Monday, July 16, 2012
Noord-Kaapse plaas het ryk geskiedenis
- Jens Friis
Naby die Magersfontein-slagveld lê 'n plaas met 'n besondere ryk geskiedenis.
Hoewel dié plaas naby die grens van die Noord-Kaap en Vrystaat is, herinner die Kaaps-Hollandse opstal sterk aan die Boland - waar sy eertydse eienaars dan ook vandaan kom.
Nes die woonhuis is die perdestalle sorgsaam gerestoureer en met antieke meubels versier.
Dié stalle is gebruik vir die teel van Clydesdale-perde wat aan delwers verkoop is om swaar vragte diamantgrond uit die oop myn in Kimberley te verwyder.
Luidens 'n inligtingstuk is "Langberg op 7 November 1890 deur die Goewerneur van Haar Majesteit Koningin Victoria, Koningin van Groot Brittanje en Ierland, ingevolge 'n huurpagstelsel teen 9 pond en 5 sjeilings per jaar aan Pieter Johannes Marais verhuur en uiteindelik teen 'n onbekende bedrag verkoop."
Destyds was dit dalk baie, maar om 'n plaas van 7 929 hektaar (9 255 morg) vir R120 per jaar te huur, sou deesdae kleingeld wees.
Pieter, of "Lang Piet" Marais was die oudste van die Marais-broers.
Jannie die jongste was destyds die eienaar van die plaas Coetzenburg waarop die Universiteit van Stellenbosch vandag staan. (Dink net hoeveel is dié lap aarde deesdae werd!)
Piet, Jannie en hul ander twee broers, Abraham en Christiaan het in 1870 van Stellenbosch vertrek om hul geluk te beproef op die Vaalrivier-delwerye.
Maar nuus oor groot, blink klippies by Kimberley het hulle laat besluit om eerder hierheen te skuif.
Die Marais-broers se pad in Kimberley was besaai met diamante. Danksy dié ongekende voorspoed koop die Marais-broers heelwat plase op waaronder Langberg. Hier sou Piet Marais met sy Clydesdale-perde boer en ook 'n allemintige 5 000 volstruise.
In 1902, die jaar wat die Anglo-Boereoorlog tot 'n einde kom, koop Charles Niehaus van Tulbagh dié plaas. Sy skaapkudde van 6 000 loop egter só erg deur onder jakkalse dat hy van die plaas moet afstand doen.
En só beland die plaas in 1943 in die hande van Tienie Mynhardt wat dit koop vir 25 000 pond (sowat R328 000).
Sy dogter Hannah en haar man Polla Neethling boer vanaf 1948 op Langberg. En in 1982 sit Tienie Neethling en sy vrou Maritha die boerdery op Langberg voort en boer met Bonsmara-beeste, wild en olywe.
Tien jaar later begin Tienie en sy personeel met restourasiewerk aan die ou perdestalle en plaasskool en voltooi dié projek in 1995 waarna die gasteplaas in gebruik geneem word.
Die plaasskooltjie het tussen 1890 en 1915 as skool gedien. Hierna was dit 'n melkkamer en toe 'n kroeg. Dié Tiermelkkamer roep dorstiges om halfsewe saans wanneer die ou skoolklok oor die ysterklipkoppies van die Noord-Kaap beier.