Sunday, November 8, 2009

Bariloche



- Jens Friis
DIT gebeur nie aldag dat 'n ganse stad omring word deur 'n nasionale park nie.
Maar Bariloche is darem ook nie sommer net nóg 'n Suid-Amerikaanse stad nie.
Dis immers met rede dat dit naas die veel groter Buenos Aires die gewildste stad in Argentinië is. Ja, Bariloche is 'n móét as jy op dié deel van die aardbol kom - nie net vir sy sjokolade-, bier- en soetgoedwinkels nie, maar ook omdat dit die toegangspoort is na Patagonië.
Bariloche is so na aan paradys as kan kom met sy donkergroen, mosbegroeide woude, plate varings, afgronde, gletsers en mere waarin die Andes onderstebo weerkaats.
Dit sien jy nog vóór die landing by die lughawe van San Carlos de Bariloche, of eenvoudig Bariloche - 1 621 km suidwes van Buenos Aires.
En as jy op jou bagasie wag is dit interessant om te let wat toeriste alles hierheen saambring. Ski-toerusting tot kano's en allerhande ander bagasie wat ek nog nooit vantevore gesien het nie, vertel dat hier 'n magdom buitelug-aktiwiteite wag.
Dan is daar ook nog bootvaarte op spieëlgladde mere, eersteklas restaurante en ontelbare inkopie-geleenthede. Besoekers kan inderdaad dae hier deurbring ongeag die seisoen.
Nietemin is somers by verre die gewildste, want as die eerste wit val kan dit bibberkoud hier word. Maar selfs dan is die hotelle en herberge nooit leeg nie, want dan kom die ski-entoesiaste.
Een van hulle was 'n Rus uit Vladiwostok wat ons raakgeloop het laat-herfs. Sy Engels was maar power, maar langs 'n knetterende vuur in 'n restaurant kon ons met die nodige handgebare lekker lank gesels en agterkom dat hy wag dat die koue die nodige sneeu bring, want Bariloche se kontrei is sy gunsteling ski-plek.
Maar Bariloche se gewildheid het ook reeds 'n lelike merk gelaat. Weens hordes Argentyne wat vakansietyd uit Buenos Aires vlug, ‘n immergroeiende toerismeindustrie, en twee dekades van ongereguleerde ontwikkelings is Bariloche nie meer die idillies bergdorp van eens nie.
En die Rus het vertel dat hy soms nogal oorweldig voel deur die hoeveelheid lelike woonstelbokke, disko's en derduisende mense in die middedorp - veral van mid-Desember tot die einde-Februarie.
Tog is brokke van die aanloklike, eertydse argitektuur steeds sigbaar wat Duitse, Switserse en Engelse immigrante agtergelaat het. En gelukkig lê Bariloche in die middel van die Nahuel Huapi Nasionale Park en word omring deur 'n reuse meer met dieselfde naam.
Dus is mens altyd naby aan die mooi. Ry dus net uit die dorp en jy is weer omring deur digte woude, silwerskoon mere, en ysbedekte bergpieke.
As jy smag na ‘n stil vakansie is dit dus wys om eerder buite die stad te bespreek soos langs die pad na die Llao Llao-skiereiland.
Vanaf die punt van dié skiereiland vertrek bote na Puerto Blest vir ‘n voldagtoer. Hierdie vaarte gaan deur tipiese fjords en digte plantegroei bekend as die Valdiviese Woude.
Van Puerto Blest is daar ‘n busrit na Laguna Frías, gevolg deur ‘n bootrit na Puerta Frías en dan terug na Puerto Blest. Die terugtog na Puerto Pañuelo sluit ‘n stop in by die Los Cántaros-waterval. Daar is ‘n restaurant by Puerto Blest, maar jy kan ook ‘n piekniekmandjie saambring.
En nes Bariloche is Nahuel Huapi 'n lieflings-aandoenplek: dis Argentinië se oudste en gewildste nasionale park.
Die hoofaantrekkingskrag is die 3 500 m hoë onaktiewe vulkaan, Tronador oftewel Donder. Dit heet só weens die rumoer wat die ys maak wat tuimel vanaf sy piek.
Maar die park is ook bekend vir die Nahuel Huapi-meer wat deur gletsers gevorm word, sy skiereilande bedek met woude en waterweë wat vergelyk word met dié in Suid-Patagonië en die fjords van Noorweë. Winters word die park se ander oorheersende piek, Cerro Catedral, ‘n gewilde ski-oord.
Nou-ja, hoef ek meer te vertel? Wat se aanmoediging wil jy nóg hê om in Bariloche se paradyswêreld 'n draai te kom maak?