in blou, wit en beige - voorsien van ekstras soos 'n espresso-masjien, reuse platskerm-TV, multi-mediapseler en iPod-koppelings. Hortjies skei die badkamer van die slaapkamer, maar dié kan jy ooptrek en só 'n kollosale vertrek skep. Slegs 'n ekstra-grootte ovaalbad verdeel dan dié twee ruimtes. Daar is nie ingeboet op plek om soveel hotelkamers moontlik te kon indruk nie. Ruimte is byvoorbeeld gelaat vir 'n groot dubbelstort en twéé wasbakke. Winters verdryf verhitte handdoekrelings en ondervloerse verhitting die hoendervleis as jy uit die stort of bad klim. Verlaat jy jou spogkamer wag 'n verrassing in die glashysbak. Dié ry heen en weer verby 'n spiraal nagemaakte vissies wat in sirkels "swem". Jy sou sweerlik kon dink jy's in 'n duikboot! Die allerlekkerste lekker vir my was om op dié hotel se dakdek in die son te lê, my tone te tel, of ver verby my voete te kyk na die waters van die Indiese Oseaan dóér onder. Laat-middag sou ons dieselfde doen op ons kamerbalkon wat suid én wes front. Jy kan dus kyk hoe die son sterf agter die heuwels wat Victoriabaai omring voordat jy gaan aansit vir 'n liplekker maaltyd. Maar die hotel bied handevol meer waaronder die Views Spa waar jy onder meer in 'n soutbad kan dryf of kan gaan sweet in die volledig-toerguste gim. Daar is ook 'n twaalf-sitplek mediasaal en 'n kamer met Wii-speletjies. Weens die hoë ligging van die hotel reg langs die strand en see, trek die wind goed hier. Dis daarom gewild onder valskermswewers en vlieërbranderplankryers. Wildernis is in die hart van die Tuinroete en gevolglik is bergfietsroetes tot woudstaptogte net 'n klipgooi ver. Oorweeg dié hotel beslis as jy weer in dié geweste kom - jy sal verkwik weggaan. >>>Aparte blokkie, asb. SOU JY WOU GAAN * Views Boutique Hotel & Spa in Wildernis, is 20 minute vanaf die George-lughawe. * Buite-seisoen (1 Mei tot 30 September) kos 'n dubbelkamer met 'n see-uitsig vanaf R1600. Daar is gereeld spesiale aanbiedings waar jy 'n ekstra nag verniet kry as jy 'n paar nagte bly of komplimentêre spa-behandelings op die koop toe. * As jy by dié vyfster boetiekhotel wil bespreek, bel 044-877-8000 of skryf aan info@viewshotel.co.za of reservations@viewshotel.co.za * Vir meer inligting loer by www.viewshotel.co.za of www.mantiscollection.com.