Thursday, August 9, 2012

Lemoenfontein: Van sanatorium tot herberg

JENS FRIIS het oornag by 'n gasteplaas digby Beaufort-Wes.

"De Grote Karoo, uitgestrekte en zonder genade is een uniek Zuid-Afrikaans landschap," lees ek in Zuid-Afrika (Capitool Reisgidsen).

'n Nederlandse gas het waarskynlik dié boek vergeet in die kamer waar ons slaap op 'n gasteplaas, 'n klipgooi van Beaufort-Wes.

Lemoenfontein, anders as die Karoo, sou ek nie as "uniek" beskryf nie, maar dat dit wel 'n "Suid-Afrikaanse ervaring bied", sou ek mee akkoord gaan.

In my Vraag-en-Antwoord-kolom in Naweek+ is 'n algemene vraag wat ontvang word: "Waar kan ons oorslaap langs die N1?"

So toe dit so kom dat ons hierlangs ry, dog ek dat ek Lemoenfontein (ja, dis 'n pragtige naam!) beproef, want dié 4-ster-instelling word meestal hoog aangeskryf.

As jy met die N1 van Drie Susters ry, lê Beaufort-Wes se dorpsdam wat lank leeg was links en reg oorkant draai die De Jagerspas uit na Lemoenfontein.

Van die uitdraai is die opstal teen die Nuweveldberge reeds sigbaar. Ja, anders as wat mens verwag is dié plaashuis nie op nóg 'n vlakte nie, maar het jy van daar 'n panoramiese blik op eindelose myle veld wat slegs onderbreek word deur die "hoofstad van die Groot Karoo".

'n Victoriaanse Engelsman het in die 1850's besluit om híér huis te bou, want 'n fontein ontspring in 'n klofie agter die opstal. Só standhoudend is die oog dat daar volop water was toe Beaufort-Wes enkele maande gelede een van die ergste droogtes nog beleef het.

Weinig is bekend van die oorspronklike eienaar, want die museum in Beaufort-Wes het eens afgebrand, maar dis wel bekend dat hy een keer per jaar van sy vriende uit Engeland en Skotland genooi het om hier te kom jag en die beste te geniet van dié geweste.

In latere jare sou die tamaaie plaashuis dien as 'n sanatorium vir tuberkulose-lyers, want droë lug is bevorderlik om dié siekte te beveg. Daarna was dit 'n skaapplaas en nou is dit 'n herberg vir besoekers - byna soos in die begindae.

Die oorspronklike gebou met sy dik mure, hoë plafonne en hout vloere het goed behoue gebly, maar moderne byvoegings sluit in plafonwaaiers, eie ingange vir elke kamer en en suite-badkamers.

Die binnehowe word omsoom deur koel stoepe voor die kamers. Bougainvilleas tuimel oor die witgekalkte mure, terwyl spuitfonteintjies bydra tot die rus en vrede op Lemoenfontein.

Somers kan jy die hitte afspoel in 'n swembad op die plaaswerf of jy kan gaan loer hoe lyk die kameelperde, sebras en elande. By die Karoo- Nasionale Park, net aan die anderkant van die dorp, kan jy ook gaan diere kyk.

Beaufort-Wes is naby genoeg dat jy daar kan eet, maar beide die driegang-aandete en die ontbyt op Lemoenfontein is sterk aan te beveel. In die somer word dit op die groot veranda voorgesit en van hier kan jy saans kyk hoe glip 'n onophoudelike stroom motors deur Beaufort-Wes.

SOU JY WOU GAAN
* Lemoenfontein se groot afdraaibord kan jy nie mis nie. Dit is langs die bekende dorpsdam by Beaufort-Wes. Van hier tot op die plaas is dit seker so 4 km waarvan die grootste deel met 'n grondpaadjie.
* Bel Lemoenfontein by 023-415-2847, skryf aan lemoen@mweb.co.za of kyk by www.lemoenfontein.co.za
* Die rekening vir ons 2 het só gelyk:
R 790: Kamer (R395 x 2, maar in hoe seisoen kan dit tot R575 p.p. kos)
R 150: Ontbyt
R 300: Aandete
R 269: Drinkgoed
R 54: Toebroodjies met aankoms
R 192: Belasting
R1563: TOTAAL