Wednesday, February 1, 2012

Pragtige stemme laat aarde hier beef

- JENS FRIIS


LLANGOLLEN. - Iedereen wat al by 'n rugbytoets teen Wallis was, sal weet hierdie manne kán sing. Al wen hulle nie die wedstryd nie, bly hul dreunsang oor mere en lowergroen berge jou by.


Dis dus g'n wonder nie dat die Walliesers ook die grootste internasionale volksangfees reël. Vir een week elke somer word die dorpie, Llangollen, verswelg deur folk-sangers van oor die wêreld heen.


In 1946, skaars 'n jaar na die Tweede Wêreldoorlog, is planne gemaak vir 'n internasionale eisteddfod geskoei op die alombekende Walliese eisteddfod. Die vader van die fees, Harold Tudor, 'n joernalis van die Liverpool Daily Post , het op Llangollen besluit omdat dié dorpie in 'n pragvallei geleë is. Llangollen het vantevore die nasionale eisteddfod suksesvol aangebied en Tudor het gemeen dié dorpie van sowat 3 000 inwoners kon op omringende dorpies se steun reken.


Vir 11 tot 15 Junie 1947 is die eerste eisteddfod gereël. Weens 'n Franse spoorwegstaking moes heelwat deelnemers ander planne beraam om by die fees te kom. Party het duimgegooi, selwers vervoer gereël of hul pad deur Frankryk oopgesing om te kon betaal.


Met die aankoms van die eerste groep uit Portugal het die organiseerders 'n sug van verligting geslaak: Internasionaal sou die eerste fees wees.


Sedert die 1947-eisteddfod het meer as 3 miljoen mense hierheen gestroom en 400 000 deelnemers opgetree. Die afgelope 20 jaar was die deelnemers uit 114 lande. Van die aarde se uithoeke kom hul waaronder Kazakstan, Lapland en Frans-Guyana.


Met die fees volg jy jou ore agter eggo's van kitare en trompette aan, verby framboosstalletjies en markiestente.


Langs Castle Street stap twee Skotte in hul rokkies verby 'n Boergondiese meisie met 'n mandolien. 'n Wiking staan buite 'n kroeg. Marokkane met 'n Manchester-aksent groet 'n knaap met 'n harp. Hul is daar: Brasilië, Alaska, Suid-Afrika - al die kleure van die internasionale reënboog. Die dorp sing en dans.


Sowat 80 000 feesgangers kom deesdae per jaar na die eisteddfod.


Twee van die drie bekende tenore het hier opgetree. Daar was ongekende belangstelling vir Luciano Pavarotti se konsert in 1995, maar hy was ook lid van 'n koor wat in 1955 kom sing het. Placido Domingo het sy debuut in die Verenigde Koninkryk gemaak op die 1968-eisteddfod.


Ander bekendes is Kiri Te Kanawa, Montserrat Caballe en Shirley Bassey, terwyl koningin Elizabeth, Charles, Diana, Anne en Margaret kom luister het.


Voordat die gordyne toegetrek word, word Wallis se twee volksliedere gesing, God Save the Queen en dán Hen Wlad fy Nhadau . Weet verseker; met die sing daarvan sál die aarde beef.



SOU JY GAAN


* Llangollen is in Noordoos-Wallis, 13 km van die grens met Engeland. Die naaste lughawe is dié by Manchester of Liverpool. Daar is gereelde busse na Wrexham, maar openbare vervoer is skaars in Snowdonia.


* Die wolke uit die weste loop hul vas teen die Walliese berge. Daarom is dit selfs natter en meer bewolk as in die suide van Engeland.


* As die son skyn, is Llangollen ideaal vir buitelugaktiwiteite waaronder 'n staptog na die Horseshoe-pas en na Valle Crucis Abbey, 'n Middeleeuse klooster waarvan nog net die mure staan.


* 'n Snaaksigheid is om op kanaalskuite te gaan ry wat deur 'n perd getrek word. Die perde loop op 'n paadjie langs die kanale. Dié bootjies het op hul dag 'n belangrike rol gespeel in dié gebied se vervoerstelsel.


* Kanovaart is gewild op die Dee-rivier.


* Plas Newydd is 'n statige herehuis wat bekend is vir sy swart-wit houtafwerking en omdat die eksentrieke "Ladies of Llangollen" daarin gewoon het (1780 - 1831).


* Van gastehuise gedy dit, want almal wil baat vind as feesgangers een keer per jaar hierheen stroom.


* Ander reusagtige Walliese feeste wat jy dalk wil bywoon is die Royal National Eisteddfod en die Swansea Festival of Music and Arts.