Thursday, February 16, 2012

Deursny Lesotho se hartland

DEURSNY LESOTHO SE HARTLAND

JENS FRIIS het mid-Lesotho deurkruis.

VAN Maseru ry ons heerlik op teer tot in die hart van Lesotho met ‘n vriend se 4x4. Asof in die Alpe lei ingenieurswonders oor berge van 3 000 m. Die Hooglandwaterskema lê Lesotho bloot.
Maar as jy enigsins verder wil gaan, toets dit jou deursettingsvermoë, sou ons later leer.
Die weervoorspelling is in die kol: mooi weer en lae-20’s. Dis September – ‘n ideale tyd om hier te wees, want tussen Oktober en April val 85% van Lesotho se reën en talle mense sterf weens weerlig in die berge. Onophoudelike sneeu is in die orige maande algemeen.
Sommer langs die pad word tente opgeslaan. Ons eet. Drink. Gesels. Kyk na die sterre. Luister na die stilte. Daar kom niks van my vrees dat ‘n dronkaard ‘n mes deur ons tentseil gaan steek nie. Die mense groet en wuif orals. Wat het tog nie alles in Suid-Afrika verkeerd geloop nie! Ook anders as te wagte dra niemand meer die kenmerkende, spitsvormige grashoede nie. Dit is vervang deur helms - die invloed onmiskenbaar van pa’s op Vrystaatse en Gautengse myne. Dieselfde met gumboots wat seuntjies so graag dra as hulle vee oppas. Hul moeders bewerk elke duim vrugbare grond. As daar ‘n gelykte is word dit gebruik. Net jammer dat daarop male sonder tal ‘n powere lappie vaal-geel mielies groei. Word verbeterde mieliepitte en kunsmis ooit gebruik? As ons koning van Lesotho was en met min geld veel wou doen, sou dit wees om verbeterde landboumetodes hier te vestig. Só besluit ons ry-ry.As kinders die Land Rover gewaar nael hul bakhand na die pad. “Sweets!” roep hulle onophoudelik. Keer op keer hol hul só. Hoeveel keer stop verbygangers dan om lekkers uit te deel?
‘n Knap vorm van entrepreneurskap beloon ons wel. ‘n Seuntjie van seker sewe vul vore in die grondpad op met klippies. Hy word n handvol pepermente ryker, alhoewel ‘n pen of potlood dalk ‘n beter geskenk sou wees.By ’n aansluiting stop twee polisiemanne ons. Hul teken die registrasienommer aan en vra na ons bestemming. Die doel? Om die vrye beweging van kriminele te beperk. Suksesvol kan dit moontlik wees. In Lesotho is nie ‘n magdom paaie nie. Hier is slegs sowat 900 km teerpad in hierdie land wat so groot soos België is. Die landskap het ‘n sagte barheid en my berese reisgenote trek assosiasies met Pakistan tot Patagonië.Ons ry verby hutte met beddings helder afrikaners, ‘n streep nonnetjies vanaf ‘n kerk, ‘n menigte vigsadvertensies ...Die landskap verander in ‘n droë bergwêreld. Loodreg is die afgronde. As jy ‘n klippe los sal dit der honderde meters later in die bo-lope van die Oranje plons.Alles gaan voor die wind tot by Sehonghong. Dis by hierdie nedersettinkie waarvan die naam netsowel kon tuishoort in China dat ek dog ons het nou die pad skoon byster geraak. Skielik is daar weinig meer as ‘n voetpad oor waarop ‘n bobbejaan skaars met ‘n kierie sou kon loop.
“Het die pad nie iewers gespalk nie?”
“Nee,” sê ‘n verbyganger. “Dit ís die grootpad van noord tot suid deur Lesotho.”Talle brue is weggespoel. Net ‘n geluk dit het nie straf gereën onlangs nie.Blankes word ’n rariteit. Voertuie min. As ‘n kar verbykom kyk die inwoners. Ons stop sodat ‘n span osse met ‘n eg kan verbygaan. Vir middagete maak ons mieliepap - so reg in die kraal van die Basotho. Nie slap nie, maar stywe putu. Die vuur is ‘n primusstofie, want hout is hier min. Die moeilike Matabeng-pas wag. Die ganse Lesotho is hoër as 1 000 m bo seespieël wat dit die land met die hoogste laagtepunt ter wêreld maak. Weens die afgronde is jy altyd naby aan jou dood. Die paadjie is smal en ná reën wil ek nie eers dink hoe dit lyk nie.
Aan 18 km ry ons 3 ure. Dis nie kinderspeletjies nie, maar jy kan skaars glo dat ‘n wêrelddeel só woes en afgeleë, maar indrukwekkend en groots heeltemal deur Suid-Afrika omring word.In antwoord op my brief oor ons Lesotho-ervaring skryf ‘n vriend uit die Franse hoofstad: “Jul tog deur Lesotho klink wonderlik, maar jou opmerkings oor die vriendelike en ongerepte omgewing laat my glimlag. In vergelyking met Europa en die VSA is dít juis wat so spesiaal is aan Suid-Afrika.”

SOU JY GAAN
· Jy sal dié roete ook kan volg met ‘n sterk bakkie, maar die kans is goed dat dit opgefoeter sal word.
· ‘n Snelheidsperk van 60 of 80 km/h geld op die meeste paaie – nie dat dit werklik nodig is nie, want dit kan selde vinniger.
· Daar is gewoonlik brandstof in die distrikshoofdorpe.
· Suid-Afrikaners het geen visums nodig nie, maar wel ‘n paspoort.
· Van die kleinere grensposte sluit so vroeg as 16:00.
· Weens die hoogte bo seespieël kan digte mis tot laatoggend voorkom.
· Kredietkaarte word feitlik net in Maseru aanvaar. Bring genoeg kontant. Die rand word oral aanvaar. Swaziland, Namibië, Suid-Afrika en Lesotho vorm ‘n gemeenskaplike monetêre area.

Wednesday, February 1, 2012

Onderskatte Wes-Europese stede

ONDERSKATTE WES-EUROPESE STEDE


Metropole soos Londen, Parys en Amsterdam is gewilde toeristebestemmings, maar moenie die onbekender Wes-Europese stede onderskat nie. Gaan maak gerus ‘n draai in Rysel, Bergamo, Manchester, Antwerpen, Cambridge, Hamburg en Gent, skryf JENS FRIIS


MANCHESTER, ENGELAND


Wat jy van Manchester gehoor het, was waar. Hoe nader ons stoom, hoe meer word die kleirooi pakhuise met stukkende vensters, verwaarloosde kanale, beton-oorweë. Trae, grys stroompies onderbreek soms die eentonige troshuisies. Dis Billy Elliot-wêreld kwadraat.


``The fewer the facts, the stronger the opinion,'' het die oubaas oorkant my vroeër die middag gemor. ``Manchester is 'n stad wat mense leer ken sonder om ooit daar te kom.''


En dit ís so, want was dit nie dat ek hier móés wees nie, was Manchester vir seker ook nie op my reislys nie.


Tog het ek net versigtig my kop geknik. Hy het pas sy 80ste verjaardag gevier en was duidelik dik vir die holruggeryde rympie dat sy geboortestad sommersó is.


Elke dan en wan word Manchester immers aan sy kleinboetstatus herinner.


Nadat dié stad twee keer onsuksesvol gebie het vir die Olimpiese Spele, het Sebastian Coe opgemerk dat die wêreld net Londen ernstig sal opneem as Olimpiese stad.


Tog was dit nie altyd so nie. In die 19de eeu was Engeland se provinsiale stede die dinamo's wat die land aangedryf het tot internasionale oorheersing. As kernpunt van die nywerheidsrevolusie het Manchester op sy dag met Londen, Parys en New York as een van die invloedrykste stede meegeding.


Deur produktiwiteit en gehalte te paar was Manchester aan die voorpunt van nywerheidswelvaart, maar dit is ook van die hardste getref weens buitelandse mededinging in die katoenbedryf. Die verbandhoudende metaal- en ingenieurswese het ook gely. Die kersie op die koek was die resessie van die jare tagtig. Spoedig was die stad berug om sy bendekultuur, dwelms, onwettige vuurwapens en werkloosheid.


Dit is nie om dowe neute nie dat Manchester in 1995 aangewys is as gasheer van die Statebondspele wat vandeesweek begin het. Ten spyte van dekadensie het die stad teen die middel jare tagtig begin bruis met 'n byna roekelose energie. Redes was die vergroting van die lughawe, goedkoop geboue, die IT-bedryf en plaaslike musiekgroepe soos Simply Red en Oasis. Weinige stede kan Manchester se opwindende nagklubs ewenaar. Naweek vir naweek is dit gepak met partygangers van Londen tot Amsterdam.


RYSEL, FRANKRYK


Wyle Raisa Gorbatsjof het dit geweet. En Kylie Minogue. Gaan na Rysel (Lille) vir die styl en gehalte van Parys, maar betaal die helfte minder.


Dié stad noordoos van Parys en 14 km van die Belgiese grens, kan binne twee uur van die hoofstad en binne 'n uur van Calais bereik word.


Rysel het 'n ryk geskiedenis. Langs die Deülerivier het hy in die Middeleeue vinnig gegroei vanweë 'n florerende tekstielbedryf. Dit was ook op die kruispaaie tussen Vlaandere en Noord-Europa. Oorloë en oornames het die stad se voorspoed nie veel getemper of die argitektoniese erfenis verwoes nie. Lodewyk XIV het dit as die juweel van Frankryk beskou.


Maar dalk meer as enigiets anders is Rysel 'n inkopie-mekka. Haute couture soos Sonia Rykiel is te vinde in Vlaamse dorpshuise van Oud-Rysel. Dit staan sy aan sy met winkels waar egte antieke ware te koop is, maar ook reproduksies van skilderye van Leonardo da Vinci.


Dan is daar ook die winkels wat spesialiseer in mooi skryfpapier, geborduurde linne en sjokolade.


In die lekkergoedwinkel M. Meert (27 rue Esquermomise) kan sedert 1761 gesmul word aan wafels gegeur met Madagaskar-vanilla. Charles de Gaulle se bestelling wafels is gereeld na Parys gestuur. De Gaulle is in 1890 in Rysel gebore en die sakesentrum is na hom vernoem.


Talle van die stad se 180 000 winkels is tot 8 nm. oop. Selfs met 'n swak rand is Rysel die plek om jou sakke in Europa te vul.


BERGAMO, ITALIë


Bergamo, 50 km noordoos van Milaan, is twéé dorpe. Die motorvrye Ou Stad troon op 'n 370 m hoë heuwel, terwyl sy voet omring word deur 'n veel jonger stad wat inwoners eenvoudig "Bergamo" noem.


Dat die onderdorp minderwaardig is, sou 'n denkfout wees. Talle imposante geboue uit die 19de en 20ste eeu staan langs breë strate. Tog is jy voortdurend bewus van die bo-dorp.


Dit is daar waar Romeine, Gote en selfs Kelte die septer geswaai het, maar die groot opbloei sou kom onder die Venesiërs. Vir hulle was die goed geleë Bergamo 'n kern in hul handelsnetwerk. Daarom dat buitensporig grootse geboue jou steeds hier inwag.


Só het Le Corbusier Bergamo beskryf as die "aanbiddelike onbekende" weens sy indrukwekkende basilika. Die Santa Maria Maggiore het met hom "gepraat"-- veel meer as die (nietemin mooie) Dom en die Cappella Colleoni. Hier digby is die sentrale Piazza Vecchia wat vir eeue al die verhoog vorm vir 'n gesellige afspraak, 'n ete, 'n lag of 'n traan. Saans straal die pleintjie intimiteit uit. Hoog bo die Serio-rivier stel die inwoners hul suidelike opgewektheid ten toon.


Bedags sal hulle kuier langs die geplaveide winkelstraatjies met aan weerskante boetieks, restaurants en alomteenwoordige roomyswinkels.


Digby is die dorpie Gorgonzola wat bekendheid verwerf het vir sy ryke vetkaas wat met groen skimmeldrade deurgroei is. Ook uit hierdie geweste is mascarpone, 'n romerige kaas gewild vir nageregte, en taleggio, 'n sagte kaas wat jonk geëet moet word.


Noordwes-Italië is die tuiste van rysverbouing en risotto pryk op feitlik elke spyskaart .


OOK DIE MOEITE WERD


ANTWERPEN, BELGIë: Die diamanthoofstad van die wêreld swem na al die jare steeds in die geld - en die imposante geboue getuig hiervan. Wat jy hier moet aanskaf is eersteklas Belgiese kant en sjokolade. "Frituur Dageraad" bied eersteklasslaptjips met mayonnaisse. Cogels-Osylei is ‘n spogbuurt waar die eklektiese style van herehuise die straatbeeld oorheers. Hier is selfs ‘n Transvaalstraat.


CAMBRIDGE, ENGELAND: Een van die beste maniere om die universiteit-stad Cambridge te sien is per boot. In Venesië kan jy dié Italiaanse stad verken van ’n gondel af, maar in Engeland word hierdie bootvaardery punting genoem. En in Cambridge is dit ná al die jare steeds uiters gewild om só rond te vaar op die Cam-rivier. Talle van die gidse op die bootjies is studente wat ekstra geld op hierdie manier verdien. Vir meer inligting loer by www.visitcambridge.org.


HAMBURG, DUITSLAND: Altyd gedink München óf Frankfurt is naas Berlyn die grootste stad in Duitsland? Nee, dié eer gaan aan Hamburg. Met sy nagenoeg 1,7 miljoen inwoners is dié stad in Noord-Duitsland ook die digs bevolkte nie-hoofstad in die Europese Unie. In die Hamburg- metropolitaanse gebied woon ’n allemintige 4,7 miljoen mense. Dié stad se hawe is die naasgrootste in Europa (naas Rotterdam) en die negende grootste ter wêreld.


GENT, BELGIë: Die Belgiese dorp Gent word alte dikwels deur toeriste oor die hoof gesien. Hulle stroom eerder na Brussel en Brugge. Dit sal besoekers beslis loon om ook Gent op hul reise deur België in te sluit. Dis ’n pragtige, eeue oue kanaalstad met ’n sterk universiteitskarakter. Boonop is dit nie ver van die hoofpaaie wat België deurkruis nie. Afrikaanssprekendes sal uiteraard baie kan verstaan wat die Vlaminge praat.

Groenhuis Gastehuis in Philippolis: 051-773-0073



Pragtige stemme laat aarde hier beef

- JENS FRIIS


LLANGOLLEN. - Iedereen wat al by 'n rugbytoets teen Wallis was, sal weet hierdie manne kán sing. Al wen hulle nie die wedstryd nie, bly hul dreunsang oor mere en lowergroen berge jou by.


Dis dus g'n wonder nie dat die Walliesers ook die grootste internasionale volksangfees reël. Vir een week elke somer word die dorpie, Llangollen, verswelg deur folk-sangers van oor die wêreld heen.


In 1946, skaars 'n jaar na die Tweede Wêreldoorlog, is planne gemaak vir 'n internasionale eisteddfod geskoei op die alombekende Walliese eisteddfod. Die vader van die fees, Harold Tudor, 'n joernalis van die Liverpool Daily Post , het op Llangollen besluit omdat dié dorpie in 'n pragvallei geleë is. Llangollen het vantevore die nasionale eisteddfod suksesvol aangebied en Tudor het gemeen dié dorpie van sowat 3 000 inwoners kon op omringende dorpies se steun reken.


Vir 11 tot 15 Junie 1947 is die eerste eisteddfod gereël. Weens 'n Franse spoorwegstaking moes heelwat deelnemers ander planne beraam om by die fees te kom. Party het duimgegooi, selwers vervoer gereël of hul pad deur Frankryk oopgesing om te kon betaal.


Met die aankoms van die eerste groep uit Portugal het die organiseerders 'n sug van verligting geslaak: Internasionaal sou die eerste fees wees.


Sedert die 1947-eisteddfod het meer as 3 miljoen mense hierheen gestroom en 400 000 deelnemers opgetree. Die afgelope 20 jaar was die deelnemers uit 114 lande. Van die aarde se uithoeke kom hul waaronder Kazakstan, Lapland en Frans-Guyana.


Met die fees volg jy jou ore agter eggo's van kitare en trompette aan, verby framboosstalletjies en markiestente.


Langs Castle Street stap twee Skotte in hul rokkies verby 'n Boergondiese meisie met 'n mandolien. 'n Wiking staan buite 'n kroeg. Marokkane met 'n Manchester-aksent groet 'n knaap met 'n harp. Hul is daar: Brasilië, Alaska, Suid-Afrika - al die kleure van die internasionale reënboog. Die dorp sing en dans.


Sowat 80 000 feesgangers kom deesdae per jaar na die eisteddfod.


Twee van die drie bekende tenore het hier opgetree. Daar was ongekende belangstelling vir Luciano Pavarotti se konsert in 1995, maar hy was ook lid van 'n koor wat in 1955 kom sing het. Placido Domingo het sy debuut in die Verenigde Koninkryk gemaak op die 1968-eisteddfod.


Ander bekendes is Kiri Te Kanawa, Montserrat Caballe en Shirley Bassey, terwyl koningin Elizabeth, Charles, Diana, Anne en Margaret kom luister het.


Voordat die gordyne toegetrek word, word Wallis se twee volksliedere gesing, God Save the Queen en dán Hen Wlad fy Nhadau . Weet verseker; met die sing daarvan sál die aarde beef.



SOU JY GAAN


* Llangollen is in Noordoos-Wallis, 13 km van die grens met Engeland. Die naaste lughawe is dié by Manchester of Liverpool. Daar is gereelde busse na Wrexham, maar openbare vervoer is skaars in Snowdonia.


* Die wolke uit die weste loop hul vas teen die Walliese berge. Daarom is dit selfs natter en meer bewolk as in die suide van Engeland.


* As die son skyn, is Llangollen ideaal vir buitelugaktiwiteite waaronder 'n staptog na die Horseshoe-pas en na Valle Crucis Abbey, 'n Middeleeuse klooster waarvan nog net die mure staan.


* 'n Snaaksigheid is om op kanaalskuite te gaan ry wat deur 'n perd getrek word. Die perde loop op 'n paadjie langs die kanale. Dié bootjies het op hul dag 'n belangrike rol gespeel in dié gebied se vervoerstelsel.


* Kanovaart is gewild op die Dee-rivier.


* Plas Newydd is 'n statige herehuis wat bekend is vir sy swart-wit houtafwerking en omdat die eksentrieke "Ladies of Llangollen" daarin gewoon het (1780 - 1831).


* Van gastehuise gedy dit, want almal wil baat vind as feesgangers een keer per jaar hierheen stroom.


* Ander reusagtige Walliese feeste wat jy dalk wil bywoon is die Royal National Eisteddfod en die Swansea Festival of Music and Arts.

Poppe grootoog oor wolke

KANSE VIR REëN WORD BETER: Drie Kewpie-poppie kyk na ’n “lug vol helder wolke” (soos een van Karel Schoeman se boeke ook heet). Dié wolke weerkaats in ’n winkelvenster op Rosendal. Die reën was in dele van die Vrystaat en Noord-Kaap maar taai om te val die afgelope maande, maar goeie neerslae word vir die laat-somer voorspel deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens. Foto: Jens Friis

Blommeprag by Tenahead

- Jens Friis


DAAR waar die Maluti, Witteberge en Drakensberge een word, wag ‘n onverwagse skat.


Só hoog is dit by Tenahead Mountain Lodge, die hoogste van sy soort in Suid-Afrika, dat hier geen bome is nie en kry jy plante (Alpine flora) wat nêrens elders in Suidelike-Afrika voorkom nie. Gewis ‘n snaaksigheid in Kontrei-wêreld wat behalwe vir die Oos-Vrystaat, bekend is vir sy plat landskappe.


Tenahead het tot stand gekom in 2002 toe ‘n Nederlands-paar vyf aaneenliggende plase gekoop en ‘n natuurreservaat van 3 500 ha só ontstaan het. Só het hulle verseker dat die reën wat in die berge (2 500 m bo seespieël) val, só skoon is dat besoekers dit aan tafel kan drink. Ook het die plant- en dierelewe hierdeur ongeskonde gebly.


In 2006 het River Hotels die Lodge geopen en die reservaat genoem na die Tinaheadberg (2 824 m) waar die Tinarivier sy oorsprong het.


Volgens die bestuurders mnr. Shauna Stephen en me. Nolan Muir is die beste tyd om na dié blomme te gaan kyk einde-Januarie en begin-Februarie.


“Hierdie tyd is eintlik ons lente, want dit word snags - selfs in die somers - koel hier op die berg. Gevolglik vat die saadjies veel langer om te ontkiem en uiteindelik te blom.”



Onder die besondere blomme wat hier voorkom is dioramas (haarlokkies), watsonias, moraeas, helichrysiums en euphorbias.


Hou ook jou oë oop vir ribbokke, bosbokkies en verskeie soorte aasvoëls.



* Tenahead is ‘n klipgooi vanaf die hoogste punt van die Naude’s Nek Pas in die Oos-Kaapse hoogland en grens aan Lesotho. Dit neem omtrent 4 ure om hierheen te ry vanaf Bloemfontein, maar weens padwerke tussen Reddersburg en Smithfield kan dit ‘n raps langer duur. Neem beslis ‘n verkyker, kamera en ook sonbrandmiddel saam. Hoewel die luggie hier bo koel kan wees kan jy jou lelik misgis met hoe sterk die sonstrale is. Sonroom is dus ‘n noodsaaklikheid.

Tuesday, December 27, 2011

Nie te mis in mid-Suid-Afrika

Hier is van die lekkerste lekkers wat JENS FRIIS bybly wat vanjaar in die weeklikse kolom Te Doen (Volksblad) verskyn het. As jy reken jy weet van iets wat in 2012 hier moet verskyn, skryf aan hom by jens.friis@volksblad.com.



EET HIER


* Salm, tuna en selfs kaviaar word elke tweede dag ingevlieg na die Kalahari Gateway-hotel op Kakamas om sushi te maak. “Dis voorwaar ‘n rariteit in die Kalahari!”, sê Aesja O’Callagahan van dié hotel langs Voortrekkerstraat. Dick Venter van die Kalahari Gateway-hotel het die eetplek begin omdat hy dol is oor sushi en Gerrie de Beer van Kaapstad bestuur dit. Self saki (ryswyn) word voorgesit. Onder die kleurvolle rolletjies tel salmrose, Kaliforniese rolletjies en “fashion sandwiches”. Vir diegene wat nie rou vis wil eet nie, is daar springbok carpaccio op die spyskaart. Loer by www.kalaharigateway.co.za of bel 054-431-0838.


* By The Horse & Mill in Colesberg kan jy aansit vir Karoo-tjoppies onder ‘n perdemeul wat gebou is in 1840. Dié meul is in 1891 op die plaas Sewefontein opgerig en in 1977 na die dorp verskuif. Beide die meul en die gebou waarin dit gehuisves word, is nasionale gedenkwaardighede. As jy van Bloemfontein Colesberg inry, is dié besondere restaurant aan jou regterkant in ‘n stil eenrigtingstraat parallel aan die hoofstraat. Daar is sitplek vir omtrent 90 mense as die solder en tuin bygetel word. Verlede Saterdagaand het vier van ons daar geëet. ‘n Rump-steak met kraakvars groenboontjies, geelwortels, skyfies en twee drankies het ‘n billike R110 elk uitgewerk. www.horseandmill.co.za


* Gaan eet by Picnic, ‘n restaurant by die Waterfront in Bloemfontein. Die prys is billik, die produkte vars, die kos geurig en jy kan oor die water uitkyk.


* ‘n Griekse filosoof het eens gesê dat dit ‘n belediging is vir beide die musikant en kok as musiek gespeel word terwyl jy eet, want jy kan nie aan een van die twee volle aandag gee nie. By die Maselspoort-restaurant buite Bloemfontein verskaf Marnie van Wyk egter sulke mooi agtergrond klaviermusiek dat dit beslis die spyse aanwakker. Bespreek vooraf vir ‘n Sondagmiddagmaal by 051-441-6050. Let ook op die foto’s van Maselspoort uit vervloeë dae wat in die restaurant hang.


* Deesdae ry ek nie Trompsburg verby sonder om ‘n brood by die Waterwielbakhuis langs Voortrekkerstraat te koop nie. Dis tuisgebak en kraakvars – nes hul beskuit.


* Vir liplekker tuisgemaakte (boere)kos, gaan na Ouma se Kombuis, 'n wegneemeetplek langs Barba's Cafe in Tweede Laan, Bloemfontein. My gunsteling is Lita Kotze se osstert (oxtail).


* Op die hoë stoep van Philippolis S’n langs Voortrekkerstraat, Philippolis, kan jy aansit by tafeltjies en afkyk hoe die wêreld verbygaan terwyl jy smul aan ‘n stuk sjokoladekoek, ‘n pienk melkskommel of ‘n geroosterde toebroodjie. Hul melkterte is goedkoop, maar hemels en ideaal om huis toe te vat. In dié tuisnywerheid-winkel kan jy ook snuffel deur allerhande tuisgemaakte goete uit dié geweste. Bel Marietjie Cilliers by 082-783-5824 of Angela Agenbag by 079-855-4818.


* Sit aan vir ontbyt of middagete in die huislike restaurant van Miguel Borge langs President Reitzstraat 67, Westdene, Bloemfontein. Op die spyskaart van Vida & Arte is onder meer tortillas, tappas en omelette. Miguel is van Suid-Amerika en in die kos tot die interieur word jy hieraan herinner. Die mure is ‘n passievolle rooi en van die skilderye wat te koop is herinner aan Buenos Aires. Die pragtige ou woning met sy houtvloere is ideaal vir klein partytjies en wynproe-geleenthede. Bel 071-896-2511.



BLY IN DIÉ HOTELLE


* Bly oor in Kimberley se Protea-hotel op die rand van die Groot Gat. Dié vierster hotel het 94 kamers. Weens sy sentrale ligging is dit ideaal om museums, oorlogsroetes en die opgeknapte myndorpie te besoek. Geniet laatmiddag ‘n skemerkelkie op die dek wat uitkyk oor die Groot Gat en die Noord-Kaapse hoofstad. Sien www.proteahotels.com/kimberley. Om te bespreek bel 0861-11-9000.


* Die patio van die Protea-hotel Willow Lake met 94 kamers bied gaste ‘n uitsig oor die Bloemfonteinse dieretuin – nie iets wat jy oral teëkom nie.


* Die hotel in die Golden Gate Nasionale Park is onlangs opgeknap teen miljoene rande.


* Van die De Stijl-hotel se restaurant is daar werklik ‘n onvergeetlike uitsig oor die Gariepdam, die grootste in Suid-Afrika.


* Die vyfster Maliba Lodge in Lesotho is aangewys as een van die beste hotelle ter wêreld deur die lesers van die gesaghebbende Britse reistydskrif Tatler. Die Lodge is geleë in die Tsehlanyane Nasionale Park wat bekend is vir sy pragtige uitsigte. Dit is sowat ‘n uur sy ry van Clarens. Kyk by www.maliba-lodge.com.



DOEN DÍT


* Die tierprojek wat die omgewingsbewaarder en rolprentmaker Johan Varty in 2000 buite Philippolis begin het, bied ‘n sonderlinge geleentheid om vanuit ‘n spesiaal omgeboude voertuig tot naby aan die loslopende tiere te kom. Sover bekend het Tiger Canyons die enigste wilde tierpopulasie in die wêreld. Daar is sowat 45 000 tiere wêreldwyd in aanhouding, maar slegs sowat 1 000 wilde tiere. Dit gaan voor die wind met die projek. Só is daar byvoorbeeld in 2009 twee werpsels tiertjies, altesaam sewe welpies, gebore. Drie van die tierwelpies, waaronder ‘n wit tier, is toe met die hand grootgemaak. http://www.jvbigcats.co.za/


* Onderbreek die sieldodende N1 en rek jou bene by die Kuilfontein-padstal langs die Springfontein-Suid-afrit. Jy sal nie die langwerpige gebou met die erfenisgroen-dak miskyk nie. Die Staplese maak die die lekkerste lam-en-ment-pasteie en moenie hul gebottelde produkte verbygaan nie. www.accommodationspringfontein.co.za.


* Ná uitgebreide herstel- en restourasiewerk het die Kimberleyse trem se wiele darem weer begin draai in 2011. Dit kos R10 per person om vanaf die Groot Gat tot by Tile Africa te ry. Die roete is sedert die sluiting van Bultfonteinweg verkort om die veiligheid van passasiers te verseker.


* By die Kambro-padstal tussen Britstown en Strydenburg kan jy ketties tot gemmerbier koop. Stop beslis hier by Gerhard en Wilma Strauss as jy weer in dié geweste is. Loer by www.kambroaccom.co.za.


* Pak 'n mandjie, gooi 'n kombers oop en eet jou trommeldik op die lowergroen gras van die tuin voor die Oliewenhuis Kunsmuseum in Bloemfontein. Mens kan net dink wat se voorreg dit moes wees vir politici om vroeër jare in dié Kaaps-Hollandse huis te kon woon. Toegang tot die tuin is mahala, maar as jy meer wil uitvind bel 051-447-9609.


* Pak die Naudé’s Nek Pas by Rhodes aan. Op ‘n helder dag kan jy van die kruin (2 260 m) tot by die Transkeise kus sien. Naude’s Nek is op die R396 na Maclear. Maar wees gewaarsku: dis ‘n smal, bedrieglike paadjie wat jy nie moet aanpak as dit gereën of gesneeu het nie. ‘n Viertrekvoertuig is aan te beveel. Laat genoeg tyd toe, want die donker kan jou andersins maklik hier vang.