Friday, October 3, 2008

Santiago tel flink kop op

Die Andes, die Stille Oseaan en sanksies weens dekades van militêre heerskappy het die Chileense hoofstad geïsoleer. Maar dinge het verander. Santiago tel flink kop op en is aan't ontpop. Hou dit dop, skryf JENS FRIIS. Dié stad is stilweg besig om sy plek op die wêreldverhoog in te neem.

STEL jou ‘n metropool voor waar jy tussen hemelhoë wolkekrabbers staan en as jy opkyk verrys die tweede hoogste bergreeks ter wêreld rég voor jou. Van dié Andespieke is hoër as 5 000 m. ‘n Dramatieser ligging vir ‘n stad kan jy skaars kry.
Santiago de Chile is die blyplek van 6 miljoen mense (sowat dubbeld Kaapstad se grootte). Dis ‘n lewendige, progressiewe stad met ‘n glinsterende gesig. Tog is dit ook huis vir sukkelende kunstenaars wat die Plaza de Armas volpak in die hoop op ‘n besoekende dollar en werkers wat ure pendel vanaf vervalle villas misérias aan die stad se buitewyke om hul brood te verdien in eksklusiewe woonbuurte.
Nietemin gaan dit in Santiago beter as ooit. Vir die grootste deel van die 20ste eeu het Chili wipplank gery tussen militêre heerskappy en militante sosialisme – beide aangevuur deur ryk koperneerslae in die Atacama-woestyn. Maar in 1990 is demokrasie uiteindelik herstel ná vrye verkiesings. Sedertdien beleef dié land ‘n blink groeikoers van 6 % per jaar – die hoogste in Latyns-Amerika.
Sekerlik dié simbool van Chili se wrede verlede is die Palacio de la Moneda wat in 1805 gebou is as een van koloniale Spanje se finale bouprojekte. Dié regeringsgebou in Santiago was die fokus van genl. Augusto Pinochet se 1973-staatsgreep. Vliegtuie wat hierop afpyl en dit bombardeer sou een van die ikoniese beelde word van die 20ste eeu. Kort ná dié aanval het pres. Salvador Allende in dié gebou gesterf op ‘n misterieuse manier. Nooit kon daar vasgestel word of hy vermoor is óf selfmoord gepleeg het nie. Vandag nog is hierdie paleis die Chileense regeringsetel en gaatjies in die elegante fasade herinner steeds aan die skote wat eens hier geklap het.
Maar ten spyte van ‘n geskiedenis van menseregteskendings, erge lugbesoedeling en sakkerollers in veral die Centro het Santiago ook vele pluspunte.
Die stad het ‘n hoë geletterdheidsyfer en het al meerdere Nobelprys-skrywers opgelewer waaronder Pablo Neruda en Gabriela Mistral. Ewe bekend is Isabel Allende, die niggie van die eertydse president. Om politieke redes speel slegs haar boeke hier af. Sy moes na Amerika vlug ná Salvador se dood.
Lees gerus Allende se House of the Spirits en Neruda se Passions of the Impressions voordat jy ‘n draai in Santiago maak.
Ook die volgende flieks speel deels hier af: Taxi Para Tres (‘n Taxi vir Drie, 2001), El Chacotero Sentimental (Die Sentimentele Uittarter, 19991) en Johnny 100 Pesos (1994).
Die El Mercurio Online se webblad (www.emol.com) is ‘n gesaghebbende bron om meer te wete te kom van konserte en klubs tot flieks en restaurante.
Dis wys om die res van Chili in die week te verken en oor ‘n naweek in die hoofstad te wees. Dis makliker om dan oor die weg te kom, want Santiago is naweke stiller. Boonop skiet naweekmarkte oraloor op en kom Santiago se alom bekende naglewe Vrydae en Saterdae veral op dreef.
Niemand gaan eet uit voor 21:00 nie, en daar gebeur niks in klubs voor middernag. Die inwoners is vriendelik, trek goed aan en is ietwat teruggetrokke, ten spyte van hul voorliefde om laat uit te bly.
Bellavista en die duurder Providencia is bekend vir sy restaurante, salsotecas en nagklubs wat oneindigende moontlikhede inhou, Barrio Santa Lucia vir sy straatkafees, en Barrios París Londres en Concha y Toro vir hul boomomsoomde strate en neo-klassieke argitektuur.
Skaf Chileense handwerk aan soos handgeweefde alpaca serpe, Mapuche silwerjuwele, die lapis lazuli-edelsteen en koperware by die kunstenaarsdorpie Centro Artesanal de Los Dominicos.
Dalk die bekendste mark is die Mercado Central met ‘n wye verskeidenheid goedere teen billike pryse. Dis beslis dié plek vir seekos.
Galindo, ‘n tradisionele, boheemse eetplek wat onder Pablo Neruda se gunsteling eetplekke getel het, is sterk aan te beveel vir middagete.
Die area rondom Santiago is ‘n mikrokosmos van Chili. Soggens kan jy op die strand lê by Viña del Mar, smiddag ski by Portillo en dan net voor sononder die Chileense wynplase verken.
Santiago en sy onmiddellike omgewing bied voorwaar (nes Suid-Afrika) ‘n wêreld in een land.
Boonop gaan dit deesdae voor die wind in dié stad wat vir dekades feitlik afgesny was van die res van die wêreld. Santiago se deure staan wawyd oop – wagtend om jou te ontvang. Gaan maak 'n draai voordat dié stad se vooruitgang beteken dat dit té duur gaan word vir Suid-Afrikaners.

NOG DINGE TE DOEN
DRAAL in Santiago se historiese kern, die Plaza de Armas, ‘n besige plein wat omring word deur koloniale en neo-klassieke geboue.
EET ‘n empanada de queso (‘n kaas-gevulde toebroodjie).
RY met die glashyser (ascensor) tot bo-op die Cerro Santa Lucia-heuwel vir ‘n eersteklas uitsig oor die stad en die Andes.
BELEEF ‘n Chileense rodeo by die Club de Huasos Gil Letelier.
STAP deur die Barrio Brasil, ‘n goed bewaarde tradisionele woonbuurt met sy Plaza Brasil en neo-Gotiese Basilica del Salvador.
BID dat 'n aardbewing nie vir Santiago gaan tref terwyl jy daar is nie. Die stad is deur skuddings platgevee in 1647 en 1730. In 1981 het 'n dief die bekende Virgen del Carmen-standbeeld gesteel, maar dit vinnig die volgende dag terugbesorg nadat 'n aardbewing die stad die vorige nag getref het.

WERD OM TE WEET
Santiago bied heeljaar baie vir die toeris. Hoewel donderbuie tussen Maart en Mei verwag kan word, is dié reën meestal van korte duur. Herfs is goedkoper, want dis buite-seisoen en boonop verkleur die wingerde op die Chileense wynplase.
Dié stad gaan jou omtrent 30 % meer uit die sak jaag per dag as die res van Chili.
Dis ‘n vermoeiende vlug vanaf Johannesburg / Kaapstad en dan gewoonlik via Buenos Aires na Santiago se Aeropuerto Arturo Merino Benitez. Dis dus wys om jou reisplan só te reël dat jy eers kans kry om ‘n bietjie te slaap voordat jy die Chileense hoofstad invaar.