Sunday, August 14, 2011

Geelgids gewild onder tuiniers, toeriste

- Jens Friis

VAN posseëlgrootte kruietuine tot poskaartmooie parke rondom kastele tel onder die bykans 4 000 private en openbare tuine wat vermeld word in Gardens of England and Wales and Gardens of Scotland. Dié gidse staan algemeen bekend as die ``Yellow Books'' en is uiters gewild onder plantliefhebbers.


Hoewel dit baie wat-en-waar-inligting bied, is dit ook 'n mini-kursus in Britse maatskaplike en literêre ge- skiedenis soos in Chartwell, Kent (``red brick wall built by Sir Winston Churchill''), en Rudyard Kipling wat 'n visdam laat maak het in Sussex.


'n Mens moet bespreek om koningin Elizabeth se Frogmore-tuin by die Windsor-kasteel te besoek. Besprekings word ook aanbeveel vir Sandringham-paleis in Norfolk. Iedereen kan egter besoek aflê by die groentetuin ( een akker) van die McCosh-familie in Clydesdale. So ook by 'n tuin waar bye reeds die afgelope 200 jaar om 'n korf zoem of 'n ``secret garden'' wat sou kon herinner aan Winnie the Pooh se ``Hundred Acre Wood''.


Chelsea Physic Gardens (1673) in Londen is die oudste botaniese tuin in die Verenigde Koninkryk naas dié van Oxford wat terugdateer na die jare 1500. Digby is die Royal-hospitaal waar die jaarlikse Chelsea-blommeskou (23 tot 26 Mei 2000) plaasvind.


Brittanje se bekende ``public schools'' is skynbaar vrugbare grond vir vermeldenswaardige tuine. Gordonstoun, alma mater van prinse Philip, Charles en Andrew, word in die gids vermeld. So ook Eton, 'n klipgooi van die Windsor-kasteel, waarvan die tuine in 1880 aangelê is deur die koshuishoof.


Die warm water van die Golfstroom het 'n reeks mikroklimate geskep langs die weskus noord tot by Skotland. Subtropiese plante floreer in die sewe hektaar van die Abbey Gardens, Tresco en Scilly-eilande.


Die Yellow Books word in boek- en tuinbouwinkels in die Verenigde Koninkryk verkoop of kan bestel word van amazon.co.uk of die Garden Schemes, 31 Castle Street, Edinburgh EH12EL.


Sunday, July 3, 2011

Gaan kuier in Bethulie

Was Bethulie nader aan Gauteng of Kaapstad, dan was dit lankal ‘n Dullstroom, Clarens of Darling. Dié dorp het die regte kombinasie van natuur en kultuur om ‘n bo-baas toeristedorp te wees, skryf JENS FRIIS.
MEESTE NAME? Bethulie kan moontlik daarmee spog dat dit die meeste name van enige dorp in Suid-Afrika gehad het. Die dorp is in 1829 as sendingstasie deur die Londense Sendinggenootskap begin. Dit is Moordenaarsgat/-poort genoem omdat baie San en Griekwas hier deur die Basotos vermoor is. Nadat die sendingstasie in 1835 deur die Paryse Evangeliese Sendinggenootskap oorgeneem is, is dit Caledon genoem na die rivier met die soortgelyke naam wat digby verbyvloei. Om verwarring met Caledon in die Kaap te voorkom is dit later na Verheullpolis verander, maar die inwoners kon nie vat kry aan dié koddige naam nie. Dit is toe Heidelberg genoem, maar daar was ook ‘n Heidelberg in Transvaal! En daarom is dit in 1872 herdoop tot Bethulie. In Hebreeus beteken Bethulia “gekies deur God.”
PASTORIE: Die Franse sendeling Jean Pierre Pellissier het ‘n huis hier in 1833 begin bou. Die werk het langsaam gevorder, want die boumateriaal moes van ver aangekwarwei word. Onthou, dit was nog in die dae van die Groot Trek. Uit moedeloosheid het Pellissier later van wilgerhout gebruik gemaak wat hy aan die oewers van die nabye Oranjerivier gevind het. Nietemin kon dié stewige gebou met gewelmure van 90 cm in 1835 betrek word. Dit is ‘n goeie voorbeeld van die vroegste dorpsargitektuur noord van die Oranje en moes vir jare een van die indrukwekkendste geboue in dié deel van die wêreld gewees het toe die Boere nog in hartbeeshuisies gewoon het. Van Pellissier se personalia het behoue gebly waaronder stukke porselein, glassware, ‘n preekstoeltjie en sy gesang- en gebedeboek. Dié huis langs Voortrekkerstraat huisves nou die dorpsmuseum. Eerwaarde Pellissier, sy vrou Martha en vyf van sy kinders wat kleintyd dood is aan witseerkeel, rus in vrede in die tuin.
BEKENDES: As jy voor die Pellissierhuis staan, het wyle Patrick Mynhardt, in die huis regs daarvan grootgeword. Die Boy van Bethulie het bekenheid verwerf deur sy rolle in Vyfster en Suburban Bliss, maar veral as oom Schalk Lourens deur Herman Charles Bosman. Ook die bekende kunstenaar Walter Meyer en Benjamin Smartenryk Fourie, een van Suid-Afrika se voorste pianiste, se paaie het met Bethulie gekruis. Sanger Theuns Jordaan het hier skoolgegaan en so ook rugbyspeler A.J. Venter. Coenie de Villiers het ‘n sagteplek vir Bethulie en hy het ook ‘n liedjie geskryf, “Bethulie”, wat verwys na die honderde mense wat hier gesterf het tydens die Anglo-Boereoorlog.
PLEK VAN VERSKRIKKING: Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) is sowat 4 800 in die plaaslike konsentrasiekamp aangehou. Nie minder nie as 1 737 het gesterf. Pres. C.R. Swart het in 1966 ‘n gedenkbegraafplaas ter ere van hulle ingewy. Dis net noord van die dorp op pad na Smithfield. Die grafte is destyds verskuif, want daar is gevrees dat die Gariepdam dit sou oorstroom.
ELLELANGE BRUG: Ook weens die bou van die Gariepdam moes ‘n nuwe brug in 1967 opgerig word om die Vrystaat met die Oos-Kaap te verbind. Die Hennie Steyn-brug wat na Venterstad lei is 1,2 km lank en strek oor die die inloop van die Gariepdam. Dis die langste pad- en spoor-kombinasiebrug in Suid-Afrika. Coreli Roos, Volksblad-korrespondent op Bethulie, sê die inwoners hou daarvan om soms ‘n skemerkelkie te gaan drink op dié brug en te kyk hoe die son sak oor die dorp.
BED MET ‘N UITSIG: En as jy terug wil kyk na die Hennie Steyn-brug is die Oppi Koppie B&B van Hestél Griesel (tel. 082-219-9318, www.oppiekoppie.com) dié plek om te oornag. Van hier het jy ‘n pragtige uitsig oor die dorp, dam en brug. Daar is ook heelparty ander gastehuise en –plase in die omgewing.
TE ETE EN DRINKE: Die Ou Vellies Koffiekroeg (073-188-5321) langs die OVK en petrolpompe in Joubertstraat “is informeel en bied waarde vir geld. Waar hoor ‘n mens nog van ‘n koppie goeie moerkoffie, tee of ‘n kolwyntjei vir slegs R5?,” vra Coreli.
N.G. KERKGEBOU: Dié T-vormigegebou met sy neogotiese kenmerke is een van die oudste in die Vrystaat. Die hoeksteen is in 1886 gelê en die eerste erediens het omtrent 18 maande later hier plaasgevind.
LOUW WEPENER: Kom. Wepener het in 1865 die hoofkommandant van die Vrystaat se suidelike kommando's geword. Hy is kort hierna oorlede met ‘n aanslag op die Basotos se vesting by Thaba Bosigo. Daar word vertel koning Moshoeshoe het sy hart laat uitsny sodat sy die Basotho-kapteins dit kon eet om van Wepener se dapperheid in te kry. Naby die nuwe pad na Springfontein (36 km) staan ‘n gedenksteen vir Wepener.
RESERVATE: Bethulie is geseën met wildreservate omtrent aan alle kante waaronder die Gariepnatuurreservaat aan die Vrystaatse kant en die Oviston-reservaat aan die Oos-Kaap se kant. Dan is daar ook die Tussen-die-Riviere-natuurreservaat tussen die Gariep- en Caledon-rivier. Elande en sebras tot blesbokke en duikertjies is onder meer te sien. Hou ook jou oë oop vir visarende, korhane en pragtige wilde-olyfbome. Troeteldiere word nie toegelaat nie.

Thursday, March 31, 2011

Omsirkel SA se 2de grootste dam

- Jens Friis VLIEG jy van die Kaap Johannesburg toe lê die Vanderkloof, Suid-Afrika se tweede grootste dam, wes van jou. En as jy van die Kaap Bloemfontein toe vlieg, vlieg jy gewoonlik só oor dié dam dat jy nie eens sy wal kan sien nie. Dié eertydse P.K. le Roux-dam is 'n baken, want as jy oor Touwsrivier vlieg sien jy gewoonlik vir die volgende 600 km geen plek weer vaan die beskawing vatplek gekry het nie. Die eerste wat jy dan weer te eien kry is die Vanderkloofdam. Hoewel hy in die Gariep is, is sy water gewoonlik allermins oranje. Uit die lig is dit eerder 'n bleekgroen, maar met die onlangse vloede het dit verkleur tot 'n sjokoladebruin. Dit was juis tóé wat ek besluit het die tyd is ryper as ooit vir iets wat ek al lankal wou doen: om óm Suid-Afrika se tweede grootste dam te ry. Dis 'n harde wêreld dié waar die son gewoonlik barste in die grond brand, maar vanjaar is dit genadiglik anders. Al 310 km staan die gras kniehoogte en verberg die Karoo-bossies. Opdrifsels hang aan heinings se boonste drade. Die skape is moddervet. In só 'n jaar klink dit onwerklik dat die pypleiding van die Oranjerivier na Colesberg (waar ons reis begin) vergroot moet word. NÁ jare se waterprobleme gaan Colesberg hopelik later vanjaar genoeg water hê. Dié Noord-Kaapse dorp kry reeds etlike jare lank water van die Oranjerivier sowat 30 km noord van Colesberg. Maar die pyp daarheen het deur die jare te klein geword, omdat Colesberg onder meer gegroei en spoeltoilette gekry het. Daarom word ’n nuwe pypleiding nou aangelê. Daar is onlangs met die lê van die pype begin en dit moet binne 40 weke voltooi wees – voor die einde van die jaar wanneer baie toeriste weer hier sal oorslaap op pad see toe. Die R717 van Colesberg na Philippolis (55 km) is 'n stil teerpad wat die eertydse N1 tussen Kaapstad en Johannesburg was tot 1972. Dis 'n lekker alternatiewe roete tot die besige N1. Dit lei deur pragtige rantjieswêreld en bied een van die beste uitkykpunte op die die Oranjerivier vanaf die Serfonteinbrug wat die Noord-Kaap met die Vrystaat verbind. Daar is parkeerplek aan beide kante van die brug en omdat hier min verkeer is, kan jy tot in die middel van die brug loop vir 'n breë blik op Suid-Afrika se langste rivier. Buiten vir 'n boorgat of twee kry Philippolis, nes Colesberg, sy drinkwater vanuit die Oranjerivier. En die pypleiding loop van die rivier tot by die dorp feitlik reg langs die teerpad. Dis net by Waterkloof, 'n klein nedersetting kort voor Philippolis, wat die pypleiding kortpad kies. Maar die teerpad loop deur Waterkloof, want die Waterkloofse stemgeregtigdes het glo eens gedreig dat as die pad nie deur hul dorpie loop nie, hulle nie vir 'n sekere kandidaat gaan stem nie. Die Vanderkloofdam stoot op tot sowat 10 km vanaf die Serfonteinbrug wat beteken dat die Vanderkloof feitlik die hele suidelike grens van die Philippolis-distrik vorm wes van dié brug. Dis 'n lang ent, want die Vanderkloof stoot sowat 90 km op. Dié wêreld is grootliks ongerep omdat dit haas onbegaanbaar is langs die rivier. Hier is berge en dale, ravyne en opeengestapelde dolomietrotse soos wat jy nie verwag in die Vrystaat nie. Beleggers het dit raakgesien en stil-stil die een na die ander plaas opgekoop. So het dit gebeur dat die grootste deel van die suidelike distriksgrens nou jagplase is wat buitelanders van oraloor lok. Hieronder tel ook die enorme Laohu-reservaat van 33 000 ha waar geteel word met die hoogs bedreigde Suid-Chinese tier. Slegs 'n klein deeltjie van die reservaat word vir die tierprojek gebruik. Honderde  diere  is  al  hier hervestig en hulle beoog nou ook om vrylopende jagluiperds, ’n simbool van die Vrystaat, hierheen te bring. Helaas is Laohu nie oop vir die publiek nie, maar wel John Varty se wildplaas waar onder meer tiere te sien is. Die uitdraaiplek na Varty se plaas is 1 km uit Philippolis op die Luckhoff-teerpad. Die rigtingwysers dui hier aan dat Luckhoff 84 km ver is. Dis 'n geslane ent, want dis heelpad grondpad. Dis dus wys om koeldrank en petrol in Philippolis aan te skaf. Dié 85 km is die langste afstand tussen twee dorpe op die roete van 310 km.

Monday, January 31, 2011

Hondehemel

KOM ONTDEK DIE PLATTELAND: 'n Hemel vir honde. Wat is lekkerder vir hond se kind as om saam met sy baas oor 'n naweek die pad uit die stad te vat na die platteland? Hier hang Victor, 'n beagle, al glimlaggend uit die motor van mnre. Jens Friis en Niel de Leeuw. Die foto is geneem by die nedersetting Austin's Post in die suidwes-Vrystaat. Foto: Jens Friis

Thursday, January 27, 2011

Naas beste strandstad ter wêreld

Kaapstad is aangewys as die naas beste strandstad ter wêreld. Só het Lonely Planet se lesers gestem tydens dei 2011 Traveller's Choice Awards. In die eerste plek was Barcelona. Kaapstad het beter gedoen as die gewilde Rio de Janeiro en Sydney. Foto: Jens Friis

Monday, August 16, 2010

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073

Verken Mykonos per kwadmotorfiets

- Jens Friis
OM Mykonos te "verken" met 'n kwadmotorfiets mag dalk die indruk wek dat dié gewilde Griekse eiland gróót is. Maar dis geensins die geval nie. Met 'n motor sou jy dit van een kant na die ander maklik in 'n twintig minute kon kafdraf.
Nietemin is daar op dié eiland van beperkte omvang heelwat te sien as jy uit die hoofdorp, oftewel die Chora, ry. Die res van die eiland is steeds grootliks ongeskonde en buiten vir die strande, verken min toeriste die res van Mykonos.
Ná 'n onlangse besoek kan ek bevestig: daar is g'n beter manier om dié dele van Mykonos te sien as per kwadmotorfiets nie.
Met dié vierwiel-motorfietse (kwad verwys na "vier" soos in kwadrupleeg) het jy jou eie vervoer en kan jy kom en gaan soos jy wil.
Dis nie duur nie - vir vier dae het een ons R1000 gekos. Met R250 per dag sou jy dalk wel 'n klein karretjie kon huur in Suid-Afrika, maar in dié geweste is dit byna soveel as wat jy sou betaal vir 'n taxi of om 'n keer op 'n boot te ry van die hawe na 'n strand.
Boonop hoef jy dan ook nie by openbare vervoerskedules te hou nie.
Ons het heelwat gekarjakker op onse kwad en die brandstof vir die vier dae was 'n raps minder as R100.
Op Mykonos wemel dit van plekke wat kwads, motors en motorfietse verhuur. Die kompetisie is gevolglik straf en die pryse verskil weinig.
Om 'n kwad te huur het jy 'n geldige Suid-Afrikaanse bestuurderslisensie en 'n kredietkaart nodig.
Selfs al het jy nog nie vantevore 'n kwad gery nie, is dit verspot maklik en sal jy dit beslis gou onder die knie kry. Dit het nie ratte nie en met vier wiele is omslaan feitlik onmoontlik. Daar is net 'n beperking dat kinders onder ses jaar dit nie mag bestuur nie!
Twee mense kan gemaklik op dié kwads sit en as jy nou nie te lywig is nie sal daar selfs nog plek wees vir 'n groterige sak vir inkopies of strandhanddoeke.
Die paadjies is feitlik almal geteer en 'n stofpadryery is dus selde nodig.
Almal ry sonder valhelms. Só hoef jy dan nie 'n sware valhelm saam te piekel na Mykonos se gewilde strande of klubs nie.
Omdat die eiland klein is, is dit nie 'n probleem dat 'n kwad nie vinnig kan ry nie. Jy gaan wel daar kom, hoewel dit 'n raps langer gaan duur. (Op 'n gelykte het ons wel een keer 52 km/h gehaal.) Selfs die motors ry stadig, want die paadjies is nou en daar is baie draaie. Ons was dol daaroor om deur dié droë eiland te "jaag" en die wind in ons hare te voel!
En moenie te veel vrees dat jy dalk iewers verkeerd gaan ry of 'n verkeersoortreding gaan begaan nie. Daar is soveel kwads en toeriste dat die motoriste en verkeerskonstabels foute maar gelate aanvaar.
Wat wel 'n lastigheid is, is dat geen voertuie toegelaat word nie in die grootste deel van die Chora (hoofdorp). Gevolglik moet jy in parkeerterreine 'n end uit die middedorp stilhou. Maar minstens is dit makliker om parkeerplek hier te vind as met 'n kar wat veel groter is.
'n Heerlikheid was om te stop wanneer jy wou of dit nou vir 'n esel, 'n ruïne of 'n afgeleë strandjie was.
'n Kwad het ook 'n maklike manier gebied om by die gewilde strande te kom soos Eliah, Superparadise en Paranga.
'n Voordeel van Eliah is dat dit stiller is as Superaparadise - een van die gewildste partytjieplekke op aarde en glo selfs beter as Ibiza.
Eliah se strandrestaurant bied watertand maaltye. My gunsteling dis was hul opgestopte sampioene met knoffel, olyfolie en talle speserye wat bedien word met halloumi-kaas en oorryp tamaties.
'n Snaaksigheid van Mykonos is dat hier weinig dorpies is - daar is byvoorbeeld net vier petrolstasies. Buiten vir die Chora lyk die res van die eiland eerder soos plotte met elke hier en daar 'n huis en kerkie.
Een van die enigste dorpies is Ano Mera, in die middel van die eiland (5 km van die Chora). Ano Mera het een van die mooiste kerkies wat ek in my dag des lewens nog ooit gesien het. 'n Móét as jy ooit in dié kontrei kom.
En as jy huis toe gaan is die wette lekker dat jy die vryheid gehad het om self vorm te gee aan jou vakansie danksy 'n eie vervoermiddel.
Boonop het jy waarskynlik iets nuuts leer doen: om 'n kwad te ry. En watter beter plek as op die idilliese Mykonos?