Friday, August 3, 2012

Op die voetspore van 'n onbesonge skrywer

Die skrywer PH Nortjé is onlangs oorlede. JENS FRIIS het op sy voetspore gaan stap in die Baviaanskloof waar Nortjé eens gewoon het. “Ek is gebore in die tyd toe moeders nog nie verwagtend ¬geword het nie en ’n engeltjie die baba uit die hemel aarde toe ¬gebring het,” lui die aanvangsin van Korsies van growwebrood, PH Nortje se biografiese ¬vertelling. En 91 jaar ná dié “aankoms” op aarde het dié skrywer onlangs die aardse met die ewige verwissel. Sy laaste jare het hy deurgebring in ‘n aftree-oord op die Strand. En dis van hier waar hy en sy drie seuns ‘n herinneringstog na sy jeugland aangepak het in 2000. Dié nostalgiese terugreis na die familieplaas in die Baviaanskloof anderkant Willowmore het gelei tot Volstruise, met wie gaan jy trou? – ‘n móét as jy ‘n tog ná die onherbergsame vallei aanpak, soos ek onlangs. Van die Strand tot in die Kloof en eindelik tuis op Ouma Gerty se verlate plaaswerf het die 80-jarige Nortjé (saam met sy seuns) gereis “met ‘n laaste rustelose verlange soos ‘n ‘kriewel’ in sy hart”, om by Marina le Roux op oulitnet.co.za te leen. En in die skrywer se woorde self: “Of ek weer in my leeftyd hier sal kom, weet ek nie. Dit is onwaarskynlik. En daarom het ek nou wat my betref, finaal kom afskeid neem. Die herinneringe sal ten minste altyd by my bly; dit kan niemand van my wegneem nie.” Dis in die hoofslaapkamer van sy ouers se opstal op Klipfontein waar Nortjé op 20 Oktober 1920 gebore is. Hy was die jongste van vier kinders en die tweede kleinseun van Petrus Hendrik Smith – ‘n Britse Settelaar. Hy word Peter Henry gedoop omdat dit glo sagter op die oor is vir só ‘n klein dingetjie. Maar die voorletters PH bly. Sy geboortehuis staan steeds. As jy van Willowmore se kant deur die Winterhoek- en Kougaberge ry is dit regs van die pad by Studtis. Die veranda en pilare is daar. Ook die klipmuur wat dit omring. Maar die groot huis is jammerlik vervalle. ‘n Muur is nat van ‘n dak wat lek. Die inwoners het glo vuurgemaak met van die plafonplanke. “Dis ‘n tragedie,” sê ‘n boer. “As dit nóú gered word, kan dit nog ‘n lieflike gastehuis word. Dis goed geleë hier langs die pad.” Só het die familiebegraafplaas en die ou verwaarloosde woning Nortjé ontstel dat hy skryf: “Maar wanneer die woonhuis, die veilige hawe van geslagte in die familie, stuk-stuk verval totdat daar nog net ’n bouval oorbly, is dit amper roerender as die dood.” Maar eens was dit anders. “Geld was hier nooit. Maar aan geborgenheid en liefde en gasvryheid was daar nooit ’n gebrek nie”, verduidelik Nortje aan sy seuns. In sy kinderdae, byna ‘n eeu gelede, was dié ‘n geïsoleerde boeregemeenskap - ‘n plek waar gelééf is deur oorvloed én droogtes. Sulke lief en leed in ‘n plaasgemeenskap ontruk hy dan ook aan die vergetelheid en herskep dit in boeke soos Voetpad se kloof, Die Groen ghoen en Die Wildedruif val. Laasgenoemde vertel getrou van die tragiese gebeure van die nag van 5 Mei 1916. ‘n Vloed, soos nog nooit tevore, het die Klowers toe getref. Maar sedertdien het daar baie water in die see geloop. En Nortjé, onder meer kontreiskrywer, het genadiglik baie hiervan geboekstaaf. Kort ná Nortjé se dood onlangs was hordes mense in die Baviaanskloof vasgekeer deur vloedwater in ysige weer. En só het die geskiedenis van Die wildedruif val, homself byna herhaal. SOU JY GAAN * Hou die weer (www.weathersa.co.za) fyn dop as jy ‘n rit na die Baviaanskloof beplan. Reën en sneeu is swerknaters wat jou maklik hier kan vaskeer. * Daar is net één grondpad deur die Kloof. Van Willowmore tot by Nortjé se grootwordhuis by Studtis kan jy met ‘n motor aanpak. Maar as jy deur die hele kloof wil ry het jy ‘n bakkie of ‘n 4x4-nodig. Die pad se toestand hang baie af of dit onlangs gespoel het. * Daar is deesdae meer blyplek hier as wat daar toeriste is. Gasteplase gedy. Ek het oorgebly by die Sederkloof Lodge (www.sederkloof.co.za). Meer hieroor in ‘n volgende uitgawe van Naweek+.